
Foto: Henry & Co. op Unsplash
Demokrasie is feitlik drie dekades met ons. Dertig jaar van stamel, struikel, opstaan, val, strompel en aanstryk.
Na die rassevoorval waarin ek ietsie oor ’n week gelede betrokke was, vra ek my herhaaldelik af: Hoekom gebeur dit nog steeds? Hoekom is daar steeds wit mense wat hulleself as beter as swart mense ag, bloot net op grond van die kleur van hul vel? Alhoewel die betrokke voorval (waaroor ek verlede week geskryf het) met my gebeur het, is dit net ’n simptoom van ’n groter probleem. Dit gaan nie net oor my, of daardie vrou, of daardie fees nie. Dit lê veel dieper en is ongelukig nog heeltemal te algemeen.
Daar is steeds, dertig jaar na demokrasie, redes hoekom integrasie nie volledig plaasvind nie. Soms is daar oplewings in harmonie, gewoonlik rondom sport, maar dit word nie volgehou nie. Ons het hope voorbeelde van brugbouers wat gemeenskappe bymekaar bring. Ons sien praktiese voorbeelde van mense wat oor rasgrense heen hande vat, hulle dorpe opbou en in harmonie saamleef. Dis dié tipe goedvoelstories wat mense graag oorvertel.
Maar net so is daar vele stories oor konflik tussen mense van verskillende rasse. Die Penny Sparrows beweeg nog vryelik tussen ons. Nie almal praat uit oor wat met hulle gebeur nie. Dis bloot net te vernederend, en dit maak seer op ’n diep persoonlike vlak. Dis moeilik om nie te voel dat jy as persoon verwerp word nie, dat daar iets fundamenteels fout met jou moet wees as iemand so openlik bereid is om jou te verwerp.
........
Daai vaste onwrikbare geloof dat waarde direk gekoppel is aan velkleur, bly kleef soos klitsgras aan ’n wolkombers.
........
Daar ís iets fundamenteels fout, maar dis nie met die persoon aan die ontvangkant van die rassisme nie. (“Slagoffer” is nie ’n woord wat gemaklik kom nie.) Nee, die fout lê veel eerder nie net aan die kant van die rassis nie, maar dieper ook in die strukture en sisteme wat sulke mense steeds toelaat om hulle vooroordele uit te leef. Daai vaste onwrikbare geloof dat waarde direk gekoppel is aan velkleur, bly kleef soos klitsgras aan ’n wolkombers.
........
Hoekom bly individue en instellings so traag om rassisme openlik te veroordeel?
........
Hoekom bly individue en instellings so traag om rassisme openlik te veroordeel? My ervaring die afgelope ruk was dat heelparty mense sê hulle is jammer oor wat gebeur het. Ek glo hulle. Maar 99% van daai selfde mense gaan tjoepstil bly wanneer iets soortgelyks voor hulle oë afspeel. Wat kan eenvoudiger wees as om te sê rassisme moet stop? Wit meerderwaardigheid moet stop?
Hoekom is dit so maklik om heel eerste ’n ander verklaring te soek wanneer iemand rassisme rapporteer? Dis om van te ween.
Dis hoe ’n toksiese kringloop begin. Wanneer swart mense nie geglo word nie, bly hulle eerder stil en bly weg. In reaksie word wit spasies nog witter, wat natuurlik presies is wat die rassis ten doel gehad het. Ontkenning en stilswye is bekende gereedskap in die rassis se gereedskapkissie. Dis presies hoekom ek besluit het om uit te praat. Ek het by ’n punt gekom waar ek my afgevra het: Wie word bevoordeel deur my stilte? Vir wie help dit? Beslis nie ander swart mense wat dieselfde ervaar en voel asof hulle alleen die pyn moet dra nie.
........
Nee, stilswye help die rassis, die wit heerssugtige, nie die swart persoon of die wit persoon wat strewe na harmonie nie.
........
Nee, stilswye help die rassis, die wit heerssugtige, nie die swart persoon of die wit persoon wat strewe na harmonie nie.
Dit bring my by feeste, en kuns. Kuns is veronderstel om die groot gelykmaker te wees. Hoeveel keer het ek nie self al op ’n verhoog gestaan en gesê dat kuns universele ervarings uitdra, dat dit mense empatie leer want hulle vind uit ander is presies net soos hulle nie? Ons sing voor ons behoorlik praat; ons dans op onvaste beentjies voor ons loop; ons word stories vertel lank voor ons betekenis kan put uit die woorde. Ons leer lees deur stories. Wat is mooier as wanneer Pretty Yende moeiteloos daai hoë note uitbasuin? Ons word geraak deur die dringendheid van performance poets; ons is beïndruk deur hoe slim skrywers hulle karakters in situasies plaas. Voor die teater van die verbeelding, of dit nou radio, opvoering, digkuns of geskrewe tekste is, is ons almal kinders vol verwondering.
Kuns is wat ons mens maak. Daarom dat spasies waar kuns beoefen word, veilige spasies moet wees. Daarom dat ek veg vir die behoud van sulke spasies vir almal, en weier dat sommiges dit net vir hulself en ander wat soos hulle lyk, wil toe-eien.
Wat kan gedoen word?
........
Maak kunsspasies spasies waar zero tolerance vir diskriminasie van enige aard toegelaat word.
........
Dis eintlik heel eenvoudig. Maak kunsspasies spasies waar zero tolerance vir diskriminasie van enige aard toegelaat word. Die beginsel is nie onbekend nie. As ’n restaurant ’n dragkode het, kan hulle iemand wat nie korrek aangetrek is nie, toegang weier. In biblioteke word mense wat raas, vinnig stil gemaak. In kerke word mense wat die erediens onderbreek, gevra om die gebou te verlaat.
Hoekom dan voete sleep wanneer dit kom daarby om rassiste uit diverse spasies te boender?
Daar rus ’n spesiale plig op feesorganiseerders om hul venues veilig, verwelkomend en nierassig te maak. Die beginsel dat die feesorganiseerder aanspreeklik is indien ’n gas hom- of haarself beseer weens byvoorbeeld drade wat nie behoorlik uit die pad gehaal is of vasgemaak is nie, of omdat iemand op ’n gladde vloer gly, is goed gevestig. Gaste wat dronk en oproerig is, word sonder aarseling toegang geweier of in die middel van die vertoning verwyder.
Hoekom dan voete sleep wanneer dit rassisme is wat aangespreek moet word? Hoekom in ontkenningmodus gaan?
PEN International bied jaarliks ’n Empty Chair-reeks aan. Dan word daar op simboliese wyse ’n leë stoel by gespreksgeleenthede op die verhoog geplaas om aandag te vestig op die skrywers wat vervolg word, weens hul skryfwerk se afwesigheid. Dis ’n stille protes teen institusies en strukture wat skrywers verhoed om hul kuns uit te leef.
........
Hoeveel leë stoele sou daar nie by feeste moes wees om die aandag te vestig op die afwesigheid van kunstenaars wat net stilweg onttrek het omdat die rassisme te erg geword het nie?
........
Hoeveel leë stoele sou daar nie by feeste moes wees om die aandag te vestig op die afwesigheid van kunstenaars wat net stilweg onttrek het omdat die rassisme te erg geword het nie?
In 2024 is daar een ekstra leë stoel. Myne.
Lees ook:
Rassisme, nasionalisme en die Gereformeerde tradisie: ’n narratiewe benadering
Kommentaar
Bettina, jou geleefde evaring spreek iets veel dieper aan. Ons hier aan die suidpunt van Afrika het spesifiek 'n wrede en ongenaakbare verlede wat oor eeue 'n tipe vooroordeel in die psige van bewoners geskep het en dit steeds voed.
Met die koms van demokrasie was daar 'n hoorbare sug van verligting dat tabula erasa ('n skoon lei) uiteindelik aangebreek het en dat die verlede besweer sou word.
Ek het dit nooit geglo nie. Die seer en generational-trauma waarvan prof Goboda-Madikuzela (US) skryf is steeds om ons, maar die begunstigdes (lees witmense) het eintlik nog nooit hier te plaatse gesukkel nie, was altyd baas en in 'n meerderwaardige posisie vis a viz die inheemse mense. Daardie ingesteldheid is steeds diep gewortel in die Afrikaner psige en manifesteer periodiek op kampusse, restaurante en openbare plekke. En ook feeste.
Hoe kan dit dan anders, as jou voorsate vir honderde jare vanaf die kansel vertel was dat jy verhewe is bo die 'naturelle' en die Bybel dit kondoneer? As jy deel was van ideologie van skeiding? Dat jy nie saam met 'hulle' mag woon, speel en bly nie?
Kultuur en die draers van kultuur is hierdeur besoedel en ons sien dit steeds by feeste. Vat nou maar taal. Die apartheidstaal is Afrikaans. Let wel ek sê 'is' en nie 'was' nie. Dit is nog steeds die taal van uitsluiting. Ek het drie jaar gelede vir die organiseerders van Stellenbosch se Woordfees geskryf en gesê dat hul benaming per definisie die oorgrote meerderheid uitsluit. My voorstel was dat die fees herbenoem word as die W-Fees/Festival, Woord/Word Fees of iets dergliks. Die fees bestaan deesdae uit 'n groeiende komponent Engels optredes en items. Nou hoekom word dit nie weerspieël in die naam van die fees nie?
Ons het hier te make met 'n diepliggende gevoel van onsekerheid wat grens aan minderwaardigheid en 'n halsstarrigheid om aan en in te pas.
Dieselfde kan gesê word van ander instellings wat steeds taal gebruik as 'n sleutel tot uitsluiting.
Op die pad na nêrens is musical chairs net nog 'n stop.
https://music.youtube.com/watch?v=LQiOA7euaYA&si=wAglFd8FTxR24ozg