Suid-Afrika se laaste wit staatspresident onder apartheid, FW de Klerk, het in sy heel laaste boodskap aan die mense van Suid-Afrika opnuut onvoorwaardelik verskoning gevra vir die pyn wat apartheid veroorsaak het.
In ’n boodskap wat kort voor sy dood opgeneem is, sê De Klerk hy wil in sy laaste boodskap aan Suid-Afrikaners herhaal dat hy sonder enige kwalifikasie jammer sê vir die skade wat apartheid aan swart, bruin en Indiër-Suid-Afrikaners aangerig het.
De Klerk se boodskap is kort na sy afsterwe deur die FW de Klerk-stigting op hulle webwerf geplaas. Daarin sê De Klerk hy doen dit nie net as voormalige staatspresident nie, maar ook as individu.
In dieselfde boodskap doen hy ook ’n ernstige beroep op die land se mense om die Grondwet te beskerm en in stand te hou.
De Klerk is Donderdag in die ouderdom van 85 jaar by sy huis in Fresnaye, ’n voorstad van Kaapstad, oorlede nadat hy vroeër met kanker gediagnoseer is.
Hy het die wêreld op 2 Februarie 1990 verras toe hy die ANC en verskeie ander verbode organisasies ontban het tydens ’n toespraak in die parlement. Hy het terselfdertyd aangekondig dat Nelson Mandela onvoorwaardelik vrygelaat gaan word.
Dit was die begin van ingrypende hervormings na ’n onderhandelde oorgang van apartheid na ’n grondwetlike demokrasie. Die hervormings het die ontbanning van die African National Congress (ANC), die Pan Africanist Congress (PAC), die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) en ander anti-apartheidsorganisasies, en die vrylating van politieke gevangenes – insluitend Nelson Mandela – ingesluit.
De Klerk en Mandela is in 1993 gesamentlik met die Nobel-vredesprys vereer vir hulle aandeel in die vreedsame beëindiging van apartheid.
In April 1994 is die eerste veelrassige verkiesing gehou waartydens alle Suid-Afrikaners vir die eerste keer op dieselfde kieserslys kon stem. De Klerk het vir twee jaar as mede- uitvoerende adjunkpresident in Mandela se regering gedien, maar onttrek hom in Junie 1996 aan die regering van nasionale eenheid omdat sy rol volgens hom uitgespeel was.
De Klerk was lid van ’n prominente Afrikanerfamilie wat apartheid heftig verdedig het. Tydens sy politieke loopbaan het hy bekend gestaan as ’n gematigde konserwatiewe Nasionalis wat sterk gekant was teen swart meerderheidsregering.
Nadat hy in 1989 as president van PW Botha oorgeneem het, het hy die land en die res van die wêreld verstom met die vinnige pas waarteen hy apartheid finaal afgetakel het. Hy is deur sy ondersteuners geloof vir sy moed, maar word tot vandag toe deur sy vyande in blanke geledere as ’n uitverkoper van die land uitgekryt.
Aan die ander kant van die politieke spektrum word hy steeds deur partye soos die EFF vir die pyn van apartheid blameer.
De Klerk se afsterwe is Donderdag in ’n verklaring deur die FW de Klerk-stigting aangekondig. “Dit is met die diepste hartseer dat die FW de Klerk-stigting moet aankondig dat oudpresident FW de Klerk vroeër vanoggend vreedsaam by sy huis in Fresnaye gesterf het ná sy stryd teen mesothelioomkanker. Hy word oorleef deur sy vrou Elita, sy kinders Jan en Susan en sy kleinkinders.”
Politieke leiers, partye en individue van regoor die wêreld het hulde aan De Klerk gebring. Boris Johnson van Brittanje was een van die eerste buitelandse staatshoofde wat hulde aan De Klerk gebring het.
I am saddened by the death of FW de Klerk. My condolences to his family for their loss. pic.twitter.com/WA1J7Ngisg
— Boris Johnson (@BorisJohnson) November 11, 2021
President Cyril Ramaphosa het ook sy meegevoel aan De Klerk se familie betuig. Hy het gesê die beleid wat die apartheidsregime geïmplementeer het, het verwoesting onder miljoene Suid-Afrikaners gesaai wat baie van die land se mense nooit sal vergeet nie, maar as mens is dit belangrik om medelye te betoon.
Ramaphosa sê in ’n verklaring De Klerk het ’n belangrike rol gespeel in Suid-Afrika se oorgang na demokrasie in die 1990's wat ontstaan het uit sy eerste ontmoeting in 1989 met Nelson Mandela, wat in daardie stadium ’n politieke gevangene was.
“Hy het die moedige besluit geneem om politieke partye te ontban, politieke gevangenes vry te laat en met die bevrydingsbeweging in onderhandeling te tree te midde van erge druk en teenkanting van baie in sy party.”
Ramaphosa sê De Klerk se heengaan, weke voor die 25ste herdenking van die aanvaarding van die land se demokratiese Grondwet, behoort almal te inspireer om na te dink oor die geboorte van Suid-Afrika se demokrasie en oor almal in die land se gedeelde plig om getrou te bly aan die waardes van die Grondwet.
[Pictures] President @CyrilRamaphosa reacts to the passing of former President F.W De Klerk outside the National Assembly in Cape Town. He says he received a message from Mrs Elita De Klerk informing him of the passing. He has expressed his condolences#DeKlerk pic.twitter.com/mgUnb5iOAX
— @SAgovnews (@SAgovnews) November 11, 2021
Desmond Tutu, wat, net soos De Klerk en Mandela, ’n ontvanger van die Nobel-vredesprys was, se Desmond & Leah Tutu Legacy Foundation het in hulle reaksie gesê dit is egter hartseer dat De Klerk die vele kanse wat hy gehad het om ten volle met alle Suid-Afrikaners te versoen, nie waargeneem het deur die volle omvang van die skade wat apartheid veroorsaak het, te erken nie. Daardie skade is vandag met ons, sê die stigting.
Die stigting se hoof- uitvoerende beampte, Piyushi Kotecha, sê De Klerk kon in die geskiedenis opgetree het as ’n werklik groot Suid-Afrikaanse staatsman, maar hy het sy statuur geërodeer en ’n klein man geword, sonder grootmoedigheid en vrygewigheid van gees.
Sy sê niemand kan egter ooit die deurslaggewende rol wat hy gespeel het om die verloop van die geskiedenis op 2 Februarie 1990, en in die dae en jare daarna, van hom wegneem nie. “Dit was ’n noodsaaklike bydrae tot die relatief vreedsame transformasie van Suid-Afrika van onderdrukking na vryheid, en dit word erken deur die wyer wêreld en in die uitnodiging aan hom om saam met Nelson Mandela die Nobel-vredesprys te ontvang,” sê Kotecha.
“Die derde fase van De Klerk se loopbaan was egter ’n teleurstelling, ’n terugkeer na vorm waarin hy onoortuigende ontkenning van apartheidsera-gruwels by die Waarheid-en-versoeningskommissie, onder voorsitterskap van aartsbiskop Tutu, gemaak het. Hy het ook geweier om apartheid as ’n gruwelike misdaad teen die mensdom te erken. Hy het voortgegaan om iets van ’n apologeet vir apartheid in die globale kring te word. Dit is ongelukkig ’n deel van die geskiedenis wat eerder vergeet moet word.”
Die Nelson Mandela-stigting het in hulle reaksie gesê die stigting is hartseer om van die afsterwe van FW de Klerk te verneem. “Ons betuig ons meegevoel aan sy vrou Elita en hul familie.”
Die stigting sê in ’n verklaring De Klerk sal vir altyd aan Nelson Mandela verbind word in die annale van die Suid-Afrikaanse geskiedenis. “As staatshoof het hy toesig gehou oor die vrylating van Madiba uit die tronk op 11 Februarie 1990. In 1993 het hulle gesamentlik die Nobel-vredesprys ontvang vir die inlui van ’n onderhandelde skikking wat daartoe gelei het dat Suid-Afrika sy eerste demokratiese verkiesing in 1994 gehou het. De Klerk het ook as adjunkpresident van Suid-Afrika in Madiba se regering van nasionale eenheid gedien totdat hy in 1996 bedank het.”
Die stigting se hoof- uitvoerende beampte, Sello Hatang, sê De Klerk se nalatenskap is groot. “Dit is ook ’n ongelyke een, iets waarmee Suid-Afrikaners in hierdie oomblik rekening moet hou.”
Die DA-leier, John Steenhuisen, het in ’n verklaring gesê die DA neem met hartseer kennis van De Klerk se afsterwe.
🕊️| The DA notes with sadness the passing of former State President and Nobel laureate, FW de Klerk.
The DA extends its deepest condolences to the de Klerk family. May they find strength and comfort in this difficult time. - @jsteenhuisen https://t.co/j5Z5pwfzmL
— Democratic Alliance (@Our_DA) November 11, 2021
Hy sê De Klerk se bydrae tot Suid-Afrika se oorgang na demokrasie kan nie oorbeklemtoon word nie. “Sy besluit, binne ’n jaar nadat hy die presidentskap by PW Botha in 1989 oorgeneem het, om bevrydingsbewegings te ontban, Nelson Mandela uit die tronk vry te laat, die verbod op politieke optogte op te hef en die vier jaar lange onderhandelingsproses na ons eerste demokratiese verkiesing te begin, was ’n waterskeidingsoomblik in ons land se geskiedenis.
“De Klerk het ook die besluit geneem om die land se kernwapenprogram af te breek. Hierdie dinge is nie moontlik geag onder enige van sy voorgangers nie.”
Steenhuisen sê dit was belangrik dat De Klerk ook die meerderheid wit kiesers met hom kon saamneem. Hy sê dit het ’n kritieke rol gespeel om te verseker dat die oorgang vreedsaam geskied en dat die 1994-verkiesing, sowel as die grondwetlike onderhandelinge, deur alle Suid-Afrikaners omarm is.
“Hierdie proses het kalm koppe en verantwoordelike leierskap aan beide kante van die tafel geverg, en dit was gepas dat beide hy en Nelson Mandela in 1993 met die gedeelde Nobel-vredesprys vereer is.”
Steenhuisen sê eerder as om die land te verdeel, hoop hy De Klerk se heengaan en sy nagedagtenis sal Suid-Afrikaners nog meer vasbeslote maak om aan ’n verenigde Suid-Afrika te werk.


Kommentaar
A LIFE LIVED
FW de Klerk has died.
I have mixed feelings about him.
I met him and chaired a meeting he attended three years ago.
I also attended an annual meeting of his Foundation a year before that.
Let's be sure about one thing, De Klerk for most of his life was entirely comfortable with white domination.
He comes from a long legacy of conservative politicians who were in full support of apartheid. His father was a prominent Nationalist Minister and deputized as Acting State President in 1975.
FW was a career politician but to his credit he saw that white domination was heading for a fall and that apartheid was a dead duck.
He testified at the Truth and Reconciliation Commission (TRC) on behalf of the National Party in August 1996 and May 1997, where his apology for apartheid was criticised as insufficient.
In 2012, he defended aspects of apartheid during an interview with CNN television and in 2020 he refused to concede that the system was a crime against humanity.
I am not convinced that he ever regarded apartheid as the evil system which it was, but rather saw it as a practical policy to maintain white privilege and fully endorsed it for the most part of his political life.
His unexpected decision to release political prisoners, unban the ANC and participate in general elections was not because of a personal Damascian conversion (this he openly admitted) but rather political pragmatism.
Some of his detractors will say that he was merely a political opportunist who, because of growing pressure from our trading partners, economic sanctions and the universal rejection of racism in general and specifically his party's policy of white domination, realised that the oppression of blacks could not be sustained anymore and thus opted to concede power so as to save face in what was to become inevitable, a democratic South Africa.
He was 85 years old.
My deepest condolences to FW de Klerk.
Oud-pres FW de Klerk het ongetwyfeld 'n reuse-stap gedoen toe hy die proses van meerderheidsregering aan die gang gesit het. Mens kan hom prys en kritiseer, want die uitkoms het baie mense teleurgestel en ander weer verheug. Sy onvoorwaardelike verskoning die dag voor sy dood, is die optrede van 'n Groot Leier en mens. Ek beskou sy uittrede in 1996 uit die Regering van Nasionale Eenheid egter as een van sy grootste politieke foute. Die eenvoudige rede is dat hy in die RNE in staat was om die oorgang glad te laat verloop asook om 'n langtermyn model daar te stel vir verantwoordelike en en bekwame landsadministrasie. Met drie jaar van Mandela se termyn nog oor, het FW egter sy nalatingskap skade aangedoen deur uit te tree vir kleinlike redes. Daardeur het hy die gulde geleentheid versaak om versoening tussen die diverse samelewing te bevorder, veral ook onder witmense wat in ontkenning geleef het weens hulle verlies aan mag. Hy en sy party kon nog vir 'n lang tyd invloed uitgeoefen het in die binnekringe, maar word toe weer eens deur die swartmense as teenstanders, as die wit base in opposisie beskou wat kritiek van die kantlyn af lewer. Hierdie mening van my is weer eens deur Roelf Meyer, die NP se hoofonderhandelaar, na FW se oorlye uitgespreek. Dit sou as proeflopie kon dien vir die bedeling wat ons nou weer in te gesig staar, nl dat die partye gedwing word om saam te werk, en dat daar self uit die ANC se swakheid die oortuiging sal posvat dat hierdie land onregeerbaar is as allerasse nie saawerk in 'n RNE nie. Die NP het dit probeer om 'n rassiestiewe en nasionalistiewe regering vir 50 jaar in stand te hou. Nou val die ANC se rassisteise en nasionalsitiese regering an 25jr uiteen. Mag dit 'n les wees om te onthou wanneer ons na die 2024 verkiesing 'n nuwe regering moet vorm, dat dit hopelik 'n sentristiese, inslutiende regering is wat die land en grondwet eerste stel.