FW – die einde van ’n era

  • 10

Bettina Wyngaard (foto: Naomi Bruwer) en FW de Klerk (foto: Wikipedia)

...
Hy het gekies om die hele land te help bou, eerder as om ’n minderheid se belange te probeer beskerm. Hy het teen ’n groot persoonlike prys die regte keuse gemaak. Dis hoe ek vandag verkies om hom te onthou.
...

“FW was ’n volksverraaier.”

“Nee, hy was ’n visionary.”

“Snert man, hy het net die skrif aan die muur gesien en soos ’n goeie rot ’n sinkende skip verlaat.”

Daar is vele sieninge oor FW de Klerk, en noudat hy dood is, gaan heelparty ou koeie uit die sloot gegrawe word. Wat niemand kan betwis nie, is dat hy op ’n kritieke stadium in ons geskiedenis ’n besluit bestuur het wat ons land en ons mense in ’n nuwe rigting gestuur het. Natuurlik het hy dit onder dwang gedoen. Niemand gee mag prys sonder dat hulle voor ’n erger alternatief gestel word nie. Hy het gekies om wit politieke heerskappy se graf te help grawe eerder as om die land in ’n bloedbad in te bestuur.

Dit was dapper. Hy moes geweet het hy gaan ongewild wees onder sy eie mense.

Het hy die Nasionale Party (NP) se graf gegrawe? Dalk, maar Marthinus “Kortbroek” van Schalkwyk het dit uitgemessel. Dit was in elk geval ’n genadedood vir ’n pasiënt wie se uitgerekte lyding almal geraak het.

Die NP moes sterf. Wit minderheidsregering was besig om sy doodsnikke te gee. En daar was FW, intelligent genoeg om te besef dat hy die geskiedenis kan verander.

Die meeste beelde van sy latere politieke lewe was van hom aan Madiba se sy. Hulle het saam die politieke landskap in Suid-Afrika verander. Hulle het saam die Nobel-prys vir vrede ontvang. Hulle is saam, en afsonderlik, gekritiseer en blameer vir die rigting waarin die land gegaan het. Hulle albei se huwelike het gesneuwel. Hulle albei se reputasies is deur die modder gesleep. Oor albei se vaderskapsvaardighede is daar veel gesê.

Maar albei het groter verantwoordelikhede as net ’n gesin of  ’n party gehad. En albei het uiteindelik gekies om daardie groter verantwoordelikheid teenoor volk en vaderland na te kom, eerder as om eng lojaliteit teenoor ’n party of gesin te toon.

Maak dit hulle verraaiers? Maak dit vir FW ’n verraaier?

Ek dink nie so nie.

...
Die NP moes sterf. Wit minderheidsregering was besig om sy doodsnikke te gee. En daar was FW, intelligent genoeg om te besef dat hy die geskiedenis kan verander.
...

Dit beteken nie ek dink elke politieke besluit wat hy geneem het, was fantasties en moreel aanvaarbaar nie. Inteendeel, sy beeld is juis geskaad omdat hy moreel aanvegbare besluite geneem het. Maar dit neem niks weg van die feit dat hy vrede gekies het op ’n stadium toe oorlog, selfs ’n oorlog wat onvermydelik verloor sou word, ’n opsie was nie.

Ek het eenkeer in my studentejare ’n vergadering bygewoon waar hy op Stellenbosch-kampus gepraat het. Hy was ’n dinamiese spreker, een van daais wat jou laat voel hy praat net met jou. Baie van my medestudente het aan sy lippe gehang asof hy ’n rockster is. Vir my het dit gevoel asof daar ’n paar leemtes in sy toespraak  was wat aangespreek moes word. Maar hy het nie. En niemand het hom ook daaroor gevra nie.

Die tweede keer was toe ek as vredesmonitor voor die 1994-verkiesing opgetree het. Hy was joviaal, maar mens kon tog die spanning sien wat op hom gelaat was. Hy het moeg gelyk. Dit was nie net die moeg van ’n uitgebreide verkiesingsveldtog nie. Vir my het dit eerder gelyk soos die moeg van ’n persoon wat te veel veldslae aan te veel fronte probeer veg.

Na sy uittrede uit formele politiek was hy in meer omstredenhede betrokke. Meer as een keer het ek in afgryse gelees oor stellings wat hy gemaak het. Is dit demensie, of is dit net hoe hy nog altyd geglo het? het ek gewonder. Maar ander ontleders kan daaroor skryf.

My ma se eerste woorde toe ek haar meedeel dat hy gesterf het, was: “O, ek dag hy is lankal oorlede.”

Dalk gaan dit sy uiteindelike legacy wees – vergete lank voor hy gesterf het. Ontvanger van ’n prys vir vrede wat baie meen hy nie verdien het nie.

Maar, ongeag hoe hy onthou word, hy het aan ’n vry, demokratiese Suid-Afrika help bou. Hy het gekies om die hele land te help bou, eerder as om ’n minderheid se belange te probeer beskerm. Hy het teen ’n groot persoonlike prys die regte keuse gemaak.

Dis hoe ek vandag verkies om hom te onthou.

  • 10

Kommentaar

  • Gebalanseerd en n insiggewende blik van n belangrike periode in Suid Afrika se geskiedenis. Objektiewe blik en refleksie. Knap gedaan.

  • Barend van der Merwe

    Hy was 'n suksesvolle politikus. Hoogste sport bereik (president), klomp leë beloftes gemaak en baie tjelt gemaak uit die politiek. Nie een NP-politikus is ooit tronk toe weens apartheid nie. Van die uitvoerende amptenary moes egter vir die gelag betaal. Nog 'n "suksesverhaal" vanuit sy perspektief dus. Sy beeldpoetsery na sy aftrede had egter slegs gemengde sukses.

  • Gustaf Claassens

    Inderdaad sal daar baie menings oor hom wees. Net soos dit die geval is oor elke leier reg oor die wêreld. Dit sal jammer wees as sy afsterwe weer 'n debat gaan ontketen oor of hy 'n volksverraaier of 'n visionêr was. Beide kante sal nie hul menings verander nie. Aan die einde van die dag was hy bloot 'n gewone mens wat gedoen het wat hy dink reg was.

  • FW was ook totaal kortsigtig, naïef, blind vir sy eie mense se toekoms en traak-my-nie-agtig oor die wit Afrikaner. Hy, Roelf Meyer, Leon Wessels, Pik Botha en Chris Heunis kon in hulle naïewe, kortsigtige voortvarendheid nie voorsien of verstaan dat die Westerse demokratiese stelsels nie net so in Afrika en SA kan werk nie. Hulle kon nie voorsien nie dat in Afrika, demokrasie = eenpartystaat = oorheersing = outokrasie. Hulle kon nie ’n federale stelsel sonder ’n nasionale regering voorsien of afdwing nie. Want hulle was ruggraatloos. En die blanke onderdrukking en swart-op-wit diskriminasie van vandag moet direk voor hulle deur gelê word. So, FW de Klerk is glad nie so ’n wonderlike staatsman en ikoon as wat die media wil voorhou nie. Ja, hy het die onafwendbare gedoen en dit was om te onderhandel. Maar hy was ruggraatloos daartydens. En hy het gekies om sy eie mense saam met die badwater uit te gooi. Soos iemand wat ’n ander broek moes aantrek maar toe net in ’n onderbroek die strate in is. RIV, ou FW. Almal het maar flaters en foute.

  • Die eerste demokratiese president het darem vir ons 'n woordjie hier en daar gehad. Met sy heengaan het net FW oorgebly, wat ook 'n bietjie briek getrap het.
    Wie het ons nou oor om darem so 'n bietjie te sê, wat sê hulle?

  • Johann Basson

    Die vraag in my gemoed: "Wat het Suid-Afrikaners geleer uit die wêreldwye suksesse en foute van die verlede? Maar bowenal, wat gaan Suid-Afrikaners doen om nie weer die foute van die verlede te herhaal nie?"

    Suid-Afrika met sy grootse diversitet, prag omgewing en aangename klimaat kan 'n wonderlike land wees om in te woon mits sy inwoners elkeen die land en elke inwoner eerste stel: 'n omgeekultuur praktiseer. En dit moet in die gesinslewe gestalte kry.

  • AGH van der Walt

    Barend van der Merwe. Het jy dalk vergeet van HDK van der Walt en Pietie du Plessis. En wat van Eschel Rhoodie?

  • Annora Eksteen

    Ontroerende video.

    (Ek wonder net wat die mooi kunswerke was. Die skildery en die beeldjie.)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top