Woorde: Maryke Roberts
Foto’s: Clifford Roberts en verskaf deur Suidoosterfees
Mutton hour se foto’s: Gys Loubser
Ek staan voor die eerste boekbespreking van die Suidoosterfees 2022, voor ’n marmermuur met ’n aanhaling van Marlene le Roux, Kunstekaap se HUB, gedateer 2018: “Die reis van ‘Nico Malan Teater’ na ‘Kunstekaap’ is nie net ’n verandering van naam nie, maar ook die plek van konstante passievolle kreatiwiteit waar almal tuishoort.”

Die aanhaling teen die marmermuur in Kunstekaap wat my oog gevang het.
Hoe waar is die woorde nie. Soos die fees verloop, kom lê haar woorde hulself gereeld voor my deur. Sommige mense ry van die platteland in vir ’n enkele uur se boekbespreking; ander taxi vir een dansvertoning; ander is gepêrel en gehaarsproei vir ’n vyfdagfees waar almal tuishoort, maar belangriker nog, tuis vóél.
...........
Sommige mense ry van die platteland in vir ’n enkele uur se boekbespreking; ander taxi vir een dansvertoning; ander is gepêrel en gehaarsproei vir ’n vyfdagfees waar almal tuishoort, maar belangriker nog, tuis vóél.
............
Brian Figaji, direksievoorsitter, skryf in die feesprogram: “Hierdie fees assosieer simbolies met die ‘Kaapse Dokter’ en soos dié legendariese wind wat deur ons stad waai en dinge suiwer en skoonmaak, bring ons opwindende program-aanbod vertroosting, en selfs genesing aan mense ten opsigte van maatskaplike kwessies wat alles Suid-Afrikaners raak.”

By die Jakes Gerwel-gesprekke wat aangebied is deur die Jakes Gerwel Stigting en die ATKV, gesels Marianne Thamm met Matthew Blackman en Nick Dall oor hul opspraakwekkende Spoilt ballots onder die titel “Making us and breaking us – Elections from the days of Shaka to Cyril”.
Die Jakes Gerwel-gesprekke se onderwerpe, sprekers en gehore is so uiteenlopend en wyd soos die Heer se genade – soos my oorle ouma sou sê. Van “Te wit of te bruin – waar pas ek in?” tot “Making us or breaking us – Elections from the days of Shaka to Cyril”, tot “Vele tongvalle, een taal” is dit duidelik dat die grendelstaatregulasies ons van soveel meer as vrye beweging beroof het: die kans om met mekaar te gesels, te redekawel, te verskil. Nie oor Zoom of videogesprekke op slimfone of tablette nie. Nee, in mekaar se geselskap, waar dinge soms driftig kan raak en, heaven forbid, daar ’n spoegspatsel van medegeselsers op jou arm kon beland. Dit het ons afgestomp en laat glo dat ons alleen worstel – met wat ook al.

Audrey Jantjies, skrywer van As die katjiepiering blom, gesels met Ronelda S Kamfer.
Audrey Jantjies, skrywer van As die katjiepiering blom, vertel vir Ronelda Kamfer dat sy haar eerste skrywes in Engels gedoen het, omdat sy “nie gedink het daar is ’n plek vir my stem in Afrikaans nie”. Dis die Jakes Gerwel Stigting en die mentors wat daarmee saamkom wat die deure vir haar geopen het om haar storie in Afrikaans te vertel. Sy erken dat die verhaal heeltemal fiktief is, die karakters ook, al is dit net soveel haar eie storie as soveel ander s’n.
“Daar loop so baie Leas (Lea is die hoofkarakter in haar boek) in die Kaap, maar hulle verdwyn. Hulle word só beskermd groot dat hulle nie die lewe daar buite ken nie. Jy kan nie jou eie selfstandige besluite neem nie en dan beland jy in ‘n predator se hande.
“Jy is so susceptible vir nonsens.”
Audrey sê die hooftema in haar boek – “behalwe die transgenerational trauma – is hoe mense op jou onkunde teer. Hoe grootmense in ons gemeenskappe nie met kinders die feite van die lewe deel nie. Ons word afgesonderd en arm groot en die cycle breek nooit as ons nie help en opvoed nie.”
Sy sê sy hoop om met haar boek vir ander soos sy te wys dat “Lea oorkom het. So can you.”
Audrey het voorspel dat sy voortaan grotendeels in Afrikaans sal skryf en loof al die Afrikaanse outeurs wat werke van onskatbare waarde lewer. “Ek raak so kwaad as mense nie wil lees nie.”
............
Sy sê skrywers soo Ronelda, Nathan Trantraal en Chase Rhys doen baanbrekerswerk in Afrikaans en baie van hul sukses word realiteit op die platteland. “As jy op die plaas of platteland grootword, voel jy onnooslik; ’n laer klas as bruin mense van die stad. Met skrywes oor ons eie mense leer ons dat ons eintlik só baie gemeen het.” Sela.
...........
Sy sê skrywers soo Ronelda, Nathan Trantraal en Chase Rhys doen baanbrekerswerk in Afrikaans en baie van hul sukses word realiteit op die platteland. “As jy op die plaas of platteland grootword, voel jy onnooslik; ’n laer klas as bruin mense van die stad. Met skrywes oor ons eie mense leer ons dat ons eintlik só baie gemeen het.” Sela.

Ronelda Kamfer het met Anastasia de Vries oor Ronelda se eerste roman, Kompoun, gesels. Ronelda het in 2019 aan Kompoun gewerk tydens die Stigting en PEN Afrikaans se skrywersresidensie.
In Plesierengel met Ruan Wessels, ’n eenmanstuk wat gegrond is op Leon van Nierop se blitsverkopers Plesierengel en Katelknaap en wat die ware verhaal van Tristan, Suid-Afrika se gewildste en hoogs betaalde gigolo as agtergrond het – hoor jy van die streng en liefdelose huis waarin Tristan Hansen grootgeword het. Tragiese omstandighede dwing hom om ’n sekswerker te word.
Tristan se woorde dat hy soos ’n meerkat voel wat langs ’n besige pad sit, tref diep. Hy sê hy kyk na die ander kant van die pad, en hy weet dis beter daar, maar hy kan nie daar kom nie, want daar is te veel verkeer. “Ek sal altyd aan die verkeerde kant van die pad wees.”

In Plesierengel met Ruan Wessels, ’n eenmanstuk wat gegrond is op Leon van Nierop se blitsverkopers Plesierengel en Katelknaap en die ware verhaal van Tristan, Suid-Afrika se gewildste en hoogs betaalde gigolo as agtergrond het, hoor jy van die streng en liefdelose huis waarin Tristan Hansen grootgeword het. Tragiese omstandighede dwing hom om ’n sekswerker te word.
As buite-egtelike kind wat sy ouers tot ’n huwelik gedwing het, voel hy altyd ongeliefd, half, onwelkom. Hy vind sy eie manier om daardie hol kol in sy siel te vul – vir ’n rukkie.
Dié tema van randeier word baie soortgelyk deur Marlo Minnaar se karakter Bumper Jansen in Die halwe huis uitgebeeld. Dit vertel van die strewe van ’n geknakte jong seun van die platteland, na ’n beter lewe in die stad, weg van sy pa wat hom en sy ma mishandel.

Dié tema van randeier word baie soortgelyk deur Marlo Minnaar se karakter Bumper Jansen in Die halwe huis uitgebeeld. Dit vertel van die strewe van ’n geknakte jong seun van die platteland na ’n beter lewe in die stad, weg van sy pa wat hom en sy ma mishandel.
Hy gebruik die sêding van sy ma: “Eerder buig as breek” baie gereeld. En dié lewensfilosofie werk vir ’n paar jaar vir hom, maar vreet later sy siel vol gate.
“Die probleem met onthou is dat jy van vooraf moet pyn en bloei.”

In Agulhasvlakte wil twee sussies, Milly en Amy, gespeel deur Kay Smith en René Cloete, ook van hul grootwordjare wegkom. Hul jongmeisiestemme belowe dat hulle anders as hulle ouers gaan wees.
Die tema word ook ontgin in Agulhasvlakte, waar twee sussies, Milly en Amy, gespeel deur Kay Smith en René Cloete, ook van hul grootwordjare wil wegkom. Van hul jongmeisiestemme wat belowe dat hulle anders as hulle ouers gaan wees. Amy verklaar dat sy gaan grootword en dat alles “[in haar] beheer gaan wees, want ek is Amy”.
Milly bly op die platteland agter, waar sy op haar ouers se grond “bestaan; iets beteken” en nie, soos haar suster, ’n vals lewe op sosiale media leef nie. Milly vra vir Amy, wat haarself die “Koidashian met die natural look” noem, wat haar brand nou eintlik is, waarop sy antwoord: “Ek is wie hulle moet hê ek moet wees.”
Milly vra vir Amy of die stad haar ingesluk en uitgespoeg het. En dit het inderdaad, want Amy erken: “Ek is nie anders of slimmer nie. Ek is nie wie ek gedink het ek sal wees nie. Ek is nie wie julle gedink het ek sal wees nie.”
In Opdrifsel met Tinarie van Wyk-Loots (Mara) en Brendon Daniels (Bernard) rou ouers oor hul tienerseun, Dylan, se dood. Hulle rou op verskillende maniere en sukkel om mekaar te ondersteun. Mara verklaar dat ’n gesin soos ’n bol wol is en elkeen ’n draadjie is wat die bol volledig maak. As een doodgaan, moet jy die bol afrol en van vooraf oprol. Dit sal nooit weer dieselfde wees nie, en bowenal bly daar altyd vesels van die afwesige draadjie agter.

Cintaine Schutte gesels met Marita van der Vyver oor Marita se nuutste boek, ’n Baie lang brief aan my dogter.
Cintaine Schutte gesels met Marita van der Vyver oor Marita se nuutste boek, ’n Baie lang brief aan my dogter. Marita erken dit was ’n moeilike boek om te skryf, omdat sy nie agter fiksie kon wegkruip nie, want dit was haar eie lewensverhaal. “Hoe vertel jy jou eie storie sonder om my familie en vriende se stories te vertel. Ek wou nie mense na aan my se gevoelens seermaak nie.”
.............
Cintaine Schutte gesels met Marita van der Vyver oor Marita se nuutste boek, ’n Baie lang brief aan my dogter. Marita erken dit was ’n moeilike boek om te skryf, omdat sy nie agter fiksie kon wegkruip nie, want dit was haar eie lewensverhaal. “Hoe vertel jy jou eie storie sonder om my familie en vriende se stories te vertel. Ek wou nie mense na aan my se gevoelens seermaak nie.”
................
Sy sê haar boek het baie mense aangespoor om briewe te skryf, selfs vir dié wat oorlede is. “Ek hoop hierdie boek maak gesprekke oop – gesprekke wat wyer gaan as net my boek. Die boek is ’n brief aan my dogter – die feminis in my glo steeds dis moeiliker om vrou te wees in soveel lande in die wêreld.”

Marita van der Vyver se nuutste boek, ’n Baie lang brief aan my dogter
Marita is baie gekritiseer oor haar skrywes oor die Bosoorlog, apartheid en die Soweto-opstande. Cintaine vra uit daaroor. Marita sê: “Hoe verduidelik ek vir my Franse kinders van die onmenslike tyd waarin ek grootgeword het – of vir die mense van my ouderdom wat so gou maklik vergeet. Dis nodig dat ons onthou om te besef hoe ver ons al gekom het.”
Sy voeg by dat ouers hul dogters sterker moet grootmaak, dat hulle hul plek kan eien. “Maar ons moet ons seuns reg grootmaak om hierdie sterker vroue te hanteer; om langs hulle te stap en nie voor nie.”
..............
Nataniël is terug in al sy blinkende, pittige, eerlike glorie. Die verhoog met sy bosse blomme en blinkende kerse, die dramatiese kostuums en beligting, laat my tone krul van lekkerte. En dis nog voor hy sy mond oopgemaak het.
..............
Nataniël is terug in al sy blinkende, pittige, eerlike glorie. Die verhoog met sy bosse blomme en blinkende kerse, die dramatiese kostuums en beligting, laat my tone krul van lekkerte. En dis nog voor hy sy mond oopgemaak het. Hy laat my onthou dat ons nie altyd hoef te wroeg nie; dat selfspot dikwels ons gatte uit benarde situasies red. Ek het sy drama gemis.

Nataniël skitter in sy volle dramatiese glorie in Moscow.
Maar soos die 90 minuut lange Moscow vorder, kry ek opnuut agting vir sy skerp waarnemingsvermoë; vir sy leuse om mooiheid in die lelikste plekke te soek. Hy sê jou lyf is ’n tas wat alles terughou en bêre wat jy nog nie beleef of deurleef het nie. En soms bars daardie tas op ’n dag oop wanneer jy dit die minste verwag. En ’n tannie se waarheid in kleindorpiebestaan in die sewentigs, “Hoe kleiner jou lewe, hoe groter jou vrese”, maak jou opnuut bewus van die nodigheid vir andersdenkendes wat deur die skyn kan kyk.
“Die mense van wie jy dit die minste verwag, sal jou dinge wys wat jy nie sal glo nie,” is dalk een van sy storielyne, maar o so waar.
Tussen al die introspeksie is daar ook ligter ontvlugting.

Die komediante in Comedy mash-up was Rob van Vuuren (seremoniemeester, foto bo), Stuart Taylor, Riaad Moosa en Mel Jones in die Zip Zap-sirkustent.
Ek kry sommer weer lag vir die geskerts van die komediante in Comedy mash-up met Rob van Vuuren, Stuart Taylor, Riaad Moosa en Mel Jones in die Zip Zap-sirkustent, waar een van hulle noem dat die gehore maskers moet dra, maar die kunstenaars op die verhoog nie. “Asof die virus verhoogvrees het. Asof dit sê: ‘Nee, los jy maar jou masker daar bo, ek sal jou kry as jy afklim.’” Soms is die waarheid vreemder as fiksie, of hoe lui die sêding?

In Mutton hour bestaan die klein stel eintlik net uit plastiekkratte met kartonbeelde in, tuisgemaakte klankinstrumente en ’n boom box. Cintaine Schutte en De Klerk Oelofse gebruik ’n raam waarin hulle dié kartonborde skuif en stories vertel – kamisjibai, ’n vorm van Japannese straatteater wat tydens die Groot Depressie van die 1930’s baie gewild was. Foto’s: Gys Loubser
In Mutton hour is ons terug in dié sirkustent. Dié keer sit die gehoor op die verhoog. Die klein stel is eintlik net plastiekkratte met kartonbeelde in, tuisgemaakte klankinstrumente en ’n boom box. Cintaine Schutte en De Klerk Oelofse gebruik ’n raam waarin hulle dié kartonborde skuif en stories vertel – kamisjibai, ’n vorm van Japannese straatteater wat tydens die Groot Depressie van die 1930’s baie gewild was. Mens voel asof ons weer in depressie gedompel is, want die pandemieskaduwee skuil in elke hoek.
Dis 60 minute van lawwe pret, deur twee bekroonde akteurs. Daar is ook ’n draaiwiel waarop die gehoor verskillende toneelopsies het en die akteurs van Shakespeare tot danspassies uitvoer. Dié formaat herinner my aan 30 jaar terug se James Blond deur Chris Vorster, waar akteurs byklanke en beskrywings vir tonele met hul monde en lywe gedoen het, tot groot plesier van intieme gehore.
Ons kry elkeen ’n bruin karton met hul besprekingsbesonderhede: Jy kan Mutton hour bespreek en hulle sal by jou huis of kantoor kom optree. Bespreek hulle by themuttonhour@gmail.com of loer op Instagram: muttonhour.
............
Die fees is vol verskeidenheid. Oud en jonk tree op, van ontwikkelende akteurs tot jong musici – die klanke van die Filharmoniese Simfonie-orkes roer die hartsnare. Dit steek weer die vuurtjie van hoop oor die kunste se toekoms in harte aan in ’n tyd waarin baie se vlammetjies maar laag brand.
............
Die fees is vol verskeidenheid. Oud en jonk tree op, van ontwikkelende akteurs tot jong musici – die klanke van die Filharmoniese Simfonie-orkes roer die hartsnare. Dit steek weer die vuurtjie van hoop oor die kunste se toekoms in harte aan in ’n tyd waarin baie se vlammetjies maar laag brand.

Die voete tik ritmies saam met die musikante van “Jika” – Sounds of the SA Jazz Real Book in die Zip Zap-sirkustent.
Jou voet tik ritmies saam met “Jika” – Sounds of the SA Jazz Real Book, of met Golden Oldies on Stage.

In Die oerkluts kwyt, met Antjie Krog se woorde, skitter Antoinette Kellermann. Sy is saam met die twee vrouemusikante Lungiswa Plaatjies en Nomapostile Nyiki van Ancient Voices te sien.
In Die oerkluts kwyt, met Antjie Krog se woorde, skitter Antoinette Kellermann. Dié twee formidabele vroue is albei vanjaar 70 jaar oud en hoewel Antoinette Antjie se woorde vertolk, lééf en lewe gee, laat die produksie jou waarlik “ontvlerkd op jou voete”, soos die program beloof. Van die eerste sagte murmerering van die twee vrouemusikante, Lungiswa Plaatjies en Nomapostile Nyiki van Ancient Voices, met hul sagte “Utetile, utetile” en hul tradisionele Xhosa-drag, tot die laaste klanke 75 minute later uitdoof, is jy saam op die reis van oudword.
“Vergewe my, liewe lyf dat ek net altyd aanvaar dat jy sterk moet wees, fiks, gesond en maar net doen wat ek wil hê.” Jy verstaan die swakker word, die verraad van ingee, waarvan sy vertel. Jy deel die versugting dat sy nog ’n lewe wil hê waarin sy iets heeltemal anders kan doen; iemand heeltemal anders kan wees.
Niks aan die vrou met die swart wye romprok, swart Doc Martens-skoene en kort grys kapsel pas by die beeld wat jy van ’n 70-jarige het nie. Daar is geen haarsproei en reuk van laventel soos Leon van Nierop in sy teks vir Plesierengel skryf nie. Antoinette se vertolking van die hele “Ouma en oupa sit op die stoep” word geëggo deur die twee musikante se koggelende “Oma he he he, Oma!”
Daar is waarheid in die woorde van Antjie se ma, wat sê jy moet eers leef voor jy kan skryf. Maar ook waarheid in Antjie se woorde: “Ek gaan nog die Lig van Lichtenburg word. Jy gaan nog eendag bekendstaan as Antjie Krog se ma; en niemand gaan eens weet dat ek Dot Serfontein se dogter is nie.”
Die ritme van die musiek en die digkuns en die woordkuns en die vertolking kom sit in jou tone. Soos die krag van Nelson Mandela se “Amandla” uit Antoinette se liggaam verrys; die beskrywing van die rillings langs ’n ruggraat af; die droom dat ons almal waarlik vry kan wees as hierdie man ons lei, so kom die besef hoe ver ons gekom het. Twee swart vroue, een wit vrou op een verhoog, voor ’n gemengde gehoor. Al wat ons nou nog skei, is die plakkers op sitplekke vir sosiale afstand om ons almal veilig te hou.
Of altans, vir die duur van die fees voel dit so. Voel dit asof ons almal hier tuishoort. En in Antjie se woorde: “Tot die sinne toe verruk van kleur en taal, weet sy dat sy nêrens elders wil wees, as vanuit hierdie kontinent wat haar so vervul met pyn en liefde. Hierdie swart gehawende maar lieflike hart.”
Lees ook:
Jakes Gerwel-gespreksreeks (Suidoosterfees): Oekraïne kan tot kernoorlog lei
Jakes Gerwel-gespreksreeks (Suidoosterfees): Krotoa – wat beteken sy vandag?
Lansdowne dearest: My family’s story of forced removals – an interview with Bronwyn Davids
Cintaine Schutte oor haar gesprek met Marita van der Vyver by die Suidoosterfees

