............
Ons leef kwalitatief beter – langer en met beter lewensgehalte en selfs meer betekenisvol. Ons kyk dalk te gereeld vas in die daaglikse opskrifte of sien die verval rondom ons en vergeet van hierdie langtermynperspektief. Maar die vraag is nie net óf ons beter leef nie (daar is baie boeke wat dieselfde vraag beantwoord), dit is ook hóékom ons beter leef.
............
Skatryk – waarom ons beter leef as ons voorsate
Johan Fourie
Tafelberg
ISBN: 9780624093466
Johan Fourie praat met Naomi Meyer oor Skatryk.
Johan, ek het jou op die Woordfees op TV en in LitNet se WeerDink-reeks gesien, waar jy oor jou navorsing en jou boek Our long walk to economic freedom gepraat het. Nou het die boek Skatryk (in Afrikaans en bygewerk) verskyn. Die subtitel is: Waarom ons beter leef as ons voorsate. Wat is die kerngedagte van hierdie boek? Dit handel beslis oor meer as rykdom.
Inderdaad, Naomi. Skatryk (of dan nou Our long walk to economic freedom) gaan eerstens oor die idee dat ons beter lewens leef as ons voorsate, en nie net omdat ons meer verdien as ons ouers of grootouers nie. Ons leef kwalitatief beter – langer en met beter lewensgehalte en selfs meer betekenisvol. Ons kyk dalk te gereeld vas in die daaglikse opskrifte of sien die verval rondom ons en vergeet van hierdie langtermynperspektief. Maar die vraag is nie net óf ons beter leef nie (daar is baie boeke wat dieselfde vraag beantwoord), dit is ook hóékom ons beter leef. En dit is waar my vakgebied, ekonomiese geskiedenis, kan help. Die boek handel oor historiese gebeurtenisse en die ekonomiese lesse wat ons daaruit kan leer om sin te maak van ons welvaart vandag.
Ekonomie is jou fokusgebied en reeds in die inleiding, waar jy die verskille tussen Catan en Monopoly uiteensit, kan ’n mens sien hoeveel ekonomie, politiek, geskiedenis en filosofie met mekaar gemeen het. Wil jy dalk hierop uitbrei?
In die akademie het ons dissiplines inderdaad al hoe meer onafhanklik van mekaar geword; studente wat tans ekonomie studeer, gaan meestal geen klasse in politieke wetenskap, geskiedenis of filosofie loop nie, en andersom. Dis jammer. Die uitdagings van ons tyd kan nie deur net een dissipline opgelos word nie. Om bordspeletjies te gebruik as metafoor vir ons welvaartskepping het juis ten doel om te wys dat ons welvaart ’n funksie van ons interafhanklikheid is. Ons raak ryk deur saam te werk, nie deur van mekaar te steel nie. Monopoly is ’n spel waar almal begin met ewe veel bronne, en dan eindig een persoon met als. Catan werk anders. Almal bou stede en dorpe, hoewel een dit dalk effe vinniger doen as die ander en daarom die spel wen. Maar om ryk te word in Catan het jy meestal ander spelers nodig. Jy gaan sukkel om die speletjie te wen deur net op jouself staat te maak. Dis ook waar vir die akademie, dink ek.
Jy skryf baie helder oor hoe mense in vorige eeue dalk net een paar skoene kon bekostig (ondenkbaar vir ’n moderne kind in gegoede omstandighede, byvoorbeeld!) en hoe mense vandag dalk tot 18 pare skoene kan bekostig, een vir elke geleentheid. Goed, ja, ek verstaan dit, want ek leef in bevoorregte omstandighede. Hoe dan so dat die kloof tussen ryk en arm – welvaart en armoede – steeds so groot is en steeds aanhou toeneem? Wat is jou gevoel: Is dit wel die geval? Ek kan nie anders as om na Suid-Afrika te kyk en te dink hoe ontsettend groot en haas onoorkomelik die ongelykheid tussen ryk en arm is nie.
Hier is dalk twee antwoorde. Suid-Afrika is maar net ’n voorbeeld van hoe die wêreld as geheel lyk. Besoekers wat hier aanland uit Nederland, byvoorbeeld, is dikwels geskok oor die geweldige ongelykheid wat hulle sien. Maar dis bloot omdat hulle kies om arm mense nie toe te laat om na Nederland te migreer nie. Sou daar oop grense wees tussen lande, sou die res van die wêreld baie meer soos Suid-Afrika lyk. Ons weerspieël as’t ware net die ongelykheid wat mens in die res van die wêreld sien. Maar jou vraag handel eintlik oor of hierdie ongelykheid ooit gaan verdwyn. Die goeie nuus is dat dit kan, ja. Suid-Afrika is self ’n voorbeeld daarvan. In 1994 het ons ’n baie ongelyke samelewing gehad. Binne 12 jaar het hierdie ongelykheid in lewensgehalte gedaal, grotendeels vanweë ekonomiese groei en die owerheidstoelae (in die vorm van pensioen, ens) wat dit toegelaat het. Ek haal ’n syfer aan wat wys dat multidimensionele armoede in hierdie tydperk van 38% tot 8% gedaal het. Dit is geweldige vooruitgang! Ongelukkig het ons nie hierdie trajek volgehou nie, en sou die 2010’s ’n heel ander storie wees. Tot ’n mate het die res van die wêreld wel hierdie trajek volgehou: Globale ongelykheid het die afgelope drie dekades beduidend gedaal, soos van die armste lande soos China en Indië vinnig gegroei het. In kort, ja – met ekonomiese groei wat die armstes bevoordeel, kan ongelykheid verminder.
Die vraag hier bo demonstreer dat ek reeds in ’n slaggat trap. Jy noem ’n mens moenie klem lê op armoede nie, want dit was deur die eeue heen die norm. Dis juis rykdom wat die uitskieters is. Dit voel nie aldag so nie, want ons is so dikwels bewus van alles wat ons nié het nie. Hoe herstel ons die balans waaroor jy in jou boek skryf in ons alledaagse lewe? En verduidelik asseblief hoe jy sosiale interafhanklikheid verstaan.
Ek weet nie of ek die regte persoon is om oor sielkunde iets kwyt te raak nie. Dit is inderdaad so dat ons as mens maar altyd onvergenoegd voel; ons kyk na ons bure en begeer wat hulle het. Ons is sosiale wesens; ek dink nie dis iets wat die afgelope paar eeue geskep is nie. Dit is dalk so dat die tegnologie wat ons tans tot ons beskikking het – die internet, sosiale media, ens – ons baie meer bewus maak van ons tekortkominge. Weereens, dis nie my forte nie.
...........
Maar my hoop is dat my boek ons opnuut laat kyk na wat ons het, en hoeveel beter ons daaraan toe is as net twee of drie generasies terug. En ja, hierdie welvaart is te danke aan ons samewerking, ons vertroue in mekaar. Dit klink dalk vreemd, maar dis ’n ongelooflike ding om te dink dat iets soos Uber kan bestaan. Hier klim ek in die kar van ’n wildvreemde persoon. Ek vertrou hy gaan my op die regte plek veilig aflaai, en hy vertrou dat ek hom daarvoor sal vergoed.
...............
Maar my hoop is dat my boek ons opnuut laat kyk na wat ons het, en hoeveel beter ons daaraan toe is as net twee of drie generasies terug. En ja, hierdie welvaart is te danke aan ons samewerking, ons vertroue in mekaar. Dit klink dalk vreemd, maar dis ’n ongelooflike ding om te dink dat iets soos Uber kan bestaan. Hier klim ek in die kar van ’n wildvreemde persoon. Ek vertrou hy gaan my op die regte plek veilig aflaai, en hy vertrou dat ek hom daarvoor sal vergoed. Histories is sulke vertroue besonders; daar is geen manier ons voorouers sou so iets waag nie, veral nie as die persoon ’n ander taal gepraat het of ’n ander ras was as hulle nie. Dit is hierdie vertroue in mekaar wat ons toelaat om te spesialiseer in waarin ons goed is en handel te dryf met ons surplusse. En daarom is ons ryk.
Jy skryf in een van die hoofstukke oor Blombos en die ontdekkings wat hier gemaak is: vroeë mense wat abstrakte kuns geskep het. En dis net die opgrawings waarvan ons weet, en die objekte wat behoue gebly het. ’n Ander onlangse gesprek oor Nuuseum op LitNet het my laat nadink oor watter artefakte deur die eeue as belangrik genoeg geag is om te beskerm, te bewaar of deur die argivaris van sy tyd se ideologiese beskouings as hoegenaamd van belang beskou is om ’n historiese narratief van ’n omgewing te help skep. Hoe kry ’n mens ’n prentjie van die geskiedenis wat min of meer objektief is? Is dit ooit moontlik?
Nou vra jy ook ’n gevaarlike vraag: Kan geskiedskrywing ooit objektief wees? Hier sal ek staatmaak op van die groot geeste in geskiedskrywing, iemand soos Richard Evans. Hy skryf: “History is an empirical discipline, and it is concerned with the content of knowledge rather than its nature. Through the sources we use, and the methods with which we handle them, we can, if we are very careful and thorough, approach a reconstruction of past reality that may be partial and provisional, and certainly will not be objective, but is nevertheless true.” Dit som dit vir my mooi op. Ek glo dat veral kwantitatiewe bronne ons kan help om meer objektief te wees. In ’n nuwe (akademiese) boek wat binnekort by Bloomsbury die lig sal sien, Quantitative history and uncharted people, skryf ek juis hieroor.
Jou boek is geskryf in Afrika en oor Afrika en bekyk talle kwessies van Afrika. Jy skryf oor klikgeluide van die Xhosaspreker (en hoe die voorkoms en algemene uitleg van die kontinent van Afrika mense se verspreiding en waarheen hulle kon trek, of nie, beïnvloed), oor konings van die Zoeloes, oor bruidskat en lobola. By laasgenoemde wil ek stilstaan. Daar is dikwels praktiese oorwegings iewers in die geskiedenis wat vir moderne mense moeilik is om te verstaan. Op die Britse Eilande sal mense byvoorbeeld op Shrove Tuesday pannekoek bak omdat hulle in vroeër jare die produkte in hul spense wou opgebruik – en vir moderne kinders is dit iets waarna hulle uitsien (Pancake Tuesday) sonder om te veel daaroor na te dink. Later skryf jy ook oor ’n baie praktiese geval van die uitvind van rubberfietswiele – en iets wat byna na ’n sameloop van omstandighede lyk wat tot kolonisasie gelei het. Toe jy hierdie boek begin skryf en die geskiedkundige vraagstukke en samelewingskwessies begin beskou het, hoe het jy geweet watter vrae om te vra?
Dis ’n moeilike vraag, want die antwoord sal waarskynlik verskil elke keer as ek dit beantwoord. My eerste gevoel is dat ek gelei is deur die nuutste navorsing in my veld. Daar is baie opgewondenheid in die vakgebied van ekonomiese geskiedenis, met wonderlike nuwe navorsing wat byna daagliks na vore kom. Dit was dus een belangrike deel van die legkaart. Nog ’n belangrike faktor was om die storie so chronologies moontlik te hou; ek wou iets van die hele geskiedenis en soveel as moontlik wêrelddele vertel. Derdens was dit belangrik om ook my eie navorsing en selfs ook eie ervaringe in die boek in te sluit. Ek vertel van plekke waar ek self al was: Genève se meer, Gorée-eiland aan die kus van Senegal, en Ysland, om maar net ’n paar te noem. Dit help ook dat ek al vir ’n dekade daaroor klasgee, wat my ’n goeie gevoel gegee het van wat werk en wat nie werk nie.
Jy skryf so reg in die kraal van almal van ons wat so dink aan die kontraste tussen ryk en arm. Jy skryf oor Islam en die kruistogte, oor die Mfecane en die Groot Trek. Jy skryf oor teenpole. Is ons gebreinspoel om so swart en wit te dink? Hoe vind ons ’n grys gebied, of ’n goue middeweg, wanneer ons daagliks geld verdien en dink oor waar om dit te belê of hoe om dit aan te wend? (Want dit kan nie net oor goeie beleggings gaan nie, of hoe? Dit moet sekerlik meer daarop toegespits wees om aan die hele samelewing se beste ekonomiese belang te dink, want dit sal almal baat. Maar hoe doen ons dit dan?)
Dit is beslis waar dat dié nie ’n boek is wat jou sal help om geld te belê nie; as ek geweet het, was ek ryk! My hoop is dat die boek eerder die leser ’n nuwe waardering sal gee vir die geweldige vooruitgang wat ons as mens gemaak het, veral in die laaste 200 jaar, en die lesse wat dit moontlik maak. Dit gesê, ek dink entrepreneurs en ander rolspelers in die sakewêreld sal inspirasie uit ’n paar van die stories kan put. Dis interessant dat ’n paar van die meer suksesvolle entrepreneurs wat in die boek figureer juis tydens krisisse hul maatskappye gestig het; ek dink byvoorbeeld aan Henry Frick in Amerika. Die hoofstukke oor die mees onlangse geskiedenis – oor die Groot Resessie, byvoorbeeld – sal ook nuttig wees vir enigiemand in die privaat sektor wat bankkrisisse beter wil verstaan. En dan is daar natuurlik ’n hoofstuk oor die toekoms en wat ’n mens kan verwag.
Gepraat van ek moet die regte vrae vra. Jou boek is nie ’n ekonomiese handleiding nie. Dit laat jou wel jou kop draai om in ’n ander rigting te kyk as die voor die hand liggende. Wie is jou ideale leser en vir wie het jy die boek geskryf?
.........
Weens COVID-19-inperkings kon my klasse nie soos gewoonlik voortgaan nie. Ek het daarom die boek begin skryf.
...........
Die boek is aanvanklik geskryf vir my tweedejaarstudente. Ek dink hulle is ingeligte mense wat die wêreld beter wil verstaan. Ek dink hierdie definisie is van toepassing op baie meer as net tweedejaarstudente, en is daarom bly Tafelberg was gretig om die boek vir ’n groter mark uit te gee. Dit is eintlik hoe dit gebeur het: Weens COVID-19-inperkings kon my klasse nie soos gewoonlik voortgaan nie. Ek het daarom die boek begin skryf. Toe ’n paar studente vir my noem dat nie net hulle die boek geniet het nie, maar ook hul ouers, het ek begin dink dat hier miskien ’n geleentheid is om ’n groter gehoor te bereik. Skatryk lyk natuurlik nou baie anders as daardie eerste hoofstukke wat ek geskryf het, maar die inspirasie was my tweedejaarstudente.
Jou boek toon aan dat geld nie geskei kan word van die mens se begeertes, sy kultuur, sy onlogiese denke en sy baie groot verskeidenheid van gebeure nie. Jy skryf in die een hoofstuk oor hoe mense deur die eeue heen die toekoms wou voorspel. Hoe kan iets soos kunsmatige intelligensie ’n splinternuwe andersoortige wending in die wêreldekonomie bewerkstellig? Of die vraag na die aarde se natuurlik hulpbronne en elektrisiteit, soos so aan ons eie lyf voelbaar is met Eskom se situasie, of die oorlog in Oekraïne? Wat van die wêreld wat nog steeds probeer herstel van Covid (voortgaande, maar niemand praat meer daaroor nie)? Waag ’n kykie in ’n kristalbal.
Die laaste hoofstuk se titel is juis “Wat moet geen kenner ooit doen nie?” en daar’s ’n goeie rede daarvoor. Dis baie gevaarlik om te voorspel. Indien ’n mens wel moet, is die beste manier om ver in die toekoms te voorspel, sodat niemand wat dit lees meer gaan leef nie.
Daar is geen twyfel daaroor dat die wêreld tans ’n onsekere plek is nie. Maar een ding wat waar is, is dat daar baie sulke oomblikke in die geskiedenis was. Ons moenie dink ons is uniek nie. Wat ook waar is, is dat daar vinnige vooruitgang op ’n hele aantal gebiede is. Hierdie nuwe tegnologie het die vermoë om ons baie meer produktief te maak, en daarom meer welvarend. Dit het natuurlik ook die vermoë, soos enige nuwe tegnologie, om bestaande maniere van doen radikaal te verander en selfs ons leefwyses te bedreig. Ek is oor die algemeen ’n tegno-optimis. Ek kan dit wees weens die empiriese bewyse van die verlede: Elke keer as ons dink dat tegnologie ons gaan uitwis, vind ons maniere om dit vir ons te laat werk. Ons is vandag skatryk weens ons ongelooflike kennis van die natuur – ons wetenskaplike kennis – wat ons oor die afgelope eeue beduidend uitgebrei het. Dat dit altyd gaan beter gaan, is egter nie ’n uitgemaakte saak nie. Daar is voorbeelde van insinking, van sosiale, ekonomiese en politieke agteruitgang. Gewoonlik het hierdie voorbeelde te make met ’n isolering, ’n ontkoppeling van die wêreldekonomie en die markstelsel. Dit het te make met ’n afbreking van die demokratiese proses, die regstelsel, private eiendomsreg en ander sulke instellings. In kort, dit is vanweë die verbrokkeling van die sosiale, politieke en ekonomiese innovasies van die afgelope drie of vier eeue. Solank ons daarteen kan waak, is die kans vir ’n selfs blinker toekoms belowend.
Dink jy dat die bouers van ’n samelewing wel uiteindelik seëvier, en nie diegene wat afbreek nie? Is dit nie soms nodig om bekende strukture, bekende maniere van doen, af te breek om voor te begin nie? En dat alles op die ou end dalk nie oor geld gaan nie?
Ek dink nie dis ’n goeie idee om af te breek en oor te begin nie, nee. Die beste verandering is stelselmatige verandering. Die tipe instellings wat nodig is vir ekonomiese groei verg vertroue, en sulke vertroue wen ’n mens net oor tyd. Kyk maar na Suid-Afrika post-1994. Die ANC is nie oombliklik aanvaar deur die internasionale markte nie. Deur goeie makro-ekonomiese bestuur het hul egter oor ’n dekade so ’n goeie reputasie opgebou dat Suid-Afrika die tipe groei kon behaal waaroor ons nou maar net kan droom. Dis nie maklik om ’n welvarende samelewing te bou nie; dit verg moeilike opofferings, iets wat politici selde gretig is om te doen. Maar daar is genoeg lesse uit ons eie verlede en elders wat wys wat nodig is. Hopelik kan ons daardie lesse leer en implementeer.
Lees ook:
Die COVID-19-pandemie en strukturele kwesbaarheid van dagloners in Windhoek, Namibië
Assessering van die ruimtelike aard van armoede in Suid-Afrika met behulp van satelliettegnologie
First sip: Our long walk to economic freedom by Johan Fourie
US-intreerede: Johan Fourie kyk deur familielens na ekonomiese welvaart
Die digitalisering van NALN se knipselversameling: jongste verslag
Stephanus Muller praat met Lizabé Lambrechts, uitvoerende bestuurder van Nuuseum