Suidoosterfees 2026: ’n oorsig

  • 0

“Welkom by die 23ste Suidoosterfees. Jy is welkom tuis by ...” welke ruimte ook al.

Dis die boodskap voor elke vertoning by die fees wat van 29 April tot 3 Mei by die Kunstekaapteater en omliggende venues gehou is. Daar is verskeie ander plekke, soos die Burgersentrum, Waterfront Teaterskool, die Kaapstad-stadsaal en selfs die Hiddingh-kampus

Die fees was ’n smorgasbord van diverse en opwindende aanbiedings. Die produksies weerspieël die polsslag van ons kontemporêre samelewing – van rou hartseer en historiese pyn tot die loutere plesier van saamlag en nostalgie.

Ons skop die fees af met ’n bietjie bittersoet komedie: In Dean Balie se Baggage met Jurgen McEwan en Aviwe Ngabom word die fisieke en emosionele gewig wat ons saamsleep, onder die vergrootglas geplaas. Die produksie gebruik vindingryke stelontwerp vir die I S Sues Internasionale Lughawe waar twee bagasiehanteerders wys hoe ons traumas en geheime mettertyd swaarder word. Dit is ’n minimalistiese dog kragtige stuk wat die gehoor dwing om te vra: “Watter bagasie kan ek neersit om vryer te loop?”

Daar is ’n insiggewende gedagte: “Almal se baggage in die lewe is dieselfde, sommiges – dikwels die rykes – het dalk net beter zips.”

Ouma slaan ’n ses hemel toe met spel en teks deur Veronique Jephtas is ’n hartroerende dog snaakse huldeblyk aan die matriargale figure in ons lewens. Die teks balanseer op die fyn lyn tussen rou en herinnering. Dit bring hulde aan ’n sterk ouma Ellie, maar ween oor die verlies van ’n baba en skree teen ’n god wat sulke seerkry toelaat. “Die van-vooraf-begin; die weer-bymekaarskraap. Miskraam klink asof ek iets verkeerd gedoen het; iets misplaas het. Dis nodig om te kla oor iets wat amper was – die metafoor vir die belofte van iets wat nie kan kom nie.”

Die karakter verklaar ook dat die ongeskrewe reël van die universe is: “Jy moet man-genoeg in jou vrou-wees wees.”

“Ouma Ellie se moedertaal is worship en sy is fluent.” Die dialoog is ryk aan plaaslike idiome en herinner ons daaraan dat die dood nie die einde van ’n nalatenskap is nie, maar dikwels die begin van ’n nuwe hoofstuk vir diegene wat agterbly – al is hulle nog te rou om dit te besef.

Ek is nie Danie met Albert Pretorius en Schalk Joubert is geweef rondom ’n keur uit Danie Marais se vier digbundels. Pretorius trek die skrapnel van ’n vreesaanjaende gewone lewe van ’n wit man uit mislukte huwelike en ’n lang tyd in Duitsland en die bevoorregte gemors van middelklas Suid-Afrika.

“Duitsland is waar die wolke in gelid marsjeer, waar die son ’n permit het om te skyn, waar die maan nie mag opbly so laat soos sy wil nie. Duitsland lyk soos Duitsland op televisie. Al verskil tussen Duitsland en televisie is dat daar iets gebeur op televisie.”

“Die hart is ’n erdwurm – jy kan hom nie volg nie, jy sny net stukke wurm af, aspris of per ongeluk, en hulle sukkel blind aan in die seesand van kleintyd in ander tale, in ouma se Bybel, in jou ma’se se bedkassie, in ou girlfriends se foto’s ...”

“In Duitsland is Afrikaans die moordwalvis wat jy grootmaak in die bad.”

Hierdie identiteitsdrama sny diep. Dit ondersoek die universele stryd om jouself te definieer buite die verwagtinge van jou familie en gemeenskap – en heel dikwels jouself. Die titel suggereer reeds ’n ontkenning, maar die stuk gaan eintlik oor die ontdekking van die self.

Daar kom ook vrae en stellings soos: “Is daar enige waardige tantrum vir ’n wit man om te gooi?” en “Wit trane is net sout in ou wonde.”

Met skerp humor en ongemaklike waarhede bevraagteken dit die etikette wat ons op mekaar plak en hoe die verlede aan ons vasklou.

Die kunstenaars in No place like home –  Loukmaan Adams, Jody Abrahams, Christo Davids, Fancy Galada, Churchil Naude, Mekaila Mathys, The Galacticos en ’n sterbelaaide geselskap – weet hoe om te vermaak. Van die eerste boodskap dat die vertoning gekanselleer is omdat die kuntenaars se motor gebreek het, tot die kwinkslae dat daar geen terugbetalings vir kaartjies sal wees nie, “omdat kunstenaars die geld nodig het, want hulle weet nie wanneer hulle weer betaling sal ontvang nie, maar as jy klagtes het, kontak Minister Gayton McKenzie” is vlymskerp.

Dit ’n visuele fees wat die konsep van “tuiste” ontleed. Is dit ’n baksteenstruktuur, of is dit die mense binne-in? In ’n tyd waarin migrasie en verplasing globale temas is, was hierdie produksie uiters relevant.

Hulle verklaar dat kos ’n liefdestaal is. Dat jou ma onvervangbaar is. Die operahuis se dak lig as hulle begin Klopse-danse doen.

Dit is nostalgies, maar nie té sentimenteel nie – ’n dapper kyk na die ontheemding wat baie Suid-Afrikaners ervaar en die behoort wat ons almal saamsnoer.

Die kleure en geure van die Moederstad – van karnavaloptogte en breyani tot township-ritmes en humor eie aan die Kaap – het die verhoog aan die brand gespeel.

En die woorde “Weskus is die Beskus” op die groot skerm en “Huis is nie perfek nie, maar dis ’n plek waar hulle jou by die naam ken” moet jou laat heimwee kry.

Hoort: “’n Semi-outobiografiese kabaret wat jou laat lag, huil en met nuwe oë na jou eie storie kyk. Dit vertel die verhaal van Stephanie, die dogter van twee pastore, wat haar plek in die wêreld soek te midde van haar gemengde agtergrond en ons komplekse geskiedenis. Met humor, patos en ’n mengsel van koortjies, ghoema, jazz en oorspronklike Afrikaanse komposisies besef sy: Om in te pas is een ding, maar om te behoort, is iets heeltemal anders. Wenner van die Woordtrofee vir uitsonderlike bydrae tot kontemporêre musiek: klein groepe by die Toyota Stellenbosch Woordfees in 2025.”

In Hoort pak Stephanie Baartman die komplekse kwessies van behoort en aanvaarding binne die Suid-Afrikaanse konteks aan. Die produksie is polifonies, met stemme wat bots en saamsmelt om ’n tapisserie van ons gedeelde geskiedenis te vorm. Die energie op die verhoog is tasbaar, en die gebruik van musiek en ritme versterk die boodskap dat ons almal ’n plek by die tafel soek, maar dat daar net nooit genoeg plekke gedek is nie.

Sy word begelei deur Janine Neethling op klavier. Dis haar eerste solovertoning waarin haar lewensverhaal vertel word.

Daar is kragtige stellings: “Ek het skaam geword vir my eie littekens”; “Ons is wie ons is, oor die land waarin ons leef”; en “Tuis is nie ’n plek nie, dis ’n gevoel.”

Haar roerende vertellinge van hoe die klassifikasiewette families aan flarde geskeur het, het menige oog vol trane gehad. Dit het my veral ontroer om te sien hoeveel ouer, wit mense geraak is deur haar verhaal.

Die woorde waarmee haar ma haar grootgemaak het: “Ons het alles wat ons nodig het om ons sê te sê” vat ’n ingesteldheid mooi saam.

Dis haar afsluitingswoorde, “My kleur is vryheid. Ek is ’n Suid-Afrikaner en ek is waar ek hoort”, wat my diep raak.

Die komediedrama Lemoene, lemoene, lemoene, lemoene, lemoene met Mienke Ehlers en Dean John Smith was ’n vars briesie op die fees. In ’n Suid-Afrika waar mense net 140 woorde per dag mag gebruik, moet twee jong geliefdes leer om met stilte te leef, en om met die afwesigheid van woorde te baklei. Soos die beperkinge meer word, word die verhouding ook al hoe moeiliker om te beredder, en op die ou einde moet hulle mekaar vra of daar werklik nog iets oor is om te sê. Hierdie ontroerende stuk ondersoek wat liefde, vryheid en die krag van ’n mens se eie stem beteken. Die stel is net ’n staalkonstruksie soos wat jy op boupersele sien. Deur voor of op die stellasie te speel, skep dit die milieu van elke toneel.

Soms is selfs 140 woorde te veel om op iets of iemand te “bestee” as daar niks meer oor is om te probeer beredder nie.

Die krisante wat in die foyer by die fees uitgestal is, is nie sommer net nie: Adam Small was ’n blommeman, vertel Michael le Cordeur in die bespreking “Adam en die Nico” met Steward van Wyk en Marlene le Roux. Adam Small sou vanjaar 90 jaar oud gewees het en dis ook 10 jaar sedert hy oorlede is. Verskeie projekte rondom sy lewe is by die fees aangebied.

Ons kon uiteindelik Verwelkingslied met Antoinette Kellerman en Dawid Minnaar sien. Breyten Breytenbach se swanesang is spesiaal vir Kellermann en Marthinus Basson geskryf.

As ’n teenvoeter vir die werklikheid van ons verlede wat in ander stukke, soos Eugene met Carlo Daniels en Lynette du Plessis na vore kom, bied Verwelkingslied ’n poëtiese meditasie oor verganklikheid.

In Eugene is die openingtoneel treffend: ’n geblinddoekte man in ’n swart pak wat tussen tientalle mikrofone staan: soos ’n aangeklaagde wat homself teen gesigloses moet verdedig, maar die vrae kom soos semi-outomatiese-geweer-vuur op hom af.

Die stuk is gebaseer op Kirby van der Merwe se bekroonde roman. Die karakter sê dat as jy een maal onder die knuppels en karwatse deurgeloop het, jou lyf onthou. “Dit sit nie aan jou klere vas nie.”

Alles is net wit en swart – daar is nie plek vir grys nie. Agter hom teen ’n reuse wit skilderdoek smeer Kirby swart verf in rowwe patrone. Dit lyk asof dit bloot skribbelinge is, maar in van die ooptes lyk dit tog of ’n man soos Lot se vrou omkyk; waghou.

Terug by Verwelkingslied – ’n elegie vir dit wat verbygaan, maar ook ’n viering van die oomblik. Die ou aktrise kla die digter aan dat hy sy ballingskap by die vleispotte van oorsee geniet het; dat hy wil terugkom net om te bieg, en toneelstukke geskryf het wat niemand wil hê nie.

Sy sê vir die gehoor dat hulle ook “nou veilig is in die bomskuiling van ons teater – soos bergies wat kom skuil teen die nag”.

Die stilte in die teater tydens hierdie vertoning getuig van die diep trefkrag wat dit op die gehoor het.

Gat het in ’n oop vierkant by die Kasteel van Goeie Hoop afgespeel. Dit is ongemaklike teater op sy beste – teater wat vrae vra waarvoor daar nie maklike antwoorde is nie. Met akteurs Ilse Samuels en Miché van Wyk en dansers Faroll Coetzee, Georgia Julies, Manon-Lee Saal, Druwayne Strauss en Keeanu Samuels word die rou eerlikheid van die siklusse van skepping, vernietiging, geboorte en dood nagespoor. Dis ‘n wekroep om gedeelde herinnering, veerkragtigheid en identiteit.

Die Suidoosterfees is ’n bewys van die veerkragtigheid en kreatiwiteit van Suid-Afrikaanse kunstenaars. Of jy nou op soek is na ’n lagbui, identiteitskrisis soos die karakter in Ek is nie Danie, of ’n eksistensiële reis met Gat, of terugkyk na ons donker verlede in Eugene, die fees het iets vir elkeen gebied. Dit is ’n teater-ervaring wat nie net vermaak het nie, maar wat die siel verryk en die verstand uitdaag – soms bloot deur ’n gedeelde koesister of samoesa van die gewilde Facebook Food Fairies – Koe’sister Food Community Lifestyle met Tafelberg wat in die agtergrond haar arm om almal slaan.

  • Foto’s: Clifford Roberts/CanonR6
Lees ook:

Oorsig ‒ Jakes Gerwel-gesprek (Suidoosterfees 2026): Wie volg Cyril Ramaphosa op en wie trek die toutjies?

Suidoosterfees 2026: Hettema ontbloot – digters, divas en ’n titsel Parys

Komvandaan: Waar die natuur jou naam onthou, Suidoosterfees 2026

Suidoosterfees 2026: Moslemafrikaans gevier in Ek en jy, tot laat toe

Suidoosterfees: ’n resensie van Wat om te doen as die wêreld brand

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top