Persvrystelling: Suidoosterfees bring ’n musikale hutspot van stemme en style na die wêreld se mooiste stad!

  • 0

Die Suidoosterfees word vanjaar van 29 April tot 3 Mei aangebied. Die feestema is Tuiste en sluit aan by Kaapstad wat reeds meer as twee dekades lank die tuiste van die fees is – asook by die gevoel van behoort en samehorigheid wat die fees jaarliks aan feesgangers, borge, kunstenaars en teaterlui bied.

Kaapstad, ongetwyfeld die wêreld se mooiste stad, is ’n lewende tuiste vir die fees: ’n plek van komvandaan en kom weer, van uiteenlopende tale, ritmes en klanke, van mense wat mekaar in musiek herken.

In ’n tyd waar baie Suid-Afrikaners smag na ligpunte, staan die Moederstad soos ’n baken van Goeie Hoop – ’n stad wat inspirasie bring vir sy inwoners en energie gee vir die res van die land. Die fees is bevoorreg om Stad Kaapstad as ’n hoofborg te hê.

Geordin Hill-Lewis, Kaapstad se uitvoerende burgemeester (Foto: Personeelfotograaf van die Demokratiese Alliansie via WikiMedia CC BY-SA 3.0)

Geordin Hill-Lewis, Kaapstad se uitvoerende burgemeester, sê: “Suidoosterfees bly ’n belangrike platform om Kaapstad se diverse kuns- en kultuurlandskap te vier en te versterk. Die Stad Kaapstad is trots om ’n fees te ondersteun wat musiek-, teater-, leefstyl- en visuele kunservarings byeenbring, terwyl dit ook betekenisvolle geleenthede skep vir kunstenaars en kreatiewes uit ons gemeenskappe, insluitend landelike gebiede.

“Benewens die kulturele betekenis daarvan, speel die fees ’n wesenlike rol in die ondersteuning van ons plaaslike ekonomie deur besoekers te lok, werksgeleenthede te skep en die breër kreatiewe sektor te onderhou. As die Stad Kaapstad bly ons daartoe verbind om platforms soos Suidoosterfees te bemagtig om te groei en voort te gaan om die rykdom van ons plaaslike talent ten toon te stel.”

Die fees brei vanjaar verder uit as Kunstekaap, die tradisionele middelpunt van aktiwiteite, met verskeie nuwe venues wat benut word. Die fees is veral trots om ’n aantal opwindende nuwe musiekproduksies in die Kaapstad-Burgersentrum aan te bied – ’n venue met sterk simboliese waarde vir die stad en sy leierskap.

Bheki Khoza in Oorkant die pad

Oorkant die pad is ’n stylvolle reeks jazzkonserte wat in die Burgersentrum langs Kunstekaap plaasvind. Hier kan feesgangers hulle dag afsluit met iets te ete en met ’n drankie in die hand na van Suid-Afrika se voorste jazzmeesters luister. Dis ’n heerlike kuierplek waar die stad se aandligte soos note oor die sypaadjies val.

In Oorkant die pad: Eldred Schilder bring Schilder, ’n nasaat van een van Kaapstad se bekende jazzfamilies, sy musikale wêreld na die verhoog met George Werner, Zhivago Hagan en Dillon Myburgh. Hulle trakteer feesbesoekers op komposisies wat ons Kaapse jazz-erfenis gedenk en raak reflekteer.

Bheki Khoza, die “jazzpriester van Durban”, tree ook op in die Oorkant die pad-reeks. Sy linkshandige kitaarstyl en verbintenis met Zoeloe-musiektradisies beloof ’n onvergeetlike ervaring. Saam met Kyle Damons, Chadleigh Gowar en Caleb Dlamini skep hy ’n klanklandskap wat jou noot vir noot oorrompel.

En dan is daar Oorkant die pad: Ramon Alexander met die bekroonde pianis, komponis en opvoeder wat tradisionele Kaapse jazz met moderne invloede verweef. Charl Clayton, Adam Fredericks en Annemie Nel is saam met die meester op die verhoog. Hulle bring die soort musiek wat mense eers laat stil word voordat hulle uit volle bors juig.

Die Suidoosterfees open jaarliks met die geliefde Konsert van hoop – ’n luisterryke musiekkonsert wat Kaapstad se status as ’n stad van eindelose moontlikhede vier. Aangebied in samewerking met die Nasionale Jeugmusiekstigting, Kaapstad se Filharmoniese Jeugorkes en Kaapstad Opera, bring dié konsert hulde aan jong uitnemendheid, samewerking en die krag van kuns om mense bymekaar te bring.

Craig Lucas in Konsert van hoop

Liam Burden begelei die Kaapstadse Filharmoniese Jeugorkes en Lee-Ann van Rooi is die seremoniemeester. Konsert van hoop word in The Capetonian Operahuis in Artscape aangebied met gevestigde kunstenaars en jong sterre: Craig Lucas, Joshua na die Reën, Rethabile Khaile, Thandolwethu Longo, Kyrah Adams, die Jan van Riebeeck-skoolkoor, Figure of 8 Dansteater en Dance for All. Musiek word tydens dié geleentheid ’n gemeenskaplike taal wat oor generasies strek en die Suidoosterfees met glans afskop.

Nog groot konserte staan uit op die program. Nataniël is terug met Händel en die donkie – ’n fynproewer-ervaring waar musiek en stories op die slimste maniere paaie kruis. Hy besin oor die heilsaamheid van die gewoonte om mense aandagtig dop te hou, ook van seerkry, en hy vermeng sy stories met ’n wye musikale repertoire – van jazz en pop tot die barokklanke van Georg Friedrich Händel. Steinway-pianis Charl du Plessis en ’n uitmuntende strykkwartet is saam met Nataniël op die verhoog.

In Stille vuur brand musiek, liriek en vertelkuns in ’n vredesvlam. Frieda van den Heever, Coenie de Villiers en Mauritz Lotz skep ’n klankwêreld waar nuwe komposisies en herverbeelde gunstelinge die hart tref. Deon Meyer sluit as gasverteller aan met nuwe werk uit sy pen. Meyer en die musikante gaan feesgangers herinner dat skoonheid ook ’n vorm van weerstand is, en dat ’n stille vuur witwarm kan brand.

Jawaahier Petersen in Suidooster Stormsterk

Suidooster Stormsterk bring die glans van die gewilde kykNET-sepie Suidooster vir die vyfde keer na die fees. Sterre soos Dean Smith, Jawaahier Petersen, Craig Adriaanse, Irvine van der Merwe, Lauren Joseph en talle ander verruil die drama op die sepiestel vir verhoog-mikrofone. Feesgangers kan uitsien na hoë-oktaan energie, verrassings en natuurlik ’n paar kinkels waarvoor die Suidooster-karakters beroemd en berug is. Braeden Buys is verantwoordelik vir die choreografie en Yolandé Rabé is die regisseur.

Gary Naidoo in Suidoosterfees Boogie

Suidoosterfees Boogie is vanjaar groter, vrypostiger en meer as gereed om die dak te lig. Gary Naidoo, Ree Cornelius, Janine Cornelius, Jon-E, Celest Dreyer en Candice Thornton neem feesgangers op ’n nostalgiese reis deur treffers uit die 70’s en 80’s. Daar is ook ’n lekker skeut moderne gunstelinge en skaterlag-komedie. By Suidoosterfees Boogie, een van die gewildste items op die feesprogram elke jaar, hoor jy altyd voete klop, vingers klap en stemme wat luidkeels roep.

Jazz is ook die fokus in twee ander uitsonderlike konserte. In Anna Davel en The Melisizwe Plaatjie Collective kom plaaslike en wêreldmusiek bymekaar in meesleurende stories, verkwiklike ritmes en improvisasie. Anna Davel en Melisizwe Plaatjie, ondersteun deur topmusikante, wissel tussen New Orleans se rokerige klubs, polsende Latyns-Amerikaanse gunstelinge en strelende Europese elegansie.

Duncan Johnson in The Echoes of the Cape Doctor: Remembering Robbie Jansen

The Echoes of the Cape Doctor: Remembering Robbie Jansen is ’n aangrypende huldeblyk aan een van die Kaap se ikoniese jazzmusikante. Duncan Johnson lei ’n indrukwekkende ensemble met Ramon Alexander, Nazeem Brown, Muneeb Hermans, Carlo Fabe en Chadleigh Gouwer. Deur ’n ryk vermenging van stories, humor, warmte en sielvolle uitvoerings, herbesoek hulle Jansen se tydlose komposisies en sy blywende invloed op die siel van Kaapstad.

Die ATKV, ook een van die fees se hoofborge, bring weer konserte wat die fees se ontwikkelingsgees vier. Die ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie word in 2026 twintig jaar oud. Vir twee dekades maak dié organisasie reeds ’n daadwerklike verskil in die lewens en welvaart van gemeenskaps-, kerk- en plaaskore. Kore van oor die Wes-Kaap kom skitter by die fees met hul passie vir samesang. Corneli Quinn is die koördineerder van dié gewilde kompetisie en die beoordelaars is Hannelize du Plessis, Jade Paige en Lizl Gaffley.

Stephanie Baartman is die seremoniemeester van die ewe feestelike ATKV-Koorgala – ’n sprankelende viering van harmonie en stemkrag. Feesgangers kan nader skuif vir roerende uitvoerings deur Lynelle Kenned, die Lyrikos Jeugkoor en wenners van die ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie. Die ATKV-Crescendo-orkes en Lizl Gaffley se musiekregie bou in die konsert op na ’n asemrowende massakoorvertoning wat ’n gevoel van eenheid, samehorigheid en musikale uitnemendheid laat opvlam.

Stephanie Baartman

Baartman skitter ook in Hoort – ’n semi-outobiografiese kabaret wat jou laat lag, huil en met nuwe oë na jou eie storie kyk. Met Janine Neethling op klavier en die teks deur Baartman en Johann Slabbert, beweeg die vertelling tussen koortjies, ghoema, jazz en oorspronklike Afrikaanse komposisies. Dis ’n eerlike, snaakse en soms hartverskeurende vertoning wat gehore in Johannesburg sedert verlede jaar gaande het.

Musiek wat met Afrikaanse letterkunde skakel, bring vanjaar ’n besondere dimensie na die program. In Die siel van Eugène Marais neem Daniel Anderson en Paul Ferreira jou op ’n dramatiese reis deur die innerlike wêreld van een van Suid-Afrika se mees komplekse literêre figure. Met Amanda Bothma se teks en regie, en Ferreira se musiekregie, ontvou Marais se metamorfose van sjarmante jong joernalis tot ’n verslete man in sy latere jare – ’n kabaret wat geskiedenis en menslikheid fyn laat resoneer. Anderson se talent het eenvoudig geen perke nie.

Elzabé Zietsman in Wat om te doen as die wêreld brand

Wat om te doen as die wêreld brand is ’n kabaret met vuur onder die vlerke. Elzabé Zietsman is saam met pianis Jody Jason Petersen op die verhoog. Zietsman vertolk die rol van ’n engel-orakel-demi-godin wat die kliëntedienssentrum van die kosmos probeer bestuur terwyl die wêreld om haar brand. Die digter Bibi Slippers se skryfwerk en regie lewer ’n spitvondige en verrassend troosryke blik op oorlewing wanneer dit voel soos die einde van dae.

In Hettema ontbloot: digters, divas en ’n titsel Parys lê Helena Hettema haar kuns en haar siel in ’n betowerende verhoogervaring bloot met poësie, musiek en teater. Met voordragte uit haar bekroonde debuutbundel Journeyman, skerp sosiale kommentaar en huldeblyke aan ikoniese digters en tydlose divas, word die gehoor op ’n emosionele reis geneem waar Afrikaans, Engels en die gees van Parys (in Frankryk!) mekaar vind.

Bambi Kellermann

Pieter-Dirk Uys bring sy legendariese Bambi in kabaret na die fees. Bambi Kellermann – die kontroversiële suster van Evita Bezuidenhout – deel haar internasionale dramas in ’n slim crossover tussen stand-up komedie en kabaret, met Godfrey Johnson teenwoordig as pianis. Dis skerp, stout en onmiskenbaar Uys.

Klassiekemusiek-liefhebbers word ook nie afgeskeep nie. Vivaldi en die vondeling is ’n klein meesterwerk van musiek en storie wat deur Riana Scheepers en Niël Rademan geskep is. Lynelle Kenned, Mario Nell en Veronica Bell bring die uitsonderlike lewensverhaal van Anna Maria della Pietà aan feesgangers. As baba is sy voor ’n klooster gelos, maar onder Vivaldi se leiding het sy ontwikkel tot ’n gevierde maestra di violino.

Magnifico is ’n musikale viering van uitnemende stemme en virtuose musici. Magdalene Minnaar, Sima Mashazi en Timothy Moloi laat klassieke gunstelinge en tydlose meesterwerke in ryk, kontemporêre klanklandskappe ontvou. Dis elegant, inspirerend en vol ongebreidelde vreugde.

Orfeo ed Euridice stel die groot vraag: Kan liefde en musiek die verloop van die noodlot verander? Rosa van der Dussen sing Orfeus in Italiaans terwyl die UK-Operakoor en -orkes haar ondersteun saam met Cape Ballet Africa-dansers. Hierdie uitvoering van Gluck se mite het onderskrifte in Engels en isiXhosa. Dis ’n pragtige opera-ervaring wat die hart se hoogste en laagste note tokkel.

Spirituele musiek kry ook ’n spesiale plek op die program met Spiritual Songs – ’n Viering van vokale meesterskap en heilige klank. Niël Rademan en Paulina Malefane se solostemme, saam met Stadskoor-, Choir-, Ikawayara- en Treble Clefs skep ’n atmosfeer van eerbied, warmte en passie. Dit word beskryf as ’n konsert wat die siel raak en die hart verhef.

Universiteit Stellenbosch Koor

Die wêreldberoemde Universiteit Stellenbosch Koor vier ’n glorieryke mylpaal met Universiteit Stellenbosch Koor 90. Onder leiding van André van der Merwe bring hierdie ikoniese studentekoor hul kenmerkende energie, ryk klank en splinternuwe repertorium na The Capetonian Operahuis. Dis ’n galakonsert vol vreugde, uitnemendheid en musikale glans wat in die nege dekades van die koor se bestaan net verdiep het.

Amanda Strydom in The Incredible Journey of Tinkerbell van Tonder

Amanda Strydom se The Incredible Journey of Tinkerbell van Tonder is ’n storie van hoop, wonderlike avonture, selfontdekking en tuiskoms. Coenraad Rall begelei Miss Mandy, en feesgangers sal sterk aanklank vind by die kernvraag van die stuk: “Life is a journey, wie is djy nou om die transport te question?”

Smile FM is vanjaar die Suidoosterfees se amptelike radiostasie.

Volledige besonderhede van die Suidoosterfees se musiekprogram is op suidoosterfees.com, en kaartjies kan deur Webtickets bespreek word. Die musiekprogram word moontlik gemaak deur kykNET, Het Jan Marais Nationale Fonds, die Johann Brink Trust en die ATKV.

Die hoofborge van die Suidoosterfees is die Wes-Kaapse regering en die provinsie se Departement van kultuursake en sport, Stad Kaapstad, Netwerk24, Die Burger, NATi, kykNET, die ATKV en Kunstekaap.

Lees ook:

Persverklaring: Suidoosterfees 2026 se NATi Teaterfees-program

Persvrystelling: Suidoosterfees 2026 se Kort voor lank-programafdeling

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top