Solidariteit en AfriForum Afrikaanse Onderwysberaad: ’n beraad wat uitsluit?

  • 2

Foto-erkenning: Slow Death op Pixabay. ©2024 slowdeath, gepubliseer op 22 Julie 2024. Gepubliseer onder die gratis lisensievoorwaardes van Pixabay.

Die Afrikaanse Onderwysberaad, aangebied deur Solidariteit en AfriForum, was ’n byeenkoms wat nie vir die eerste keer oor die toekoms van Afrikaanse onderwys beraadslaag en besin het nie. Hierdie tipe byeenkomste bied geen werkbare praktiese oplossings nie. Dat daar kommer is oor die toekoms van Afrikaanse onderwys is ’n gegewe en benodig daadwerklike voorstelle wat uitvoerbaar is. Gesprekke gaan nie die probleem oplos nie, maar slegs wanneer daar ’n goed beplande aksieplan gaan wees om Afrikaanse onderwys op die voorgrond te plaas. Groter fokus moet op die belang van moedertaalonderrig geplaas word en so aan die owerhede oorgedra word.

Die probleem met die benadering om slegs wit mense en wit organisasies by so ’n belangrike gesprek te betrek, strek Afrikaans nie tot voordeel nie. Afrikaans word op hierdie wyse voorgestel as ’n taal wat deur wit mense oorheers word – die taal word dus op hierdie wyse gekaap en skep ’n wanindruk na buite. ’n Beeld wat geskep word deur Afrikaners is dat Afrikaans eksklusief aan Afrikaners behoort, met hul organisasies wat ook die taal as slegs hul erfenis beskou.

Op hierdie wyse word ander Afrikaanssprekers in die duister gelaat en op die sylyn geplaas en uitgerangeer. Afrikaans en die toekoms van Afrikaanse onderwys kan nie in die hande van een groep Afrikaanssprekers gelaat word nie. Die gesprek oor die toekoms van Afrikaanse onderwys behoort alle Afrikaanssprekers in te sluit, want dit raak ons almal. Die beraad sou groter saak gemaak het indien veral bruin Afrikaanssprekers en organisasies uitgenooi sou gewees het vir deelname aan die hierdie tipe gesprekke. Uiteindelik is ’n gesamentlike strategie nodig om hierdie kwessie aan te spreek. Die aanbied van die onderwysberaad by die Voortrekkermonument bevestig verder dat dit ’n Afrikaner-byeenkoms was. Dit is ’n plek met groot geskiedkundige waarde vir die Afrikaner, en vandaar dus die aanname dat die gesprek Afrikaner-belange verteenwoordig het.

Afrikaans het verlede jaar sy 100ste herdenking as ’n amptelike taal op luisterryke wyse gevier. Die tema wat soos ’n goue draad deur die feesvieringe geloop het, was die voorstelling van Afrikaans as ’n inklusiewe en ’n vriendelike taal. Alle deelnemers aan die programme het daarvan getuig. Dit het gestrek van kunstenaars tot gespreksgenote op alle forums en platforms. Dit het ’n gevoel van samehorigheid en inklusiwiteit geskep – Afrikaans die taal wat aan almal behoort en almal se erfenis is.

Die 50ste herdenking van die Soweto-opstande van 16 Junie 1976 is ook onlangs gevier. Dit kan nie weggeredeneer word dat gebeure rondom hierdie dag ’n skandvlek op Afrikaans gelaat het. Die taal is gebrandmerk as die taal van die onderdrukker en gaan vir jare nog so wees. Dit is opmerklik dat daar geen mediaverklaring van die kant van Afrikaanse organisasies was wat ’n mening rondom hierdie gebeure uitgespreek het nie, behalwe gesprekke wat deur die Afrikaanse Taalmuseum gereël is.

Afrikaans is as ’n taal van onderrig op swart leerders afgedwing, met tragiese gevolge vir Afrikaanssprekers – wit of bruin. Hoe daar van hierdie siening deur swart Suid-Afrikaners afgesien gaan word, sal nie slegs strategiese denke insluit nie, maar pogings om Afrikaans voor te stel as ’n vriendelike en insluitende taal. Laer trek gaan niks goeds inhou nie.

........
Afrikaans is as ’n taal van onderrig op swart leerders afgedwing, met tragiese gevolge vir Afrikaanssprekers – wit of bruin. Hoe daar van hierdie siening deur swart Suid-Afrikaners afgesien gaan word, sal nie slegs strategiese denke insluit nie, maar pogings om Afrikaans voor te stel as ’n vriendelike en insluitende taal. Laer trek gaan niks goeds inhou nie.
........

As daar dus oor die toekoms van Afrikaanse onderwys beraadslag word, en oor die toekoms van gehalte- Afrikaanse onderwys, moet dit ’n nasionale gesprek wees wat nie slegs tot die Voortrekkermonument beperk word nie. Soos die viering van die 100ste herdenking van Afrikaans as ’n amptelike taal, so sal daar ook ’n nasionale gesprek oor die toekoms van Afrikaanse onderwys beplan en gehou moet word, want Afrikaans is inderdaad groot en vind ’n tuiste in van die kleinste gehuggies tot die grootste stede en dorpe, in die noorde – en in die Wes-Kaap.

Die vraag wat dus nou onwillekeurig ontstaan, is: Waarom die terugkeer na die Afrikaner-laer? Die toekoms van Afrikaanse onderwys kan nie voorgestel word as ’n kwessie wat slegs Afrikaners raak nie, en behoort nie so voorgestel te word nie. Gehalte-Afrikaanse onderwys moet voorop geplaas word. Afrikaans is veel groter as dit en moet as sulks so voorgestel word, want in so ’n gesprek mag niemand uitgesluit of agtergelaat word nie. Daar sal met erns met Afrikaanse onderwys omgegaan moet word.

’n Nasionale gesprek oor die toekoms van Afrikaanse onderwys moet skoolbeheerliggame betrek, want hul rolle en funksies kan nie onderskat word as dit by die besluit oor medium van onderrig in skole gaan nie. Die taak is dus veel groter as ’n beperking tot Gautengse skole. Tans beskik die Wes-Kaap oor die grootste getal Afrikaanse enkelmediumskole in die land. Daar moet verhoed word dat hierdie getalle krimp, want dit sal ’n verdere tragedie vir alle Afrikaanssprekers wees.

Dit is dus belangrik dat daar proaktief opgetree word en met duidelike doelstellings vorendag gekom word. Afrikaanse onderwys is onder beleg, en die onderwysowerhede maak dit nie makliker nie. Daar is steeds die ideologiese benadering wat gelei het tot die nie-erkenning van Afrikaans as ’n inheemse taal. Dit was ’n geveg wat tot op die hoogste vlakke gevoer is, maar wat nie suksesvol was nie. Moontlik moet hierdie strydbyl weer opgeneem word, siende dat daar nou ’n regering van nasionale eenheid is wat moontlik anders sal luister en optree vir so ’n pleidooi.

Afrikaanssprekendes sal ’n verenigde front moet vorm om die regering van mening te laat verander dat Afrikaans nie die taal van die onderdrukker is nie. Dis ’n narratief wat tot die verlede behoort. Verder sal daar opnuut gesoek moet word na oplossings deur alle sprekers wat Afrikaans verteenwoordig.

Die tyd is verby vir berade wat net op ’n spesifieke groep konsentreer.

Die tyd het aangebreek vir ’n meer omvattende benadering tot gehalte- Afrikaanse onderwys en die vestiging daarvan in veral Afrikaanse skole in bruin Afrikaanse gemeenskappe.

Reël inligtingsessies met skoolbeheerliggame om nie slegs gehalte-onderwys te vestig nie, maar ook om hulle mag te ontsluit deur hulle bewus te maak van watter rol hulle moet speel of vervul om dit in hulle skole te laat gedy.

Dit word by die dag duideliker dat die oorlewing van Afrikaanse onderwys alle Afrikaanssprekers raak. Die oorlewing van die taal is in ons almal se hande. Laat ons hande vat en ons taal vestig vir die toekoms. Ons kan nie meer op verskille fokus nie, maar moet fokus op dit wat ons gemeen het. Gehalte- Afrikaanse onderwys verdien dit.

Danie van Wyk, Voorsitter: DAK Netwerk

  • Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se jaarlikse Nasionale Kongres het vanaf 23 tot 25 Junie 2026 by die Voortrekkermonument in Pretoria plaasgevind.

Lees ook:

Afrikaans: die taal van Afrika en die Afrikaner as ’n "African" – erkenning vanuit ’n onverwagse oord

VVA-Leeskonferensie 2026: "Die wysie van die taal"

'n Onderhoud oor kunsmatige intelligensie en die algoritme in die klaskamer: ’n probleem of probleemoplossing?

  • 2

Kommentaar

  • Dis duidelik dat die skrywer nie die beraad (wat deur Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum aangebied is en deur Solidariteit en AfriForum geborg is) bygewoon het nie en nou op grond van hoorsê gevolgtrekkings maak. In die eerste plek was die fokus juis werkbare oplossings - die lede van die Solidariteit Beweging se aanbod om gehalte Afrikaanse onderrig moontlik te maak en te ondersteun, is tydens die beraad aan die teenwoordiges bekendgestel. Dit sluit selfs die mees praktiese oplossings vir die aanpak van onderwysers se administratiewe laste in. Tweedens is die oplossings vir alle Afrikaanse onderrig toeganklik. Alle belangstellendes was ook by die beraad welkom, niemand is weggewys nie.

  • Die Toekomsberaad vir Afrikaanse onderwys was oop vir enige een om by te woon, Danie. Uiteenlopende organisasies, skoolleiers, politieke partye, gemeenskapsforums - met gehalte onderwys as gemene doel - het die beraad bygewoon en waardevolle insette gelewer/ aangehoor - Kaapse Forum en verskeie toegewyde bruin skoolhoofde inkluis.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top