Reeds nou al, lank voor aanstaande jaar se algemene verkiesing, is die openbare aandag op die verkiesing vasgenael. Die rede daarvoor is die vooruitsig van ’n regeringsverandering: dat die ANC die bewind aan ’n opposisiekoalisie afstaan, indien nie nasionaal nie, dan wel benewens in die Wes-Kaap, dalk ook in Gauteng en in KwaZulu-Natal.
1. Afstanddoening / abdikasie van regering; vervangende regerings en regeringniemandslande
Dit is egter nie nodig om ’n bewindsverandering opvolgend van ’n verkiesing af te wag nie, want die regime ly toenemend verliese aan regeermiddele as gevolg waarvan hy oor al hoe minder regeer. Die ANC-regime doen algaande afstand van regeerfunksies ten gunste van verskeie instellings wat as vervangende regerings die regime opsy skuif. Onder die vervangende regerings tel grondwetlike instellings soos (doeltreffende) provinsiale en munisipale regerings. Meer belangwekkend is egter die nie-amptelike vervangende regerings, bestaande uit burgerlike en sake-inisiatiewe. Alhoewel die Grondwet hulle nie as regeringsinstellings erken nie, en ofskoon hulle nie noodwendig aan hulself as regerings dink nie, beskik hulle oor die nodige regeerwil en -vermoë wat sterker is as die van die regime. Hulle word vervangende regerings namate hulle regeerfunksies verwerf en vorme van selfregering oor deelnemende gemeenskappe begin uitoefen. Talle instellings ontluik op hierdie wyse as vervangende regerings. Dit is egter veral Afrikaners wat sterk as vervangende regerings in die plek van die regime op die voorgrond tree.
Die bewindsveranderings wat op hierdie wyse intree, is meestal informeel, maar is verreikend; trouens meer verreikend as ’n regeringsverandering vanweë ’n verkiesing, want dit stuur die Grondwet in die war en skep ’n variasie van daadwerklik vervangende plaaslike en korporatiewe konstitusies. Hierdie tendens tel stoom op namate die regime se verlies aan regeermiddele vererger en die vermoë van vervangende regerings versterk word.
Op sommige plekke gaan sekere regeerfunksies egter bloot tot niet, aangesien nóg die regime, nóg vervangende regerings die betrokke funksies uitoefen, met die gevolg dat niemandslande van geen regering (anargie in die letterlike sin van die woord) op die platteland en toenemend ook in stedelike gebiede ontstaan.
Die regime – die amptelike Suid-Afrikaanse regering kragtens die Grondwet – word ’n regering slegs in naam – ’n nominale regering. Daar is ministers, premiers, hoof-uitvoerende beamptes van staatsondernemings, burgemeesters en baie amptenare wat by die fiskus baat, maar ’n daadwerklike Suid-Afrikaanse regering met betrekking tot alle tradisionele regeringsfunksies oor die hele grondgebied bekend as Suid-Afrika as politieke entiteit is daar al hoe minder.
2. Lappieskombers in suidelike Afrika pleks van die Suid-Afrikaanse staat
Die vervangende regerings kan nogtans nie die amptelike Suid-Afrikaanse regime volledig vervang nie. Hulle is te swak daarvoor en buitendien stel hulle ook nie daarin belang nie. Hulle fokus slegs op die gemeenskap, funksie of setel ten aansien waarvan hulle regeerfunksies uitoefen.
In pas hiermee verbeur Suid-Afrika sy karakter as ’n enkele konstitusionele entiteit met ’n enkele nasionale regering wat soewereine funksies oor die hele grondgebied uitoefen. Pleks daarvan word dit ’n konstitusioneel amorfe landstreek. Regeringsgewys word die scenario derhalwe een van ’n konstitusionele lappieskombers bestaande uit:
(1) die amptelike regering – die regime – met die naam “die Suid-Afrikaanse regering”, wat hom nog plek-plek en met betrekking tot sekere funksies handhaaf, sy dit toenemend mankoliekig
(2) die toenemende selfgeldende Wes-Kaapse provinsiale regering (wat dalk na aanstaande jaar se verkiesing verder aangevul word), asook sekere sterk munisipale rade, onder andere juis, dog nie uitsluitlik nie, in die Wes-Kaap
(3) (die belangrikste): ’n tafereel van informeel vervangende regerings bestaande uit burgerlike instellings, sake-ondernemings en -organisasies
(4) afgewissel met bende-“heerskappy” en skrikbewinde van georganiseerde misdaad en streke van regeringniemandslande, waar die regering basies onttrek het, of waar vorme van regering net nou en dan vlietend verskyn. Daar is baie sodanige plekke op die platteland, maar Johannesburg se middestad en ’n tafereel van ander stedelike gebiede bied die prominentste, meer bepaald stedelike, voorbeelde hiervan.
Die profiel is derhalwe van ’n Suid-Afrika wat konstruktief en destruktief besig is om te ontbind – konstruktief deur doeltreffende nuwe vorme van regering en destruktief deur bendebewinde en regeringniemandslande. Jy kan jou nie meer op die Grondwet verlaat vir ’n getroue beeld van wie (watter staatsorgane) waar welke soort regeerfunksies uitoefen nie. Om antwoorde hierop te kry, moet jy uitpluis wat telkens daadwerklik op die grond gebeur en nie wat volgens die Grondwet behoort te gebeur nie.
3. Regeermiddele – die gereedskap van regering
Regeermiddele behels die fisiese en menslike infrastruktuur wat ’n regering in staat stel om te regeer, waaronder die volgende ses kritieke sektore tel:
(1) elektriese krag
(2) waterwerke
(3) vervoer en kommunikasie
(4) misdaadbekamping, die waarborg van veiligheid en die toepassing van die strafreg
(5) ’n toegewyde en voldoende gefinansierde staatsdiens met inbegrip van plaaslike owerhede
(6) die regspleging.
Al ses sektore het beduidend agteruitgegaan, met die gevolg dat die regime al hoe minder regeer en die pas gemelde scenario’s van nuwe vervangende regerings, en anargie (bendebewind en regeringniemandslande) toenemend aan die orde en wanorde van die dag is.
3.1 Elektrisiteit
Die opwekking en verspreiding van elektrisiteit het vanweë ’n eertyds doeltreffende Eskom (as ’n staatsonderneming) ’n essensiële regeermiddel vir die nasionale regering gewaarborg. Dit het hom in staat gestel om elektrisiteit teen vergoeding aan die publiek en aan die sakesektor te verskaf; om met plaaslike en buitelandse konsortiums te kontrakteer vir die aanpak van massiewe strategiese openbare-werke-ondernemings (water-, vervoer- en dergelike infrastruktuur); en om groot beleggers te lok wat gemaklik hierdie staatsvoorsiende infrastruktuur kon benut om te investeer en groot wins te behaal, om sodoende ook ’n konstante dik stroom belastinggeld aan die staat te voorsien.
........
Hierdie monopolie op elektrisiteit het vir bykans ’n eeu lank aan opeenvolgende regerings ’n strategiese regeermiddel verskaf.
........
Kragopwekking en -verspreiding het vanaf 1923 met die stigting van Eskom (destyds Evkom) wesenlik ’n staatsmonopolie geword, met die gevolg dat almal wat van krag afhanklik was, by implikasie juis van die staat afhanklik was. Hierdie monopolie op elektrisiteit het vir bykans ’n eeu lank aan opeenvolgende regerings ’n strategiese regeermiddel verskaf.
Hoofsaaklik vanweë gebrekkige bestuur is Eskom onkeerbaar op die afdraande pad. Wetende dat die opwek en verspreiding van elektrisiteit ’n strategiese regeermiddel is, probeer die regime naarstig, dog toenemend onsuksesvol, om sy houvas hieroor te behou.
Daarteenoor neem die publiek heel ondernemend die funksie van kragopwekking en verspreiding oor, waarvan die gevolg is dat huishoudings en besighede staatsbestand (om Piet le Roux van Sakeliga se term hier in te span) en staatsonafhanklik word, en ten aansien van kragvoorsiening oor hulself besluit en individueel en in gemeenskapsverband self regeer.
Dit geld nie slegs kragopwekking nie, maar ook kragverspreiding, namate groot belegging – juis ook buitelandse belegging – in mikrokragnetwerke gemaak word, met die gevolg dat nywerheids-, handels- en woongebiede met die nodige ondernemerskap en kapitaalkrag wat betref kragvoorsiening selfvoorsienend en dus staatsonafhanklik word.
3.2 Watervoorsiening
Lank voor 1994 het opeenvolgende regerings daarin geslaag om waterinfrastruktuur – damme, kanale, reservoirs, pompstasies, ens – aan die grootliks droë land te verskaf waarby landbou en nywerheid kon baat sodat, onder andere, etlike droë landstreke landboukundig welvarend geword het, en Johannesburg, omtrent die enigste groot stad ter wêreld ver van natuurlike waterbronne, se enorme waterbehoeftes bevredig is. Baie het oor die onlangse dekades vanweë verwaarlosing en swak bestuur verander. Die krane is dikwels leeg. Gelukkig-geleë plattelandse gemeenskappe en dorpe kan die probleme ten dele self oorkom; so ook bepaalde sakeondernemings wat vindingryk met betrekking tot watervoorsiening te werk gaan, asook bepaalde amptelike provinsiale en plaaslike regerings soos dié van die Wes-Kaap en doeltreffende informele streeksregerings soos dié van Orania. Die res van die bevolking bly egter vir eers van die nasionale regering afhanklik.
3.3 Vervoer en kommunikasie
Die vestiging en bedryf van sowel langafstand- as voorstedelike spoorvervoer van vrag en passasiers is ’n enorme prestasie van die Suid-Afrikaanse staat en sy koloniale en republikeinse voorgangers nog lank voor die totstandkoming van die Unie in 1910. Hawens ook. Langafstand- en stedelike paaie het in die 1960’s ’n hoogbloei tegemoet gegaan. Soos kragopwekking en -verspreiding behels dit strategiese infrastruktuur vir ekonomiese bedrywighede. Terselfdertyd behels dit ook ’n regeermiddel wat staatsorgane in staat stel om hulle teenwoordigheid oral te handhaaf en owerheidsmag af te dwing, wat natuurlik afhanklikheid van die staat meebring.
Beduidende verval het oor die onlangse dekades ingetree en gedurende die Covid-tydperk verhaas. Vanweë die verval van spoorlyne, stasies en lokomotiewe en die verdwyning van geskikte spoorwegpersoneel ten gevolge van onverstandige personeelbeleid (representivity, SEB, kaderontplooiing en “regstellende aksie”), sowel as die agteruitgang van Suid-Afrika se eenmaal hoogaangeskrewe hawens, is spoorvervoer net ’n skadu van sy eertydse glorie.
Duisende kilometer se paaie, veral provinsiaal en in stedelike en dorpsgebiede, is vanweë gebrekkige instandhouding daarmee heen.
Dit kortwiek ekonomiese aktiwiteit. Dit bemoeilik industriële en handelsaktiwiteit, terwyl invoere en uitvoere geweldig aan bande gelê word, soos die Minerale Raad telkens getuig, met gevolglike verliese aan staatsinkomste uit belasting. Privatisering van (dele van) die spoorinfrastruktuur, wat tot dusver hewig deur die sentralisties-sosialistiese ANC-regime verwerp is, lê klaarblyklik nie meer ver in die verskiet nie. Trouens, selfs die linksgesinde National Union of Mineworkers (NUM), wie se lede in die steenkoolbedryf bestem is om vanweë swak uitvoere ten gevolge van die swak spoorstelsel hulle werk te verloor, vra nou desperaat vir privatisering.
........
Ook hier verdwyn afhanklikheid van die staat, terwyl ’n versameling van burgerlike en sake-instellings as vervangende regerings hierdie funksies oorneem.
........
Vervoer as regeermiddel glip gevolglik uit die regime se hande. Baie plekke raak vir die regering moeilik bereikbaar, as gevolg waarvan staatsgesag onttrek en regeringniemandslande intree.
Elders neem sektore in die landbou, mynbou, nywerheid en burgerlike gemeenskappe funksies oor, namate hulle self, in plaas van die tersaaklike retirerende staatsorgane, paaie en strate in stand hou en groot besigheid in die nabye toekoms ook geprivatiseerde spoorinfrastruktuur gaan oorneem.
Suid-Afrikaanse uitvoerders verlaat hulle voorts toenemend op buitelandse uitweë soos die hawe van Maputo, wat danksy ’n Europese konsortium sy belegging en doeltreffendheid beduidend uitgebrei het.
Vanweë tegnologiese vooruitgang het staatseienaarskap in telefoonkommunikasie grootliks verdwyn. Regimebeheer bly nog net op die gebied van lisensiëring oor, wat blyk nie ’n besondere struikelblok te wees nie. Elektroniese kommunikasie en grootskaalse private pakketaflewering het die staat se Poskantoor grootliks oorbodig gemaak. Vanweë swak bestuur en die bankrotskap van die Poskantoor is die staat nou ook hierdie regeermiddel kwyt. Daar is steeds wetgewing (die Postal Sevices Act) wat bepaalde posdienste vir die Poskantoor probeer monopoliseer, maar vanweë die vervalle Poskantoor en doeltreffende private diensverskaffers het die bepalings eenvoudig kragteloos geraak.
Die slotsom is dat staatsverleende infrastruktuur op die gebied van vervoer en kommunikasie beduidend getaan het en daarmee gepaardgaande ook die regime se regeervermoë op hierdie gebiede. Ook hier verdwyn afhanklikheid van die staat, terwyl ’n versameling van burgerlike en sake-instellings as vervangende regerings hierdie funksies oorneem.
3.4 Misdaadbekamping, die waarborg van veiligheid en die toepassing van die strafreg
Die handhawing van die openbare vrede is die raison d’être van die staat. Dit is die rede waarom ’n regering ’n strafregstelsel, bestaande uit die polisie, vervolgingsgesag en strafhowe, in stand moet hou ter voorkoming, ondersoek en vervolging van misdaad. Die strafregstelsel verskaf die infrastruktuur en is die regeergereedskap vir die handhawing van die openbare vrede en vir misdaadbestryding.
In Suid-Afrika is die getuienis oorweldigend dat die regering baie van hierdie regeervermoë ingeboet het. Die polisie se verlies is struktureel, met ’n gapende gebrek aan bekwame beamptes, baie korrupsie en misdaad, ontoereikende kennis en ervaring, te min voertuie en dergelike meer. Die afdanking van die minister van polisie, Bheki Cele, ofskoon gepas, tref eenvoudig nie die kern van die probleem nie.
.........
Die private sektor reageer reeds grootskaals op hierdie uitdaging en het meer as drie maal soveel mense as die polisie in diens, en waarskynlik ook meer vuurkrag.
.........
Die private sektor reageer reeds grootskaals op hierdie uitdaging en het meer as drie maal soveel mense as die polisie in diens, en waarskynlik ook meer vuurkrag. In bepaalde gevalle vorm gemeenskappe vanuit die publiek die vervangende regerings by wyse van buurtwagte en verwante strukture. Anders huur gemeenskappe, en veral sakeondernemings, private sekuriteitsdienste om in die plek van die polisie veiligheidsdienste te verskaf. Die verhuurders word die vervangende regerings op hierdie gebied, terwyl privaat sekuriteit se kapasiteit die uitvoerende regeermiddels verskaf. Op hierdie kernbelangrike gebied vir die staat is die publiek in weerwil van al hoe meer misdaad dus ironies al hoe minder van die staat afhanklik.
Op baie plekke gebeur dit natuurlik nie. Wat veiligheidsdienste betref, is nóg die regime, nóg enige vervangende burgerlike instellings in staat om regeerfunksies oral uit te oefen. Daar waar hulle nie kan bykom nie, geld die reg van die oerwoud en heers daar regeervakuums of bendeverwante skrikbewinde.
Op die gebied van die openbare orde en vrede is die lappieskombersprofiel van regering, waarna hier bo verwys is, die prominentste teenwoordig.
3.5 ’n Toegewyde en toereikend-gefinansierde staatsdiens, met inbegrip van plaaslike owerhede
’n Toegewyde en goed befondste staatsdiens verskaf die oral teenwoordige, noodsaaklike regeermiddel van enige regering. In Suid-Afrika het dit oor bykans die hele spektrum gekwyn, en in baie gevalle, veral in plaaslike bestuur, is die administrasie haglik.
Bowendien het die staat se geld nou opgeraak. Die staat is by twee geleenthede oor die afgelope dekade en ’n half deur onverwagte groot belastingoeste danksy hoë hardekommoditeitspryse gered. Dis nou verby. Die Departement van Finansies waarsku aan die begin van September 2023 beangs teen ’n lelike begrotingstekort en benadruk dat poste verder bevries moet word, dat salarisverhogings van die baan is, en dat die staatsdiens gerasionaliseer moet word. Noodsaaklike dienste aan die land se enorme korps van staatsafhanklikes, wat reeds onder druk is, kom klaarblyklik verder in die gedrang. Die finansiële regeermiddel wat natuurlik op alle staatsinstellings betrekking het, is besig om in te plof.
........
’n Toegewyde en goed befondste staatsdiens verskaf die oral teenwoordige, noodsaaklike regeermiddel van enige regering. In Suid-Afrika het dit oor bykans die hele spektrum gekwyn, en in baie gevalle, veral in plaaslike bestuur, is die administrasie haglik.
........
Plaaslike owerhede in die huidige bedeling in Suid-Afrika is ’n grootskaalse en verergerende mislukking. Talle daarvan is onder administrasie van provinsiale regerings, wat gewoonlik nie daarin slaag om die betrokke munisipaliteite te red nie. Die meeste beskik nie meer oor professionele personeel nie, verleen swak of bykans geen dienste nie en is nie finansieel lewensvatbaar nie. Veral munisipaliteite onder ANC-beheer presteer uitsonderlik swak. Mislukking van spesifiek ANC-beheerde munisipale owerhede behels ’n omvattende regeerverlies vir die ANC. Op talle plekke neem burgerlike en sake-instellings eenvoudig noodgedwonge munisipale funksies oor, indien nie in die geheel van die betrokke munisipale gebiede nie, dan wel in dele daarvan.
3.6 Die regspleging
Die verval van die strafregstelsel strek natuurlik verder as die ontoereikende polisiediens, en sluit die strafhowe in wat deur tekorte aan aanklaers, meer bepaald ervare aanklaers, geteister word – pligsgetroue aanklaers wat veral opgewasse is teen senior private regslui wat vir welvarende beskuldigdes van witboordjiemisdaad optree. Die strafhowe word ook aan bande gelê deur onaanvaarbaar lang uitstelle alvorens sake voor die howe dien. Volgens opeenvolgende verslae van African Barometer het die publiek se vertroue in die howe tot ongekende laagtepunte gedaal.
Beregting van groot kommersiële regsgeskille het grootliks uit die land se howe verdwyn namate partye hulle vertroue in die toenemend onopgewasse regsprekers verloor en verkies om hulle sake privaat te laat arbitreer. Die hoë aansien wat Suid-Afrika se siviele howe tot die eeuwisseling plaaslik en in die buiteland gehad het, behoort grootliks tot die dae van die blankeminderheidsbewind.
4. Bewindsverspreiding – die ontluikende konstitusionele lappieskombers
Die profiel van ons ontvouende konstitusionele lappieskombers vanuit die ontbindende Suid-Afrikaanse staat blyk reeds ten dele uit die bespreking sover. Ons kyk nou in meer besonderhede daarna: eers met betrekking tot die bevolking in die algemeen en daarna meer in die besonder met betrekking tot die boeiende posisie van Afrikaners.
4.1 Algemeen
4.1.1 Eers is daar die amptelike deel van die nuwe lappieskombers. Dit is nog by benadering soos grondwetlike bepalings mag beoog.
Daar sal na aanstaande jaar se verkiesing nog steeds ’n regime wees wat ons “die Suid-Afrikaanse regering” sal noem. Indien dit steeds die ANC-regime is, sal hy vanweë angs vir en afguns teenoor die burgerlike en private sektor, en aangevuur deur grypdrif, die skyn van regering probeer handhaaf. Dit doen hy as ’n teisteraar, oorlas en verpester in die gedaante van dwase ANC-projekte van swart ekonomiese bemagtiging, afknou van die sakesektor, boelie van Afrikaanse skole, goëlery met hersenskimme van Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), basiese-inkomste-toelae, ’n asemrowende sneltrein, ’n sierlike hoëtegnologiestad en dergelike bog, waarvoor daar nie meer geld is nie. Dog vanweë sy groeiende verlies aan noodsaaklike regeermiddele sal hy al hoe swakker en oor al minder funksies regeer.
As die regime na volgende jaar se verkiesing ’n koalisie van die ANC en enigiets anders is, gaan hy insgelyks aan verlies aan regeermiddele ly en swak en skraler regeer.
Hoe ook al, weens sy swakheid en sy afnemende vermoë om maatskaplike voordele te bied, sal die regime met al hoe meer weerstand te kampe hê. Hy sal hom ook nie meer op ’n geldstroom van belastingbetalers kan verlaat om sy korrupsie te finansier nie. Weerstand hierteen gaan al hoe meer gesofistikeerd en doeltreffend raak. Huidige reeds hoë grade van onregeerbaarheid gaan vererger en wyd aan die orde van die dag wees, en die polisie se reeds uitgeputte bronne verder oop die proef stel.
........
’n Verswakte ANC nasionale regime verloor per slot van rekening die gom om een te bly, en ’n paar poste vir ANC’s in die KZN-regering in ruil vir samewerking met die nuwe provinsiale regering is op stuk van sake baie meer aantreklik as die “lyding” in die ANC-opposisiebanke.
........
’n Waarskynlik sterker Wes-Kaapse provinsiale regering sal soos tevore voortgaan om goed te regeer. Soos nou, sal hy steun op al sy (kultuur)gemeenskappe – ook Afrikaners – en aan elkeen, indien nie ’n ideale nie, tog ’n aanneemlike tuiste bied.
Afhangende van wat aanstaande jaar se verkiesing oplewer, gaan Gauteng en/of KZN ook moontlik in opposisiehande val. En moenie te verbaas wees as (dele van) die ANC van KZN hulle dalk by ’n nuwe IVP/DA-regering aansluit nie. ’n Verswakte ANC nasionale regime verloor per slot van rekening die gom om een te bly, en ’n paar poste vir ANC’s in die KZN-regering in ruil vir samewerking met die nuwe provinsiale regering is op stuk van sake baie meer aantreklik as die “lyding” in die ANC-opposisiebanke.
Indien ’n opposisiekoalisie wel die ANC in Gauteng en/of KZN ontsetel, gaan die nuwe regerings ’n opdraande stryd hê: ontwrigting in die raadsale, trae of openlik vyandige provinsiale amptenare, politieke misdadigheid en dergelike teistering. Nogtans sal die nuwe regerings nie maklik ontsetel word nie. Hulle verkeer per slot van rekening met die oorwig van openbare steun in ’n opwaartse kurwe en die ANC in ‘n afwaartse een. Voeg daarby ’n militante, nasionalistiese Zoeloe-faktor in KZN, wat nie ANC-teistering van hulle nuwe regering sal verduur nie, sowel as die soliede Indiër-faktor in die provinsie.
Met ’n ander rolverdeling geld ’n soortgelyke scenario vir Gauteng. Burgerlike organisasies soos AfriForum met stewige organisasie in Pretoria en plekke in die Rand asook vriendskapsbande met partye wat by die nuwe provinsiale koalisieregerings betrokke is, is ’n gedugte faktor ter ondersteuning van so ’n nuwe provinsiale regering. Te midde van die munisipale staking sedert Julie 2023 en ’n gepoogde stadsgreep in Tshwane, sien ons die AfriForum-faktor juis in aksie ten gunste van die stadsregering in die stad.
Dit sal natuurlik steeds baie moeilik gaan. Hoe om Johannesburg en Emfuleni uit die fisiese en politieke riool te verlos, weet nugter.
’n Klompie munisipaliteite word reeds goed regeer, en die kanse is redelik dat hulle getalle ten minste marginaal sal toeneem. Dit sluit munisipale regerings in die Wes-Kaap asook enkele ander, soos Midvaal in Gauteng, in. Danksy ’n stabiele koalisie, klaarblyklik goeie leierskap, en in weerwil van die aanslag van politieke misdadigheid, is daar goeie hoop dat die Tshwane munisipale regering ook gaan slaag.
4.1.2 Hiernaas is daar die nie-amptelike dele van die lappieskombers.
Niks in die Grondwet het die ontluikende nie-amptelike regerings voorsien nie. Dit kom tot stand daar waar die regime ernstige verliese van regeermiddele ly, en waar burgerlike instellings en sakeondernemings en sakekamers en dergelike instellings die rol van ’n verskeidenheid van nuwe vervangende regerings in die plek van die onttrekte regime oorneem.
........
Etlike burgerlike gemeenskappe en instellings baken hulself af in streke waarin hulle dermate oor hulself regeer dat hulle nie bloot enklawes is nie, maar inderwaarheid outonome mikrorepublieke word.
........
Etlike burgerlike gemeenskappe en instellings baken hulself af in streke waarin hulle dermate oor hulself regeer dat hulle nie bloot enklawes is nie, maar inderwaarheid outonome mikrorepublieke word. Daar is baie van hulle: die Midstreams en die Dainferns en talle ander. Hulle gaan meer en groter word. Hulle tree as’t ware uit die Suid-Afrikaanse staat en sê hulle verhouding met die regime op. Hulle wek self krag op en versprei dit onafhanklik van die staat; hou self paaie en strate in stand; tref self maatreëls vir waterverskaffing; bewaar self die vrede, nie soseer deur vervolging nie, maar deur misdaadvoorkoming deur die inperking van vryheid van beweging deur toegangsbeheer (grensbeheer); verskaf self onderwysdienste aan die hand van niestaatlike standaarde wat nou algemeen beskikbaar en van hoë gehalte is; verskaf self gesondheidsdienste; en sorg in die algemeen vir vreedsame, beskaafde en aangename mikrobedelings. Ons sien die begin van soortgelyke tendense nie slegs in die stede nie, maar ook op die platteland.
Individuele en groepe sakelui tree ten behoewe van hulle eie besigheidsbelange soortgelyk op. Hulle vestig toegangsbeheerde nywerheids-, handels- en kantoorparke waarin hulle in groeiende grade outonome regering beoefen.
In bepaalde gevalle kombineer hierdie sakeparke natuurlik met die residensiële mikrorepublieke wat pas hier bo ter sprake was. Hulle versterk mekaar se lewensvatbaarheid en doeltreffendheid.
Die variasie van selfregerende mikrorepublieke strek natuurlik nog verder.
Om die lappieskombers te voltooi, is daar origens natuurlik nog ook bende-“regimes” en streke waar alle regeringstrukture vanweë die algemene verlies van regeervermoë eenvoudig onttrek het.
4.2 Afrikaners se (mikro)republikanisme en federatiewe sinergie
Afrikaners onderskei hulle daarin dat van alle gemeenskappe hulle in bepaalde areas – setels – die heel bedrywigste is met die uitbou van outonome regering vir gemeenskappe van selfregerende mikrorepublieke.
Talle Afrikaners is betrokke by al die inisiatiewe vir selfregering wat pas hier bo ter sprake was, hetsy in samewerking met provinsiale en munisipale regerings, hetsy in medewerking met sake-inisiatiewe, hetsy met ander kultuurgemeenskappe, en dan natuurlik ook met die oog op die verdere uitbou van hulle eiesoortige mikrorepublieke.
In etlike inisiatiewe speel die Solidariteit Beweging as ’n bouer van Afrikaner- openbare werke en dergelike volhoubare inisiatiewe, en veral van AfriForum, ’n beduidende rol. Afrikaners is egter ondernemend met ’n stewige trek vir eie private inisiatief, en woeker in talle private en korporatiewe inisiatiewe, sakekamers, en baie ander instellings, los van omvattende organisasies.
........
Die verskeidenheid van ontluikende setels van Afrikaner-mikrorepublikanisme en dergelike inisiatiewe van selfstandigheid strook met Afrikaners se geskiedenis.
........
Die verskeidenheid van ontluikende setels van Afrikaner-mikrorepublikanisme en dergelike inisiatiewe van selfstandigheid strook met Afrikaners se geskiedenis. Daar was per slot van rekening nooit slegs ’n enkele republiek nie. Op die minste was daar twee: die OVS (Oranje-Vrystaat) en die ZAR (Transvaal) gedurende die tweede helfte van die 19de eeu.
Die ontluikende Afrikaner-republikanisme sentreer in vier setels wat in toenemende hegte sinergie met mekaar verkeer. Terselfdertyd vlerk hulle uit na ander kleiner sentra, wat die sinergie en federatiewe verhouding verder sementeer. Die vier setels is Pretoria, Orania, Mosselbaai-George en die Wes-Kaapse halfmaan.
4.2.1 Pretoria
Pretoria en omstreke is die tuiste van ’n groot verskeidenheid mense, maar bly steeds die grootste en steeds groeiende versamelpunt van Afrikaners. Dit vorm tans die belangrikste motor van selfregering en federatiewe sinergie onder Afrikaners.
Sonder om ander plekke gering te skat, en in ag genome dat dit mettertyd kan verander, is Pretoria, ondersteun deur Afrikaners van sy omstreke, veral dele van die Witwatersrand, wesenlik Afrikaners se hoofsetel. Dit beskik oor nagenoeg die volle pakket van gespesialiseerde kulturele en dergelike infrastruktuur, nie slegs ten behoewe van Pretoria se Afrikaners nie, maar vir alle ander Afrikaners, waar hulle ook al binnelands of buitelands mag wees.
Ter sake is groeiende instellings soos die opvoedkundige instellings Akademia en Sol-Tech, etlike private skole, asook openbare skole, wat die leefruimtes vir die beoefening van Afrikaanse gemeenskapslewe en kultuur onderhou; die hoofsentra van werkers-, werkgewers-, sake-, landbou-, beroeps-, akademiese, kultuur-, kuns-, veiligheids- en dergelike ander en instellings; mediahuise; teaters; monumente, museums, en ’n wye verskeidenheid van openbare ruimtes, wat Pretoriase Afrikaners en Afrikaners wat tydelik daar vir studie of om watter ander rede ook al vertoef, in staat stel om in ’n tuistelike atmosfeer hul eie kultuur in die breedste sin van die woord te geniet en daartoe by te dra.
4.2.2 Orania
Die Afrikanerdorp Orania het in onlangse tye beduidend in getalle, investering, ekonomiese aktiwiteit, dienste, arbeid, lewensgehalte en op dergelike gebiede begin groei. Die dorp is die toonbeeld van beskaafdheid en veiligheid, met etlike noodsaaklike items van nuwe infrastruktuur. Waar Orania toentertyd bespot is, word dit nou ’n moderne modeldorp wat gunstig met die meeste dorpe en stede in die land vergelyk.
Volgens huidige beplanning, soos onder andere by ’n Orania-stadskonferensie op 23 Augustus vanjaar verduidelik is, is die dorp bestem om in ’n klein stad te ontwikkel. Vanweë sy homogeniteit, ekonomiese groei, doeltreffende openbare dienste wat reeds wyer strek as dienste van ’n plaaslike owerheid, sowel as sy groeiende aansien onder Afrikaners en respek onder die breër Suid-Afrikaanse bevolking, is Orania van alle Afrikaner-gemeenskappe in die land die stewigste op pad na ’n volskaalse outonome mikrorepubliek.
Orania het ook reeds die mededingende voordeel van tegniese opleiding by Bo-Karoo Opleiding wat ambagslui oplei wat bowendien gemaklik in die plaaslike ekonomie geabsorbeer word. Voorts het opvoedkundige instellings soos Akademia met sy hoofsentrum in Pretoria, ook reeds ’n voetspoor in Orania (asook in die Wes- en Suid-Kaap). Orania se invloed en voordele straal namate dit tot streeksdorp groei, natuurlik ook uit na ’n beduidende hinterland rondom die dorp.
4.2.3 Die Wes- en Suid-Kaap; Mosselbaai-George; en Wes-Kaapse halfmaan
Die Demokratiese Alliansie, versterk deur sy regering in die Wes-Kaap en ’n aantal munisipaliteite in die provinsie, het ’n federale eerder as unitêre, grondwetlike visie en is ’n stukrag vir groeiende streekselfregering. Dit is voorsienbaar dat die Wes-Kaapse provinsiale regering vanweë sy eie visie, asook vanweë die agteruitgang van die sentrale regime, al hoe meer magte bekom, hetsy op sterkte van, of sonder, formele grondwetlike en wetgewende wysigings. Dit geld in nog groter mate die etlike sterk munisipale regerings in die Wes- en Suid-Kaap.
Hierdie ontwikkeling is vir groeiende Afrikaner-selfregering insgelyks van groot betekenis. Twee setels is ter sake: (1) Mosselbaai-George en (2) die halfmaan rondom Kaapstad (Somerset-Wes; Stellenbosch; Bellville; Paarl; Worcester en omstreke).
Hierdie twee setels konstitueer saam met Pretoria en Orania, en sommige van die kleiner Afrikaner-sentra wat by die grotes baat en ook daartoe bydra, die oorhoofse, federatiewe sinergie wat deur ’n reeks van Afrikaner-instellings soos Akademia, Sol Tech, dergelike opvoedkundige instellings, Sakeliga en sakekamers, landbou-organisasies, kultuur-, kuns-, veiligheid- en dergelike ander organisasies en instellings, projekte en inisiatiewe gekonsolideer word.
Ofskoon die vier setels uiteraard verskil, groei daar tans ’n kulturele, ekonomiese en politieke gemeenskaplikheid tussen hulle as eiesoortige mikrorepublieke binne ’n omvattende federatiewe sinergie vir Afrikaners. Ook elders is daar ’n klein handvol landelike en dorpsentra met beduidende Afrikanerbevolkings, -kapitaal, -instellings en -leierskap in etlike provinsies, wat Afrikaner-knooppunte is. Hulle kan hul as’t ware by die vier setels skaar as deelnemers aan die Afrikaner- federatiewe sinergie.
4.2.4 Sinergie en federale eensgesindheid
Afrikaners het reeds op ’n verskeidenheid van gebiede regeermiddele en -vermoë ontwikkel. Daarby inbegrepe is veiligheid; openbare werke (die oprig van fasiliteite vir opvoedkundige, gesondheids- en dergelike dienste); aspekte van skool- en naskoolse akademiese en tegniese onderwys; maatskaplike dienste; indiensneming; kragvoorsiening; watervoorsiening; nywerheidsontwikkeling; handel; interkulturele betrekkinge; buitelandse betrekkinge en ’n verskeidenheid ander. Hierdie dienste en regeermiddele is versprei oor die vier setels van Afrikaner-mikrorepublikanisme, wat juis federatiewe sinergie, samewerking en koördinasie noodsaak sodat almal daarby kan baat.
4.2.5 Die Afrikaners as ’n gemeenskap van gemeenskappe
Mense leef nie bloot as ’n losse sameflansing van totaal vryswewende individue nie. Afrikaners natuurlik ook nie. Hulle behoort aan gemeenskappe wat elkeen deel uitmaak van ’n gemeenskap van gemeenskappe, om die nou reeds gevestigde formule van Danie Goosen te gebruik. Afrikaners in die onderskeie Afrikaner-sentra en as ’n geheel smee derhalwe ook bande en werk saam met ander gemeenskappe tot die voordeel van die geheel. Die samewerking is ’n etiese verantwoordelikheid, wat in belangrikheid toeneem namate die regime verder agteruitgaan. Reeds nou al is die beoefening van samewerking van Afrikaners met ander gemeenskappe nie ’n blote abstrakte denkbeeld nie, maar praktiese politiek, waarby talle Afrikaner-instellings, soos AfriForum, Orania, landbou-organisasies en dergelike ander, soos Sakeliga, by wyse van hulpverlening en samewerking oor die hele spektrum van menslike lewe betrokke is.
5. Slotsom
Ons bevind ons midde in ’n omvattende stroomversnelling van bewindsveranderings heeltemal of ten dele los van formele prosesse van grondwetwysigings, wetswysigings of verkiesingsuitslae. Dit gebeur hoofsaaklik vanweë die feit dat die regime groot verliese van regeermiddele ly en gevolglik oor al hoe minder regeer. Daarteenoor verrys ’n verskeidenheid van nuwe amptelike en veral nie-amptelike vervangende sentra van selfregering wat regeervermoë verwerf en gevolglik toenemend, dog in wisselende mate, selfregeringsfunksies uitoefen en oor etlike sentra regeer.
Afrikaners staan op die voorpunt van die variërende vorme van groeiende selfregering in die vier gemelde setels en enkele ander kleiner Afrikaner-knooppunte. Hier ontwikkel selfregering in die vorm van Afrikaner-mikrorepublikanisme wat almal deel uitmaak van ’n Afrikaner- federatiewe sinergie.
........
Vanweë die agteruitgang van die sentrale regime groei daar ’n verskeidenheid van vervangende regerings, maar terselfdertyd ook talle streke waar daar geen regering en georganiseerde reg meer is nie. Die uitwerking hiervan is dat “Suid-Afrika” al hoe meer ’n abstraksie word, en as ’n daadwerklike staat en konstitusionele bestel algaande vervaag.
........
Vanweë die agteruitgang van die sentrale regime groei daar ’n verskeidenheid van vervangende regerings, maar terselfdertyd ook talle streke waar daar geen regering en georganiseerde reg meer is nie. Die uitwerking hiervan is dat “Suid-Afrika” al hoe meer ’n abstraksie word, en as ’n daadwerklike staat en konstitusionele bestel algaande vervaag. In die plek hiervan word die ander regerings wat hier behandel is, die enigste werklike sentra en setels van daadwerklike regering, beskaafde burgerlike lewe, regsorde, en kulturele en ekonomiese bedrywigheid.
Die Suid-Afrikaanse bestel soos in die 1996-Grondwet uiteengesit word, verloor terselfdertyd, soos wat dit alreeds in aansienlike mate gebeur het, sy praktiese betekenis. In die plek daarvan word die lappieskombers van vervangende (self)regerings, en van regeer-afwesigheid in niemandslande, ons daadwerklik gevarieerde konstitusies.
Teen die agtergrond van die verbrokkelde realiteit vervaag die staatlike identiteit van Suid-Afrikanerskap natuurlik ook namate groeps-, gemeenskaps- en streeksidentiteit in pas met die verbrokkelde regeringswerklikheid ook verander. Ons identiteitsdokumente en paspoorte getuig steeds van die formele regstatus van Suid-Afrikaanse burgerskap, en wanneer die Springbokke die All Blacks verrinneweer, is ons tereg trots op die span. Origens, en van standhoudende belang, omarm ons ons besondere identiteite en ploeg ons ons energie in dit in waaraan ons sentimenteel verbonde is, en met betrekking waartoe ons daadwerklik impak kan maak: ons eie gemeenskappe, sentra, mikrorepublieke, federatiewe sinergie en dergelike sinvolle projekte van selfstandigheid selfregering en samewerking tussen gemeenskappe.
Net soos die geskrewe Grondwet na die agtergrond verskuif, verval ander dinge wat ook in staatlike terme uitgedruk word, soos veral ekonomiese aanwysers, insluitende die bruto binnelandse produk, nasionale groeikoers, nasionale werkloosheidsyfer, nasionale per kapita-inkomste, ens. Meer ter sake is die meer betroubare en baie variërende aanduidings wat al hierdie dinge binne bepaalde provinsies, funksionerende munisipaliteite, setels en mikrorepublieke behels.
Sodanig, dan, is die bewindsveranderings wat nou op dreef is en hoe nuwe regerings tot stand kom en nuwe bedelings inhoud kry.
________________________________
Koos Malan is ’n konstitusionele juris van Pretoria.
Sy publikasies sluit in:
- Politokrasie – ’n peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ’n antwoord daarop. Pretoria: Pretoria University Law Press, 2012. (Ook in Engels.) Die publikasie is vrylik op die internet beskikbaar.
- There is no supreme constitution – a critique of statist-individualist constitutionalism Stellenbosch: African SUN Media 2019.
- Studente-inleiding tot die konstitusionele reg, saam met Ilze Grobbelaar-Du Plessis. 2022.
Lees ook:
Mzansi 2023, of hoekom huil ons steeds oor ons geliefde land?
Die gewaande Suid-Afrikaanse wonderwerk: tyd vir bestekopname



Kommentaar
Wel, Koos, dis verbasend dat LitNet die federalistiese ideaal van wit Afrikaners, en in die Wes-Kaap, die bruinmense ingesluit, publiseer. Ek glo nog steeds dat die idee van 'n konstellasie van federale state reeds funksioneer in die Russiese Federasie en suksesvol is.
Ek stem grootliks saam met Koos Malan se positiwiteit oor veral Afrikaners se vermoë om oplossings vir ons huidige probleme te vind.
Maar ons huidige regerings probleme is nie ons grootse probleem om te oorkom nie...
Ons demografie is toenemend nie-lewensvatbaar, nie net in relatiewe terme nie, maar skrikwekkend genoeg deesdae ook in absolute getalle. ń Groot deel hiervan is as gevolg van emigrasie, maar net so groot deel is agv lae bevolkingsaanwas.
Ons probleme van regering kan ons redelik gemaklik oorkom - ons het nog altyd. Maar ons het, sover ek weet, nog nooit so ń kroniese inploffing van getalle gehad nie. Nie net raak ons minder nie, maar ook ouer.
Min mense steur hulle aan hierdie knelpunt, nog minder mense het oplossings (ek het ook nie, en sover ek weet is daar min Europese lande wat hierdie vraagstuk al vir hulself kon oplos)
Indien die trajek nie omgekeer word nie lê daar nóg moeiliker tye voor. Soos wat Piet Cillié in die voorwoord van 'Swart verstedeliking', reeds in 1982, gewaarsku het:
'Nou dwing die feit, die onweerlegbare feite, ons tot 'n pynlike herwaardering so diep en verreikend dat ons wel kan bid dat die beker ons liewer moet verbygaan'.