Persverklaring: Taalmonument-dialoog in hart van Soweto

  • 0

Grafika afkomstig vanaf https://taalmuseum.co.za/ Hier is ook nog inligting oor verdere vieringe en gesprekke op die 26ste Junie by hierdie skakel.

Hector Pieterson-suster en ander bespreek die pad van 1976 tot 2026.

Ter herdenking van die tragiese gebeure van 16 Junie 1976 in Soweto, bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) 2026 - in samewerking met die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), Gautengse onderwysdepartement, opvoedkundige instellings en Hector Pieterson-museum –  ’n interaktiewe paneelgesprek op 27 Junie 2026 in Suid-Afrika se bekendste township aan. Die sprekers vir "Versoen ons verlede, hede en toekoms" sluit onder andere Antoinette Sithole, suster van die vermoorde Hector Pieterson, Zenzile Khoisan, Prince Dube, Geraldine Frieslaar, Daan Potgieter asook skoolleerders in.

Vyftig jaar nadat swart leerders hulle verset het teen die mislukte poging om Afrikaans as ’n gelykwaardige onderrigtaal met Engels in swart skole af te dwing (en teen apartheid in die algemeen in opstand gekom het), wil die instelling verdere ruimtes skep vir debat om persepsies en vooroordele rakende die taal uit te daag.

Volgens ATM-direkteur Michael Jonas ly Afrikaans steeds aan die stigma van apartheid, al is die taal oorspronklik deur bruin en swart Afrikane geskep, en al is dit ook as taal van bevryding teen kolonialisme en apartheid gebruik. “Hoewel wit moedertaalsprekers ’n minderheid van Afrikaanses was en is, het hul politieke en ekonomiese mag tydens apartheid veroorsaak dat die taal se diverse sprekers en komvandaan-verhale vir lank grootliks geïgnoreer is, ook wat die vaslegging van die taal se destydse standaardvariëteit betref.”

Hy meen progressiewe kulturele instellings soos die ATM het die afgelope dekades heelwat bereik om die beperkte inligting aan te pak deur onder meer te fokus op Afrikaans (betekenis: van of behorende tot Afrika) se vollediger skeppingsverhaal en die wedersydse invloede tussen Afrikaans en ander Afrikatale.

“Die Soweto-opstande van 1976 was immers ook ’n keerpunt wat uiteindelik tot die einde van apartheid en die bevryding van Suid-Afrikaners, en sodoende ook Afrikaans, gelei het,” sê hy. “Baie vordering is al met die herstandaardisering en depolitisering van die taal – asook versoening onder Afrikaanses onderling en met ander landgenote – gemaak. Hoewel dit op sosiale en kulturele vlak sigbaar is, kort dit op ’n politieke vlak erkenning.”

Met dié veeltalige, interaktiewe program wil die ATM luister na die menings van vandag se jonges en volwassenes, en dialoog versterk. “Ons is dit aan die jeug en toekomstige generasies verskuldig om uit die verlede te leer en inklusiewe ruimtes te skep vir die bevordering en viering van álle inheemse tale,” sê Jonas. Die publiek word ook aangemoedig om hul menings uit te spreek en vrae te vra oor onder meer moedertaalonderrig, veeltaligheid, maatskaplike samehorigheid, nasiebou en versoening.

Die GRATIS GELEENTHEID, waar ligte verversings bedien sal word, vind van 09:00 tot 15:00 in die historiese Uncle Tom-gemeenskapsaal in Kumalostraat, Orlando-Wes plaas. Dié gebou, wat byna tydens die 1976-opstande afgebrand is, is langs die Hector Pieterson-museum en al vir meer as tagtig jaar die tuiste van politieke vergaderings en kulturele geleenthede. Aangesien daar slegs beperkte plekke beskikbaar is, moet belangstellendes so gou moontlik bespreek. E-pos Samuel Minnaar by opvoeding@taalmuseum.co.za of skakel 021 863 0543.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top