Jean Oosthuizen gee ’n oorsig van die Jakes Gerwel-gesprek, “Koningmakers en kroondraers”, wat as deel van die jaarlikse Suidoosterfees plaasgevind het. Hierdie gesprek, met Anthony Butler, Tara Roos, Qaanitah Hunter en Gert van der Westhuizen, is in samewerking met Jonathan Ball, Jacana Media en Netwerk24 op 30 April aangebied.

Van links: Tara Roos, Anthony Butler, Qaanitah Hunter en Gert van der Westhuizen (Foto: Jean Oosthuizen)
Die vraag oor wie president Cyril Ramaphosa gaan opvolg, het skerp na vore gekom tydens ’n paneelbespreking by die Suidoosterfees in Kaapstad. Onder die prikkelende tema “Koningmakers en kroondraers: Wie gaan Cyril Ramaphosa opvolg?” is die komplekse magstryd binne die ANC ontleed – nie as ’n verre moontlikheid nie, maar as ’n proses wat reeds volstoom aan die gang is.
Die kernvraag van die gesprek was eenvoudig, maar gelaai: Is Paul Mashatile die nuwe kroondraer, of gaan sy beweerde sondes hom inhaal? Daarby het die paneel ook gevra: Wie is die werklike koningmakers agter die skerms, en wie is die gunstelinge binne die verskillende ANC-faksies?
Die paneel het bestaan uit die politieke ontleder, akademikus en skrywer Anthony Butler, politieke joernaliste Tara Roos van Business Day en die onafhanklike politieke joernalis Qaanitah Hunter, met Gert van der Westhuizen van Netwerk24 as gesprekleier.

Tara Roos (Foto: Jean Oosthuizen)

Foto: Jean Oosthuizen
Een van die eerste insigte uit die gesprek was hoe oop en onvoorspelbaar die opvolgwedloop geword het. Waar die ANC se leierskap vroeër byna outomaties die land se presidentskap beteken het, het die nuwe koalisiebedeling daardie sekerheid verbreek en is dit tans ’n wedloop sonder ’n duidelike wenner.
Butler het dit duidelik gestel dat daar nie meer aangeneem kan word dat die ANC-president outomaties die staatspresident gaan wees nie.
Hierdie eenvoudige waarneming het verreikende implikasies. Dit beteken die ANC moet nou nie net intern konsensus bou nie, maar ook rekening hou met koalisievennote en ’n skeptiese kieserspubliek.
Die gesprek het gou gefokus op twee prominente name: Paul Mashatile en Fikile Mbalula.
Hunter het die dinamiek kernagtig opgesom: “ANC-politiek gaan nie oor wat die publiek dink nie, dit gaan oor faksies en mag.”
Op die oomblik lyk dit asof die wedloop hoofsaaklik tussen Mashatile en Mbalula lê – twee figure wat elk hul eie sterk en swak punte het.
Mashatile, as adjunkpresident, beskik oor institusionele mag en toegang tot staatshefbome. Tog lyk dit of hy nie dieselfde entoesiastiese steun binne die ANC geniet as wat ’n kandidaat in sy posisie sou verwag nie. Sy beeld word verder gekompliseer deur bewerings en vrae oor sy verlede, wat hom kwesbaar maak in ’n tyd waarin openbare vertroue reeds broos is.
Aan die ander kant is Mbalula dalk minder gewild onder die breër publiek, maar binne die ANC beskik hy oor sterk faksionele steun. Sy posisie as sekretaris-generaal gee hom toegang tot die party se organisatoriese masjinerie – ’n kritieke voordeel in enige interne verkiesing.
Die keuse tussen die twee is dus nie bloot ’n kwessie van beleid of visie nie, maar van magbalanse binne die party. Dit is ’n herinnering dat ANC-politiek steeds diep gewortel is in faksionalisme.
Roos het dié spanning verder ontleed: “Dit voel minder soos ’n keuse van visie, en meer soos ’n weddenskap oor wie die meeste mag kan mobiliseer.”
Geen gesprek oor ANC-politiek is volledig sonder die rol van geld nie. Die paneel het nie doekies omgedraai oor die skadu van geld en invloed wat oor die ANC se leiersverkiesings hang nie.
Butler het ’n belangrike nuansering gemaak: “Geld tel, maar dit tel nie beslissend nie. Jy kan nie altyd met geld koop hoe mense stem nie, want niemand weet presies hoe hulle stem nie.”
Hy het ook gewaarsku oor die bronne van daardie geld. Anders as Cyril Ramaphosa se CR17-veldtog, wat amper ’n halfmiljard rand ingesamel het waarvan heelwat inligting oor die donateurs bekend is, het Nkosazana Dlamini-Zuma (NDZ) en haar span geweier om te sê wie vir haar veldtog betaal het tydens die ANC se leierskapstryd in 2017. Daar word bespiegel dat dit van staatsinstellings tot beweerde onwettige ekonomiese netwerke soos die onwettige tabak- en drankbedryf kon gekom het. Sulke bewerings plaas ernstige vrae oor die integriteit van interne politieke prosesse.
Adriano Mazzotti, eienaar van Carnilinx, ’n sigaretmaatskappy, is een van die name wat byvoorbeeld in Jacques Pauw se boek The President’s keepers (2017) na vore kom. Volgens Pauw het Mazzotti se maatskappy NDZ se veldtog deels befonds, wat min of meer ooreenstem met Butler se raaiskote.
Roos het dit selfs skerper gestel en gesê al wat gebeur het sedert die ANC se vorige leiersverkiesing, is dat daar nou ’n bedrag van ’n halfmiljard rand op die tafel is wat almal probeer oortref om die prys te wen.
Hierdie “wedloop van finansiering” skep ’n gevaarlike dinamiek waar beleid en lojaliteit maklik deur geld beïnvloed kan word.
’n Interessante tema in die gesprek was die mite van ’n “redder” en die Suid-Afrikaanse neiging om telkens na ’n “verlosser”-figuur te soek om die land se probleme op te los.
Van der Westhuizen het dié sentiment op die tafel geplaas deur te sê dat daar altyd die hoop by mense is dat iemand soos ’n Mandela-figuur sal opstaan en keer dat die land brand. Maar die paneel was skepties oor hierdie idee. Die werklikheid van koalisiepolitiek en gefragmenteerde steun beteken dat geen enkele leier meer absolute mag of invloed kan hê nie.
Dit skep ’n groter moontlikheid van ’n buitestander as kompromis. Teen hierdie agtergrond duik die naam van die sakeman Patrice Motsepe gereeld op as ’n moontlike kompromiskandidaat. Sy aantrekkingskrag lê juis daarin dat hy nie deel is van die ANC se interne struwelinge nie.
Maar hierdie idee het duidelike beperkings. Politieke ervaring – of die gebrek daaraan – bly ’n groot struikelblok. Die bestuur van ’n politieke party, veral een so kompleks soos die ANC, vereis vaardighede wat nie noodwendig in die sakewêreld ontwikkel word nie.
Tog het Butler erken dat ’n buitestander in ’n koalisie-era nie heeltemal uitgesluit kan word nie. In ’n scenario waar geen party ’n meerderheid het nie, kan ’n kompromisfiguur wat vir verskillende groepe aanvaarbaar is, skielik baie aantreklik raak.
Hy was egter duidelik in sy siening dat die ANC ’n uiters komplekse organisasie is wat dit onwaarskynlik maak dat iemand van buite maklik as ANC-leier verkies word.
Miskien was die belangrikste tema van die gesprek die onontkombaarheid van koalisiepolitiek as Suid-Afrika se nuwe politieke werklikheid.
Hunter het dit só gestel: “Dit sal die eerste ANC-leiersverkiesing wees waar daar geen waarborg is dat die wenner die land ná die volgende verkiesing gaan regeer nie. En dit is belangrik, want kiesers se stemme tel nou. In die ou dae kon die ANC kies wie hulle wou, want hulle sou in elk geval die verkiesing wen. Nou kan hulle dit nie meer doen nie; hulle moet ernstig dink oor gewildheid en stemme.
“Anders as in die verlede, weet ons nou dat koalisievennote nodig gaan wees, en dit beteken dat jy op ’n manier ’n koalisievriendelike president nodig het. En dit is in die aard van koalisiepolitiek dat jy nie vir seker weet wie jou koalisievennote gaan wees nie; jy moet onsekerheid skep as deel van die proses van bedinging en onderhandeling.”
Dit beteken dat toekomstige leiers nie net hul eie party moet bestuur nie, maar ook komplekse onderhandelinge met ander partye moet kan hanteer.
Nie alle kandidate is ewe geskik vir hierdie rol nie, en dit kan uiteindelik deurslaggewend wees.
Terwyl die fokus dikwels op partye en leiers val, lê een van die grootste uitdagings elders: Miljoene Suid-Afrikaners stem eenvoudig nie meer nie.
Hierdie kiesersapatie dui op ’n diep wantroue in die politieke stelsel. Baie mense voel dat geen party werklik hul belange verteenwoordig nie. Dit skep ruimte vir populistiese en identiteitgebaseerde partye om steun te werf deur emosie en frustrasie eerder as deur beleid.
Die groei van partye soos die Patriotic Alliance (PA) en MK is ’n simptoom van hierdie tendens. Hulle spreek spesifieke gemeenskappe se griewe aan en bied ’n gevoel van erkenning, iets wat groter partye dikwels nie doen nie.
Butler het dit ietwat sinies, maar treffend gestel en gesê mense glo hulle is meer geneig om raakgery te word op pad stembus toe as wat hul stem die uitslag gaan verander.
Hierdie wantroue skep ruimte vir populistiese en identiteitgebaseerde partye om steun te werf – iets wat reeds sigbaar is in die groei van kleiner partye soos die PA.
Die paneel was dit eens dat die ANC self in ’n krisis verkeer en ’n identiteitskrisis beleef.
Roos het dit onomwonde gestel dat die ANC nie eerlik met homself is oor waar hy staan nie.
Ten spyte van dalende steun, glo baie binne die party steeds dat hulle hul meerderheid kan herwin. Hierdie ontkenning maak dit moeiliker om werklike hervorming aan te pak.
Hoewel die fokus op sy opvolger was, het Cyril Ramaphosa se eie nalatenskap ook ter sprake gekom.
Die beoordeling van Ramaphosa se presidensie bly kompleks. Aan die een kant het hy sekere instellings help stabiliseer en die grondwetlike orde gerespekteer. Butler het een oomblik as besonder betekenisvol uitgelig: “Toe hy die 2024-verkiesingsuitslag onvoorwaardelik aanvaar het, het hy gewys dat die demokratiese proses gerespekteer moet word.”
Dit, meen hy, kan een van Ramaphosa se belangrikste bydraes wees, selfs al bly baie van sy hervormingsplanne onvoltooid.
Wat duidelik uit die Suidoosterfees-paneel se gesprek na vore gekom het, is dat daar geen eenvoudige antwoord is op die vraag wie Ramaphosa gaan opvolg as leier van die ANC of president van die land nie.
Die ANC se volgende leier sal nie net deur interne faksies bepaal word nie, maar deur ’n komplekse mengsel van geld, koalisies, openbare steun en politieke oorlewing.
En miskien is die belangrikste gevolgtrekking juis dit: Suid-Afrika het ’n punt bereik waar die era van voorspelbare politiek verby is en die land ’n toekoms sonder sekerhede binnegaan oor wie die land se volgende president gaan wees.
Die koningmakers mag steeds agter die skerms werk, maar uiteindelik lê die laaste woord nie meer net by hulle nie, maar by ’n kieserskorps wat toenemend ongeduldig, krities en onvoorspelbaar raak.

