Roelf Meyer oor Niël Barnard die strateeg en spanspeler

  • 2

Oorspronklike foto’s: Niel Barnard deur NB en agtergrond deur Pete Linforth, Pixabay

...
Ek dink ’n mens moet aanvaar daar is ouens wat in die intelligensiediens was toe Niël ingekom het as jong man wat ’n sterk invloed op hom gehad het en hom advies gegee het oor die rigting wat die intelligensiediens behoort in te slaan.
...

“Die punt is dit: Niël het ’n ongelooflik belangrike rol gespeel, maar om te sê dis hy alleen, is die grootste bog onder die son.”

So sê Roelf Meyer, toenmalige kabinetslid en hoof van Suid-Afrika se onderhandelingspan om ’n nuwe Suid-Afrika te kon bewerkstellig.

Meyer is deesdae, as deel van die In Transformation Initiative (ITI), betrokke by onderhandelinge en die oplos van konflik in verskeie wêrelddele.

Hy sê: “Ek sien dieselfde strategie nou nog uitspeel in suksesvolle konflikeresolusie. ’n Klein groepie mense samel die inligting in en maak oorspronklike deurbrake. Dan kan die groter gesprekke begin.”

Hulle paaie het al lank terug gekruis

Ek neem Meyer terug na sy studentejare aan die Universiteit van die Vrystaat. In 1968 het hy met sy finale jaar van ’n BCom-graad begin, toe Niël Barnard as ’n eerstejaar by die universiteit opdaag.

“Het julle mekaar geken?” wou ek weet.

“Ja,” sê Meyer. “Wat eintlik gebeur het, is sy ouer broer, Leo, was in dieselfde jaargroep as ek. Ons het mekaar goed geken, so toe Niël ook daar opdaag, het ek hom ook leer ken. Ons paaie het heelwat gekruis. Om die waarheid te sê, toe ek in die laaste jaar van my LLB was, was ek en Niël in dieselfde koshuis.”

Meyer het ná sy LLB as prokureur gaan werk.

Barnard word hoogleraar en PW gaps hom ná die Inligtingskandaal

Niël Barnard het egter verder gestudeer.

Ná hy sy meestersgraad voltooi het, is hy in 1973 aangestel as dosent by sy alma mater. In 1975 volg sy PhD en in 1978 word hy, jong ouderdom ten spyt, aangestel as hoogleraar in staatskunde by die Universiteit van die Vrystaat.

In 1978 kom daar egter skommelinge in die land se politieke leierskap, en daarmee saam ook ’n soeke na nuwe maniere om die intelligensiedienste te bedryf. Die sogenaamde Inligtingskandaal word bekend. In het korte het die eerste minister, John Vorster, toegelaat dat Connie Mulder, die minister van inligting, fondse wat vir Verdediging geoormerk was, gebruik om Suid-Afrika se beeld te probeer poets.

PW Botha, wat die minister van verdediging was, het klaarblyklik nie daarvan geweet nie.

Die hoof van die Buro vir Staatsveiligheid, generaal Hendrik van den Bergh, is ook by die skandaal betrek. Van den Bergh, beter bekend as Langhendrik, was bekend as ’n konserwatiewe leier wat ook ten nouste bevriend was met Vorster. Hulle is 1942 saam aangehou in die Koffiefontein-interneringskamp vir hulle aandeel in die Ossewabrandwag se pogings om Suid-Afrika nie teen Duitsland te laat veg in die Tweede Wêreldoorlog nie.

PW Botha het munt geslaan uit hierdie situasie.

In 1978 word Botha die nuwe leier van die regerende Nasionale Party, en ook eerste minister, maar behou ook die pos as minister van verdediging. Hy besluit om ’n nuwe hoof van intelligensie te werf en so word Niël Barnard aangestel.

Hoekom Barnard? Barnard had immers geen agtergrond in die polisie of die in veiligheidsdienste nie. Hy was wel ’n offisier in die Burgermag.

Meyer stel dit baie duidelik dat hy nie op daardie stadium noue kontak gehad het met Barnard nie, maar sê hy is bereid om ’n raaiskoot te waag. “Ek dink die ou wat vir Niël nadergetrek het, was Kobie Coetsee. Kobie was die parlementslid vir Bloemfontein-Wes, die wyk waarin die universiteit ook geleë was. Ons het hom uit die aard van die saak redelik goed geken. Kobie was adjunkminister van verdediging op daardie tydstip; PW het aangebly as minister van verdediging, terwyl hy ook die eerste minister was.”

In 1979 word Barnard aangestel as die nuwe hoof van nasionale intelligensie.

Meyer word parlementslid

Ook in 1979 word Roelf Meyer as parlementslid vir Johannesburg-Wes verkies.

“Het jy en Niël toe weer kontak gehad?”

“Ja,” sê Meyer. “Ons het ons vriendskap van Bloemfontein hernu. Ons het mekaar redelik gereeld gesien, maar ons het nie oor werk gepraat nie. Niël was baie gereserveerd gewees daaroor.”

Uit met die sekurokraat, in met die luisteraar

Ek pols Meyer tog oor Barnard se vernuwende denke rakende staatsveiligheid. Waar Langhendrik van den Bergh gepoog het om apartheid te beskerm en enige teenstand met mag te onderdruk, het Barnard begin luister. Hy het geglo in die opleiding van sy agente en het redelik gou tot die gevolgtrekking gekom dat apartheid die probleem was in ons land.

“Hoe kon Niël Barnard dinge so omdraai?”

Meyer sê weer dat hy nie presiese antwoorde het nie, maar dit was nie net Barnard alleen nie. “Ek dink ’n mens moet aanvaar daar is ouens wat in die intelligensiediens was toe Niël ingekom het as jong man wat ’n sterk invloed op hom gehad het en hom advies gegee het oor die rigting wat die intelligensiediens behoort in te slaan. Ek sê nie hy het nie sy eie idees gehad nie, maar daar was sterk invloed gewees. Ek dink ’n ou wat sterk invloed gehad het, was Cor Bekker, Koos* se pa, wat op daardie stadium ’n senior ou was by intelligensie.”

(*Koos Bekker sou later Naspers se grootbaas word.)

PW steek die Rubicon oor, maar nie soos hy moes nie

In 1985 het PW Botha sy rampspoedige Rubicon-toespraak gemaak.

’n Mens kan in verskillende bronne daaroor lees, maar Pik Botha (destydse minister van buitelandse sake) en ander kabinetslede was oortuig dat PW Botha daardie dag sou aankondig dat apartheid uitgefaseer sou word en dat Mandela moontlik vrygelaat sou word.

Dit het egter nie gebeur nie.

Uit my buitestandersperspektief sou ek dink dat die oorspronklike toespraak, wat toe nie gelewer is nie, baie ooreen sou gestem het met Niël Barnard se siening.

Stem Meyer saam?

“Ek weet gewoon nie,” sê hy, “want ek was nog nie in die regering op daardie tydstip nie.”

Hy stem wel saam dat Barnard dalk ’n bydrae sou kon gelewer het tot die oorspronklike toespraak, maar dit sal spekulasie bly. “Wat ek egter nog altyd wou weet, is wie daardie toespraak nek omgedraai het. As daai toespraak gehou was en dinge gebeur het soos dit moes gebeur het in 1985, was ons in ’n baie goeie posisie om te onderhandel.”

En? Kon hy al ’n antwoord kry?

Meyer huiwer en sê: “As jy vir my vra, dan sou ek spekuleer dit was die militêre wat vir PW gesê het: ‘Meneer, ons gaan wen. Moenie nou vir Mandela vrylaat nie.’” En voeg dan vinnig weer by: “Dit is ’n bespiegeling.”

Wie ook al vir die ommeswaai verantwoordelik was, sê Meyer, dit is ’n tragedie dat Botha nie die oorspronklike toespraak gelees het nie. “Al die skade wat die noodtoestand veroorsaak het, kon vermy gewees het. Die slegste era van apartheid het na ’85 gebeur.”

Meyer word deel van die regering

In 1986 stel PW Botha vir Meyer aan as adjunkminister van wet en orde. De facto erf hy ook die voorsitterstoel van die Nasionale Veiligheidsbestuursentrum, ’n liggaam wat verantwoordelik was vir die bestuur van die noodtoestand.

“Op daai punt moes jy en Niël toe baie nou saamgewerk het?”

“Ja en nee. Intelligensie was deel van die stelsel, maar Niël het nie self daarin gedien nie. Daar was ander verteenwoordigers wat daarop gedien het, onder andere Johan Mostert, wat saam met Jan-Jan Joubert die berig geskryf het. Verder was dit polisie, weermag en korrektiewe dienste. Maar die ouens wat die toon aangegee het, was weermagmense – mense soos Charlie Lloyd, wat beskou is as ’n groot strategiese denker in die weermag.”

Meyer se taak was om hierdie groep te bestuur, en om aan PW Botha verslag te doen. “En, ja, ek was in voortdurende kontak met die intelligensiedienste, maar dit was nie noodwendig Niël met wie ek gewerk het nie.”

Ek pols Meyer oor ’n kwessie wat my nog altyd laat wonder het: Hoekom sou PW hom aan jongmense soos Barnard en Meyer steur?

“Dit is so amper ’n anomalie,” antwoord Meyer. “PW was hierdie amper aristokratiese diktator; aan die ander kant het hy dalk diep innerlik besef dat dit anders sal moet uitloop. Hy het geluister. Ek het by die staatsveiligheidsraad vir hom by meerdere geleenthede gesê die probleem is nie behuising of water nie. Die probleem is politiek. Hy het my nooit uit die kantoor uitgejaag nie. Ek dink PW het onderliggend sekere goed raakgesien, maar dis asof hy nie die moed gehad het om dit uit te voer nie.”

Barnard en kie onderhandel in die geheim

Gedurende die donker tyd van die noodtoestand was Niël Barnard aan die gesels met Nelson Mandela.

“Was jy bewus daarvan?” wou ek by Meyer weet.

“Nee, glad nie,” sê hy sonder skroom. “Dit was hoogs geheim. Tot die mate dat nie eers die kabinet daarvan geweet het nie.”

“Kobie Coetsee?” vra ek. Coetsee was toe die minister van justisie, en die gevangenisdiens het onder justisie geval.

“Ja, ja,” antwoord Meyer. “Kobie Coetsee is deur PW gemagtig. Maar ek dink hy was een van die enkeles wat daarvan geweet het. Heunis het nie daarvan geweet nie.”

Dis egter nie ’n slegte ding nie, sê Meyer: “Ek dink dit is goed dat dit so hoogs geheim is, want my ervaring in ander konfliksituasies is dat as ouens in staat is om in geheimhouding met mekaar te praat, is daar beter kans op vordering.”

Op daardie stadium was Fanie van der Merwe die direkteur-generaal van justisie, en die gevangenisdiens het onder justisie geval. Van der Merwe was dus ook ten nouste betrokke by die gesprekke met Mandela.

Meyer skuif na grondwetlike sake en gebruik intelligensie

In 1988 word Roelf Meyer aangestel as adjunkminister van grondwetlike sake. Dit was ’n departement wat sigself besig gehou het met die regering se verhouding met al die versplinterde stamgebiede wat op daardie stadium nog aan die orde van die dag was.

“Julle moes baie nou met intelligensie saamgewerk het in daardie tyd?” vra ek vir Meyer.

“Ja, absoluut.”

Veral ná FW de Klerk in 1989 by PW Botha oorgeneem het, is daar dadelik ’n onderhandelingkomitee saamgestel. Gerrit Viljoen, minister van grondwetlike sake en grondwetlike ontwikkeling, was die voorsitter. Meyer was die sekretaris daarvan. “Intelligensie het voortdurend insette gelewer,” sê hy. “Onder andere Niël, maar ook van die analiste uit intelligensie. ’n Verskeidenheid van hulle. Dit is ouens wat vir ons regtig baie, baie bruikbare inligting op ’n deurlopende basis kon gee.”

Meyer sê ook FW de Klerk se styl was anders as PW Botha s’n. Hy het mense geraadpleeg. Teen Desember 1989 het die binnekring reeds geweet dat FW die nodige sou doen om van apartheid ontslae te raak. “En van daar af was dit ’n spanpoging. Niemand kan opeis dat sy of hy verantwoordelik was van daar af nie. Die geheime gesprekke het vooraf plaasgevind. En dis baie goed dat dit gebeur het. Die hele kabinet het daarna saamgewerk. En die veiligheidshoofde. Toe daardie besluit geneem is, was die veiligheidshoofde teenwoordig.”

Die staatkundige onderhandelings begin

Toe die grondwetlike onderhandelings begin, was Fanie van der Merwe die direkteur-generaal van staatkundige ontwikkeling. Dit was die einste Van der Merwe wat vroeër met Mandela onderhandel het saam met Niël Barnard. Hy en Barnard het baie goed oor die weg gekom.

Van der Merwe word toe staatkundige raadgewer en Barnard word aangestel as direkteur-generaal.

“Toe ek die opdrag kry om die onderhandelinge te lei in Mei 1992, was daardie twee reeds in hul poste. En ons drie het daarna alle besluite saam geneem. Daar was nie ’n ding waar ek op my eie gehandel het sonder om hulle te raadpleeg nie. Die bewys is ‘The record of understanding’ wat in September 1992 geteken is deur Mandela en FW – daardie dokument is onderhandel deur drie aan ons kant en vier aan Cyril Ramaphosa se kant. Die drie aan ons kan was Niël en ek en Fanie van der Merwe. Die vier aan Cyril se kant was hy, Mac Maharaj, Matthews Phosa en Pennuel Maduna.

“Die punt is dit: Niël het ’n ongelooflike belangrike rol gespeel, maar om te sê dis hy alleen, is die grootste bog onder die son. Dit was ’n spanaksie. Net so min as wat ek kan sê ek was alleen die hoofonderhandelaar. En ons moet dankbaar wees dat dit so was, want uit die aard van die saak het ’n span meer vermoë as ’n individu.”

Roelf beskryf Barnard en Van der Merwe elkeen as ’n “uitnemende strateeg”. “Die aanvullende invloed wat hulle op mekaar gehad het, was besonders. Die ander persoon was Mike Louw, wat Niël se adjunk was by intelligensie. Hy het Niël later opgevolg. Mike was ’n ou wat nooit gepraat het nie – jy het amper nooit van hom geweet nie, maar hy was ’n ongelooflik goeie adviseur.”

Niël Barnard in kantoorverband

’n Vriend van my wat vir Barnard gewerk het, vertel dat hy eendag ingeroep is na Barnard se kantoor. Hy het nie verwag om iemand daardie dag te gaan spreek nie. Hy het dus jeans gedra en het nie ’n baadjie aangehad nie. Barnard het hom ontvang, maar het dit ook duidelik gemaak dat sulke drag nie aanvaarbaar is nie. Klop dit met hoe Meyer hom onthou?

“Ja, hy was ’n baie formele ou gewees, en sy personeel het dit definitief verteenwoordig. Ek het nie ’n twyfel daaroor nie.”

Ek noem egter ook dat my vriend ’n geweldige bewondering vir Barnard gehad het, waarop Meyer antwoord: “Ja, sy personeel het hom baie sterk aangehang.”

Was Barnard nie ondermynend nie?

Ek sluit af deur vir Meyer te vra om terug te gaan na die tyd toe die militêre mense klaarblyklik vir PW Botha een tipe advies gegee het, terwyl mense soos Niël Barnard en Fanie van der Merwe tog voortgegaan het met ’n totaal ander agenda.

Wie moes die spanning hanteer? Dit kon sekerlik net PW self gewees het?

“Waarskynlik,” sê Meyer. Hy het dit ook al baie gesien die afgelope ruk waar hy betrokke was by ander konflikte. “Dis die ou stryd tussen die hardliners en die duiwe. Dit was tipies in ons tyd daar. Daar is die ouens wat wil uitbreek, en die ouens wat wil vashou aan die verlede. Wat my aanbetref was ons grootste deurbraak toe ons uiteindelik vir mekaar kon vra: Wat hou die toekoms in? In plaas van: Wat sê die verlede?”

Maar goed, PW moes tog bewus gewees het daarvan dat ’n anomalie betrokke was? Barnard se optrede kon byna as ondermynend gelees word?

“Ja,” sê Meyer. “Ek dink PW het dit bestuur. Maar terselfdertyd het hy ’n dubbele aksie toegelaat. Hy het, na my oordeel, die weermag toegelaat om goeters te doen agter die rug van intelligensie.”

“Goed, maar dan ook omgekeerd?”

Meyer huiwer. “True. Ek vermoed so. Dis amper maar soos Cyril vandag.”

Lees ook:

Vreedsame revolusie: Uit die enjinkamer van die onderhandelinge deur Niël Barnard

Vreedsame revolusie: Uit die enjinkamer van die onderhandelinge: ’n lesersindruk

Resensie: Geheime revolusie: Memoires van ’n Spioenbaas deur Niël Barnard en Tobie Wiese

FW hét ’n keuse gehad

Die pers, die Broederbond en FW se besluit

Elders gesien: Herinneringe aan wyle Niël Barnard

  • 2

Kommentaar

  • Tienie van Rensburg

    Ek ken vir Niël van laerskooldae op Otjiwarongo waar ons ouers huisvriende was en daarna op Universiteit waar ek vir Roelf Meyer opgevolg het as Studenteraadsvoorsitter. Ek het 'n lang, privaat gesprek met Niel gehad teen die einde van 2024 in die Hansa Hotel in Swakopmund, waar Niel 'n reünie van sy Matriekklas bygewoon en toegespreek het. Niel was diep bewus daarvan dat hy aan die einde van sy lewe gekom het. Die gesprek was persoonlik en openlik oor ons lewens en werk. Ek kan bevestig dat Roelf se weergawe hierbo in die kol is. Ek en Niël het natuurlik lekker oor Roelf en Leon Wessels en FW ook gesels! Miskien bekangrik dat Niël onder andere die volgende sake beklemtoon het. 1. Dat hy met PW kon verskil sonder om uit die kantoor gejaag te word! En by geleentheid vir PW tot ander insigte kon oortuig. 2. Sy grootste uitdaging wat hy beleef het op plaaslike vlak was om, in die opbou van 'n nuwe intellgensiediens, die militêre inligtingsdiens ten nouste te betrek en te oortuig van 'n politieke oplossing. Dit het maar geknetter vanweë sterk persoonlike menings aan beide kante. 3. Niël het net die hoogste agting vir van sy briljante personeellede gehad, onder andere Mike Louw, na wie Roelf hierbo verwys. 4. Sy verhouding met president Mandela was uitsonderlik persoonlik en ook formeel. 5.Niël kon nie genoeg beklemtoon hoe ons grootword omgewing in Otjiwarongo, binne die destydse SWA, 'n beslissende fondament in sy persoonlike lewensontwikkeling was nie.

  • Kobus Laubscher

    Ek het Roelf se kommentaar en ook die insetsel van Tienie met groot belangstelling gelees.
    Ek het Niël ook persoonlik geken en in my eerste jare as student aan Kovsies was daar baie gesprekke op 'n een-tot-een basis met Niël. Ek onthou die dag toe hy my vertel het van die aanbod van PW en hoe hy daarmee geworstel het.
    Ons gesprekke het baie gedraai om die Suidwes (Namibiese) situasie en die konflik in sy denke oor die regverdigbaarheid van SA-teenwoordigheid in Namibië. Ek was van mening dat die insurgente aldaar verslaan moes word om Namibië sogenaamd "vry" te maak. Niël en ek het nie daaroor gestry nie, maar ek onthou sy sieninge omtrent die ideale oplossing.
    Ek dink ook wyle Kobie Coetzee het 'n groot rol gespeel met sy aanstelling.
    Ek was baie betrokke by die NP se Jeugaksie en baie jare die voorsitter daarvan plaaslik en ek onthou hoe 'n paar van ons, waaronder wyle Leo, Niël se broer, gereeld debatte aan huis en elders met Cobie gevoer het oor die Namibiese situasie. Ons as groep was getaak om die NP se beleid te kan verdedig, maar is dikwels nie ingelaat in sekere besluite van die NP nie, net om later tot ons verleentheid weer nuwe denke te probeer propageer.
    Ek is op Outjo gebore - Otjiwarongo se buurdorp - en van my eerste jaar af het ek voorkeur toegang gehad tot veral Tienie van Rensburg - tov van die Namibiese situasie, RSA politiek en natuurlik studentepolitiek.
    Tydens universiteit vakansies het ons kontak gehad - ek onthou hoe ek saam met Niël en sy vrou galjoene gevang het by Sarah se gat! So tussen vis afhaal en nuwe aas aansit, is daar "politiek" gepraat.
    Ná Niël se vertrek vanaf die Kovsie kampus, was Leo ons skakel.
    Roelf was SR-voorsitter in my eerste jaar en ons het toe nog nie kontak gehad nie - 'n eerste jaar was in elk geval nie belangrik genoeg om op daardie vlak te werk nie. Ek het egter ná studente jare en via die NP baie kontak gehad met Roelf.
    Al hierdie was vormende jare waarvoor ek dankbaar sal bly.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top