
President Cyril Ramaphosa (Foto deur Lula Oficial via wikimedia CC4.0, agtergrondfoto deur Izak de Vries)
In die lug bó ’n wildsplaas in Limpopo, beroemd én berug gemaak deur die nie-aanmelding van ’n diefstal van byna seshonderd Amerikaanse dollar aan die begin van 2020, sweef die politieke aasvoëls al in die rondte, asof hulle reeds die bloed van ’n karkas kan ruik.
Dié openingsin is ’n aanpassing van die slotsin van ’n artikel oor die konstitusionele hof se onvoorspelbare uitspraak Vrydag in die EFF se sogenaamde Phala Phala-aansoek. In die uitspraak het die Hof, soos wat die party betoog het, die Nasionale Vergadering se stemmery in Desember 2022 téén ’n staat van beskuldiging vir president Cyril Ramaphosa as “irrasioneel en ongrondwetlik” verklaar.
Die artikel verskyn op Voertaal, LitNet se susterplatform; dit is geskryf voor die Wyngaard Weekliks-gesprek later die dag met twee politieke “uitsoekbuffels”, Dirk Kotzé van Unisa en die VF Plus-leier Corné Mulder. (En hierdie LitNet-artikel, wat jy nou lees, is weer geskryf voordat Ramaphosa die land Maandagaand toegespreek het om aan te dui dat hy die verslag van die Artikel 89-paneel, wat die aanbeveling in 2022 oor ’n staat van beskuldiging teen hom gemaak het, op hersiening gaan neem.)
Wat Kotzé vooraf in die WW-gesprek uit die staanspoor benadruk het, is die wyse waarop die uitspraak die skeiding van magte – uitvoerende, regerende en regsplegende – onderstreep. “Die feit dat dit kan plaasvind in een land – en met soveel verskillende implikasies – dink ek nie gebeur in baie ander lande nie,” sê hy. “Dit is nie noodwendig [altyd] moontlik dat ’n hof so ’n tipe uitspraak maak en dat dit [geskied] sonder dat mense strate toe gaan en dat dit brand en al sulke dinge nie.”
Mulder was teenwoordig toe die gebeure van Desember 2022 afgespeel het. Dit was nadat ’n deel van die Nasionale Vergadering afgebrand het en die sitting in die Kaapstadse stadsaal gehou moes word. Omdat nie al die tegnologiese hulpmiddels al beskikbaar was nie, sou dit ’n ope stemming wees by wyse van hande opsteek. Slegs die ANC, Cope van wyle Mosiuoa Lekota en Al Jama-ah-party het teen die verslag van afgetrede hoofregter Sandile Ngcobo gestem, maar weens die ANC se destydse meerderheid in die parlement, het dit die meeste gewig gedra. Die ander opposisiepartye het deur die bank ten gunste van die uitvoering van die komitee se aanbevelings gestem.
’n Anderste soort stemming sou Vrydag deur die konstitusionele hof-uitspraak ontbloot word met dié dat dit duidelik geword het dat die regters van die Hof nie oor alles eens was nie. Die meerderheidmenings wen egter ook in dié geval, wat op sigself ’n positiewe aanduiding is, meen Kotzé.
Die tydsverloop van by die sewentien maande tussen die aanhoor van die EFF se aansoek en die uitspraak, het ook vir bespreking gesorg. Wat die rede daarvoor kon wees, is ’n tweeledige moontlikheid: om aan die regters behoorlike tyd vir beraadslaging te gee óf dat die Hof gelei is deur wat gemeen is ’n “gepaste” tyd vir die uitspraak sou wees.
Hoort dit so indien laasgenoemde die rede was? Niks fout daarmee nie, meen Kotzé: “Die hof funksioneer in sosiale omstandighede; hulle opereer nie in isolasie of in ’n skulp nie. Ons moenie in die illusie leef dat regspraak in ’n totale geïsoleerde omgewing kan plaasvind nie. Dis net nie moontlik nie.”
Mulder: “Dirk is heeltemal reg. Ek stem saam met die gebruik. Ek het al vantevore gesê: Wie is regters? Regters is nie hierdie onaantasbare wesens wat uit die hemel uit neerdaal nie. Dit is individue; dis burgers. En in hierdie spesifieke saak gaan dit oor die staatshoof en het dit spesifieke implikasies vir die land. Daarom moet ’n mens begrip hê daarvoor dat hulle dit gedoen het soos wat hulle dit gedoen het.”
Hoe nou vorentoe, in ag genome dat Ramaphosa die vorige keer glo gereed was om te bedank eerder as om deur die vernedering te gaan van ’n staat van beskuldigingsondersoek? Hierdie keer kan hy dieselfde taktiek gebruik of gewoon druk dat die proses bespoedig word. Maar gisteraand het hy die vraag self beantwoord: “Ek gaan nie bedank nie.” Dit negeer nie die konstitusionele hof se uitspraak nie en die parlement moet steeds voortgaan om die hof se bevinding uit te voer.
Kotzé maak in die LitNet-gesprek die somme: ’n Tweederde meerderheid word steeds benodig om uiteindelik effek te gee aan ’n moontlike staat van beskuldiging, maar wat ook moontlik is, is dat ’n negatiewe uitslag bereik kan word. Wat beteken dit? “Dit kan beteken 55% na die een of ander kant toe, maar dan is daar nog nie besluit nie; negatiewe besluitneming kan dan plaasvind: as ’n party ’n derde het (34% of meer – en onthou die ANC het 40%) is dit moontlik dat ’n positiewe of negatiewe besluit geneem kan word. Solank die ANC egter al sy lede dieselfde kan laat stem, het hy dus (steeds) genoeg lede om te verseker dat die staat van beskuldiging gekeer kan word.”
Die vraag word, ietwat tong in die kies, aan die twee paneellede gestel: Was Ramaphosa se onlangse teedrinkery by Zuma ’n moontlike vredespoging in afwagting van die uitspraak en die moontlikheid dat hy dalk later Zuma se MK-party se steun sou benodig? Zuma het ’n hele aantal mosies van wantroue oorleef, maar op een spesifieke keer, onthou Mulder, was die uitslag baie nader aan negatief as wat die ANC kon voorsien het – omdat dit ’n geheime (of vertroulike) stemmery was. Eenheid in die ANC kan rigtinggewend wees.
En eenheid in die regering van nasionale eenheid (RNE)? Hoe partye (binne die RNE) hulle gaan posisioneer, is in dié geval minder belangrik as wanneer ’n gewone meerderheid van 50% plus een benodig word, antwoord Kotzé. Die groter vraag vir hom is hoe Ramaphosa na dese deur sy RNE-vennote bejeën gaan word en die vlak van respek wat vir hom behoue sal bly; ’n ander vraag is of ’n alternatief as potensiële leierskandidaat gaan ontstaan?
Die naam wat eerste opklink, is dié van die adjunk-president, Paul Mashatile en indien dit hy sou wees, meen ’n ander ontleder, Theuns Eloff, sal dit die vinnigste wees dat die ANC geheel inplof. Kotzé wil nie sy nek uitsteek en in kristalballe kyk nie; Mashatile sal in elk geval eers by die ANC se volgende nasionale konferensie die mag moet kan oorneem voordat hy as ’n ernstige moontlikheid as opvolger vir Ramaphosa as staatshoof beskou kan word, sê hy.
Mulder hou die RNE as troefkaart op: Ramaphosa is as president deur die RNE verkies, sê hy, en derhalwe sal die RNE se eie steun vir die staatshoof bepalend wees vir sy politieke toekoms anderkant die konstitusionele hof se uitspraak die afgelope Vrydag. Maar die aasvoëls bly sweef: Zuma dring selfs nou daarop aan dat die parlement spoedig moet stem in ’n mosie van wantroue teen die man met wie hy onlangs tee gedrink het. In die politiek, sê hulle, het jy net vyande; nooit vriende nie.
Lees en kyk ook:
Wyngaard Weekliks: Die konstitusionele hof en die Phala Phala-kwessie
Politieke aasvoëls sweef oor Ramaphosa ná die Konstitusionele Hof se Phala Phala-uitspraak

