Suidoosterfees 2025: Liewe Heksie en die wals – ’n onderhoud met Margit Meyer-Rödenbeck

  • 1

Liewe Heksie en die wals is binnekort op die planke by die Suidoosterfees. Kaartjies is beskikbaar deur Webtickets.

Yolanda du Toit praat met Margit Meyer-Rödenbeck oor Liewe Heksie en die wals, wat binnekort by die Suidoosterfees op die planke is.

Jy is ’n aktrise, komediant, sosiale kommentator en vervaardiger. In dié produksie is jy die vervaardiger, teksskrywer, aktrise en jy behartig die regie. Wat is jou gunstelingmedium en hoekom?

Dis altyd baie lekker om die regie te doen. Dit voel of al my sintuie gelyktydig moet werk en in aksie is. Ek sê altyd dis of my are oop is omdat ek moet alles dophou en die finale prentjie lê in my skoot. Aan die ander kant is kinderteater by verre my gunstelinggenre. Aktrise-wees is heerlik en Liewe Heksie en die wals is ’n baie interaktiewe show en die kinders neem deel en bepaal basies die uitkoms, natuurlik moet ons van die verhaal beheer. Dis familieteater wat ek en my mede-akteur Deon van Zyl doen met die kinders wat koslike antwoorde gee en ook planne maak.

Kinderteater blyk jou na aan die hart te lê. Jy het in ’n onderhoud op RSG genoem dat gehore vir teater gekweek en behou moet word. Sal jy uitbrei hierop, asseblief?

Ek is in die gelukkige posisie dat ek nie net Liewe Heksie en die wals by die Suidoosterfees doen nie. Daar is ’n hele junior Suidoosterfees, van die 4de tot 8ste Mei. Daar is ek die skrywer, vervaardiger en regisseur van Woordedief. Daar is wonderlike talentvolle akteurs daarin. (9:30 met Eldon van der Merwe, Minke Marais, Kerscha Titus, en Wian Taljaard.) Dis soos ’n rockshow vir die kleintjies en gebaseer op Best Books van NB Uitgewers om lees te bevorder. Ek doen ook Die verhoog se geheim, waar ons laerskoolkinders blootstel aan al die genres van teater. Ballet, opera, strykorkes, toneel, ensovoorts. Ek doen ook Om teen treine te skree, ’n opvoedkundige program met uittreksels uit toneelstukke vir hoërskoolleerders. Kinder- en jeugteater lê my baie na aan die hart om verskeie redes. Dit is om gehore vir môre te ontwikkel, anders gaan ons gehore uitsterf. Dit is so belangrik vir kinders, want dit is die een plek waar kinders kan saamkyk en ontvlug. Teater is so belangrik vir kinders, want hier mag jy saamspeel, saampraat en saam keuses maak. Daar is min plekke waar kinders kan keuses maak terwyl hulle leer. Dit is ’n medium waar kritiese denke ontwikkel word. Ons gehore moet ontwikkel en dit is ’n belangrike boublokkie vir die ontwikkeling van kinders.

.......
Liewe Heksie en die wals is lekker familieteater, want daar is baie kwinkslae vir die volwassenes ingewerk. Almal raak weer kind – dit is bedoel vir iemand van 3 tot 103.
.......

Hoe belangrik voel jy persoonlik is kinder- (en selfs familie-) teater vir kinders en gesinne?

Liewe Heksie is regtig familieteater omdat Verna Vels se Levinia volksbesit is. Die ouers ken dit, die kinders lees die boeke en dit maak Verna besonders, want sy het dit al meer as 60 jaar gelede geskrywe. Liewe Heksie en die wals is lekker familieteater, want daar is baie kwinkslae vir die volwassenes ingewerk. Almal raak weer kind – dit is bedoel vir iemand van 3 tot 103.

Jy en Liewe Heksie kom al ’n lang pad saam, trouens jy het haar al op universiteit vertolk. Waar kom jou liefde vir Levinia vandaan?

Haar sjarme lê vir my daarin dat sy nie dom is nie. Sy vergeet dinge; daar is ’n groot verskil. Ek is in menopouse en vergeet ook dinge, so ek verstaan en identifiseer met Levinia. Ek dink die kinders identifiseer ook. Sy is nie bang om te erken sy het vergeet nie. Die kinders is baie lief vir haar, want sy is weerloos en feisty, en die underdog raak die hero van die storie. Ek sê dikwels tong in die kies dis waar ek vir Dowwe Dolla eintlik ontwikkel het. Want Levinia en sy het baie dieselfde eienskappe. Mens moet op jou voete kan dink, want die kinders gooi baie dinge na jou kant toe.

........
Die kinders is baie lief vir haar, want sy is weerloos en feisty, en die underdog raak die hero van die storie. Ek sê dikwels tong in die kies dis waar ek vir Dowwe Dolla eintlik ontwikkel het.
........

Waaroor handel Liewe Heksie en die wals?

Daar gaan gedans word. Maar kan sy wals, want Levinia sukkel om te tel. Want om te wals, moet jy kan tel. Dit gee ons groot moontlikhede vir komiese slapstick. Koning Rosekrans verjaar en elke jaar met sy verjaarsdag hou hulle ’n reusebal in Blommeland. Hierdie jaar gaan die bal ook ’n danskompetisie wees en Levinia het besluit sy gaan die kompetisie wen. Dit is gegrond op Verna se werk en brei baie uit en moderniseer en sit vleis aan.

Deon van Zyl is saam met jou in die produksie te sien. Watter karakters vertolk hy?

Hy is ’n merkwaardige akteur en voltydse onderwyser by Curro Hoërskool in Durbanville. Hy het drama geswot, maar om voltyds in teater te wees is ’n voltydse hustle. Hy speel die rol van Koning Rosekrans, Karel Kat en die Geelheks. Ons werk al vanaf 2007 saam aan en af aan Liewe Heksie. Dit is ’n groot vreugde en eer om saam met hom te werk, omdat ek hom so goed ken en kinderteater verstaan. Hy kan op sy voete dink en weet wat die kinders laat tick.

Ouers is heel moontlik nét so lief vir Heksie. Hoe gereeld sien jy volwassenes (met of sonder kinders) in jou gehoor?

Dit is definitief Afrikana en lekker om haar lewend te hou. Daar is baie volwassenes wat kom, selfs soms sonder kinders of kleinkinders.

........
Kinders vind aanklank by haar, omdat hulle nie in boksies leef nie en Levinia beslis ook nie.
........

Verna het Liewe Heksie as ’n baie geliefde kinderkarakter ontwikkel. Hoekom dink jy geniet kinders haar so baie?

Heksie se sjarme lê daarin dat sy naïef is en graag meer wil leer. Sy is regtig skaam wanneer sy uitgevang word, omdat sy nie iets weet nie. Kinders vind aanklank by haar, omdat hulle nie in boksies leef nie en Levinia beslis ook nie. Hulle storm teen 1000 myl per uur vooruit. Levinia is ’n volronde karaktertjie waarmee hulle identifiseer, omdat sy eintlik net ’n kind in ’n grootmenslyfie is.

Jy het al verskeie produksies met Heksie ontwikkel. Wat prikkel jou om nuwe idees by te werk en waar kom dit vandaan? Is almal geskoei op Verna se vertellings?

Ek is so bevoorreg om te mag ploeg met Verna Vels se woorde. Die karakters is altyd gebaseer op haar oorspronklike karakters. Ek sal nooit haar karakters oneer aandoen nie. Mens bring moderne dinge by soos die lewe ontwikkel het. Ek kies ’n Liewe Heksie-storie en soms vermeng ek twee met mekaar soos Liewe Heksie en die rolskaatse. Ek gebruik die woorde soos Verna dit in haar boeke sou sê. Idees kry ek veral uit die kinders en leer baie by hulle. Daar is altyd ’n tipe resep van magic waar iets opgelos word, iets goed en sleg (Liewe Heksie / Geelheks), jaagtonele vir adrenalien en gehoordeelname.

Vir 60 minute laat jy die gehoor skater. As jy die geheim wil verklap, hoe onthou jy alles?

As jy op jou voete dink, moet jy goed onthou om te kan improv. Dit maak dit makliker, maar as jy vergeet, word jy ook verskoon.

Lees ook:

Persverklaring: Jong teatermakers skitter in Suidoosterfees se ATKV-Jeugteaterprogram

Persverklaring: Suidoosterfees bied ’n groot verskeidenheid opwindende teaterproduksies

Suidoosterfees 2025: Hortjies dig – ’n onderhoud met Francois Toerien

Suidoosterfees se direksievoorsitter, Edmund Jeneker, gesels met LitNet

Resensie: Liewe Heksie - Leesboek 5 deur Verna Vels

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top