FW hét ’n keuse gehad

  • 19
...
My kinders verstaan nie die hel van apartheid nie. En dít is ’n voorreg. Die dice het uiteindelik beter geval, oom Adam. My kinders is geseënd.
...

Magies – dit is steeds hoe ek aan 2 Februarie 1990 dink.

Daar was geen waarskuwing nie.

Om die waarheid te sê: Ek, en baie ander vriende, het daardie dag ons radio’s aangeskakel met ’n vae hoop dat hierdie kaalkop wit omie genaamd FW nie nog méér konserwatief sou wees as die bedonnerde kaalkop wit omie genaamd PW nie.

Ek bedoel: Regtig? PW, FW?

Ons het vae aanduidings gehad dat Pik, ook ’n Botha, se hand in die as geslaan is ten tye van die Nasionale Party (NP) se leierskapstryd toe PW se beroerte té sigbaar geword het. Pik het ten minste die diplomatieke korps agter hom gehad. Hy het die naam Namibië lank voor die ander ministers gebruik.

Maar FW? Griet.

Dis hoekom ek geluister het. Ons hoop was dat hierdie nuwe oom met die F nie die land nog verder gaan op-f nie.

Ongelukkig was daar op die oog af nie veel hoop nie.

Tydens die 1989-verkiesing het die Konserwatiewe Party (KP), onder Andries Treurnicht, se steun gegroei.

’n Paar dae voor daardie verkiesing was ek die maître d’ by ’n swartdasgedoente vir die KP. Hulle was uitbundig.

Ek, ook in ’n swart manel en met ’n strikdas, was daar toe Ferdi Hartzenberg en Andries Treurnicht opdaag. (Een ding wil ek noem: Dié twee manne wat gehoop het om die land oor te neem, het sonder ligte, sonder motorfietse, en selfs sonder lyfwagte in Hartzenberg se ligblou Volkswagen opgedaag. Ek dink dit was ’n Jetta. Hartzenberg het bestuur.)

Ek het dus geloer, gemik en die deur vir Treurnicht gaan oopmaak. Hy was sy normale, sjarmante, warm self. Daarna het ek omgestap, gewag dat Hartzenberg sluit en hom toe die hand gegee. Die oubaas se handdruk was ferm, maar daar was min warmte in sy oë.

Die KP se boodskap daardie aand was duidelik: Die mense is moeg vir die NP. Hou die land wit.

...
FW kon dus, soos Israel, aan die wêreld ’n middelvinger gewys het.
...

Hoe sou FW op 2 Februarie reageer?

Sy party het nou wel nie die 1989-verkiesing verloor nie, maar die NP kon slegs 48% van die stemme trek.

So, op 2 Februarie 1990 het daar in die groen banke oorkant die kaalkop oom FW ’n opposisie gesit wat met 19 setels gegroei en ’n allemintige 31,5% van die stemme getrek het.

Sou hy bang word en hulle kiesers probeer paai?

Of sou hy elders kyk, na Zach de Beer van die Demokratiese Party (DP)?

Onder De Beer het die DP ook gegroei. In die 1989-verkiesing het hulle 15 nuwe setels gewen en 20% van die stemme getrek.

Vir ons, voor die radio, was die somme maklik: 68% van die mense het die KP se regse rammelinge verwerp, maar ons het ook geweet: FW se party het 21 setels in die 1989-verkiesing verloor ...

Wat sou dié man doen?

Dit is nou mode om te sê De Klerk had geen keuse nie. Ons ekonomie was in sy moer.

Tog ... kyk na Israel. Daar gaan die fascisme steeds voort, sonder brieke.

FW sou byvoorbeeld, soos sy voorganger, nog ’n Rubikon-oomblik kon skep deur ’n vierde kamer aan te kondig waar Lucas Mangope, Bantu Holomisa en die ander tuislandhoofde sou kon hande vat met die sogenaamde uithouers soos Mangosuthu Buthelezi. So iets sou Buthelezi se openlike vrees vir die ANC kon misbruik. Hy sou steeds elke jaar eindelose toesprake kon afsteek.

Onthou ook: Die oorlog in Namibië was verby; al daardie gebreinspoelde troepe sou maklik in die townships ontplooi kon word.

FW kon dus, soos Israel, aan die wêreld ’n middelvinger gewys het.

FW hét ’n keuse gehad.

Een voorbeeld, waaraan ek myself moes herinner, is dat die noodtoestand nie op 2 Februarie verdwyn het nie. Dit was eers toe Mandela genoeg geraas gemaak het in Parys dat De Klerk op 7 Junie 1990 daartoe ingestem het.

So, wat sou FW daardie dag doen?

Sy eerste paar woorde op 2 Februarie 1990 was taamlik pedanties, maar toe, sonder enige waarskuwing, kom die aardskuddende woorde: Alle politieke partye sal ontban word. Politieke gevangenes gaan vrygelaat word ...

Pienk Frikkie, soos die KP graag na FW verwys het, was toe tóg radikaal.

Daar voor my radio was die oomblik enorm: 2 Februarie 1990 was ’n groter dag as wat baie woke kinders vandag dink.

Gister het FW gesterf.

In my eie huis is die jongmense glad nie gebodder oor die ou wit man wat gister uiteindelik gesterf het nie. Ek? Ek kyk na die bontspul in my huis en ek weet: Op 2 Februarie 1990 sou hulle nie as gelykes in my huis kon gewees het nie. Al sou hulle wou, sou my kinders nie daardie dag saam met my na die radio kon geluister het nie. My kinders verstaan nie die hel van apartheid nie. Ek wil dit amper herhaal: My kinders verstaan nie die hel van apartheid nie. En dít is ’n voorreg. Die dice het uiteindelik beter geval, oom Adam. My kinders is geseënd.

FW was nie sonder foute nie.

Maar vir my is 2 Februarie 1990 steeds een van die grootste dae in my lewe.

Daarvoor sê ek vir die kaalkop wit oom met die naam FW, opvolger van die kaalkop wit oom met die naam PW, baie dankie.

  • 19

Kommentaar

  • Anne-Marie Beukes

    Izak, "Maar vir my is 2 Februarie 1990 steeds een van die grootste dae in my lewe", resoneer beslis by my!

  • Puik. Jy is reg - FW hét 'n keuse gehad. Het hy anders besluit, sou dit 'n tragedie tot gevolg gehad het. Die tragedie vandag is dat ons, almal van ons, nie die geleentheid aangegryp het nie.

  • Ronel Meeding

    Ek sal dit ook as een van die dae in my lewe onthou as 'n dag waarin ek soveel hoop vir 'n gelyker SA ervaar het dat ek kon bars van geluk.
    Dankie, FW de Klerk, vir jou insig en moed.

  • Dankie vir hierdie stuk. FW het die regte ding gedoen op 2 Februarie 1990. Iets radikaals was nodig en ons was almal verstom oor hoe radikaal dit was!

  • Hennie van Deventer

    Vir Afrikaanse koerantmense was FW de Klerk se 1990-stappe by die enorme politieke betekenis daarvan vir die land ook meer as net 'n tikkie salf vir die eie joernalistieke ego.
    FW het die Afrikaanse koerante reg bewys!
    Vir politieke opponente binne en buite die parlement, ons kollegas in die Engelse pers, selfs vir sekere NP-ondersteuners, sou ons lekker kon koggel: "Ons het julle mos gesệ!"
    Afrikaanse koerante het immers toe al lank betoog dat Suid-Afrika onder die NP-regering op 'n opwindende nuwe koers is, en dat reeds onder PW Botha die fondamente gelệ is vir een onverdeelde Suid-Afrika met een burgerskap vir almal, en met reg tot deelname vir almal aan politieke besluitneming op alle vlakke.
    Skeptici wat volhard het dat dit alles net vae woorde is, dat dit kosmeties is, dat die "ou aparatheidsparadigma gekontinueer word", se wind is vir eens en vir altyd uit hul seile geneem.
    Laat my dadelik toegee dat daardie FW-pakkie hervormings waarskynlik 'n groter kwantum-sprong verteenwoordig het as wat die meeste van ons in daardie stadium verwag het. Maar dat dit ons onverhoeds betrap het, is ook nie waar nie.
    Vir redakteurs wat begin vrae vra het oor waarheen ons nou werklik op pad is, het De Klerk kort tevore in 'n inligtingsessie in Tuynhuys liggies berispe: "Julle moenie nou begin skrik vir die goed wat julle al hoelank bepleit nie!"
    Die val van die Berlynse muur in Oktober 1989 het vanselfsprekend sy hande losser gemaak.
    Ekself het 'n maand later by 'n beraad in Parys vir die ANC-afgevaardigdes gesệ: "Maak vas julle gordels; hier kom 'n ding." Toe kom dit. Regter Albie Sachs het later aan 'n kollega erken dat min waarde aan my woorde geheg is, maar dat dit in die kol was.

  • AGH van der Walt

    Ag-ja so 'n artikel was te wagte. Waar is die ware feite in plaas van 'n emosionele geploeter? Ons het ook lekker floreer tydens die hel van die apartheidsjare. Die bom moes bars die een of ander tyd. Em toe bars dit en nou huil ons krokodiltrane en speel die "blame game".

  • Marietjie Warrington

    Uitstekend Izak - beter kan dit nie gesê word nie! In daardie jare was ek 'n joernalis by die Transvaler in Preotria en ek kan onthou 2 Februarie 1990 was vir etlike konserwatiewe burgers 'n onverwagte en onaangename wake-up call.
    Jou "dice" aanhaling van Adam Small laat my gedagtes ook teruggaan toe hy jare gelede die openingsaand van 'Kanna hy ko hystoe' by die Alexander Teater in Johannesburg moes bywoon as ere-gas en dramaturg. Vir die geleentheid moes hy spesiale vergunning kry omrede hy as nie-blank geklassifiseer was.
    Mag die pynlike geskiedenis van die Apartheidsera homself nooit as te nimmer weer herhaal nie.

  • Ja die skrywer is heeltemal reg. En hy, soos kommentators hier, stop ongelukkig by die heldeverering van oom FW. En vergeet van sy handlangers, Pik, Roelf, Leon, Chris ens. Oom FW het nie so 'n sterk ruggraat gehad as wat die skrywer en ander nou dink nie. Was dit nie vir sy bende nie, sou hy nie alleen kon staan nie. En die artikel verwys glad nie na die ruggraatloosheid van dieselfde bende en hul leier wat kortsigting en baie naief was toe hulle die tussentydse grondwet aanmekaar geslaan het nie. Hulle het gedink dit was die wigte en teenwigte. Nou ja toe. Hulle het gedink die Westerse toepassing van 'n demokratiese bestel sal werk in Afrika. Dit twee tesame vertrap minderheigsgroepe elke dag, SA is 'n sprekende voorbeeld hiervan. FW en die bleek bende was sekerlik nie profete en heldersiendes nie, maar hulle was kortsigtig. En toe Mandela hom uitgewerk het binne 'n paar jaar, moes hy dit besef het. Maar hy het stert tussen die bene weggehol en sy eie beeld begin poets sover hy kon. Nee wat, diegene wat van hom nou 'n ikoon wil maak, dink weer. Hy het nie veel van 'n keuse gehad nie en sy eie mense het hom nie 'n duit vertrou nie.

  • Dankie, Marietjie. In die Kunstekaap (toe Nico Malan) moes Small na my wete ook toestemming kry om sy eie stukke by te woon.

  • Wilhelm Fourie

    Ek stem met heelwat saam wat die skrywer hier skryf, maar om Israel fascisties te noem is verregaande. Israel is die enigste regstaat in die Midde-Ooste en daar is Arabiere wat selfs in die Israeliese weermag dien.

  • Andri Nieuwoudt

    Die hel van apartheid was nie beperk tot net die wat nie wit velle gehad het nie, ook in die “gebreinspoelde” troepe, die gewone mens wat net mens wou wees.

  • @Andri Nieuwoudt

    Baie mooi gese.

    Die meeste mense in die wereld wil eintlik maar net weet dat hulle vir hulle gesin en hulself, kos op die tafel, n dak oor die kop en kinders skool toe kan stuur. In my opinie het daar sjarmante leiers wanbeelde voorgestel aan mense wat min verstaan het van al die politiek. Hulle wou net mens wees en vir hulle gesin sorg. Hier staan 'n man in 'n (safari-)pak en vertel van 'n impossante toekoms gevul met melk en heuning. Hoeveel van ons voorouers is gebreinspoel deur al die beloftes en wanbeelde?

    In my persoonlike opinie, wil die oorgrootte meerderheid van alle rasse net mens wees.

    Ek stem saam: dis 'n baie mooi stuk. Die mense wat vir die regering gestem het op daai stadium en die regering self, om die besluit te neem om 'n einde aan die vorige bewind te maak word gereeld tersyde gestel.

    Ons kan bly wees ons het nie in 'n siviele oorlog geëindig nie. Ai. Ons geskiedenis.

  • George Pieter Redelinghuys

    "My kinders verstaan nie die hel van apartheid nie." Hoe maak die huidige geslag van Afrikaners hulle kinders groot in die skaduwee van die verlede? Wat vertel ouers vir hulle kinders wat in 'n veelrassige gemeenskap moet leef? Of was apartheid dan so suksesvol dat daar vandag minimale kontak tussen die rasse plaasvind? Wat van die weermag, die polisie, en die werkplek? Ek het Suid-Afrika in 1975 verlaat en wonder dikwels oor hierdie sake.

  • Julle moenie vergeet nie, na amper 30jr is Afrikaner seuns en dogters geensins verseker van 'n werksgeleentheid nie.
    Waar gaan jou kinders/kleinkinders werk - oorsee?
    Wat het geword van "Suid-Afrika is vir almal"?

  • George Pieter Redelinghuys

    Raed-na-Gael: Ek wonder dikwels hoe Afrikaner-ouers moet voel oor die toekoms van hulle kinders en kleinkinders in 'n land wat alleen tekens van agteruitgaan toon. Daar is nou lande in die Verre Ooste soos Taiwan, Suid-Korea, Thailand en Singapore wat in vele opsigte beter is as wat Suid-Afrika vandag is. Dit breek mens se hart om te dink dat na die Tweede Wêreldoorlog Suid-Afrika gereken was as een van die mees vooraanstaande Westerse lande. Vandag is dit nog 'n Afrika-staat, en die beste wat mens kan doen, indien enigsinds moontlik, is om jou koffer te pak, en om pad te gee. Nie alleen wit Afrikaners nie, maar ook swartes.

  • Adam Small se gedigte het my gewete tov die rassevraagstuk as kind geweldig gevorm. Was vir my ook altyd een van die grootste skandes - en natuurlik was daar baie meer, dat hy 'n permit moes hê om sy eie toneelstukke by te woon!
    Ai, dat enige een nog kan sê dit was nie erg nie ... ek weet nie!

  • Leë blikke maak die meeste geraas. Hoeveel van die wat van die dakke af skree en van die hel van apartheid praat was al werksaam in 'n swart woongebied en het iets bygedra om die lewensomstandighede van die inwoners te verbeter?
    Glo nie hul weet van die chaos van korrupsie en finansiële wanbestuur wat ontstaan het na streeksdiensterade ontbind is en regeermag na plaaslike stadsrade oorgedra is nie.
    Dit was die voorloper van die chaos wat tans heers op munisipale vlak, want die stadsrade, waarvan sommiges vinnig van bates ontslae geraak het om kontantvloei aan die gang te hou is later by ander stadsrade ingelyf en het dieselfde amptenare die kitaar begin slaan. Later sou die groter stadsrade saamgevoeg word in Metros.
    Nou wat van FW?
    FW was soos 'n dier vasgevang in 'n jagter se kopligte. Ingedwing in 'n rol deur sanksies, wêreldwye druk en druk van sy eie party en sy opponente.
    FW se probleem was dat hy met die verkeerde mense onderhandel het en met 'n organisasie waarvan leiers weelderig op skenkersgeld gelewe het, terwyl afvalliges in die organisasie aan die kortste end getrek het en nooit geweld as 'n opsie sou afwseer nie.
    Hy moes met volksleiers en leiers van tuislande vergader het om 'n pad vorentoe te bepaal. Dan was dit vandag onnodig dat van die ‘eerste mense’ maande lank by die Uniegebou uitkamp sodat 'n swart regering sal luister na hulle nadat 'n wit regering te besig met ander dinge was.
    En toe die eintlike onderhandelinge begin, gaan rus FW en breek sy gasheer se huwelik op en maak sy afgevaardigdes 'n gemors, tot so 'n mate dat in die oorgawegesprek hul die tafel verlaat om uit te bars van die lag in 'n ander kamer oor hoe verspot maklik dit eintlik was.
    En wat nou van die arm agtergeblewe Afrikaners? Hulle bly in plakkerskampe of staan op hoeke van strate en bedel.

  • Annora Eksteen

    Dit was 'n lang stryd.
    Pas 'n kinderboekie deur Chris van Wyk gelees oor Cissie Gool se lewenswerk om op te staan teen apartheid (soos baie ander dapperes), en sy is al in 1897 gebore.
    Voor dit was slawe (ek lees tans Philida deur André Brink), en voor dit vanaf die 17de eeu ... nou ja.
    Beskawing en geletterdheid het egter saamgekom en dit was goed.
    Ek werk nou al sedert 2009 by Engelse skole met baie Afrikakinders en het so baie geleer: al die tale en kulture het my verryk en ek sal nooit ophou jammer sê oor apartheid nie – net die uitdrukking in hulle gesigte is vir my ja: liefde, begrip en aanvaarding.
    Nou egter – al die tonne probleme – en wat my kinders aanbetref: ek ondersteun hulle ten volle, want die tyd is nou binnekort hier wat hulle oor die waters gaan beweeg na lande waar dit, ja ... wel, beslis beter sal wees vir hulle en hulle kinders.
    Wat ons grondwet aanbetref is ek maar net weereens dankbaar vir Nelson Mandela – ek word taamlik met 'n skrik geslaan as ek lees hoe dit in ander Afrikalande gaan wat gayregte onder meer aanbetref.
    F.W. De Klerk se laaste boodskap is ontroerend en hy het goed gedoen.
    Namaste.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top