Saam die toekoms in met Afrikaans

  • 0

...........

“Tensy ons die ware geskiedenis van Afrikaans ken en verstaan, kan daar nie werklik versoening wees nie. Versoening kan net plaasvind as ons al die feite het.” – Michael le Cordeur 

...........

Die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid is nie ’n doodsvonnis vir Afrikaans nie.

So sê Michael le Cordeur van die Departement Kurrikulumstudie aan die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch (US).

Hy was deel van ’n gesprek oor die inklusiwiteit van Afrikaans en hoe om dit prakties te maak. Die gesprek is in Stellenbosch deur die Afrikaanse Taalraad (ATR) aangebied. Saam met hom op die verhoog was die bekende taalkundige Wannie Carstens. Carstens was die eerste voorsitter van die ATR wat in 2008 in Wellington gestig is en Le Cordeur was die tweede voorsitter van die ATR.

Wannie Carstens en Michael le Cordeur

Hulle is ook mede-redakteurs van die boek Ons kom van vêr – Bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkeling van Afrikaans, waarvan daar die afgelope naweek ’n hersiene weergawe bekendgestel is.

Vir Carstens is die Konstitusionele Hof se uitspraak ’n groot terugslag vir Afrikaans. “Ons moet nie dink dat die impak klein gaan wees nie. Inteendeel. Vir Afrikaans se waarde as onderrigtaal is dit ’n groot terugslag met ’n verdoemende impak wat beteken dat Afrikaans mettertyd as akademiese taal kan verdwyn.”

Le Cordeur sê Afrikaans se dood is nog lank nie in sig nie. Die hofuitspraak voorspel volgens hom ook nie die einde van Afrikaanse skole nie. “Slegs ’n klein persentasie Afrikaanse leerders gaan in elk geval universiteit toe. Solank daar Afrikaanse mense is sal daar ’n behoefte vir Afrikaanse skole wees,” het hy ná die tyd aan LitNet gesê.

Die klem tydens die naweek se gesprek het egter geval op inklusiwiteit en die vraag hoe maak mens Afrikaans in die praktyk inklusief vir almal.

Beide die sprekers was dit eens dat dit slegs kan gebeur as almal verstaan waar kom Afrikaans vandaan sonder om by die verlede vas te steek.

Apartheid het nie alleen mense uitmekaar gedryf nie maar ook veroorsaak dat mense mekaar begin wantrou, het Le Cordeur gesê. “Tensy ons die ware geskiedenis van Afrikaans ken en verstaan, kan daar nie werklik versoening wees nie. Versoening kan net plaasvind as ons al die feite het.”

Le Cordeur sê daar is steeds mense wat nie besef Afrikaans is nie deur ’n paar witmense uitgedink nie. “Waar het Afrikaans ontstaan, in die Paarl of die Bokaap? Daar is sowaar nog mense wat glo SJ du Toit het Paarlberg opgestap en dat die Here Afrikaans daar vir hom op twee kliptablette gegee het.”

Carstens het ook gepleit dat die mite van Afrikaans as ’n wit taal afgebreek word sonder om die bydraes van wit Afrikaanse mense te misken of eenkant te skuif. Sy boek Die storie van Afrikaans, deel 2 is ook tydens die geleentheid bekendgestel.

Die storie van Afrikaans is ’n lywige biografie van Afrikaans soos dit op drie kontinente ontwikkel het: in Europa (waar die ontwikkeling van Nederlands as die basisvorm van Afrikaans gedokumenteer en uitgebeeld word), in Afrika (waar die 17de-eeuse Hollandse dialek met verloop van tyd onder eiesoortige omstandighede en onder invloed van verskeie faktore uiteindelik volwaardig Afrikaans geword het) en in Asië (waar die impak van die taal van die slawe die wordende Afrikaans beïnvloed het tot die vorm wat dit wel geword het).

Die geskiedenis van Afrikaans het laagte- en hoogtepunte wat nog nie behoorlik vertel is nie omdat soveel elemente en gebeure nog nie na behore betrek is nie of bloot afgeskeep is. Afrikaans het nie “sommer net” ontstaan nie, maar is oor jare geslyp en geskaaf tot wat dit vandag is, verduidelik Carstens.

Die taal het ’n unieke pad van wording geloop. Die outeurs probeer die agtergrond skets van hierdie pad en ook van die breë spektrum sprekers omdat húl keuses, optredes, gebruike en besluite ten nouste met die taal in al sy vorme verweef is.

In deel 2 van die boek word meer van hierdie pad vertel, oor hoe die land en taal deur gebeure verbind word en ook oor hoe die pad vir Afrikaans vorentoe kan loop.

“In dié boek word die lelike en die goeie oor die storie van Afrikaans vertel” sê Carstens. “Ons kan dit wat in die verlede gebeur het nooit vergeet nie maar ons kan dit net agter ons sit en saam vorentoe gaan as ons die volle verhaal van Afrikaans ken en nie slegs die vals deel van die geskiedenis nie.”

Met verwysing na die verlede het Le Cordeur gesê witmense moet wegkom daarvan om heeltyd skuldig te voel. “Nelson Mandela het julle ook vrygemaak en almal bemagtig. As mens heeltyd so skuldig voel oor die verlede kan dit jou so verlam dat jy nie op die toekoms kan fokus om reg te maak wat verkeerd is nie.”

Hy het ook verwys na die sogenaamde stilswye van bruin Afrikaanssprekers oor Afrikaans. “Daar is nie regtig  ’n stilswye nie,” sê Le Cordeur. “Hulle stemme word eenvoudig nie genoeg gehoor nie omdat hulle sukkel om blootstelling te kry in die media. Afrikaanse redakteurs moet daarvan kennis neem. As hulle nie my storie oor Afrikaans in Afrikaans wil plaas nie dan skryf ek dit in Engels,” het Le Cordeur gesê.

“Die verhaal van Afrikaans moet nie net uit een hoek vertel word as Afrikaans inklusief wil wees nie.” Le Cordeur het onder meer verwys na die groot rol wat bruin Afrikaanse mense gespeel het in die stryd teen apartheid. Een van die voorbeelde is Basil Kivedo wat lid was van die ANC se gewapende vleuel Umkhonto we Sizwe.

In die boek Ons kom van vêr vertel Kivedo hoe hy in Afrikaans geveg het teen apartheid en in Afrikaans deur die polisie in hegtenis geneem is.

“Ek is deur die veiligheidspolisie gearresteer in Afrikaans, ek is aangehou in Afrikaans, ek is gemartel in Afrikaans, maar ek het terugbaklei in Afrikaans.”

Teen die einde van die gesprek is daar ’n sterk pleidooi deur al die deelnemers gelewer om saam die toekoms in te gaan met Afrikaans.

Ons kan nie altyd vir mekaar kwaad bly nie, het die ATR se programbestuurder Ria Olivier die gesprek opgesom. Sy sê die leuse vorentoe moet wees “saam hiervandaan” want dit sê iets van Afrikaanse mense se “komvandaan”.

...........

Lees meer oor die Afrikaanse taalgemeenskap en die proses van onderlinge versoening in die LitNet Akademies-artikel, “Op pad van ’n verdeelde na ’n gedeelde toekoms in die Afrikaanse taalgemeenskap: Die rol van die Afrikaanse Taalraad in die proses van versoening” (Wannie Carstens, 2013).

...........

Kyk ook

Suidoosterfees 2019-video: Die volle storie van Afrikaans

Lees ook

Konstitusionele Hof dien Afrikaans ’n gevoelige slag toe: Danie van Wyk reageer op US taalbeleid-hofbeslissing

US-taalbeleid en die Konstitusionele Hof se beslissing: Afrikaans? Afrikatale? Stellenbosch?

US-taalbeleid en Gelyke Kanse: Konstitusionele Hof se volledige uitspraak

Ons kom van vêr: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

Kettinggesprek: Frank Hendricks gesels met Michael le Cordeur oor Ons kom van vêr

Die storie van Afrikaans – uit Europa en van Afrika, Deel 1 deur WAM Carstens en EH Raidt

Kettinggesprek: Charlyn Dyers gesels met Wannie Carstens oor Ons kom van vêr

Michael le Cordeur gesels oor Kaaps

Lees ook op Voertaal

Wannie Carstens: “Die wit geskiedenis is nie die geskiedenis van Afrikaans nie”

Vijf vragen voor Wannie Carstens over Die storie van Afrikaans (Deel 2)

Wannie Carstens: voorzichtig optimisme over het Afrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top