Oom Bey, my pa – die stemme in Henque Heymans se kop

  • 0

Die dramaturg en sy muse (Foto’s: Liesel Naudé en Heloïne Armstrong)

’n Teologiestudent wat oor Beyers Naudé navorsing doen, loop ’n vrou in die Wespark-begraafplaas in Johannesburg raak by die gedenksteen wat deur die staat vir die Afrikaner-ikoon van die bevrydingstryd opgerig is. Die vrou is Liesel, Naudé se dogter.

Dit is die vertrekpunt vir Henque Heymans se drama, Oom Bey, my pa, wat vanjaar op die Suidoosterfees se NATi Jong Sterre-program debuteer. Ira Blanckenberg is op die verhoog as Liesel, en Robert Hindley vertolk die rol van Johannes, die student. Tara Notcutt behartig die regie.

Die drama fokus op die verhouding tussen Liesel en haar pa teen die agtergrond van Naudé se stryd tussen gehoorsaamheid aan God en gehoorsaamheid aan mense. Die drama is op 30 April om 13:00 en op 1 Mei om 19:00 in Kunstekaap se NATi Arena op die planke.

Robert Hindley en Ira Blanckenberg tydens ’n repetisie van Oom Bey, my pa (Foto: Nardus Engelbrecht)

“’n Vriend het op Facebook genoem dat hy nie verstaan hoekom daar nog nie ’n drama oor Beyers Naudé geskryf is nie,” vertel Henque. “Uit onkunde besluit ek toe om hierdie bul by die horings te pak. Ek was lankal lus om ’n belangrike stuk te skryf; iets met vleis om die been.”

Henque het uit die staanspoor weggebly van ’n liniêre weergawe van Beyers Naudé se lewensgeskiedenis. “Ek lees toe dat sy jongste kind ’n tiener was tydens die gesin se moeilikste jare, toe daar ’n verskuiwing in Naudé se ideologiese oortuigings was, en ek besluit toe om die drama vanuit haar perspektief aan te bied.” Liesel se oupa was immers ’n stigterslid van die Broederbond, en Beyers Naudé was op sy dag die jongste lid van dié organisasie.

Ná ’n lang soektog het Henque vir Liesel Naudé opgespoor. “Dit was vir my noodsaaklik om haar sienings en gedagtes oor dié periode in haar tienerjare in die drama te verwerk. En dit sou my in staat stel om die man agter die legende te leer ken.” Danksy die kontak met Liesel kon Henque sien waar die eerste saadjies geval het wat sou lei tot Beyers Naudé se ideologiese ommeswaai. Hy het deeglik besef waarom hy nie met dié projek kon durf skeeftrap nie.

Henque Heymans en Liesel Naudé (Foto links: Zander de Beer; Foto regs: verskaf)

Van dag een af was die Beyers Naudé Sentrum se argiewe met dokumente en selfs handgeskrewe preke tot Henque se beskikking. “Robert Vosloo was op ’n stadium so te sê op speed dial, en sonder die Sentrum se ondersteuning, sou dit ’n baie moeiliker proses gewees het.”

“My vurk was skielik baie swaar.” Na die ontmoeting met Liesel en die stapels navorsingsmateriaal op sy lessenaar, het Henque met ’n magdom inligting gesit wat ’n verhoogdrama moes word.

Uitkoms het gedaag toe hy gekeur is vir die Suidoosterfees en die Jakes Gerwel Stigting se NATi Jong Sterre-projek, wat tyd en ruimte aan belowende dramaturge gee om hul drome ’n werklikheid te maak. Vir drie weke het Henque saam met ander kandidate by die stigting se skrywershuis in Somerset-Oos onverstoord aan Oom Bey, my pa gewerk. “Ek was elke oggend douvoordag op om teen ontbyt reeds ’n skryfsessie agter die rug te hê. Nie net omdat ek inspirasie gehad het nie, maar ook om vir diegene wat my daar laat beland het, te bewys dat ek elke minuut ten volle sal benut.”

Oom Bey, my pa, gebore in Henque se beknopte studeerkamer in Pretoria, het in die Paulet-huis grootgeword en, “soos enige kind”, ’n eie persoonlikheid ontwikkel. Henque vergelyk die NATi Jong Sterre-projek met die Bybelverhaal van die ram wat uit die bos bevry word. “Ek het eers nie geweet van die projek nie, maar toe stuur ’n kollega ’n webskakel. Ek het sommer twee stukke ingeskryf.

“My angs was goed aan die wiel oor die idee om vir drie weke in ’n huis saam met vreemdelinge toegesluit te word. Maar ek is op die beste maniere moontlik verras. Om daagliks jou werk met ander skrywers en mentors te kan deel, is onbeskryflik waardevol. Ons het soveel by mekaar geleer. Van ons eie prosesse, waar ons begin, hoe ons kerf, hoe ons karakters en stories benader, hoe ons die teaterwêreld sien, hoe ons agtergronde verskil, die diversiteit in die kunste ...”

Fiksie boots werklikheid na, en die verhouding tussen die karakters in Oom Bey, my pa is grotendeels gebaseer op die interaksie tussen Henque en Liesel Naudé. Soos Johannes was Henque aanvanklik “skaam en sku” toe hy vir Liesel begin uitvra. Hy wou nie op tone trap nie en soms het dit gevoel of hy wou “verdwyn”. Maar die gesprekke met Liesel het vinnig openhartiger geraak en sy kon die jong dramaturg se persepsies oor Beyers Naudé verfyn en soms ook regstel. Uiteindelik het hulle albei se sienings oor Beyers Naudé verskuif.

Henque Heymans praat by  Teksmark oor Oom Bey, my pa (Foto: Nardus Engelbrecht)

“Toe ek aan Liesel noem dat ek wil hê die stuk moet by die gedenksteen in Wespark afspeel, het ons vir ’n oomblik lekker gelag. Sy was nog nooit daar nie. Maar ek wou die ontmoeting tussen die twee karakters juis dáár laat geskied. Met haar toestemming kon ek die dag in die begraafplaas, wat dien as ’n anker vir haar heimwee en herinneringe, in die drama opmaak. Ek sien daardie ruimte as die ‘ateljee’ van waar die gebeure ‘uitgesaai’ word.”

Heel aan die begin het Henque die drama as ’n eenvroustuk bedink, maar Johannes se karakter het met drif deur die oppervlak gebreek. “Ek was effe bekommerd, want die begroting kon nie ’n tweede akteur dra nie. Maar ek het geweet ek het iemand op die verhoog nodig met dieselfde gravitas as Ira Blanckenberg, en hy moet boonop jonk wees. Daar was net een naam, en met behulp van ’n bietjie ekstra befondsing kon ons hom kry. Robert Hindley is die stroop vir Ira se katjiebotter.”

Oor die rolverdeling was daar vele heen-en-weer-gesprekke met produksievennoot Johan van der Merwe; Abduragman Adams, die Jong Sterre-mentor; en die Suidoosterfees se Rafiek Mammon – “ons fairy godfather”. Henque sê: “Ek was in die wolke toe ek hoor dat Ira Blanckenberg ingestem het om Liesel te speel. Haar talent en kennis is breër as die Heer se genade. Dis vir my as skrywer belangrik om te weet vir wie ek skryf. Die ‘range’ van haar vermoëns as aktrise het my vlerke gegee om Liesel se karakter in rigtings te stuur wat ek dink min akteurs sou kon bereik.”

Henque se lewe het verskeie afdraaipaadjies geneem voordat hy by die punt kon bereik waar hy heeltyds op teater begin fokus het. Ná skool het hy regte en rekeningkunde geswot, maar dié velde het sy “liefde vir die lewe laat kwyn”. Kort voor lank het hy in Johannesburg gaan woon “om die kunste te jag”.

In die Goudstad wou hy inskryf vir ’n graadkursus in drama, maar hy het te laat aansoek gedoen. Toe het hy by Brümilda van Rensburg se dramaskool beland. “Ek het oneindig baie geleer en deur Brümilda het ek ’n pos as produksie-assistent by Egoli gekry. ’n Bekendstelling hier, ’n onderhoud daar en siedaar!”

In dieselfde tyd het Henque se pad met dié van Shareen Swart gekruis, en sy eerste teaterstuk het daarna gevolg. Tussendeur het hy vir Franz Marx Films se draaiboekafdeling gewerk, waar Franz Marx en Christo Compion sy mentors was. En toe Henque sy oë uitvee, is hy Franz se persoonlike assistent. “Alles wat ek weet van karakters en storie, het ek by Franz en Christo geleer.

“Franz was reeds besig om te ‘oefen vir aftrede’ toe ek daar begin het. Ek het gespot dat hy nie mag aftree voor ek als geleer het nie. Ek het die bedryf deur die oë van een van sy stigters leer ken en sal daardie dae vir niks verruil nie. Deur sy persoonlike lewe te manage, sy kantoor te bestuur en deel te wees van sy kreatiewe wêrelde, kon ek wys raak wat geen boek kan leer nie.”

By Franz het Henque geleer hoe belangrik dit is dat ’n kunstenaar ’n unieke, eie stem moet hê. “By Mnr Marx het ek geleer dat selfs die grootste en sterkste helde nooit seker is of hulle goed genoeg is nie, en dat jy jouself moet omring met mense wat jy respekteer en vertrou.”

Christo Compion het hom die waarde van diplomasie op die hart gedruk: “Die genade wat daarin lê om soms jou kaarte te weerhou, en die absolute vreugde wat mens kan kry slegs as jy die lewe nie te ernstig opneem nie. Dit, en die belangrikheid van ’n tydige glasie wyn.”

Onder die leiding van dié here het daar destyds al ’n stem in Henque se kop begin fluister, oor en oor: “Kom nou, Henkie, raak beter, slimmer, dieper, wyser. Doen navorsing, soek inligting en kennis, soek en leer, soek en leer.”

Beyers Naudé en sy gesin (Foto: Liesel Naudé)

Daardie stem in Henque se kop kon netsowel Beyers Naudé s’n gewees het, want nadat die teks by die KKNK se Teksmark voorgelê is, het Gerrie Lemmer namens die ATKV uitgereik. Met dié organisasie as vennoot kon die begroting klop en ’n droomspan kon vir Oom Bey, my pa se rolverdeling gekies word.

In die volgende week op die Suidoosterfees se NATi Jong Sterre-verhoog gaan Beyers en Liesel Naudé se stemme in feesgangers se harte eggo. En ook Henque Heymans s’n.

*

Oom Bey, my pa
Ondersteun deur die ATKV, NATi, Suidoosterfees, Kunstekaap en die Jakes Gerwel Stigting
Met: Ira Blanckenberg en Robert Hindley
Teks: Henque Heymans
Regie: Tara Notcutt
Taal: Afrikaans
Venue: NATi Arena
Datum en tyd: 30 April 13:00, 1 Mei 19:00
Tydsduur: 90 min
Prys: R100

Die verhaal van Beyers Naudé word aangebied vanuit die perspektief van Liesel, sy jongste kind en enigste dogter. Dit fokus op die tyd en die oorsake van sy verskuiwing in ideologie – en stel die vraag of dit werklik ’n “skuif” was. Liesel besin oor haar verhouding met haar pa teen die agtergrond van sy stryd tussen gehoorsaamheid aan God en gehoorsaamheid aan mense. In haar vormingsjare het sy aanskou hoe Oom Bey transformeer van iemand wat die jongste lid van die Broederbond was, tot ’n “verraaier” van die Afrikaner, en hoe hy uiteindelik een van Suid-Afrika se grootste helde geword het.

Kaartjies is beskikbaar by Computicket, en die volledige Suidoosterfeesprogram is hier.

Lees hier op LitNet oor watter ander heerlikhede op jou by Suidoosterfees 2022 wag.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top