FW se sjef: De Klerk het nou en dan van ’n ietsie soet gehou

  • 1

Foto: François Ferreira (François Ferreira Academy)

...
Daar was dae wat hy vir my gevra het om net vir hom rys en maalvleis te maak, want veral na internasionale besoeke was hy uitgeëet aan formele kos.
...

My eerste ontmoeting met mnr FW en mev Marike de Klerk was op die vooraand van die onafhanklikheid van Namibië. Hul was aan huis by die voormalige administrateur-generaal van SWA/Namibië, adv en mev Louis Pienaar.

Na ontbyt het hul my gevra om hul in hul suite te kom sien. Hulle was baie beïndruk met my croissants wat ek vir ontbyt gebak het, en het gevra of ek by my terugkeer na Suid-Afrika deel van hul huishouding wil word.

Ek het die pos aanvaar en in Kaapstad eers by Westbrooke (nou Genadendal) en later by Groote Schuur deel van die presidensiële huishouding geword.

Baie mense is onder die wanindruk dat die President en sy gade altyd haute cuisine geniet, maar ek het die teendeel ervaar. Ek het gou agtergekom ghrênd kos is vir besoekers en formele onthale; hul elke-dag-kos was verbasend onopgesmuk.

Die Engelse het ’n goeie woord, “frugal” – dit beskryf die alledaagse eetstyl van die presidentspaar. Beide was baie gesondheidsbewus en het baie gesonde kos geniet.

Mnr De Klerk het nou en dan van ’n ietsie soet gehou, miskien ’n lekker koekie of sjokolade. Dit was soms vir my moeilik om kos voor te berei, want ek moes sonder uie, knoffel, groenpeper en sterk speserye kook. Dit is nogal verstaanbaar, want die President kon nie ’n knoffelasem hê wanneer hy diplomate en ander gaste ontmoet nie.

Mnr De Klerk was lief om te jag, so ons het baie wildsvleis in die huis gehad – biltong, droëwors, en verskeie wildsnitte. Hy het nogal van my wildsosaties vir ’n braai gehou. Wanneer ons by Lekkerwater was, en hy ’n bietjie gaan visvang het, was die vars vis op die kole of in die oond altyd ’n voorkeur.

Daar was dae wat hy vir my gevra het om net vir hom rys en maalvleis te maak, want veral na internasionale besoeke was hy uitgeëet aan formele kos. Daar moes altyd varsvrugte byderhand wees ingeval hy iets op ’n drafstap wou eet.

Dit was vir my ’n eer en ’n voorreg om deel van die presidensiële huishouding gedurende die oorgangstydperk in Suid-Afrika te wees. Mnr De Klerk het ’n groot invloed op my gehad, veral as bestuurder. Raad wat hy destyds vir my gegee het, pas ek elke dag by my skool toe. Sy humorsin kon enige situasie ontlont en met ’n kwinkslag of twee het hy almal laat ontspan, en dus wou almal altyd hul beste vir hom en sy familie lewer.

Lees ook:

FW de Klerk en die twee video’s

FW de Klerk, die mens

FW de Klerk vra vir oulaas verskoning vir die pyn van apartheid

FW hét ’n keuse gehad

’n Daad het geskied: FW de Klerk se nalatenskap

 FW – die einde van ’n era

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top