Die pers, die Broederbond en FW se besluit

  • 9

Hennie van Deventer het ’n kommentaar op ’n LitNet-berig rakende FW de Klerk gelewer. Daarin sê hy oor 2 Februarie 1990:

“Vir politieke opponente binne en buite die parlement, ons kollegas in die Engelse pers, selfs vir sekere NP-ondersteuners, sou ons lekker kon koggel: ‘Ons het julle mos gesê!’”

Izak de Vries het hom gevra om uit te brei.

...
Op ’n inligtingsessie vir redakteurs in Tuynhuys het hy met ’n knipoog laat val: “Julle moenie nou begin skrik vir goed wat julle hoe lank bepleit nie.”
...

Hennie, ek het jou boek Koerantkamerade gelees, so ek is nie verbaas oor jou stelling nie. Maar vir diegene wat nog nie die boek gelees het nie, verduidelik hoe die koerante ander oor daardie dag kon koggel?

Mense krap nou kop oor presies wanneer FW de Klerk die lig gesien het. Dag en datum ken ek nie. Dat hy ’n man met ’n missie is, was egter vir diegene in sy dampkring van dag een toenemend duidelik nadat hy die leisels oorgeneem het. Deur die kritiese Engelse pers en ander minder ingeligte waarnemers is hy steeds bejeën as die konserwatiewe, uiters versigtige FW van vroeër, maar op vertroulike sessies met ons redakteurs en in Broederbond-verband was sy boodskap uit die staanspoor: Hier kom ’n ding – dit kan nie anders nie. Veral die geregtigheidsbeginsel is deur hom sterk beklemtoon.

Op ’n inligtingsessie vir redakteurs in Tuynhuys het hy met ’n knipoog laat val: “Julle moenie nou begin skrik vir goed wat julle hoe lank bepleit nie.” Teen die skeptisisme van vele in het ons in dié trant begin skryf. Ek self het in November 1989 by ’n beraad in Parys vir ANC-afgevaardigdes gesệ: “Maak vas julle gordels; hierdie man bedoel besigheid.” My woorde het min indruk gemaak. En toe? Drie maande later moes hulle op hul neuse kyk.

Jy was koerantbaas in die Naspers-stal ten tye van FW se groot verandering. Verduidelik asseblief jou presiese rol op daardie tydstip?

Tot en met die sege vir die “ja”-stem in die waterskeidingsreferendum van Maart 1992 wat vir FW die groen lig gegee het vir die pad wat hy ingeslaan het, was ek nog redakteur van Die Volksblad.* Oor die uitslag het ek ’n jubelende hoofartikel geskryf – die laaste uit my pen en die eerste een op die voorblad in die 12 jaar van my redakteurskap.

Met die verdere verloop van sake was ek aan die bestuurskant – ’n politieke passasier wat ontwikkelinge op ’n afstand dophou. Die gesonde Naspers-tradisie was dat die bestuur sy neus uit redakteurs se domein hou. Geen redakteur wat sy sout werd is, sou in elk geval die hoof van koerante toelaat om oor sy skouer te loer nie.

Jy maak ook geen geheim van jou verbintenis met en hoë posisie in die Broederbond nie. Hoe sou jy die Broederbond aan jongmense verduidelik en jou eie rol in die organisasie beskryf?

Op Dinsdag 30 November 1993 het ek my lidmaatskap en nommer, 12951, in die Afrikaanse dagblaaie bekend gemaak. Dit was nadat die Broederbond die Afrikanerbond (AB) geword het en as ‘t ware uit die skadu in die lig getree het met die aanvaarding van ’n nuwe naam (Afrikanerbond) en ’n groter openheid in sy werkwyse. Ek het in 1973 lid geword, amper 50 jaar gelede, en ek was nog nooit verleë of skaam nie. Allermins.

Om die behoefte aan ’n organisasie soos die AB te verstaan, is dit nodig dat die geskiedenis van die Afrikaner verstaan word. Die AB is gestig om Afrikanerbelange te beskerm en te bevorder in ’n stadium van platgeslaanheid en vreemdelingskap in hul eie land. Christelike beginsels en waardes was die hoeksteen. Daaroor is baie bronne beskikbaar.

Ek wil graag die AB uit die hoek van ’n koerantman betrag. Vir hom was dit ’n vername “luisterpos” om by Piet Cillié ’n begrip te leen. Die organisasie was inderdaad oor ’n tydperk van meer as ’n eeu in ’n worstelstryd gewikkel met die groot sake van hul tyd. Betrokkenheid het beteken om in ’n intieme kring die ware polsslag van mede-Afrikaners oor dié sake te kon voel. Die voordele was ingeligtheid, wisselwerking en slyping van eie insigte. Ek kan talle voorbeeld noem van vrugbare interaksie; geen enkele geval van inbreuk op onafhanklike denke of poging om in my werksaamhede in te meng nie.

Ek kan ’n hele paar scoops noem uit daardie vermaledyde oord. Ek kan, op ligter trant, selfs vertel hoe my lidmaatskap van die uitvoerende raad (1985–1991) die kanaal gebied het om Zwelakhe Sisulu, latere baas van die “SABC”, uit die tronk en op ’n vliegtuig te kry vir ’n groot fees van die Nieman Foundation by Harvard waarvan ons albei genote was. Hy sou die piep kry as hy moes weet!

Ja, ek het die gebeure om Sisulu in Koerantkamerade raageloop (bl 178). Ek, en ander, twyfel nie dat die Broederbond ’n stewige hand gehad het in alles wat die Nasionale Party gedoen en besluit het nie. Hoeveel van die kabinetsministers was nie Broeders nie? Ek weet Hendrik Schoeman sou nie kon wees nie, want hy was AGS, of maak ek nou wilde aannames?

Ongelukkig ontbreek dit my aan ’n lys van lede en nielede. Hendrik Schoeman was egter wel ’n prominente lid. Ons was saam in ’n AB-komitee wat getaak was om troebel verhoudinge met ’n regse element van die organisasie te probeer beredder. Engelse kabinetslede was natuurlik nie lede nie. Ook sekere Afrikaanse ministers. In AB-kringe is lekker gelag oor ’n LV wat ’n minister – ’n nielid – in die ’80’s saamgenooi het na ’n vertroulike vergadering. Op pad kom hy sy vergissing agter. Sy gas is mooitjies by ’n hotel afgelaai en moes daar oor ’n whisky of twee maar geduldig die tyd met net sy eie geselskap omkry.

Laat my byvoeg dat ook nie alle Afrikaanse redakteurs lid was nie. Niemand het gevra is jy lid of nie wanneer ’n koerant aan jou toevertrou is nie. Ander maatstawwe het gegeld.

Maar uiteindelik het die stert nie die hond geswaai nie. PW Botha se Rubicon-toespraak is ’n duidelike voorbeeld dat die land se president hom nie laat voorskryf het deur ander, insluitend die Broederbond, nie.

Die hardekwas PW Botha was die laaste een wat hom deur wie ook al sou laat voorskryf! Dat hy tot die verbystering van verligte kabinetslede soos Barend du Plessis, Dawie de Villiers, Pik Botha, Chris Heunis en andere so viervoet voor die Rubicon gaan vassteek het op 15 Augustus 1985, was ook in UR- (uitvoerende raad-) geledere soos ’n emmer yskoue water wat oor ons koppe uitgegiet is.

Onder leiding van voorsitter Pieter de Lange – ’n oopkop leier met bewonderenswaardige goeie oordeel – was ’n sterk hervormingsgees daardie tyd vaardig. Die staatkundige komitee onder die besielende leierskap van Andreas van Wyk en Olaus van Zyl was al hard aan die woeker aan die beleidsdokument “Basiese staatkundige voorwaardes vir die voortbestaan van die Afrikaner” wat in 1987 voltooi is en waarin die Pieter de Lange-mantra sterk na vore gekom het: “Die grootste risiko is om geen risiko’s te waag nie.” PW se hardnekkigheid is in die UR as rampspoedig beleef, maar nou ja, as daardie man eers die voet dwars gesit het, was alle ander se arms afgekap.

Het enige een in die Broederbond, later Afrikanerbond, werklik geweet wat in De Klerk se toespraak gestaan het op die oggend van 2 Februarie 1990?

Jy stel dit wyd. Dalk was daar vertrouelinge in die binneste binnekring wat ingelig was en wat, soos De Klerk self, lede van die AB was. As die organisasie – selfs op hoogste vlak – formeel ingelig is, is ek onbewus daarvan. Wel het hy op ’n UR-besoek kort tevore taamlik openhartig gepraat oor, aan die negatiewe kant, die knellende uitwerking van sanksies op die ekonomie, die verslegtende veiligheidsituasie en al die nadele van ’n uitgeworpene wees in die ry van nasies, asook, aan die keersy, sy eie insigte oor basiese geregtigheid, die wegkom van diskriminasie en die erkenning van menswaardigheid.

Soos in die geval van die koerante wil ek dit so stel: dat die omvang van die kwantumsprong ons stoutste verwagtinge oortref het, maar dat ons darem nie totaal onverhoeds betrap is nie.

Nou terug na die pers: Op watter stadium is afskrifte van die 2 Februarie-toespraak aan die perskorps verskaf?

My eie herinnering is dat dit vroeg die oggend van 2 Februarie was – onder streng embargo natuurlik. Alf Ries, deurwinterde politieke beriggewer, het my egter al die vorige dag die wenk gegee om nie later die middag reeds Kaap toe te vlieg vir die parlementsopening nie. Ek kon op die nippertjie my planne wysig omdat Alf se oordeel was dat ek liefs die Vrydagoggend by my koerant sou wou wees as in die persgalery van die volksraad.

Dit was goeie advies. Ek was dus op my pos toe die gewigtige kopie in Bloemfontein begin deurkom en kon eers opdragte gee oor die hantering daarvan – “maak die skouers oop” – voordat ek met ’n tevrede hart en ’n vars Volksblad – toe nog ’n middagkoerant – op die Boeing klim vir die tradisionele redakteursbesoek aan die begin van elke parlementsitting.

Ek wil terugkeer na jou stelling dat “ons” (bedoelende die Nasionale Pers-koerante) vir talle mense kon koggel: "Ons het julle mos gesệ!" In Koerantkamerade en op die Facebook-groep Nagkantoor het jy al heelwat geskryf oor jou en ander persmense se rol in die vernuwings. Maar nie almal ken die verhaal nie – sommige mag jou dalk selfs nie eens glo nie. Kan jy kortliks verduidelik watter rol die koerante na jou mening gespeel het in die aanloop tot 2 Februarie 1990?

Ek is amper in die versoeking om ’n geykte “dankie vir die vraag” te uiter. Anders as wat sommige jonger kritici (en nie net jonges nie) dink en sonder omhaal sê, glo ek dat verligte Afrikaanse redakteurs te midde van kwaai uitdagings hul kant gebring het om weerstand teen hervorming af te breek. Deur hul volhardende skrywes – waarvoor hul van regs hard gestriem en gegesel is – het hulle die regte klimaat help skep, die akkers help voorberei en die saaiers se hande omhoog help hou. Ek vra vergunning om in my antwoord op dié wesenlike vraag die nette wyer te span as by voriges.

Laat ek wegval met ’n belangrike datum in die aanloop tot die De Klerk-inisiatiewe. Dit is 5 Julie 1989, meer as 30 jaar gelede. Op daardie dag het PW Botha die ANC-leier, Nelson Mandela – fier en statig in ’n splinternuwe blou dubbelborspak – verrassend hartlik in sy bastion, Tuynhuis, ontvang. Ondanks alle vorige protestasies en kwalifikasies – die ANC-leier se afswering van geweld onder meer – het die Nasionale Party-leier met die ANC begin praat.

Presies dit – praat met die ANC – het Ton Vosloo, redakteur van Beeld, al in Januarie 1981 in sy koerant voorgestel – agt jaar voor die ontmoeting in Tuynhuys, sewe jaar voor Niël Barnard, hoof van Nasionale Intelligensie, se eerste, aanknopende gesprek met Mandela in Pollsmoor, en amper ’n dekade voordat die internasionale ikoon op Sondag 11 Februarie 1990 as aanstaande president uit die Victor Verster-gevangenis sou stap.

Vosloo se baanbrekende kopskuif het Botha destyds met afgryse laat sidder. Hierdie verrassende oproep uit die binnekring van konvensionele Afrikanerdom het my, wat een van Vosloo se adjudante was, self ietwat onkant gevang, moet ek bely. Later sou ek telkens weer daaroor wonder: Hoe sou die geskiedenis kon verloop het as daar vroeër na my baas geluister is? Kon ’n paar vrugbare jare nie daardeur gewen gewees het nie?

Agterna gesien, is dit klinkklaar duidelik dat Vosloo geen skielike bevlieging gekry het nie. Sy profetiese visie was die manifestasie van ’n nuwe realisme wat al geruime tyd by verligte redakteurs en hul koerante ontkiem het. Wat die oproep wel was, was ’n soort waterskeiding. Asof deur ’n onsigbare krag aangedrewe, het die dagblaaie en Sondagkoerante al hoe sterker die pas begin aangee in ’n uitbreidende soektog na geregtigheid, menswaardigheid, versoening, verandering en hervorming.

Die rol hierin van Schalk Pienaar in eers Die Beeld** en daarna Rapport was heldhaftig in my oë.

’n Gedugte arsenaal ideologiese wette het toe nog die toekomspad versper. Bewysbaar uit koerantargiewe, het die drie Afrikaanse dagblaaie in die Naspers-stal – twee van hulle, Die Burger en Die Volksblad, nogal, soos jy later uitwys, amptelike mondstukke van die Nasionale Party – dit egter in gelid met hul Sondag-suster, Rapport, konsekwent en toenemend hul taak gemaak om hierdie ideologiese koevoete te identifiseer, te bevraagteken en te help begrawe.

En gee hom die eer: Wimpie de Klerk, redakteur van Die Transvaler, die noordelike mondstuk van die party, het in hierdie opsig, in selfs dalk nog moeiliker omstandighede as sy kollegas van die Nasionale Pers, ook sy kant gebring.

Al van die tweede helfte van die ’70’s af, maar veral in die ’80’s, is die onhoudbaarheid van allerlei arbeidswette, veiligheidswette, maatskaplike wette soos die sogenaamde Ontugwet, die Wet op die Verbod van Gemengde Huwelike en, les bes, daardie hoeksteenwet van apartheid, die Wet op Groepsgebiede, toenemend krities onder die loep geneem.

Skermutselings tussen pers en party het gevolglik taamlik gereeld begin voorkom – soms skerp en bitter. Onverskrokke kollega Willem Wepener van Beeld, waar hy Ton Vosloo opgevolg het, was veral in die spervuur oor sy rondborstigheid. Oor die Groepsgebiedewet het hy byvoorbeeld pront verklaar: “Skrap dit.”

Ook oor Nelson Mandela het hy nie doekies omgedraai nie: “Die tyd het aangebreek om hom uit die tronk vry te laat.”

Onder sy kollegas het sy waagmoed vir Wepener die naam “Ysterman” verwerf. In Tuynhuys was daar egter met elke nuwe Wepener-sarsie beroering. Dit is hoe die naam “Kruithuis” destyds ontstaan het!

Later moes die damwal bars. Een na die ander hoeksteenwet van apartheid is geskrap, onder meer ook die gehate paswette. Toe hulle in April 1986 verdwyn het, het Afrikaanse koerante hartlik saamgejuig met die swart menigte wat van een van sy swaarste apartheidsjukke bevry is. Ook die hoofartikels daaroor word in argiewe bewaar.

Koerante het gekritiseer, maar ook kreatief en opbouend saamgedink, en dikwels op die voorpunt gedink, oor boustene vir die toekoms. Al verkennende is berge versit.

Een pragtige voorbeeld van hoe ’n koerant – in hierdie geval Die Burger – met sy skeppende denke as ‘t ware ’n katalisator in die Groot Mirakel van Suid-Afrika geword het, is taamlik onbekend. Dit is deur Nelson Mandela aan sy tafelgenote onthul toe hy op 9 Oktober 1997 ’n middagete tot sy eer by Naspers in Kaapstad bygewoon het. ’n Sewestuks Naspersers is vergas op ’n boeiende relaas oor hoe ’n Dawie-rubriek oor groepregte in 1989 in die gesprek tussen die NP en die ANC vir ’n deurbraak gesorg het. Die rubriek is geskryf deur Wiets Beukes, wat toe redakteur was. Hy het Piet Cillié opgevolg.

Dawie se standpunt was dat oor wette soos die Groepsgebiedewet, die Bevolkingsregistrasiewet en die Wet op die Aanwysing van Aparte Geriewe “ingrypend herbesin” moet word, omdat ’n nuwe Grondwet “kleurblind” moet wees.

Die gedwonge klassifikasie van mense was een van die “onhoudbare erfenisse van die ou apartheid”, het hy betoog. Die “groep-gedagte (sal) in die eerste plek van alle dwang en diskriminasie gestroop moet word”. Groepvorming sou “bevry” moet word om spontaan plaas te vind, en een van die “basiese regte van die mens” sou herstel moes word: “Dat elke mens die reg het om vryelik te assosieer en self te besluit by watter groep hy sy heil wil soek.”

Mandela het, volgens hom, in een van hul eerste ontmoetings FW de Klerk se aandag op die rubriek gevestig. De Klerk het onmiddellik positief gereageer: “Nou ja, as Dawie so sȇ, sal ek vir my mense sȇ ons kan dit (daardie groepswette) maar los.” Daardie antwoord het Mandela verheug. Hy het aan sy topstruktuur gaan rapporteer: “Met dié man sal ons kan saamwerk.” Daarna het sake begin vlot.

Ruimte ontbreek om op al die dimensies van ’n gekompliseerde verhouding in ’n gekompliseerde tyd in te gaan. Die rol van die Afrikaanse koerant in die politieke oorgang is in elk geval eerder ’n navorsingstaak vir historici. In die gemoed van hierdie oudredakteur van die jare 1980 tot 1992 leef egter geen skuldgevoelens nie.

Ek glo nie ek sal sondig as ek sê dat die koerante van Nasionale Pers vir lank openlik mondstukke vir die Nasionale Party was nie. Of wil jy met my verskil?

Ek kan nie verskil nie. Die partymondstukstatus van Die Burger, Die Volksblad en ook die heengegane Die Transvaler van Perskor het tot in die ’80’s voortgeleef. Dit was histories verantwoordbaar deur ’n gemeenskaplike oerherkoms uit die breë Afrikaans-Nasionale beweging in jare op moedverloor se vlakte. Geen “kontrak”, geen voorskrif, selfs geen verwagting is egter aan my gestel toe ek redakteur geword het nie. Geen dusdanige dokument is, sover ek weet, ooit aan enige ander Naspers-redakteur gegee nie. ’n Verbintenis was daar wel, maar niemand was iemand se baas nie. “Verbondenheid in onafhanklikheid” het ons dit genoem.

Dat die mondstukstatus tot vandag suspisies voed oor waar die Afrikaanse koerante in die legkaart van die apartheidsera inpas, moet nietemin geredelik erken word. Dalk verstaanbaar, as jy uit ’n hoek van onbegrip kyk, word koerante daarvan verdink dat hulle weens hul partybande, formeel of informeel, soos dit in die geval van Beeld en Rapport was, gevangenes van die Nasionale Party was, en daarom outomaties ook stoere kampvegters vir die status quo.

Toenemend is egter by koerante besef dat die ongemaklike verbintenis nie kon voortduur nie. Ebbe Dommisse het, kort nadat hy in Januarie 1990 redakteur van Die Burger geword het, die bul by die horings gepak. Op sy inisiatief is by die Kaaplandse kongres van die NP ’n besluit geneem om die ou koppeling te laat vaar. In die Vrystaat is geen besluit ooit geneem nie. Die gebruik om jaarliks by die NP-kongres die koerant as partymondstuk te herbenoem, het eenvoudig in onbruik verval. In Transvaal was geen amptelike mondstuk oor nadat Die Transvaler se vlerke in 1983 geknip is en hy net ’n Pretoriase middagblad moes word nie.

Met die Dommisse-inisiatief is ’n proses voltrek wat in die middel van die ’80’s momentum begin kry het namate die gekompliseerdheid van die landspolitiek ou bindinge al hoe meer onder druk geplaas het.

Oor hierdie aspekte van die geskiedenis word deur kritici om die een of ander rede ’n sluier getrek asof ’n onwilligheid bestaan om die verlede onbevange te bekyk en ewewigtig te beoordeel. Dit is ten seerste te betreur omdat wanpersepsies oor die rol van die Afrikaanse koerante, en veral redakteurs, helaas, deur die verspreiende onkunde gedy.

Daar is op Nagkantoor ’n staaltjie oor Marike de Klerk wat jou lelik uittrap oor die pers nie genoeg aandag aan haar man gee nie. Die datum was 1996 en dit was tydens ’n ete by Abe Williams. Ek vermoed Williams was toe nog minister van volkswelsyn en -ontwikkeling? Wil jy uitbrei?

Ek kan nie onthou wat die wellewende Abe Williams, eerste bruin lid van die kabinet, se portefeulje was nie. Ewenwel, sy ete-uitnodiging na sy huis in Rondebosch-Suid einde 1996 was vir my ietwat verrassend – veral toe die egpaar De Klerk – FW en sy eerste vrou, Marike – ook opdaag. Gou sou ek (toe Naspers se koerantehoof) agterkom ek is daardie aand in die vuurlinie: as 't ware beskuldigde nommer een, aangekla van al wat ’n perssonde is.

De Klerk was krities op sy hoflike manier. Marike was strydlustig. Eers het sy die gasheer teengegaan oor sy tafelplasings. Skynbaar was sy ongelukkig om langs Van Deventer te sit. Vervolgens het sy, ook wat die pers betref, met haar “horings in die braambos ingestorm”, soos haar gewoonte volgens haar eie getuienis was.

FW sloof hom af vir die land, maar kry van die koerante geen erkenning nie, was haar verwyt, terwyl sy met veelseggende lyftaal half instinktief wegskram van haar buurman aan haar regterkant, wat uit daardie ongeliefde omgewing kom. Dit was ’n tawwe aand. Later was daar wel ’n “opmaak”-ete in die De Klerk-woonstel in Blouberg – die een waarin sy later vermoor is. Daardie Sondag is nie oor koerante gepraat nie. Yslike verligting gewees.

Ek het ook gehoor dat Elise Botha, PW se vrou, nie skalks was met kritiek nie. Hoe gereeld het gades van politici die spreekwoordelike bokshandskoene teen die pers aangetrek?

Elise Botha het een aand op ’n byeenkoms van NP-vroue in Bloemfontein vertel hoe lus sy soms kry om koerantmense met haar handsak te pak. Ek was nie geamuseer nie en Die Volksblad publiseer van die hele deftige tedoe toe net ’n foto. Ons kla ook by PW oor sy gade se vrye sê. Sy het dadelik gebel om te vertel hoe lief sy vir ons is (dit was net voor ’n verkiesing); ook dat sy dit skertsend bedoel het.

Haar en Marike se salvo’s was die enigstes in my ervaring. Moeilike mevroue was egter maar altyd ’n faktor in die politiek. In Koerantkamerade is nog anekdotes waarby kollegas betrokke was.

In jou boek en elders maak jy gereeld melding van ontmoetings wat jy as persman met die ANC gehad het terwyl hulle nog verban was. Hoe het dit gebeur?

Thabo Mbeki. Die naam het vir my min beteken toe ek die aanstaande president van Suid-Afrika in Maart 1988, die eerste keer in Londen ontmoet het. Dit was my eerste proe aan die lank verbode vrugte van kontak met die toe nog verbode ANC. Die geleentheid was ’n seminaar met die tema “South Africa: controlling the news”, wat natuurlik die tafel behoorlik gedek het vir harde woorde oor die regering van die dag.

By ’n middagete op die eerste dag was Mbeki die spreker. Wat hy te sê gehad het, het my plek-plek laat wurg. Agterna gesien, was die toespraak (en meer bepaald die voordragwyse) egter verbasend onmilitant – veral nadat die driftigheid van swart Suid-Afrikaanse joernaliste die oggend in die konferensie al my ore laat tuit het.

In ’n stadium het Mbeki uitgewei oor PW Botha se berugte humeur. Sy oë het oor die etegaste gespeel. “Where is Mr Dievender? He knows how PW Botha is.” Ek het hand opgesteek, en lughartig geantwoord: “Yes, he gets very angry.”

Dié aand was daar ’n deftige skemerparty en dinee in die beroemde Lancaster House, die plek waar die ou Rhodesië (nou Zimbabwe) se toekoms uitgetimmer is.

Die Afrikaanse redakteur uit die Vrystaat en die uitgeweke ANC-propagandis het by mekaar uitgespoel asof dit in ’n draaiboek ingeskryf was. “Sien mekaar môre,” het ons gegroet.

Daar beland ons toe die Sondagoggend op sy voorstel in die ruim voorportaal van die hotel St James Court, Buckingham Gate, ’n kan koffie tussen ons. Later ’n tweede. Twee kanne koffie pleks van twee sakke sout! Vanselfsprekend is oor meer verskil as saamgestem. Veral oor die ANC se verbintenis tot geweld was ons myle van mekaar verwyder. Maar tog was dit – moes ek so half onwillig aan myself erken – ’n stimulerende intellektuele avontuur. Ons is op goeie voet uiteen.

Einde November 1989 was ek en Mbeki saam in Parys, by ’n konferensie wat deur Danielle Mitterand, die Franse presidentsvrou, gereël is. Dit was opvallend hoe juis Mbeki se geselskap telkens deur Suid-Afrikaners van verskillende politieke oortuigings opgesoek is – al was omtrent die hele A-span van die ANC in die Franse hoofstad teenwoordig.

Ná 1999 het ek hom min gesien; vlugtig hier, vlugtig daar. ’n Uitnodiging na ’n middagete saam met die koerantdireksie is aanvaar, maar op nommer 99 gekanselleer omdat ’n kabinetsvergadering te lank aangehou het. Mbeki het ten minste self gebel om ekskuus te vra.

’n Voorstel vir ’n informele vleisbraai om Afrikaanse persmense beter te leer ken is met geesdrif begroet – en dit was die einde daarvan. Wat nogal jammer was, nie net uit ’n persoonlike hoek nie, maar ook omdat goeie, opbouende kontak met Afrikaanse persmense baie kon gehelp het om hom van ’n paar ongelukkige wanpersepsies te genees.

Op Nagkantoor het jy vertel van jou eerste ontmoeting met “die baba van die kabinet” – ene FW de Klerk wat op die jeugdige ouderdom van 42 ’n minister geword het. Dit is ongeveer 43 jaar gelede. Is ek reg dat daar toe geen aanduiding was dat hy ’n vernuwende houding sou inneem nie?

Min het ek daardie dag in April 1978 geweet dat die “baba” in die kabinet wat daar, gloeiende sigaret in die hand, voor my sit, nog die een gaan wees wat die moed sal hệ om 12 jaar later apartheid op die ashoop te gooi. Sy reputasie was dat hy konserwatief was, soms buitengewoon so.

My afspraak met De Klerk – toe al geseën met ’n breë bles – was vir ’n rubriek in Beeld. Juis oor sy bevordering tot die kabinet op so ’n jeugdige ouderdom. Die gesprek, in sy kantoor in die Verwoerd-gebou oorkant die parlement, was, agterna gesien, bra doodgewoon, en uit ’n nuusoogpunt ongedenkwaardig. Inderdaad is geen aanduiding gegee van ’n vernuwende houding nie.

Hoe ek die jong, nuwe minister beskryf het, is egter tog relevant: “’n Man wat wil vorentoe en glo aan sy saak; ’n man wat vir twyfelaars en remskoene nie baie geduld het nie.” Dat hy hom nie laat stuit het as hy oortuig was iets is reg nie, het hy immers in 1990 vers en kapittel bewys, al sê wie ook nou wat.

Jy het lank saam met Wimpie de Klerk gewerk. Hy was in die pers links van sy politiekbroer, nie waar nie?

Ons het nooit direk saamgewerk nie. Die charismatiese “Dok Wimpie” was ’n gedugte teenstander vir Beeld toe hy half uit die bloute redakteur van Die Transvaler geword het. Uiteindelik was hy te verlig vir sy Perskor-base. Dit het tot sy val bygedra. Later by Rapport was sy graad van verligtheid nog ’n paar kerfies hoër. ’n Stormagtige verhouding met PW Botha was ’n sterk faktor in sy besluit om sy hoed te vat en te loop. Die opkoms en val van die uiters begaafde man in die Suid-Afrikaanse joernalistiek bevat elemente van ʼn Griekse tragedie. Hy kon vir die land soveel meer gebied het.

Maar oor die politieke afstand tussen die twee broers – dit was tamaai. Soms het die verskille maar geskaaf. Die broerverhouding het egter oorleef. Wimpie het selfs ’n boek geskryf waarvan die tema nogal ironies is: FW de Klerk – die man en sy tyd (Tafelberg, 1991).

Ek wil terugkom na jou koggelboodskap – jy erken dat FW se “kwantumsprong” (jou woord) selfs vir die pers verbasend was. Julle ís vooraf ingelig dat iets gaan gebeur, maar was julle nie benoud vir ’n tweede Rubicon-oomblik nie?

“Kwantumsprong” is eintlik Barend du Plessis se woord. Hy sal nie omgee dat ek dit leen nie. Ek self het nie ’n tweede Rubicon-oomblik gevrees nie, en sou steeds ingenome gewees het al was die inisiatiewe minder skouspelagtig. Ek is ook nie bewus van enige nare voorgevoel of vrees by enigeen van my kollegas nie. Soos gesê, was die Engelse pers maar skepties. Vir hulle moes die “kwantumsprong” des te meer verbasend gewees het.

Trouens, vir die hele wêreld was dit toetentaal onverwags. Daarom die oorstelpte reaksie. Ek was in die omgewing toe president George Bush vir De Klerk uit die Withuis bel. Dit was maar een bewys van die internasionale impak. ’n Beter bewys as die Nobelprys kan daar seker ook nie wees nie.

Nou veel meer filosofies. Jy was in die koerantwese toe daardie medium ’n hoogtepunt bereik het. Vandag kwyn die gedrukte media en elke Jan en San Rap kan op YouTube, Facebook, TikTok en wat ook al hulle sienings plaas. Verder maak die kommentare op Facebook en elders ook dat ongebreidelde haat versprei kan word. Hoe sien jy die toekoms van die joernalistiek?

Die vinnige agteruitgang van die papierkoerant sedert die goue ’90’s was vir my ontnugterend. Veral die heengaan van die gedrukte weergawe van my seer geliefde Volksblad het my diep geruk. Anders as in die jare toe ek ’n ietwat oormoedige hoof van Naspers se koerante was, moet ek nou maar die knie buig en toegee: “Digitaal is oweral.” (Sinspeling op die ou Naspers-leuse: “Het dachet overal”.)

Vir my bly die gedrukte koerant saam met my oggendkoffie onontbeerlik. Die opkoms van digitale platforms soos Netwerk24 kan ek egter nie meer as ’n bedreiging sien soos weliswaar in ’n stadium toe ek nog desperaat aan papier wou vasklou nie; eerder as ’n bolwerk om die verbysterende vervlakking op al die informele sosiale media te probeer teenwerk.

Dit is ’n enorme taak. Ek hoop iewers is ’n verbeeldingryke meesterplan wat ek op die oomblik nie raaksien nie. Daardie uitdaging lyk egter vir my amper te oorweldigend. Ja, Netwerk24 cum suis sal steeds meer intekenare bly trek, steeds vinniger, omvattender en vernuftiger die nuus bring as op die oomblik. Aan die ander kant gaan die so toeganklike YouTubes, Facebooks, TikToks en nog wat vir Jan en San Rap, soos jy hulle noem, ’n al hoe gewilder bestemming word om ’n eie stem te laat hoor, beskaafde waardes uit te daag, liegstories en leuens die wêreld in te stuur, en in die algemeen die openbare diskoers te besoedel.

Ek hoop dat iemand my in my 81ste jaar kan oortuig dat die pendulum in my geval darem te buitensporig van optimisme tot pessimisme geswaai het.

**

Redaksionele notas

*Die Volksblad het inderdaad vir baie jare so bekendgestaan. Later is die Die laat vaar.

**Die Beeld was ’n Sondagkoerant. Later is die dagblad Beeld gebore.

Fotoinligting

Foto van FW de Klerk, Januarie 1992. (Kopiereg: World Economic Forum, Creative Commons Attribution-Share Alike 2.0 Generic license).

Hennie van Deventer se foto's is verskaf.

Lees ook:

Koerantkamerade deur Hennie van Deventer: ’n lesersindruk

Lees meer uit Hennie van Deventer se pen.

Hennie van Deventer se ATKV|LitNet-skrywersalbum

Meer oor FW de Klerk:

Reguit met Robinson: ’n Zoom-gesprek met Leon Wessels

FW se sjef: De Klerk het nou en dan van ’n ietsie soet gehou

FW de Klerk en die twee video’s

FW de Klerk, die mens

FW de Klerk vra vir oulaas verskoning vir die pyn van apartheid

FW hét ’n keuse gehad

’n Daad het geskied: FW de Klerk se nalatenskap

 FW – die einde van ’n era

  • 9

Kommentaar

  • Barend du Plessis

    Dankie Hennie, vir hierdie betekenisvolle onderhoud. Ek het dit terdeë geniet en bêre dit beslis in my lees-gou-weer rakkie. Behalwe dat dit soos altyd louter vreugde was om jou keurige Afrikaans te ervaar, is daar baie stof wat ek graag weer wil lees en in my gedagtes wil koppel aan my eie belewenisse van die dinge van daardie tye. Een beleefde opmerking. "Kwantumsprong" is 'n baie goeie beskrywing van FW se optrede vanaf daardie dag, maar dit is nie my skepping nie, dit is FW se eie woord. Hy het dit tydens sy aanvaardingstoespraak gebruik, na sy verkiesing as hoofleier van die Nasionale Party daardie dag in die Koukus. Hy het sy nuwe woord boonop treffend ge-illustreer deur sy twee hande bymekaar, vanaf sy bors, vorentoe, boontoe en dan weer ondertoe te strek, soos die roete van rugbybal tydens 'n suksesvolle doelskop pale toe. Dit was vir my 'n veelseggende en bemoedigende gebaar. Ek het hom daarna dikwels aangehaal en dan ook my verdere kommentaar daaroor bygevoeg, wat ek nie nou gaan herhaal nie. Vir my was sy woorde en sy lyftaal daardie dag 'n vaste onderneming vir die pad voorkant toe, wat hy toe inderdaad spoedig en doelgerig ten uitvoer gebring het.

  • Hennie van Deventer

    Hierdie reaksie is vir my kosbaarder as korale, om 'n Bybelse woord in 'n ander verband in te span. Dankie, Barend. Ek ag dit 'n eer dat jy reageer. Ek glo jou natuurlik. Die woord "kwantumsprong" sal egter in my eie herinneringe altyd 'n Barend du Plessis-etiket dra. By jou het ek dit die eerste keer gehoor.

  • pierre le Roux

    Hennie, die onderhoud is inderdaad boeiende leesstof. Ek hoop baie mense, en veral die negatiewes, gaan dit lees. Die negatiewe kritiek teenoor Mnr de Klerk is so jammer, want ons het mos nie 'n ander roete gehad om te volg nie. Ons "gewone" mense is jaloers op die blootstelling wat julle as koerantmense gehad het.

  • Hennie van Deventer,

    Baie dankie vir 'n baie interressante deel geskiedenis en persoonike ervarings wat jy hier met almal deel!

    Groete
    Piet Steyn

  • Ai, 'n gebeuelblasery en beeldpoetsery van die eerste water, nes FW gemaak het. Soos dit hier beskryf word, was omtrent die hele NP-kabinet Progge, behalwe PW. Max du Preez en Vrye Weekblad het waarskynlik meer gedoen om die ANC aan bewind te kry as die hele Perskor en kie. En al die Perskor- en NP Prog-verligtes met hulle blink beelde is vandag seker erg in hul skik oor die huidige situasie in SA en hoe goed die Afrikaner se regte beskerm is en word? Soos 'n trop skape wat almal agter die voorskaap aanhol. Spilt milk. Sela.

  • Hennie, ek lees jou mededelings met groot waardering en insig. Vir ons geslag is jou inligting van groot waarde. Vir die jonger geslag wat nie daardie tyd van oorgang beleef het nie, is dit bloot inligting sonder werklike betekenis. In wese was die verwikkelinge van die politieke oorgang vir sekere mense 'n wroeging en vir mense met politieke insig en begrip van demokrasie terugskouend 'n onontkombare realiteit en noodsaaklikheid. Die dae toe ons saam op skool was by Volkies was die latere verwikkelinge ondenkbaar. Vandag begryp ons hoe sommige Afrikaners wat die AB-belewing ervaar het deur diep denke en insigverwerking moes gaan om te begryp dat selfbeskikking ook medemenslikheid behels. Ek beskou jou terugskouing oor jou tyd van AB-betrokkenheid en redakteurskap van Volksblad as 'n proses van groei tot uitlewing van lewenswaarde wat jou bestem was om te verwerf deur middel van 'n toewyding aan jou taak soos jy dit deur jou groei as mens opgebou het

  • Die Engelse idioom is 'the proof of the pudding is in the eating.' Nou, na dekades van swart regering, voel die koerantmense nog hulle het die regte ding gedoen deur die pad vir 'n ANC regering skoon te skoffel? Die antwoord is heeltemaal afwesig in die onderhoud.

  • Hennie van Deventer

    Christo, die antwoord is natuurlik afwesig omdat die vraag nie gestel is nie. Die vraag is nie gestel nie omdat die antwoord seker voor die hand liggend is. Selfs met al die agternakennis en ondanks gebreke sou die keuse klaarblyklik steeds gewees het vir 'n kapitalistiese regstaat met 'n grondwet eerder as 'n totalitêre dikatuur wat die onvermydelike gevolg van 'n onvermydelike revolusie sou gewees het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top