
Cintaine Schutte (Foto: Mutton Hour | SOF)
...
Dit is altyd van waarde om deur ’n ander lens na iemand te kyk.
...
’n Baie lang brief aan my dogter is Marita van der Vyver, een van Afrikaans se mees geliefde skrywers, se ontroerende jeugmemoirs. Dit is ’n speurtog deur die skrywer se beginjare, asook ’n liefdesbrief aan ’n dogter, ’n taal en ’n land. En bowenal is dit ’n ma se poging om sin te maak van hierdie onverskillige, wrede wêreld waarin haar dogter haar nou begewe. Die aktrise Cintaine Schutte, onlangs te sien in Marita se Die dinge van ’n kind, sal op 27 April by die Suidoosterfees met Marita gesels.
*
Cintaine, jy het Mart gespeel in Die dinge van ’n kind. Mart was fiktief, maar in ’n Baie lang brief aan my dogter hoor ’n mens tog dat daar ooreenkomste is tussen die karakter en Marita. Hoe het jy daaroor gevoel toe jy dit lees?
Ek ken darem al vir Marita ’n ruk en het al van haar ander werk gelees. Hoe meer ’n mens omgaan met haar werk, die karakters wat sy skep sowel as die wêreld waarin haar stories plaasvind, kom jy agter baie van Marita is daar ingeweef. Sy bring altyd eerlikheid en ’n bietjie van haarself. Ek kan daarmee vereenselwig, want ek doen dieselfde met my werk.
Ek het baie aanklank gevind by ’n Baie lang brief aan my dogter, want ek het grootgeword in die era wat Marita beskryf. Jy het egter in ’n ander Suid-Afrika grootgeword. Was dit vir jou insiggewend, of bloot interessante agtergrondinligting?
Dit was insiggewend. Dit is altyd van waarde om deur ’n ander lens na iemand te kyk. Dit maak baie gesprekke oop, bloot omdat jy jouself die toestemming gee om deur daai lens te kyk. En Marita kry dit altyd so goed reg.
Die grensoorlog is ’n sentrale tema in baie van Marita se werke. Nou is daar weer ’n konvensionele oorlog aan die gang in die wêreld, iets wat jou generasie nog nie regtig beleef het soos nou nie. Het jy ’n siening daaroor? Veral dan in die lig Marita se tekste?
Een ding wat my heeltyd bybly, is dat oorlog in baie vorme voorkom, en trauma is een van hulle. Trauma is iets wat diep in ons bene gaan lê en as ons dit nie hanteer of om hulp vra nie, gaan dit nie weggaan nie. Inteendeel, as jy iets opkrop, gaan dit een of ander tyd ontplof of gis. Dit maak my baie hartseer dat ons as mensdom nie altyd daai trauma kan raaksien in onsself of in mekaar nie. As elke mens dit kan hanteer, raaksien, of iemand probeer help, sal die wêreld bietjie vir bietjie kan genees en sagter wees.
Jy het Marita ontmoet voor die boek verskyn het. Het ’n Baie lang brief aan my dogter vir jou ’n paar goed van Marita vertel waarvan jy nie geweet het nie?
Die “Marita dink te veel”-veldtog. Want ek het soms ’n “Cintaine dink te veel”-veldtog ook aan die gang. 🙂 En ek sou baie graag vir Dolly wou ontmoet.
Jy is ’n uitstekende akteur wat al talle pryse gewen het. Om ’n gespreksleier te wees, is iets heel anders. Wat kan mense verwag van julle twee se gesprek?
Net ’n baie informele gesprek. Marita is nie die tipe mens vir stywe affêres nie (of so dink ek). Ons sal praat oor Lang brief, Dinge van ’n kind (teaterstuk en reeks) en natuurlik van haar ander werk. Ag, ek sien dit so: Marita kom kuier in my sitkamer en ons het net ’n lekker gesprek oor al die vrae wat ek nog altyd wou vra of waaroor ek nuuskierig is.
*
’n Baie lang brief aan my dogter
Met: Marita van der Vyver en Cintaine Schutte
Taal: Afrikaans
Venue: ATKV Innovasiespasie
Datum en tyd: 27 April 13:00
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis, bespreek by theo@jgf.org.za

