Is rassisme ingebore?

  • 1

Dit lyk my die nuwe buzz-begrip deesdae is diversiteitopleiding.

Dit word ’n paar keer gebruik in die kommissieverslag van oudregter Sisi Khampepe oor transformasie by die Universiteit Stellenbosch. Haar ondersoek het gevolg op die afskuwelike rassistiese voorval toe ’n wit eerstejaarstudent en inwoner van die Huis Marais-koshuis in ’n besope toestand water afgeslaan het op die skootrekenaar in die kamer van ’n swart student. Die opdrag aan die kommissie was om vas te stel wat gebeur het en aanbevelings te doen oor hoe die kultuur van diversiteit, gelykheid en insluiting verbeter kan word.

Die kommissie het bevind dat die universiteit se hantering van transformasie en diversiteit goed lyk in teorie, maar dat swart studente en personeel steeds voel hulle is onwelkom en word uitgesluit. Daar is ook leemtes in die toepassing van die kode vir gelykheid en diversiteit.

Die Noordwes-Universiteit het ’n paar jaar gelede ’n module vir transformasie ingestel. Dit is egter later afgeskaf, omdat studente gevoel het politiek word by hulle keelgatte afgedruk.

’n Uitdagende tyd lê voor vir die Universiteit Stellenbosch. In haar kommissieverslag het regter Khampepe verskeie ingrypende aanbevelings gedoen. Onder meer dat ’n verpligte eerstejaarsmodule oor die verskillende dissiplines heen by die universiteit ingestel word. Regter Khampepe kies dus die opleidingopsie om ’n nuwe bedeling in te lei waarin almal by die universiteit sal weet wat die beleid oor ras, diversiteit en gedrag is. Maar so ’n module moet natuurlik eers opgestel en dan behoorlik aangebied word deur gekwalifiseerde mense. En die motiewe moet suiwer wees. Dit moet net gaan oor die bou van verhoudinge en versoening. Geen politiek moet bygesleep word nie.

Juis nou in die tyd van die drama by die Universiteit Stellenbosch was daar twee voorvalle wat dié punt illustreer. By die Universiteit van die Vrystaat is ’n direkteur by die instelling se sakeskool, Udesh Pillay, geskors omdat hy ’n diversiteitwerkswinkel gereël het, maar spesifiek wit studente uitgesluit het.

Ná ’n ander voorval wat plaasgevind het by die Fish Hoek High School, is die diversiteitvoorligting deur die fasiliteerder Asanda Ngoasheng in die Wes-Kaapse provinsie beëindig. Dit het gevolg op klagtes van leerlinge en ouers. Sy het glo onder meer gesê omgekeerde rassisme bestaan nie en so ook nie menseslagting op plase nie. Volgens haar sou swart mense nie rassisties kon wees nie.

Uit my rondbel en -vra blyk dit dat diversiteitkonsultante nie noodwendig spesifieke kwalifikasies het nie. Dis omdat daar geen amptelike, omvattende kursus in dié veld bestaan nie. Wel kortkursusse en werkswinkels. Praktisyns het gewoonlik meer as een kwalifikasie van ’n aard in verwante velde soos bedryfsielkunde, sosiologie, en so meer, en karaktereienskappe soos emosionele-intelligensie.

Die werklike trefkrag van diversiteitopleiding lê in die ervaring, kennis, persoonlikheid, slag met mense, aanbieding en styl van die praktisyn. So ’n persoon skryf self die inhoud en pas dit aan by die behoefte van die kliënt. Dit is dan die intellektuele-eiendom van die konsultant en hulle waak jaloers daaroor. Maar die belangrikste deel van die “kursus” is die praktiese werkswinkels. Dit word gemiddeld gehou oor ’n tydperk van twee tot drie dae vir ’n groep van sowat 10 tot 25 mense. Dit sal natuurlik heelwat verskil wanneer dit as ’n werkswinkel vir skoliere gehou word. In skole word die vak Lewensoriëntering aangebied, maar nie alle leerders neem dit noodwendig ernstig op nie. Met die nuwe klem op lewensvaardighede, en spesifiek die kwessie van rassisme, sal die vakinhoud aangepas moet word.

In die werkswinkels moet die praktisyn met al sy/haar vaardighede die proses bestuur. Sulke besprekingsessies word gehou met deelnemers almal fisiek teenwoordig – van aangesig tot aangesig. Dit het eenvoudig nie dieselfde uitwerking indien die sessies elektronies gehou word nie. In die oopsessies word openhartig gepraat. Vooroordele van welke aard uit welke oord ook al word te berde gebring en ontleed. Dit gaan by tye glo rof. Mense storm soms uit in woede of in trane. Maar dan is die sweer oop vir almal om te sien en te bespreek. Sommiges noem dit ’n lewensveranderende belewenis.

In sulke omstandighede is die rol van die fasiliteerder van kardinale belang. Hy/sy moet neutraal bly en die vertroue van almal hê. In 1998 het ek ’n storie gaan doen in Vryburg in die Noordwesprovinsie. Dit was in die begindae van transformasie in die onderwys. Emosies het maklik hoog geloop. Van die leerlinge, swart en wit, het mekaar toegetakel. Vryburg was destyds konserwatiewe kontrei. Die departement het toe ’n privaatdiversiteitkundige uit Johannesburg gestuur om dinge te besleg. Dit was ’n gesofistikeerde, middeljarige wit vrou wat kwalik Afrikaans kon verstaan, wat nog van praat. Ek kon nie sien hoe sy die nodige geloofwaardigheid by al die gemeenskappe sou kon verdien nie. En so was dit toe. Sy het 18 jaar ná die moeilikheid by die Hoërskool Vryburg weer gaan kyk wat daar aangaan en gevind dat weinig in die ingesteldheid van die meeste mense verander het.

Die Universiteit Stellenbosch het ’n uitdagende tyd wat voorlê betreffende die ontwerp van so ’n verpligte module vir die eerstejaars.

Byvoorbeeld: Wie gaan dit skryf? Regter Khampepe meen die universiteit het reeds die nodige kenners om so ’n module saam te stel. (Jonathan Jansen is een van hulle. Hy het ook voor die kommissie getuig.) Regter Khampepe meen ’n bestaande dokument wat reeds saamgestel is, kan as basis vir ’n nuwe module gebruik word.

Gaan privaatdiversiteitkundiges se insette gevra word, en indien so, wie?

Hoeveel gaan dit kos? Dit kan maklik tienduisende rand wees. Soos reeds uitgewys, is die samestelling van so ’n module of handleiding die makliker deel van die projek. Die groter uitdaging is om praktiese werkswinkels te hou. Wie se model van die werkswinkels sal dáár gebruik word?

Sal daar genoeg opgeleide personeel wees om klas te gee en die werkswinkels te hanteer? As die privaatsektor se voorbeeld gevolg word van ’n intense werkswinkel oor drie dae gaan dit moeilik wees om by alle eerstejaars uit te kom. As minder werkswinkels gehou word, sal die opleiding minder doeltreffend wees.

Sal daar opvolgsessies wees? ’n Student kan tog nie net een sessie aan die begin van die jaar ervaar en dan as “getransformeer” verklaar word nie.

Wat is “sukses” en hoe gaan dit gemeet word?

Maar die kernvraag is: Hoe gaan fasiliteerders daarin slaag om by die dieper vooroordele in die koppe van studente uit te kom? Die probleem is nie om mense se kennis van die teorie te toets nie, maar om by diepgewortelde vooroordele uit te kom. Waar kom die gedrag van Theuns du Toit vandaan toe hy op die rekenaar van ’n (swart) mede-eerstejaar geürineer het? Jonathan Jansen het ’n teorie daaroor.

Jansen moes ’n paar jaar gelede as die visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat self ’n soortgelyke insident hanteer. Die vraag is: Hoe gebeur dit dat studente wat self nie apartheid geken het nie, tog wel rassisties optree? Jansen meen dis omdat die begrip van wit meerderwaardigheid van geslag tot geslag oorgedra word. Dit word as’t ware die “knowledge in the blood”. Soos met ’n persoon se DNS-samestelling word vooroordele saamgesleep na ’n volgende generasie. Dit word dan versterk deur die praatjies in die binnekamer. Die Israelse sielkundige en konflikbeslegter Dan Bar-On praat van “the power of the kitchen table tales”. Dis daar waar die gesin, familie en vriende hulle dieper gevoelens verwoord, gestroop van politieke korrektheid – daar waar niemand anders hoor wat hulle werklike standpunte is nie. Dis wat ontbloot moet word sodat dit gehanteer kan word tydens die opleiding.

Die Khampepe-kommissie meen die doel van so ’n module sou wees om kritiese denke oor diskriminasie te bevorder. Dis immers so dat daar in die afgelope 28 jaar geen volgehoue diversiteitonderrig in die land was nie. Dis eenvoudig logies dat ’n diskriminerende bedeling van by die 300 jaar nie sommer oornag op sigself kan verander nie. Daar moet ’n padkaart wees, ’n plan, ’n beleid wat inklusief saamgestel is in die gees van saambou aan ’n beter toekoms. Dit moes al op massiewe skaal van stapel gestuur gewees het in 1994, kort ná die verkiesing.

As Afrikaanse wit man is dit moeilik om myself voor te stel wat die omvang is van die oneindige sielkundige skade wat apartheid ander burgers van die land aangedoen het. Nou die dag hoor ek oor die radio ’n swart man praat. Hy het ’n sterk stem en is duidelik geleerd. Hy sê wat hom die ergste van apartheid getref het, is dat hy hom dag na dag steeds moet oortuig dat hy nie ’n mindere mens is nie.

Ons land se verlede lê besaai met voorbeelde van erge vergrype. Van “groot apartheid” wat ten doel gehad het om alle mense wat nie wit is nie op te neem in tuislande – afgesny met geen seggenskap in hulle eie vaderland nie.

Daar was natuurlik talle voorbeelde van hoe “klein apartheid” mense van ’n sogenaamde “ander” kleur verneder het – soos dat ’n swart mens permanent ’n pas moes dra, nie op ’n parkbankie in die “wit” voorstede kon sit nie en by strande en openbare geriewe weggewys is deur tekens wat waarsku “Net blankes”.

Maar die meeste emosie is ontketen deur oor-die-rassegrens-liefdesverhoudinge – dit is verbied deur die Ontugwet en die Wet op Gemengde Huwelike. Verbete Nattes het geglo die wit Afrikanervolk moes deur afsondering “suiwer” gehou word.

Die Suid-Afrikaanse komediant Trevor Noah skryf in een van sy boeke Born a Crime hoe sy blote bestaan onder apartheid ’n onwettigheid was. As hulle as gesin op straat verskyn het, moes sy Switserse (wit) pa en sy Xhosa-ma weerskante van die straat op die sypaadjies loop – dit was om te verseker dat die polisie nie hondsegedagte kry dat hulle getroudes of verliefdes is nie.

Vandag kan ’n mens jou nie indink hoe op dees aarde politici en die polisie hulle kon bemoei met sulke onbenullighede nie. Waarmee ons almal ons moet bemoei is hoe ons voortaan deur dialoog ’n projek van stapel kan stuur om verhoudinge te verbeter. Die Universiteit Stellenbosch is weens omstandighede by Huis Marais gedwing om iets daadwerklik te doen om rassisme uit te roei. Die universiteit het nou die geleentheid om vir homself, ander universiteite en selfs vir die land ’n resep te gee van hoe ons as Suid-Afrikaners, as medeburgers beter kan saamwerk.

Gegewe die apartheidskade aan die siele van swart mense gaan dit baie tyd, moeite en positiewe optrede verg om die verlede te begrawe. En dan vorentoe te beweeg. In die eerste vyf jaar van die nuwe Suid-Afrika het Suid-Afrikaners te veel teruggesit en dit aan Nelson Mandela oorgelaat om versoening te bevorder. Die Waarheids- en Versoeningskommissie het miskien waarheid gebring, maar nie versoening nie. Miskien kan ’n mens selfs sê die kommissie het versoening ’n stap of twee terug laat gaan. Dit het van die diepste seer tot op die been oopgekrap.

Wat het intussen gebeur? Weinig. Dis 28 jaar wat vermors is. Die benarde situasie in die land met ’n swak ekonomie, die ineenstorting van infrastruktuur, krag- en waterprobleme, korrupsie, armoede, werkloosheid, en veel meer verhoog die spanning in die samelewing. So maklik kan die openbare debat verval in oor en weer beledigings wat weer kan lei tot geweld. Wit Suid-Afrikaners moet teen wil en dank en nog vir lank vrede daarmee maak dat hulle sal deurloop aan beskuldigings oor apartheid. Verduur en verdra maar.

Ons kan dit eenvoudig nie in hierdie land met sy brose en jammerlike verlede bekostig dat nydige ingesteldhede die proses na begrip en versoening vertraag of ontspoor nie. Hierdie keer het Julius Malema te ver gegaan. Hy sal tot in die gelykheidshof rekenskap moet gee vir sy praatjies.

Heelwat tyd het verlore gegaan. Dis tyd om in te spring – en die burgerlike samelewing in die besonder het ’n groot taak. Dis om leiding te neem in ’n groot veldtog om dialoog te bevorder wat sal lei tot beter verhoudinge. Dit kan die basis vorm om Suid-Afrika uit die moeras van ekonomiese verval te trek. Maar almal moet betrokke wees en besef dat so ’n veldtog besondere eise gaan stel. Dat elkeen meer sal moet doen vir minder. Dis ’n tyd van opoffering oor die volgende twee tot drie jaar. Dit alles kan opgeneem word in ’n nasionale verdrag.

Regter Khampepe se aanbevelings is nie sonder kritiek nie. Tog kan dit as ’n basis dien by universiteite en die breë samelewing. Die omstandighede dwing ons om hierdie geleentheid aan te gryp. Sy sê: “Die oplossing is nie om te baklei en die verlede te verdedig nie, maar te verenig en saam ’n toekoms te bou.”

  • 1

Kommentaar

  • David Willers

    Thanks for this, Freek. It's not easy to expunge entrenched attitudes and old ways as we are also seeing in Europe right now, where decolonising curricula in schools, literature and art is the name of the game. There are great sensitivities - just this week, a companion to the late Queen resigned after she had, albeit in a friendly curious fashion, asked a black delegate from a local charity, which part of Africa she was from. I'm British the delegate replied - yes, but originally, asked the Royal companion. Caused a big upset. The discussion around identity and the need to 'level up' is massive, and diversity training is a big deal, in police forces and other similar institutions. South Africa - and Stellenbosch - are not alone in this push to erase the psychological calluses of history.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top