Hennie van Deventer (1941–)

  • 1

Sêgoed van Hennie van Deventer

“Koerante is my lewe. Dit is my passie en liefde. Dit het vir my al baie vreugde en vervulling gebring.” (Volksblad, 3 April 2013)

In sy afskeidstoespraak op 19 Februarie 1998 het Hennie van Deventer gesê: "Wanneer 'n mens uitspan, rangskik jy onwillekeurig in jou gemoed die goeie wat jy wens meer was, en die slegte wat jy wens minder was. Wat laasgenoemde betref, kies ek die weg van die lafaard, met een enkele kollektiewe apologie, hetsy vir ongevoeligheid, onnadenkendheid, ongedurigheid of onreg wat gepleeg is.

“Om die redakteur van 'n dagblad te wees, is om in die voorste ry te sit terwyl eietydse geskiedenis dag vir dag op ’n reuse-skerm voor jou verbyrol. In die jare 80 het die tempo en intensiteit van daardie geskiedskrywing ongekende vlakke bereik! Met probleme, teleurstellings, foute en al was dit vir my ’n fassinerende era. Vir groter beroepsbevrediging sou ek ver moes gaan soek.

“Ek skryf nie omdat dit lonend is nie, maar oor die bevredigende gevoel, die lekker van skryf, en laat ek dit erken, die streling van die ego wanneer jy die finale produk in jou hand hou.”

Die bos is sy wegbreekplek. Waarom? “Klink dit of ek met ‘bos’ oor die kop geslaan is? Ek is lief vir die spreekwoordelike ‘bos’ waarin ek oud geword het, asook vir die regte bos met sy diere, bome, kampvuurtjies, sterre en stiltes. Dié is waarlik in my bloed. Daar skop ek skoene uit en lewe voluit.” (Sarie, 10 September 2009)

Was daar ’n joernalis wat ’n besondere rol in sy loopbaan gespeel het? “Die grotes het elkeen sy merk op Van Deventer gemaak. Maar die leerskool van die koerantwese is veel ruimer as ’n enkele mentor of twee. Van die kollegas wat ek as leermeesters die hoogste aanslaan, tel nie onder die ikone nie.” (Sarie, 10 September 2009)

Wat gee hierdie tipe skryf (soos (soos Byl in my bos) aan hom in vergelyking met sy skrywe as beroepsjoernalis?
“Die joernalis maak mense soms woedend. Dis onvermydelik. Ek mis nie daardie vurige kole op my hoof nie. Die ekstra vreugde van ’n boekie is dat jy hom op jou boekrak kan sit. Wat jy op die web pleeg, lei soms tot verrassende wisselwerking met totaal onbekendes. Dit verskaf my ook baie plesier.” (Sarie, 10 September 2009)

Gebore en getoë

Jakob Hendrik (Hennie) van Deventer is op 3 Januarie 1941 op Dundee in Noord-Natal (vandag KwaZulu-Natal) gebore. Hy gaan skool in Kimberley, Durban en Potchefstroom. Hennie se pa is jonk oorlede en sy ma, Maria, is weer getroud. Sy het twee seuns by haar tweede man gehad. Sy is op 1 November 1993 ná 'n groot maagoperasie in Pretoria oorlede.

Hennie slaag matriek in die eerste klas met onderskeidings in Afrikaans en Engels aan die Hoër Volkskool te Potchefstroom in 1957.

In sy matriekjaar was een van Hennie se voorgeskrewe werke The snow goose van Paul Gallico. Die eenvoud en egtheid van daardie klassieke oorlogslegende het hom geïnspireer. Hy vertel aan Beeld(12 November 2001): “’n Gedig oor die eensame boggelrug Philip Rhayader, sy geliefde Fritha en dié manjifieke voël was een resultaat. In die eindeksamen kon ek my gedig neerpen in antwoord op die  vraag: ‘Tell the story of The snow goose in your own words.’ Dit het seker goeie punte beteken. ’n Tweede resultaat is tot vandag van waarde. Ek is vasgegryp deur die lewensles dat die edelste kuns in onopgesmuktheid skuil. Dit is nou nog ’n goue reël vir my eie ander skryfwerk.

“Saam met Snow goose het DJ Opperman se Afrikaanse bloemlesings in my lewe gekom. Daarmee: respek vir ’n raak woord wat tintel van forse sêkrag; ’n weersin in pretensieuse taaltierlantyntjies. Ek kan nie sien dat iemand wat nie poësie liefhet, treffende koerantopskrifte kan skryf nie.”

Verdere studie en werk

Hennie se lewe is onlosmaaklik aan die Nasionale Pers verbind nadat hy in 1957 as ’n jong Wes-Transvaalse seun ’n Volksblad-beurs vir voornemende joernaliste gekry het. Hy is na die Universiteit van Pretoria waar hy in 1960 sy BA-graad behaal. Hy slaag ook LLB 1.

As student aan die Universiteit van Pretoria was Hennie redakteur van die studentekoerant Die Perdeby en huisvoorsitter van Kollege-tehuis. In 1961 het hy sy Dux-kleure verwerf en in 1988 Laureatus-kleure van die Bond van Oudstudente van die UP.

As studentewerker het hy aan die einde van 1961 waargeneem as Goudveldse verteenwoordiger van Die Volksblad – die 20-jarige moes aan die diep kant leer swem. Begin 1963 het hy in Bloemfontein ingeval en uit die staanspoor net beroepsvreugde ervaar. Die koerant was dadelik in sy bloed.

Hy vertel verder (aan Naln): “As Parlementêre verslaggewer in 1964 en 1965 (ongelukkig net twee jaar) het ek die Verwoerd-era as 't ware in die voorste ry beleef. As jong hoofsubredakteur (’n pos wat te gou gekom het), moes ek die moord op dr HF Verwoerd op 6 September 1966 hanteer. ’n Groter nuusstorie het nie in my dae oor my lessenaar gekom nie.

“As nuusredakteur (Die Volksblad en Beeld) kon ek my amper ’n dekade lank as joernalis ten volle uitleef en bestuursvaardighede begin slyp. Beeld se stigtingsjare was veeleisend maar vrugbaar. Die joernalistieke omgewing was dinamies, energiek en opwindend. Die leermeesters was van die deurwinterdste koerantmense van hul tyd. Die Beeld-tyd het vir my nuwe vergesigte geopen. Met my terugkeer na Bloemfontein in 1980 het ek eers ten volle besef wat dit vir my beteken het, en wat kollegas ontbeer het wat nooit aan sulke verrykende ervarings blootgestel was nie.”

Hennie was in sy vroeëre loopbaan onder meer die eerste nuusredakteur, ’n assistentredakteur en die senior assistentredakteur van Beeld. In 1980, op 39-jarige ouderdom, is hy aangestel as die redakteur van Die Volksblad in Bloemfontein, ’n posisie wat hy twaalf jaar lank beklee het.

Nadat hy weg is by Volksblad is die Hennie van Deventer-trofee daargestel. Dié trofee simboliseer opperste toewyding aan die joernalis se eie werk, die werk van sy of haar afdeling en elke eindproduk. Dit word toegeken aan ’n joernalis met ondernemingsgees, dryfkrag, skeppingsvermoë, leierskap, volharding, kundigheid, geesdrif en goeie oordeel.

In April 1992 is hy aangestel as uitvoerende hoof: koerante van die Nasionale Pers Beperk. Hy het hierdie posisie beklee tot einde Februarie 1998 toe hy op Melkbosstrand aan die Kaapse weskus afgetree het.

Gedurende sy loopbaan was Hennie van Deventer lid van die raad van die Universiteit van die Vrystaat, die uitvoerende raad van die Nuusblad-Persunie, die Mediaraad, die Internasionale Federasie van Koerantuitgewers (FIEJ), die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Afrikaner-Broederbond en die FAK.

Hennie het in 1976/1977 die Nieman Fellowship vir ’n jaar se studie aan Harvard Universiteit in die VSA verwerf en was voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Nieman Fellows. Oor hierdie ondervinding vertel Hennie aan Beeld dat die jaarboek van daardie “hoog gerekende, tradisieryke rooibaksteen-universiteit in Cambridge, Massachusetts”, verbluffend was. Dit het nie alleen as ’n letterkundige werk of ’n hoë stuk filosofie ’n invloed op sy lewe vorentoe gehad nie, maar het ook van die grootste Amerikaanse leermeesters van hul tyd, soos Karl W Deutsch, William R Huntington, Daniel P Moynihan en andere aan Hennie bekendgestel. Ook het dit hom tot die soeke na uitmuntendheid in elke opsig gelei.

“’n Geraamde tekenprentjie hang in my studeerkamer: twee engele, een met ’n harp, een met ’n basuin, by die hemelpoort. Die een sê vir die ander: ‘Confidentially, I’d rather spend eternity as a Nieman Fellow.’ Inderdaad was die Nieman-jaar ’n stukkie ewigheid. Die 722 bladsye van die jaarboek was padpredikante op dié onvergeetlike ontdekkingsreis,” vertel hy aan Naln.

Hy was lid van die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond, die raad van die destydse Technikon Vrystaat, asook van die Raad van die Bond van Oudstudente van die Universiteit van Pretoria. Hy was ook voorsitter van die Vrystaatse tak van hierdie Bond.

In die 1980’s was Hennie die stigter van die bekende Bloemfonteinse Kunsmark terwyl hy redakteur van Volksblad was, en in 1988 het hy ’n sertifikaat van erkenning van die Bloemfonteinse Stadsraad ontvang vir die waarde vir Bloemfontein van die kunsmark. Hy  het in 1989 ’n eremedalje vir gemeenskapsbetrokkenheid van die Bloemfonteinse Publisiteitsvereniging ontvang.

Hy was ook stigterslid van die Afrikaanse Studente-Persunie en ’n inisieerder van die skolekoerantkompetisie van die Junior Rapportryers en lank ’n beoordelaar in die ASB se jaarlikse wedstryd vir studentekoerante.. Hy was ook sedert 1993 ’n beoordelaar in die Frewin-kompetisie vir dagblaaie.

Onder Hennie se bekwame redakteurskap het Volksblad in 1988 ’n outentieke  miniatuur-ossewa van die FAK ontvang vir die volledigste, mees verbeeldingryke en mees feitelike beriggewing in Suid-Afrika oor die herdenking van die Groot Trek. Volksblad het ook in 1987 die Administrateurstrofee ontvang as die private instansie wat die meeste gedoen het om verhoudinge te bevorder. Hy was die eerste Afrikaanse redakteur van ’n koerant wat in die ou Sowjetunie besoek afgelê het.

In 1997 het Hennie in ’n persoonlike voorlegging aan die Waarheid-en-Versoeningskommissie (WVK) gesê dat hy tydens sy jare as redakteur van Volksblad soms vir sy veiligheid en dié van sy familie gevrees het. (http://www.justice.gov.za/trc/media/1997/9707/s970703a.htm)  Hy het hervorming en versoening bepleit in toesprake, berigte en artikels in die koerant. Dit het ’n algemene reaksie van woede, verwerping en openlike vyandskap van veral regse Afrikaners uitgelok.

Sy voorlegging was nie ’n inisiatief van die Nasionale Pers nie, maar ’n herinnering aan sy eie loopbaan as redakteur om nuwe lig te werp op die wanopvatting dat die Afrikaanse koerante die Nasionale Party “slaafs geëggo” het. In ’n voorlegging aan die WVK is die Afrikaanse koerante voorgehou as vegters vir die behoud van voorregte vir die blankes.

Hierop het Hennie geantwoord dat die sleutelrol wat die pers gespeel het as stryders vir politieke verandering in die Afrikaans-nasionale gemeenskap, geïgnoreer word. Volksblad het nie gehuiwer om ’n atmosfeer te skep vir die vrylating van Nelson Mandela nie. “Die eerste hoofartikel daaroor is op 7 Augustus 1987 gepubliseer, amper ’n jaar voor die hoofartikel van Willem Wepener in Beeld wat so baie reperkussies gehad het. Toe PW Botha, destydse staatspresident, openlik die hervormings van sy opvolger FW de Klerk teengestaan het, het Volksblad PW Botha in ’n ope brief op die voorblad gekonfronteer. Dit het gelei tot ’n bitter botsing en ’n permanent breuk in die lang en hartlike verhouding wat tussen Volksblad en PW Botha geheers het.”

Kort voor Hennie se aftrede het Naspers sy hoogste eerbewys, die Phil Weber-medalje, vir 1997 aan hom  toegeken vir “die nalatenskap wat hy in elke fase van sy loopbaan van 35 jaar gelos het”. So is dit in die commendatio gestel.

In 1997 is Hennie van Deventer, op daardie tydstip uitvoerende hoof van Nasionale Koerante, deur die Bond van Oud-Volkies (oudskoliere van die Hoër Volkskool) met 'n erepenning vereer. Die bond gee met die penning erkenning aan Oud-Volkies wat op een of meer terreine op nasionale en/of internasionale vlak gepresteer het. Die toekenning is in 1997 vir die eerste keer gedoen met die herdenking van die skool se 75ste bestaansjaar. Dit sal in die toekoms elke vyf jaar gedoen word. Hennie van Deventer het in 1957 aan die Hoër Volkskool op Potchefstroom gematrikuleer.

Hennie het ook die gesogte toekenning van volle genoot van Drukmedia SA ontvang. Ander ontvangers van dié besonderse toekenning was Ton Vosloo, Jane Raphaely, Dennis Beckett en Hugo Redelinghuys.

Hy het later sy eie boeke begin uitgee onder die druknaam Tarlehoet. Dit was die naam van die huis in Dan Pienaar, Bloemfontein, waar Hennie van Deventer en sy gesin 12 jaar lank gelukkig gewoon het. Hy het in ’n onderhoud met Ons Stad vertel hoe die vreemde naam Tarlehoet ’n rol in sy lewe begin speel het. Toe hy in 1980 as redakteur na Bloemfontein gekom het, het hy die huis in Genl Van Schoorstraat, Dan Pienaar, by mnr Bontie Bonthuys, bekende Bloemfonteinse letterskilder, gekoop.

Bonthuys, ’n Noordwester, het die huis Tarlehoet genoem na ’n Boesman-karaktertjie in een van Elisabeth Vermeulen se verhale uit die Noordweste. Daar is ook ’n tekening van die Boesmantjie op ’n glas-voordeurpaneel. Bonthuys wou die naam verwyder. Van Deventer het gevoel dit moet bly, dit is deel van die huis.

Later het Tarlehoet vir hom en sy vrou, Tokkie, nie meer ’n wildvreemde Boesmantjie beteken nie, maar: “Die huis waar ons lank en gelukkig gewoon het,” vertel hy aan Naln

Toe hy besluit om ’n boek te skryf oor sy lang en gelukkige loopbaan in die Afrikaanse koerantwese, en dit self uit te gee, het hy dadelik geweet wat die naam van die uitgewer moet wees nie: Tarlehoet! Dit is ook die naam van 'n Bosveld-plekkie waarna hy baie gek is!

Hennie is getroud met Tokkie van Wyk van Bultfontein in die Vrystaat en die egpaar het twee kinders, Johan en Marisa.

In 1993 verskyn Hennie se eerste boek, Scoops en skandes, by Tafelberg Uitgewers. Dit is gebore uit ’n reeks radiopraatjies oor “Humor in die pers”.

Hierin deel hy sy wye ervaring as koerantman met sy leser en vir Philip de Bruin (Beeld, 31 Julie 1993) is dit ’n juweel van ’n boek wat ’n mens wéér en wéér gaan lees, bloot vir die plesier daarvan. “Die leser beleef die ellendes, die vreugdes, hoogte- en laagtepunte van die joernalistiek. Almal wat Hennie van Deventer ken, weet dat hy ’n skerp brein, ’n vinnige oog en oor vir ’n grap het en ’n unieke humorsin. Hierdie eienskappe blom behoorlik in Scoops en skandes.”

Vir MCE van Schoor (Volksblad, 26 Julie 1993) het dit, nadat hy Scoops en skandes gelees het, weer getref dat daar heelwat in Afrikaans is wat nie vertaal kan word nie, veral die sinspelings. Van Deventer se pittige kommentaar verleen aan die vertellinge net daardie humoristiese inslag wat nodig is. Die gebruik van enkele spotprente en veral die karikature van bekende figure is ook baie treffend.

“Die lekker van Scoops en skandes is dat die humor nie geskied net ten koste van diegene oor wie daar geskryf word nie, maar daar word ook net soveel humor aan die debietkant van die pennehanteerder aan ons opgedis. Die bundel is ook ryk aan ’n magdom uitsprake van hoogsbegaafde koerantredakteurs en joernaliste oor die wêreld heen wat al klassiek geword het vanweë hulle dodelike politieke en sosiale kommentaar. Die werk is egter ook ryk aan die omgekeerde, naamlik kommentaar oor die gewaande wysheid van koerantmanne uit die monde van groot staatsmanne en politici,” skryf Van Schoor. Van Schoor beskou Scoops en skandes as ’n “prettige boek om in ons bedrukte tye prettige uurtjies deur te bring”.

Met Flaters en kraters, wat in 1996 by Tafelberg verskyn, deel Hennie koerantmense se lief en leed met sy lesers. Hennie verwys na “(S)inisme, sarkasme, galgehumor of sommer net ’n manier om met woorde te speel en ’n ding só vars en fris soos ’n skoon hemp te sê. Goeie joernaliste het dit,” aan Jan Morgenrood (Volksblad, 24 September 1996).

Hy het sedert die jare sestig vertaalflaters, snaakse berigte en allerlei humoristiese verhale in ’n lessenaarlaai geliasseer. Die idee het aanvanklik in Volksblad se subkantoor begin waar die subredakteurs snaaksighede in ’n boekie, Leer uit die lag, aangeteken het.

“Kort nadat ek in 1992 uit Rusland teruggekeer het, het mnr Morné Pretorius van die destydse SAUK my genader om ’n reeks praatjies, Humor in die pers, vir die SAUK saam te stel en te lewer,” het Hennie aan Jan Morgenrood (Volksblad, 24 September 1996) vertel.

Scoops en skandes is uit daardie reeks gebore, maar nog voordat Hennie aan Flaters en kraters begin werk het, het Charles Fryer van Tafelberg reeds met die titel vir die tweede boek gekom. “Ek het doelbewus verhale bymekaar begin maak vir Flaters en kraters en moes later heelwat van dié verhale weer liasseer omdat die boek net te dik sou wees. Humor is deel van joernalistiek, en ek selde ’n joernalis, hoe ernstig ook al, teengekom wat nie ’n sin vir humor het nie,” aan Morgenrood.

Maar uit Flaters en kraters blyk dit dat ander deugde net so nodig is vir koerantredakteurs, skryf HP van Coller in Volksblad(29 Julie 1996). “Hulle het ook nederigheid nodig, want “nes valskermspringers en maagde” kan hulle kwalik foute bekostig. Flaters en kraters is ’n heerlike, gevarieerde versameling anekdotes, meestal met ’n humoristiese inslag. As geheel is ’n illustrasie van belangrike funksies van die koerant, soos om nuusverskaffer en brenger van inligting en feite te wees, maar om ook deur humor foute te ontbloot en opgeblaasde ego’s met venynige steke te prik. Daaraan doen Van Deventer skalks mee.

“Die boek het meer om die lyf as wat met die eerste oogopslag blyk, want in die kleine is dit, naas ’n ode aan die humor óók ’n geskiedenis van die perswese en die gedurige verskuiwing van taboes op sovele terreine. Maar in die eerste plek is dit ’n lekker leesboek om gereeld van te geniet.”

Enkele flaters en kraters uit die boek:

  • Volksblad: “Moedertjie Rusland wil wydsbeen oor die horing van Afrika staan.”
  • <’n Gesiene sakeman was huiwerig om vir die bruin vissmous te sê dat hy hotnotsvis soek. Dié antwoord toe pront: “My brie, jy kan maar hotnotsvis sê. Ons noem lankal die rubbish wat julle eet, boerewors!”
  • <’n Bedeesde en heel konserwatiewe redaksielid van Volksblad het haar getroue leseresse verbaas en geskok met die volgende raad  vir deelnemers aan ’n ontwerpwedstryd vir trourokke: Hou by die A-lyn, was haar advies. Vermy regaf lyne – dit laat jou soos ’n doos lyk!
  • <Die Burger het by ’n foto verwys na die weduwee van oudpresident Marais Viljoen. Hy bel en sê: “Dit lyk my julle wil my dood hê.” Die Burger plaas toe ’n korreksie: “Ons het verwys na die weduwee van oudpresident Marais Viljoen. Hy is nog springlewendig en gesond. Die Burger is jammer daaroor.”

Ná die publikasie van Flaters en kraters het Hennie besluit om die inkomste daaruit as ’n 50ste verjaardaggeskenk aan sy vrou Tokkie te gee.

As ’n gereelde reisiger het Hennie van Deventer sy reisondervindings ook te boek gestel onder die titel Oos, wes – reismoles! (Human & Rousseau, 1998). Die stories word teen ’n hoë tempo vertel en bied ’n soort ensiklopedie van ellendige ervaringe wat hy tydens sy reise ondervind  het.

Met Kroniek van ’n koerantman: ’n persoonlike perspektief op die jare na 80 (1998) wyk Hennie van Deventer ‘n bietjie af van sy vorige drie boeke. Hierin trek hy die skerms oop op sy twaalf jaar as redakteur van Volksblad en daarna sy ses jaar as hoof van Naspers se koerante en gee hy jou ’n blik op wat hy “die Afrikaner-binnekamer” noem, skryf At van Wyk (Beeld, 14 Desember 1998)

Die skrywer voer aan dat hy as redakteur Afrikaners help ryp maak het vir hervorming. At van Wyk (Beeld, 14 Desember 1998) meen dat die Afrikaanse pers (regses uitgesluit) inderdaad ’n hervormingsgesindheid in die kleine help kweek het, maar dat Van Deventer dalk sy en sy koerant se bydrae oorskat het, want in verkiesingstyd is ’n Naspers-koerant alte veel ’n politieke joolblad.

Ook Van Deventer se pleidooi ter regverdiging van Naspers se weiering om ’n voorlegging aan die WVK te doen, bring jou nie ’n duim verby die storm van 1997 hieroor nie, meen Van Wyk. Die boek vat jou vinnig en lekker deur die hervormingsproses, maar die leser moet ’n sterk leesbril opsit en onthou dat alles relatief is. Toe Mandela einde 1989 nog in die tronk sit, het Sam Nujoma reeds sy land se eerste onafhanklikheidsverkiesing gewen en het Dirk Mudge en ander saam met Swapo saamgewerk aan die opstel van ’n grondwet. Om dit te onthou, help die leser om perspektief te kry, want hiervan lees hy niks nie, skryf Van Wyk.

In sy resensie van Kroniek van ’n koerantman (Insig, Februarie 1999) skryf Tobie Wiese dat elkeen van die 196 bladsye van die boek getuig van die skrywer se intieme bande met die Nasionale Party en sy leiers en gebeur dit dan dat die grens tussen koerantman en partyman obskuur raak. “Hy betwyfel egter nie die feit dat Van Deventer ’n hoogs leesbare boek geskryf het oor die laaste 18 jaar van sy loopbaan in die Afrikaanse joernalistiek nie. Hy kán lekker skryf en hy hét talle stories om te vertel. En hy het veel om op te roem, hoewel medevaderskap van die demokrasie (soos wat hy in sy voorwoord en in die boek beweer),bietjie ambisieus is.”

In Rapport (28 Maart 1999) skryf Barnard Beukman dat Van Deventer nooit doekies omdraai nie. “Kroniek van ’n koerantman bied nie net insig in sy ervaring as koerantman en sy belewenis van jare se politieke intrige en interaksie met rolspelers uit die ou en die nuwe bedeling nie, maar bied tog weer ’n herinnering aan diegene wat dink die land draai net om ’n noord-suid-as – dat daar ander plekke soos onder andere ook die Vrystaat is – wat dieselfde storm en drang beleef het. En, wat van Deventer probeer te kenne gee, ook ’n belangrike invloed gehad het op wat gebeur het.”

Alle lesers gaan, volgens Beukman, nie met alles in die boek saamstem nie, maar tog is die laaste deel van die boek selfs boeiend, en belangrik sonder enige pretensie om iets voor te gee wat nie was nie.

Vroeg in 1998 het die oudkoerantman Hennie en sy vrou, Tokkie, in ’n ietwat ongewone vakansiehuis ingetrek. Nie ’n huisie by die see waarna almal volgens die singende Koos Kombuis smag nie, maar ’n ruim huis langs die Sabierivier. Met die Krugerwildtuin as “buurman” is dit geen verrassing nie dat Buurman van die Wildtuin (2004) vol interessante en vermaaklike staaltjies is oor die mense en diere wat daar saam woon.

Jeanne Hugo (Die Burger, 5 Februarie 2005) meen dat ons eerlik moet wees: “Die deursneewildtuinbesoeker het maar ’n paar gemiddelde stories oor sy ervarings te vertel – hier ’n leeu of vier sien stap, daar benoud weggery wanneer ’n olifant aggressief sy ore begin flap. In vergelyking met die stories wat ’n man vertel wat eintlik reg in die wildtuin woon, moet die res van ons maar stilbly. Reeds met die intrapslag in hul huis, Tarlehoet, begin die kennismaking met die omgewing se eintlike inwoners. ’n Luiperd staan houtgerus en kyk wat die nuwe inwoners met die huis aanvang, en verskeie viervoetiges staan kort-kort nuuskierig nader om kennis te maak.

“Die storie oor die nagapies is my persoonlike gunsteling. Geen mens kan sulke pragtige bondeltjies dier weerstaan nie, en die foto’s wat die verhaal illustreer, is genoeg om my te oortuig: Ek wil ook ’n huis langs die wildtuin hê!”

Die staaltjies in Buurman is beide hartseer en grillerig. Die leeus maak op ’n gereelde grondslag amok en eet lustig aan die mak wild en Hennie en Tokkie met ook hul huis deel met skerpioene en spinnekoppe. Die feit dat al die ongewone dinge nooit die skrywer verveel of blasé laat word nie, dra daartoe by dat Buurman van die Wildtuin baie leesbaar is en dat wildtuin- en diereliefhebbers dit baie sal geniet om te lees.

Oor Buurman van die Wildtuin skryf Hannes Drotskie (Beeld, 15 Maart 2004) dat hierdie boek wat vertel van interessante diere en hul maniere en van gebeure en omstandighede in die veld deur ’n groot natuurliefhebber vertel word, en dat hy dit iets heel anders maak.  “In sy besondere skryfstyl beskryf Van Deventer die belewenisse en boswedervarings van mense  wat in die bosveld uitspan en ontspan om die natuur voluit te geniet. Buurman laat jou die bosveld beleef en nooi jou soontoe sonder om dit in soveel woorde te doen.”

Hennie van Deventer gee in 2005 Mayafudi uit en hierin skryf hy met gesag oor die Krugerwildtuin en alles wat daarin is, maar veral oor die olifante. Mayafudi is, behalwe die titel van die boek, ook die naam van ’n olifant. Vir Cecile Cilliers (Volksblad, 5 September 2005) vertel Hennie van Deventer maklik sonder moeite. “Sy beskrywings van die veld, van vuur en droogte, watervloed en somerweelde getuig van fyn waarneming, en soos ’n kralesnoer ryg hy digterlik die name van die bome in.”

Maar vir Cilliers steur sy aanslag en benadering tot die verhaal van Mayafudi. “Terwyl sy diere in die bos onder reële omstandighede lewe, vuur en droogtes en wildstropery deurmaak, reageer hulle soos mense, word daar menslike eienskappe, kennis en emosies aan hulle toegedig. En hierdie aanname dat diere soos mense dink en reageer, laat die verhaal van Mayafudi ongelukkig tussen twee stoele val. Dit is nóg ’n verbeeldingryke kinderverhaal nóg ’n realistiese bosverhaal. Dit tref nêrens nie, maar die skrywer se olifantfoto’s is baie mooi.”

In Die Burger (1 Desember 2005) skryf Mariana Loots dat Mayafudi ’n uitstekende mengsel van feite en fiksie is en spreek van deeglike navorsing en die skrywer se passie vir die saak is onmiskenbaar. “Maar tog kom die verhaal nie tot sy volle reg nie. Die poëtiese taalgebruik korrespondeer selde met die inhoud en die vertelperspektief is onduidelik. Dit is vanuit Mayafudi se perspektief, maar die skrywer se sentimente oorheers telkens. Van Deventer gebruik verder die ‘vertel’-tegniek eerder as om die leser te ‘wys’ wat gebeur. Sodoende bereik aangrypende momente nooit hulle volle potensiaal nie. Te veel feitelike inligting wat ondoeltreffend in die teks geïnkorporeer is, kelder die vloei van die verhaal. Die pragtige foto’s vergoed egter daarvoor.”

In 2009 publiseer Hennie Byl in my bos (weer by sy eie uitgewery, Tarlehoet). Op pad na sy 70ste verjaardag en as voorlopige verjaardagpresent aan homself het hy elke oopte in die bos met ’n grafskrif ingeklee. Dit word ’n omvattende in memoriam, van mense wat eens tuiniers was tot mense wat presidente was.

Hy vertel aan Phyllis Green van Sarie (10 September 2009) waar die boek vandaan gekom het. Phyllis Green het hom meer gevra oor sy bos se bome.

Hoe het hy die titel vir die boek gekies? “Ons ouer garde beleef intens hoe kwaai ‘in ons bos gekap’ word. Die ‘byl’ bied ten minste ’n elegante idioom vir daardie (doodnatuurlike) werklikheid teenoor onelegante idiome soos ‘bokveld toe’. Die formaat van die boek is eintlik ‘n ontsnaproete. ‘Byl’ is my huldeblyk aan tydgenote van verskillende generasies – van die gedugstes tot doodgewones. Die stapel materiaal was oorweldigend. Ek moes uitdun sonder om verskeidenheid in te boet. Toe kry ek die idee om die ‘Byl’ in te span.”

Oor watter ingesluit is, sê Hennie aan Green dat dit ’n spontane seleksie was. Party mense en hul stories het hulle eenvoudig self na vore gedring. Skitterende kandidate het ongelukkig deur sy sif geval.

Martie Retief Meiring (Die Burger, 22 Februarie 2010) het oor Byl in my bos geskryf dat Van Deventer weet hoe om die galery van mense wat deur sy leeftyd ’n invloed op hom gehad het, vernuftig staanplek in sy eie herinneringe te gee. Dit is vir Meiring jammer dat sommige van die vertellings nie volledig genoeg is nie. Al het Van Deventer in sy inleiding gemeld dat die boek “anekdoties is en nie ewewigtigheid en volledigheid streef” nie, het hy tog in sy lewe met baie bekende mense kennis gemaak en dit sou interessant om meer oor hulle te wete te gekom het.

Nog voor die leser kan stuit teen herinneringe wat net ’n fraksie te yl is of ander wat doodgewoon of oninteressant is, verweer die skrywer homself in sy inleiding dat die boek anekdoties is en dat nêrens na ewewigtigheid en volledigheid gestreef word nie. Sy voel dat dit dalk nie ’n belangrike bydrae is tot die herinnering aan soms baie bekende mense nie, maar dit is oorwegend leesbaar en gesellig.

Publikasies

Publikasie

Scoops en skandes

Publikasiedatum

1993

ISBN

0624031993 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Anekdotes

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Flaters en kraters

Publikasiedatum

1996

ISBN

0624034755 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Anekdotes

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Oos wes – reismoles!

Publikasiedatum

1998

ISBN

0798138149 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Reissketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kroniek van ’n koerantman: ’n persoonlike perspektief op die jare na 80

Publikasiedatum

1998

ISBN

0620233338 (sb)

Uitgewer

Welgemoed: Tarlehoet

Literêre vorm

Persoonlike herinneringe

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Vriend vir altyd: honderde hondestories

Publikasiedatum

2000

ISBN

0798141042 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Halfpad hemel toe

Publikasiedatum

2001

ISBN

0620 (sb)

Uitgewer

Melkbosstrand: Tarlehoet

Literêre vorm

Reisherinneringe

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

In kamera

Publikasiedatum

2003

ISBN

1869190394 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Outobiografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Polisie, polisie, ons reënboog is geroof: Oneerbiedige versies oor politiek tot rumatiek

Publikasiedatum

2003

ISBN

062030183X (sb)

Uitgewer

Melkbosstrand: Tarlehoet

Literêre vorm

Humoristiese verse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Buurman van die Wildtuin

Publikasiedatum

2004

ISBN

0620327332 (sb)

Uitgewer

Melkbosstrand: Tarlehoet

Literêre vorm

Wildtuinsketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Mayafudi

Publikasiedatum

2005

ISBN

0620338083 (sb)

Uitgewer

Melkbosstrand: Tarlehoet

Literêre vorm

Diereverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Sabiepark: ons foto-album

Publikasiedatum

2006

ISBN

0620 (sb)

Uitgewer

Melkbosstrand: Tarlehoet

Literêre vorm

Herinneringsliteratuur

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Mayafudi: memories of an elephant

Publikasiedatum

2007

ISBN

0620 (sb)

Uitgewer

Melkbosstrand: Tarlehoet

Literêre vorm

Diereverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Olifante onbeperk

Publikasiedatum

2007

ISBN

0620 (sb)

Uitgewer

Melkbosstrand: Tarlehoet

Literêre vorm

Diereverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Byl in my bos

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780620436533 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Griffel Media en Tarlehoet

Literêre vorm

Herinneringsliteratuur

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Praat-praat in Tamatiestraat: Humor met Hennie van Deventer

Publikasiedatum

2011

ISBN

9781920424053 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Griffel Media

Literêre vorm

Reissketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Duisend dae langs die Sabie: bosherinneringe

Publikasiedatum

2011

ISBN

0620 (sb)

Uitgewer

Melbosstrand: Tarlehoet

Literêre vorm

Herinneringsliteratuur

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lewensgroot en groter

Publikasiedatum

2012

ISBN

0620 (sb)

Uitgewer

Melbosstrand: Tarlehoet

Literêre vorm

Outobiografiese herinneringe

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Spore in die bos: swerftog van ’n olifant

Publikasiedatum

2012

ISBN

e-boek

Uitgewer

Kindle

Literêre vorm

Diereverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

Artikels oor Hennie van Deventer beskikbaar op die internet:

Artikels deur Hennie van Deventer beskikbaar op die internet:

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2014-05-10
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Robert Crowther

    Hennie kombineer vir my begaafdheid met pragtige persoonlike eienskappe.  Hy is nie net goed in wat hy doen nie - hy is ook pleinweg 'n mooi mens!  

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top