
Helena Hettema (foto: Yolanda Saayman)
Suidoosterfees, Kaapstad, 2 Mei 2026
Helena Hettema is ’n kunstenaar wat al dekades lank haar lewe aan die kunste wy, daarom is dit net gepas dat sy deel vorm van vanjaar se Suidoosterfees aan die voet van Tafelberg wat haar steeds met liefde omarm.
Die Suidoosterfees, vernoem na die Kaap se ongetemde suidoostewind, die Kaapse Dokter, vier vanjaar sy 23ste bestaansjaar. Dis ’n Fees vir Almal en die tafel is gedek met kuns, letterkunde, komedie en musiek, waar ieder en elk welkom is.

Helena Hettema (foto: Yolanda Saayman)
Ek onthou die eerste keer dat ek Helena se stem gehoor het. Dit was Julie 1992 in ’n Spur-restaurant in Grahamstad, waar sy agter my gesit het. Sy was hoorbaar opgewonde oor haar optrede by die Nasionale Kunstefees. Dit was eers later daardie jaar dat ek haar vir die eerste keer sou sien optree in ’n klein kerrierestaurant in Observatory, Upstairs at Elaine’s. Die vertoning was Piaf, Brel and just a little me.

Helena Hettema (foto: Yolanda Saayman)
In daardie vroeë jare was daar dalk net ’n titsel Helena op die verhoog, maar nou, met Journeyman en hierdie produksie, het gehore die voorreg om soveel meer van dié kunstenaar te beleef.
Hettema ontbloot is meer as ’n kabaret. Dis teater, poësie en musiek wat saamspeel. Met voorlesings uit haar bekroonde debuutbundel Journeyman neem sy die gehoor op ’n emosionele reis deur liefde, verlies, ontwaking, dood en die uitgeworpenes van die lewe. Haar stem bly onmiskenbaar – warm, dramaties, kwesbaar wanneer dit moet wees, en kragtig genoeg om ’n vertrek stil te maak. Dis ’n stem wat kán sing, oordra en vorm gee aan poësie.
Helena neem die gehoor ook op ’n nostalgiese reis. Sy laat groot stemme uit ons letterkunde herleef – NP Van Wyk Louw en Antjie Krog – en bring hulde aan ikoniese divas soos Marlene Dietrich, Shirley Bassey, Judy Garland en Edith Piaf in Hettema ontbloot.

Helena Hettema (foto: Yolanda Saayman)
Helena vertel dat haar heel eerste produksie, Introspectus, haar debuut by die Grahamstad-fees was, en nou, na meer as 40 jaar in die uitvoerendekunstebedryf, voltooi Journeyman die sirkel.
Sy verwys na die deel “Volle sirkelgang” in die digbundel, waar sy onder meer oor die dood skryf. “Ek voel dat die sirkel nou voltooi is en ’n droom verwesenlik, maar moenie ’n fout maak nie,” skerts sy, “hierdie is nie die einde nie, maar die begin van ’n nuwe fase, ’n nuwe maan – daar’s nog baie jare se sang in my!”
Journeyman is ’n tweetalige bloemlesing en koffietafelboek, wat nie net ’n versameling gedigte bevat nie, maar ook beeldende kuns van verskeie kunstenaars insluit wat die geskrewe teks komplementeer. Dit maak van Journeyman iets meer as ’n boek: Dis ’n argief van ’n lewe in kuns, ’n seldsame blik in die kunstenaar se siel.

Helena Hettema (foto: Yolanda Saayman)
“Mense moet delf in die gedigte,” sê sy.
Haar woordkeuse met “ontbloot” is dus doelbewus en beteken soveel meer as om te openbaar; dit sinspeel op die weerloosheid wat geweef is in elke gedig. Die verhoog kan ’n eensame plek wees, maar ook, skynbaar teenstrydig, die plek van uiteindelike bevryding.

Helena Hettema (foto: Yolanda Saayman)
Dit voel asof Journeyman en hierdie vertoning juis daardie bevryding vier: die afsweer van vrees vir verlies, verandering en sosiale aanvaarding. ’n Leeftyd se voel en wees word rou ten toon gestel op papier, in lig en klank, in samewerking met ander kunstenaars, en gedeel met mense wat haar pad oor kontinente heen gekruis het.

Helena Hettema (foto: Yolanda Saayman)
Wat my bybly, is haar eerlikheid en aandagtigheid wat die gehoor onwillekeurig meevoer. Helena staan onomwonde in haar waarheid en deel dit ruimhartig met haar gehoor. Sy probeer niks wees behalwe haarself nie … en dit is meer as genoeg. Soos die woorde lui: “Ek is die staande ovasie aan die einde van die toneelstuk. Ek is die terugblik op my lewe as kuns.”
Helena Hettema verpersoonlik hierdie woorde, want by die Suidoosterfees het sy nie net opgetree nie, sy het haarself gegee.

Helena Hettema (foto: Yolanda Saayman)
Lees ook:
Komvandaan: Waar die natuur jou naam onthou, Suidoosterfees 2026

