Hennie van Deventer skryf of Facebook:
Niël Barnard, hoof van nasionale intelligensie in die kritieke dekade 80, was nie lief vir die pers nie. Lees maar sy boek!
Tog het hy Die Volksblad ’n wonderlike wereldscoop besorg, en in die algemeen met persmense ’n hartlike persoonlike verhouding gehandhaaf.
Die 75-jarige Barnard is pas op Gansbaai aan kanker oorlede.
Die scoop waarna ek verwys, is die foto’s van die eerste ontmoeting tussen PW Botha en Nelson Mandela in Tuynhuys.

Die scoopfoto. Barnard staan in die middel. (Foto: Ters Ehlers, via Hennie van Deventer)
Die foto’s is deur PW se private sekretaris, Ters Ehlers, met ’n gewone mik-en-drukkie geneem. Dit het lank in ’n laai stof vergaar. Toe vertel Niël my van die bestaan daarvan. Natuurlik kon die koerantman geen rus of duurte kry nie. Ten einde laaste oortuig ek vir Botha en, via Kobie Coetsee, ook vir Mandela in die gevangenis.
Die res van die land se koerante was maar afgehaal toe die Vrystaatse dagblad in die kleine Bloemfontein hulle scoop dat hulle stilstaan.
Barnard was altyd openhartig met ons redakteurs van die Nasionale Pers. Ek onthou spesifiek ’n middagbraai by Ton Vosloo se huis in Wynberg met die naam Spy Glass Hill. Onder ander Ebbe Dommisse en Alf Ries was ook teenwoordig. Barnard het ons ingelig dat hy bekommerd is oor Mandela se gesondheid. Die man se enkels swel kwaai. Dit was twee dekades voor sy dood!
Ek onthou ook ’n onderhoud met Barnard in sy kantoor in Pretoria waarin hy my waardevolle agtergrondmateriaal oor Mandela verskaf het. Op grond daarvan het ek ’n ingeligte Willem-rubriek kon skryf en ook ’n hoofartikel waarin geskimp is dat dit tyd is om Mandela vry te laat. Dit was nog voor Willem Wepener se oproep in Beeld wat oor die aardbol weerklink het.
Niël en politieke beriggewer Alf Ries was as’t ware boesemvriende. Hulle het op dieselfde dag verjaar en het dit meermale saamgevier. ’n Keer het Barnard Ries vir middagete na sy kantoor genooi. Kelners dra toe op skinkborde bedek met ronde blink deksels die gereg in: kreefsterte. Ries was allergies vir kreef. Eers weifel hy, maar toe besluit hy tog om Barnard in te lig.
Geen probleem nie, antwoord Barnard. Hy tel die telefoon op. Na ’n lang ruk kom die plaasvervangende maal: hamburgers!
’n Laaste persoonlike herinnering is van pogings om my in die jare 90 vir ’n pos by die Departement van Inligting te werf. Die laaste gesprek hieroor was in Barnard se kantoor in Pretoria saam met Roelf Meyer. Gelukkig het Ton Vosloo ’n stokkie daarvoor gesteek. So ’n loopbaansprong sou nie vir die kanniedoodkoerantman gedeug het nie. Barnard was egter vieserig.
Met sy dood betuig ek graag my persoonlike respek en waardering vir die man Niël Barnard wat as jong hoogleraar in staatkunde by die Vrystaatse Universiteit deur Botha raakgesien is en met die groot verantwoordelikheid van die land se veiligheid beklee is. In die uitvoering van sy gedugte taak het hy ook internasionale respek verwerf.
Al het Niël nie van die pers gehou nie, was hy ’n gewaardeerde vriend.
Kommentaar
Enkele refleksies oor politieke transformasie, spioene en etiese optredes
Na aanleiding van al die lofredes oor dr Niel Barnard, wat pas na sy afsterwe op 13 Januarie 2025 in die media begin verskyn het, is dit nodig om die volgende enkele meer realistiese refleksies oor hom en die politieke rol wat hy in die oorgang van apartheid na die huidige na-apartheidstelsel in Suid-Afrika gespeel het, op die historiese rekord te plaas.
Sy nalatenskap is baie twyfelagtig. Hy het verskeie beweerde konstruktiewe bydraes tot hierdie politieke oorgang gelewer, maar dis 'n ope vraag of hy nie ook baie skade aan SA gedoen het met sy optredes gedurende hierdie proses nie. Hy was byvoorbeeld tot die skryf van die huidige Grondwet, in beginsel skepties oor sogenaamde politieke magsdeling in SA, en het 'n onafhanklike blanke tuisland openlik en eksplisiet voorgestaan en bepleit. Hy het selfs volgens Prof Joh van Tonder, Hoofdirekteur, Staatkundige Ontwikkeling gedurende daardie tyd verantwoordelik vir administratiewe steun aan die onderhandelingsproses, hom gevra het om ‘n klousule daaroor in die konsepgrondwet te laat invoeg. Toe Van Tonder geweier het om te doen, en vir Barnard oorreed het dat dit 'n dooie perd is, het hy dit laat vaar.
Barnard het 'n baie sterk persoonlikheid gehad met 'n indrukwekkende en selfs intimiderende voorkoms, styl en optrede. Hy was goed belese, welsprekend en baie logies en oortuigend in sy retoriek. Hy was egter ambisieus, rigied, het geen verskil van mening of teenstand geduld nie, en het sy Nasionale Intelligensiediens met 'n ysterhand regeer. As persoon was Niël Barnard een van die mees egoïstiese en neerbuigende persoonlikhede wat ek al teegekom het. Dit word gestaaf deur die inhoud en toon van sy twee gepubliseerde herinneringe oor sy lewe as spioenbaas en onderhandelaar wat onderskeidelik in 2015 en 2017 verskyn het, sowel as verskeie ander direkte ervarings met hom en kommentare oor hom en sy herinneringe. Dit sluit die volgende beoordelings op Netwerk24 in: Dr Piet Croucamp: Spioenbaas' se kampvuurstories, 27 April 2015; Riaan Eksteen: Geskiedenis deur die oë van ’n ego, 30 April 2015; Dr Stoffel vd Merwe: Oud-spioenbaas se onderrok hang uit, 8 Mei 2015, en my eie oorsig: Onder die dekmantel, in Die Burger, 21 Mei 2015. Hy gee onder andere voor dat hy en sy spioene die hoofakteurs was wat 'n onderhandelde skikking in SA totstandgebring het, en dat daardie skikking selfs beter sou gewees het as die NP al sy voorstelle aanvaar het, in plaas van net sekere elemente daarvan. Die realiteit is egter heeltemal anders.
Gewilde politieke en intelligensietaktieke soos doelbewuste disinformasie, propaganda (doelbewuste halwe waarhede deur die manipulasie van inligting), leuens, verskuilde agendas, magspeletjies en ander bedenklike praktyke word as 'normale' demokratiese taktieke beskou. Die manipulasie van inligting deur alle intelligensiedienste om bepaalde sake te prioritiseer is 'n feit soos 'n koei en ek het dit self eerstehands gedurende die tagterjare ervaar met dr Barnard se NI toe ek as 'n kollega van hom ook betrokke was by die staatkundige beplannings- en hervormingsproses in die Staatkundige Ontwikkelingsdiens. Sulke potensiële manipulasie behels onder andere ook eenvoudige besluite soos watter inligting om te gebruik of te verswyg en die redes daarvoor. In hierdie proses word intelligensiebesluite sterk verpolitiseer en is dit in effek misleidend om voor te gee dis nie die geval nie.
Al hierdie en ander onderduimse praktyke val in die kategorie van openlike oneerlike optredes of instrumente, ook genoem 'vuil hande', ten spyte daarvan dat hulle dalk beweerde 'edele motiewe' of doelwitte kan probeer nastreef. Mens behoort dus maar baie versigtig te wees om woorde en frases soos 'eerbaarheid', 'etiek', 'etiese gedrag', ensovoorts, veral in verband met die politiek en intelligensiebedryf te gebruik.
Naas sy latere fasiliteringsrol in die politieke onderhandelinge wat tot die nuwe politieke bedeling in SA gelei het, het Barnard byvoorbeeld in 1989 met verskuilde motiewe 'n ‘interne staatsgreep' met die steun van PW Botha op Chris Heunis se Staatkundige Ontwikkelingsdiens uitgevoer. PW het redes gesoek om Heunis met Gerrit Viljoen as minister te vervang, omdat hy gefrustreerd was met Heunis en sy departement se meer drastiese en versnelde politieke transformasievoorstelle vir swart politieke regte waarmee hy nie saamgestem het nie. Viljoen het Heunis dus vervang in 1989, terwyl Barnard ook van sy NI operateurs laat oorplaas het na die Staatkundige Ontwikkelingsdiens. Toe Viljoen se gesondheid in 1992 ingee, vervang Roelf Meyer hom as minister, en word Barnard as DG van daardie departement aangestel tot 1996, toe hy as DG na die Wes-Kaap verskuif word omdat die nuwe ANC-regering nie die voormalige spoioenbaas as mees senior Direkteur-Generaal van ‘n staatsdepartement wou behou nie, soos Barnard self in sy herinneringe skryf.
Barnard het dit op sy beurt geïnisieer omdat hy bekommerd was dat hy beheer sou verloor oor sy geheime gesprekke met Mandela, omdat die Staatkundige Ontwikkelingsdiens ook reeds besig was om agter die skerms op grondvlak voorbereidings vir formele gesprekke met die ANC en ander swart bevrydingsorganisasies te tref. In hierdie politieke magspel het Barnard, PW en Kobie Coetzee dus geweier om Heunis toe te laat om met Mandela te praat, ten spyte daarvan dat dit Heunis se kabinetsportefeulje was. Heunis en van sy senior amptenare moes geneutraliseer word omdat hulle amptelike aktiwiteite sy planne potensieel kon belemmer. Barnard het PW dus in 1988 oortuig om Heunis, myself en my toentertydse kollega, Kobus Jordaan, te diskrediteer omdat ons na bewering regeringsbeleid oorskry het, en ons daarom te uit ons amptelike posisies te verwyder. Dit is op baie vindingryke wyse gedoen deur bloot my en Jordaan se ‘Uiters Geheime’ veiligheidsklarings deur die Veilgheidspolisie te laat kanselleer sodat ons nie meer toegang to sekere dokumente en gesprekke gehad het nie. Dit het gebeur ten spyte daarvan dat Barnard self persoonlik direk met dieselfde optredes besig was.
Kort daarna, in 1991, net voor Barnard die Nasionale Intelligensiediens verlaat het, het hy selfs verder die ‘chutzpah’ gehad om my te probeer werf as 'deeltydse NI agent', wat ek sumier geweier het. Toe ek hom daaroor konfronteer, het hy bloot sy skouers opgetrek en dit probeer verdedig as normale deel van sy werk. Hy het nie my vraag oor die etiese regverdiging daarvoor beantwoord nie.
Daar is ook verskeie interessante boeke oor die politiek en intelligensiebedryf op my rakke wat relase bevat deur, of oor, voormalige teologiestudente of -praktisyns wat later verkies het om eerder intelligensie-operateurs te word en nogal baie trosts is op hulle rekords daar.
Teen bogenoemde agtergrond wonder ek nogal oor mense se dryfkragte agter sulke sulke drastiese veranderinge in waardes en beroepe, en hoe spioene wat voorgee dat hulle goeie Christene is, kan saamleef met werkstyle wat onetiese optredes as normale, aanvaarbare praktyke vereis.
Fanie, ek sou nogal graag NB se kommentaar hierop wou verneem het. Jy seker ook?
Ek verwonder my aan die venynigheid wat in Prof Cloete se relaas te vinde is. Dit laat my dink aan die ou Latynse uitdrukking wat, vrylik vertaal, as volg lui: "Moenie sleg praat van die dooies nie, want hulle kan hulself nie verdedig nie."
Toe ek dit met hom probeer bespreek het, het hy geweier om dit te verduidelik. Hy het sy skouers opgetrek en ontken dat hy enigiets aan my hoef te verduidelik. Niël het verskillende fronte voorgehou vir verskillende gehore.
Nico, hoekom sien jy kritiek as venyn? Veral as doelbewuste revisionisme gepoog word om die geskiedenis te probeer hervertolk en herskryf? Ek is ongelukkig nie bereid om dit onkrities te aanvaar nie, en probeer bloot om 'n meer gebalanseerde perspektief wat op feite gebasseer is, te gee.
Sjoe Prof Fanie, ek dink jy verwar die CSV met 'n Intelligensiediens. Jou inset kom uiters nydig en naïef voor. Soms werf intelligensiedienste akademici en amptenare as overte bronnetjies, so moet nie te veel brêg oor die toenadering nie. Tog so vroom dat jy nee gesê het vir jou eie land se diens en dan die sogenaamde werwing nogals as oneties beskou. Jy sou onder die hofie skakelkontak, geleentheidskontak of gespreksgenoot geval het, of glo jy werklik die Diens wou jou as 'n koverte operateur gebruik? Giggel.
Prof Fanie, as familielid van Niël neem ek aanstoot met u neerhalende strekking tov 'n man wat baie opgeoffer het vir SA.
Prof. Cloete, hoe meer jy reageer op kommentaar wys jy jou onkunde mbt tot NID en sy werking.
Hennie, die volgende kwel: "Niël en politieke beriggewer Alf Ries was as’t ware boesemvriende. Hulle het op dieselfde dag verjaar en het dit meermale saamgevier."
Waar was die afstand wat so nodig is dat joernaliste onbevange én onafhanklik verslag kon doen? Ries was heeltemal té diep in die bed met NP-politici en mense soos Barnard. Ries sou vandag die toets van onafhanklikheid van joernaliste wat die SA Perskode vereis, heeltemal dop.