Suidoosterfees: ’n resensie van Wat om te doen as die wêreld brand

  • 0

Foto: Suidoosterfees

Titel: Wat om te doen as die wêreld brand
Met: Elzabé Zietsman

Teks en regie: Bibi Slippers
Musiekregie: Jody Jason Petersen

Hoe blus ons die brande wat binne ons woed?

Elzabé Zietsman het by die onlangse Suidoosterfees weer eens bewys hoekom sy een van die legendes van die verhoog in ons land is. In Wat om te doen as die wêreld brand (geskryf deur Bibi Slippers) raak sy aan verskeie onderwerpe, soos die mens se gevoel van wanhoop, moeilike verhoudings, die oorloë wat dreig, depressie en die behoefte aan hulp van ons medemens.

Ons ontmoet Zietsman as die engel/orakel wat die telefoon van die heelal beantwoord en briewe vanaf mense lees en beantwoord. Daar is vrae oor verhoudings, oor die sin van die lewe, en oor die einde van die wêreld. 

Die tema van vuur en brand loop deur die toneelstuk. Zietsman sing haar eie verwerkings van verskeie welbekende liedjies, vervleg met haar eie oorspronklike stukke. Tussendeur bring sy belangrike boodskappe deur vertellings van verskeie ervarings. Dit is een van daardie stukke wat jou een oomblik laat lag en die volgende wil laat huil. Maar bo alles laat dit jou diep dink – oor die lewe, oor jou eie menslikheid en oor die gemors wat ons as mense soms skep.

Daar is ’n oomblik wanneer die orakel oor die saggeaarde mense in die samelewing praat – die kunstenaars, die skrywers, die mense wat aan ander gee. Sy beklemtoon die feit dat mens eers aan jouself moet gee: “Mens moet eers jou eie vere regmaak voor jy die afvlerke kan help […] anders bly daar net ’n hoop as waar daar eens ’n mens vol deernis was [sic].”

Terwyl daar deurgaans gevra word wanneer als gaan afbrand en die wêreld tot ’n einde gaan kom, is die uiteindelike antwoord iets wat ons soms uit die oog verloor: Ons almal gaan eendag sterf, so leef nou in liefde, gee om vir mekaar en vir jouself, en leef sonder vrees.

Zietsman se uitbeelding van die orakel is vlymskerp en haar sang betower die gehoor. Sy is een van ons hardwerkendste kunstenaars, wat op haar stil manier ’n groot impak deur haar werk maak.

Wat om te doen as die wêreld brand bring al die elemente van goeie teater saam – ’n uitstekende teks, goeie musiek en ’n begaafde akteur wat al die draadjies fyn saamsnoer om ’n meesterstuk te maak. En dalk sê dit ook: Dit is die kunste wat sal water gooi wanneer die vure van haat en oorlog te hoog brand.

Lees ook:

Persvrystelling: Suidoosterfees bring ’n musikale hutspot van stemme en style na die wêreld se mooiste stad!

Suidoosterfees 2026: No place like home – ’n musikale viering van Kaapstad by Suidoosterfees

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top