
Anzio September en Abdullatief Davids (Foto: Gys Loubser, Suidoosterfees)
Titel: Ek en jy, tot laat toe
Met: Anzio September en Abdullatief Davids
Teks: Zubayr Charles
Regie: Carlo Daniels
Zubayr Charles se toneelstuk Ek en jy, tot laat toe het Moslemafrikaans na die verhoog gebring as deel van die NATi Teaterfees by die 2026 Suidoosterfees. Ek gebruik bewustelik nie bloot die woord Kaaps hier nie, hoewel die programnotas genoem het die stuk is in Kaaps. Hoekom nie? Dit is wel in Kaaps, maar Kaaps is ’n sambreelterm vir ’n aantal verskillende variante van Afrikaans. Moslemafrikaans is een daarvan. In hierdie geval is dit boonop verder afgebaken: Dis Moslemafrikaans uit die Bo-Kaap.
Die waarde van Moslemafrikaans in ons letterkunde kan nie onderskat word nie, want van die eerste boeke in Afrikaans is in Arabiese skrif geskryf en uitgegee. Moslemsonderwysers het reeds sedert die vroeë 1800’s boeke in Afrikaans geskryf. Aangesien Arabiese skrif foneties is, kan ons vandag hoor hoe Afrikaans daar in die Bo-Kaap gepraat is in die vroeë 1800’s.
Zubayr Charles laat Moslemafrikaans nou leef op die verhoog. Daar is onlangs natuurlik ander tekste gepubliseer wat dit ook gedoen het. Gaireyah Fredericks se Een voet in die kabr is ’n goeie voorbeeld.
Charles self het die afgelope ruk interessante werk gelewer in Bo-Kaap-Engels, wat ook heelwat Afrikaans bevat. Nou het Charles die groot stap gewaag en sy eerste vollengte toneelstuk in Moslemafrikaans geskryf.
Dit was lekker om die taal te hoor. Ek het min moeite gehad om die woorde, en terme, soos janaza (begrafnis) te verstaan, maar nie almal in die gehoor kon al die verwysings snap nie. Ná die tyd het ek met ’n vriend gesels wat erken het dat die Arabiese terme hom heeltemal verbygegaan het, tog het hy wel die basiese storielyn gevolg.
Die geloofsterme in Arabies is egter belangrik, want die twee karakters se geloofslewe, en taalgebruik, kom juis onder die loep in die stuk. By ten minste twee geleenthede het een vir die ander gevra waarom hy in Arabies blaf? (Ek keer terug hierheen.)
Tradisie en geloof
Die stuk open met Luqmaan alleen op die verhoog 40 dae na sy vrou se janaza. Hy dink hardop en sien in sy eie denke beelde van sy eie ghusl mayyit, ’n rituele was van die liggaam voor die begrafnis.
Diegene wat Charles se werk ken, sal weet dat dít ’n leitmotief is wat deur sy oeuvre loop. Ook dat dit ’n belangrike sleutel is vir die res van die teks. Die voorbereiding vir die begrafnis is nie net om die liggaam ter ruste te lê nie, dit is ook ’n manier om die siel voor te berei vir die hiernamaals.
Luqmaan se eie innerlike gesprek, voor die gehoor, gaan oor hoe Allah hom in die hiernamaals sou ontvang. Is hy waardig om Jannah (die hemel) te betree?
Die tydperk van 40 dae na die begrafnis, in Moslemafrikaans bekend as “veertag-aane”, is nie om dowe neute nie. Veertag-aane is ’n baie bekende gebruik in die Bo-Kaap. Daar word soms gesê dat die gees van die gestorwene vir 40 dae ronddwaal ná die begrafnis, en dan, presies 40 aande later, terugkeer na die plekke waar die persoon gebly het. Dit is vir die dwalende gees ’n manier om afsluiting te kry sodat die siel die hiernamaals dan met vrede kan ingegaan.
Om veertag-aane te vier, is dus vir die oorlewendes ’n manier om vir oulaas ’n vorm van interaksie te hê met die gestorwene en, baie belangrik, om salaah te maak (voorbidding te doen) vir die siel.
Hoewel dit ’n baie bekende gebruik is onder Moslemgesinne, is veertag-aane nie sonder kontroversie nie. Ernstige Moslem-geleerdes sal sê dat hierdie gebruik haram (onheilig) is. Dit staan nêrens in die Koran dat die siel vir 40 dae rondswerf nie. Die waarheid is dat groot dele van die Islam die gebruik summier oorgeneem het by die Ortodokse Christene.
En hier lê die kruks van Ek en jy, tot laat toe. Die stuk handel oor geloof vs tradisie. Meer nog: Hoe leef geloof en tradisie saam met die alledaagse in ons moderne Westerse samelewing?
Die stel en die minimalistiese stuk
Die stel is feitlik kaal. Daar is ’n stoel voor op die verhoog en agter op die verhoog is ’n tafel met ’n aantal rame op. Hierdie rame, heeltemal leeg, word deur akteurs gebruik soos ’n mense fotorame sou gebruik. Hulle word opgetel, in gekyk en neergesit. Wat die karakter daarin sien, bly ’n raaisel vir die gehoor.
Hier is nog ’n interessante konsep wat ons moet verstaan.
In baie streng Moslems se huis sal jy nooit foto’s of getekende beelde van enige iets opgeplak sien nie. Hoekom nie? Allah verbied dit ten sterkste dat iemand afgode aanbid; ook mag jy nie ’n afbeelding van ’n godheid maak nie. Christene sal dit verstaan – vergelyk die eerste en tweede gebooie soos opgeteken in Eksodus 20.
Wat is daardie rame dus? In Moslemhuise word rakems wel toegelaat. Rakems is geraamde aanhalings uit die Koran.
Staar die akteurs dus na tekste of na (effens ongeoorloofde) foto’s? Ons sal nie weet nie. Soos baie ander dele van die stuk verskaf Charles nie vir ons antwoorde nie. Vrae wel. En daardie vrae is van toepassing op ons almal – gelowig of nie.
Die stuk is net so minimalisties as die stel. Die oorgange tussen die hede en die verlede is nie altyd duidelik nie, maar die dialoog maak dit moontlik om die tydspronge te volg.
Ek het, terloops, die beligting soms vreemd gevind, want Junaid se karakter was soms in relatiewe donkerte gehul. Ek het gewonder of dit iets te doen het met die buitestander wat geleidelik aan die gehoor bekendgestel moet word, want in ander tonele was die beligting keurig en het dit die oog gelei na dit wat ons moes waarneem.
Net soos die rame leeg bly op die verhoog, verskaf die minimalistiese toneel waarneembare leegtes waardeur ons moet kyk en wonder of ons dalk onsself in daardie leë raam raaksien.
Die storie
Die verhaal is redelik eenvoudig, maar ontvou op ’n interessante manier. Die gehoor moet dus kophou om die narratief te volg.
Junaid en Luke (soos Luqmaan eers bekendgestaan het) was saam op skool. In hulle tienerjare was die vraag moes jy inpas by die populêre groep, of moes jy ’n gelowige Moslem probeer bly en nie deel hê aan gebruike wat teen die Islam is nie. Maklik vraag, nie maklik om te beantwoord as jy ’n tiener is nie.
Die een wil inpas, die ander nie. Dit skep spanning tussen die twee skoolseuns. Wie is reg? Wie nie? Wie oordeel vir wie?
Nog eens wil ek aantoon dat hierdie vraag universeel is – dit maak nie saak watter geloof jy aanhang nie.
Hierdie universele waarhede word verder onderstreep deur twee bekende intertekste aan te haal. Wanneer die twee skoolvriende eendag saam in detensie is, noem een van hulle The breakfast club, John Hughes se film uit 1985 waarin vyf hoërskoolkinders uit totaal verskillende agtergronde detensie kry. Daardie dag in die film begin stormagtig, maar uiteindelik begin die vyf gesels ten spyte van hulle verskille.
Tydens die skoolseuns se gesprek in detensie hoor ons ook hulle lees Hanna Hoekom. Die roman, wat deur Marita van der Vyver geskryf is, se volledige titel is Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom. Die roman handel oor ’n vreemde gesin wat op ’n manier met mekaar moet leer saamleef.
Hanna kry haar bynaam omdat sy so gereeld alles bevraagteken: “Hoekom?”
Anders as in The breakfast club of Hanna Hoekom is hierdie detensie wat ons op die verhoog sien, nie lank genoeg vir ’n katarsis nie. En dis belangrik.
Nou, in die hede keer Junaid terug na die huis waarin Luqmaan woon. Die gesprek wat toentertyd in detensie begin het, word nou weer opgeneem.
Uit hierdie gesprek leer ons ’n aantal dinge:
- Junaid was 15 jaar lank weg.
- Luqmaan is met Junaid se suster getroud – en sy was verwagtend voor hulle getrou het. Dit is Junaid se suster, wat Luqmaan se vrou was, se veerag-aane.
- Die huwelik was moeilik, maar hulle het dit maak werk.
- Luqmaan en sy vrou het ’n dogtertjie gekry.
- Junaid se ma is intussen oorlede.
- Junaid se ma het klaarblyklik die huis aan haar dogter nagelaat.
Die enkele kolpunte hier bo is ’n kru opsomming van twee mense wat mekaar weer, na 15 jaar, in die oë moet kyk. Maar ek gebruik dit as ’n (leë) raam om die toneelstuk te probeer vasvat.
Ek gebruik graag die laaste kolpunt om weer die tema van die toneelstuk te vind.
Junaid, wat vir 15 jaar weg was, kom sê vir Luqmaan dat hy, volgens Sjaria-wette, die regmatige eienaar van sy ma se huis is.
Sjaria-wette is streng interpretasies van hoe om volgens die Koran te lewe. Die streng wette is egter kontroversieel, net soos daar in die Joodse geloof en in die Christendom gefrons word oor ’n wettiese lees van die heilige geskrifte. Die wette druis dikwels ook teen die Westerse gemenereg in.
Maar wetties of te streng volgens wie? En wie sê die gemenereg is reg?
Van wanneer af blaf jy Arabies?
Soos hier bo vermeld, is die vraag waarom iemand Arabies blaf direk gerig aan die ander spreker wat skielik baie godsdienstige woorde gebruik in hul omgangstaal. Die dieperliggende vraag is: Van wanneer af is jy so streng godsdienstig? En hoekom?
Junaid se ma het skynbaar die huis aan haar dogter (Luqmaan se vrou) nagelaat. Luqmaan en sý dogter sou dus nou die huis moes erf volgens die gemenereg.
Die Sjaria-wette is egter geweldig chauvinisties – mans word beslis voorgetrek en vroue soos minderes behandel volgens hierdie streng wette.
Junaid, wat skielik Arabies blaf en Sjaria-wette voorhou, sê dus vir Luqmaan dat sy ma nie die reg gehad het om die huis aan haar dogter na te laat nie. Volgens Sjaria-wette is Junaid as die seun outomaties die eienaar van die huis.
Hierdie klein deeltjie van die gesprek is nog eens ’n sleutel om Charles se werk te verstaan. Hy vra baie gereeld vrae oor geloof en hoe dit meng, of bots, met alledaagse gebruike.
Die monoloog van Luqmaan waarmee die stuk open, word nou ’n rou tweegesprek oor vriendskap, geloof, tradisies en menseregte. Waar Luqmaan aan die begin met homself oor sy eie siel gesit en praat het, is dit nou twee vriende, “ek en jy”, wat tot baie laat toe moet sit en uitpluis wie hulle is in ’n samelewing wat nie noodwendig slegs gebaseer is op outydse geloofsoortuiginge, of moderne Westerse waardes nie.
Die veerag-aane van ’n vrou wat eens vir albei baie beteken het, word eintlik in hierdie toneelstuk die herbesoek van herinneringe wat kleef aan ’n huis wat vir albei mans baie beteken het.
Die stuk gaan oor meer as ’n huis, maar die huis word ’n metafoor.
Dit is nie soseer die dooies wat hier moet tuiskom nie, maar die lewendes. Wie gaan uiteindelik hier rus vind? Gaan die streng godsdienswette wen, of dalk die Westerse gemenereg? Of gaan die twee mekaar op ’n menslike vlak vind en buite die raam van wetgewing hulself en mekaar kan akkommodeer?
Dus?
Net soos dit belangrik is om Moslemafrikaans op die verhoog te hoor, so is dit ook belangrik vir Afrikaanse gehore om die binnewêrelde van mans in die Islam te hoor.
Luqmaan en Junaid is nie verteenwoordigend van alle Moslems nie, maar die vrae wat gevra word, resoneer met ons menswees oor geloofsgrense heen.
Kyk ons verby die Arabiese woorde en die tradisies eie aan die gemeenskap waarin die stuk afspeel, dan word hulle twee mense wat worstel met probleme waarmee baie van ons ook worstel.
Gebruik ons dus die stuk, so netjies gedoen in Moslemafrikaans, as ’n leë raam waarin ons, as die gehoor, moet kyk, word die vrae ook aan ons gevra: Sien jy dalk jouself in die raam? Is dit nodig dat jy en jou onsigbare selfbeeld mekaar tot laat toe in die oë kyk?
Lees ook:
Suidoosterfees: ’n resensie van Wat om te doen as die wêreld brand
Persverklaring: Suidoosterfees 2026 se NATi Teaterfees-program
"Haal af bitsje bitsje en maak ope die omwoelsels..." – vroeë Arabies-Afrikaanse tekste
Die Bo-Kaap: Arabiese Afrikaans en die Kaapse Moslemgemeenskap

