Vreedsame revolusie: Uit die enjinkamer van die onderhandelinge deur Niël Barnard

  • 1

Vreedsame revolusie: Uit die enjinkamer van die onderhandelinge
Niël Barnard
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624079743

Niël Barnard weet te vertelle dat die Nasionale Intelligensiediens waarvan hy 12 jaar lank hoof was, 40 ton dokumente laat verbrand het tydens die ou weermag se “Auschwitz van papier”, om Terry Bell se frase te gebruik, om die identiteite van sy spioene en informante te beskerm. Dit laat my dink aan daardie ou sportliedjie op skool: “How the hell can we believe you?” (HTHCWBY?).

As mens jou papierspore laat verbrand, skep dit die illusie dat jy die verlede kan beheer, en die gevolge daarvan sien ons in die rits memoires oor die Suid-Afrikaanse omwenteling waarin die skrywer hom beskeie en soms minder beskeie voorstoot as die man met die oliekan in die “enjinkamer van die onderhandelinge”. Of die oudredakteurs wat so spog dat hulle die eerste geweet het van die gesprekke tussen die ANC en die regering – en wat dan ewe trots  geswyg het daaroor, waarmee hulle natuurlik hul demokratiese en professionele plig versaak het.

Die memoires self word studies in kognitiewe dissonansie, ’n eierdans waarin die eierdoppe vlieg en die stewels geel word. Barnard se Vreedsame revolusie, ’n opvolg op Geheime revolusie, is geen uitsondering nie, deurspek met weersprekings, vaaghede, systappe, wensdenkery, bitsighede, sodat ’n mens telkens die koor wil laat byvoeg: HTHCWBY?

So byvoorbeeld probeer hy homself voorstel as ’n soort marginale deelnemer aan die Staatsveiligheidsraad (koor: HTHCWBY?!) en ’n sleutelspeler met inligting wat deur die sesde beste intelligensiediens ter wêreld vergaar is (koor: HTHCWBY?!). Hul inligting was net inligting; wat die weermag en polisie daarmee gedoen het, is op húlle rekening (sug: HTHCWBY?). Soos Wouter Basson, wat net die slaapmedisyne verskaf het vir die honderde gevangenes van die weermag wat uit vliegtuie die see in gegooi is.

Daar is ’n eienaardige foto in die middel, van Barnard as lid van die Presidentsraad van die Ruiterwag, waarvan sommige lede latere sleutelspelers in Suid-Afrika se politiek sou word. Hulle word genoem, maar nie die res nie, of net aangedui as “nog ’n lid”. Het Barnard net vergeet (HTHCWBY?), of speel hy steeds die spel van geheimhouding en anneksasie van inligting? In sy hagiografie staan die narratief dat PW Botha hom van nêrens af nie gepluk het as jong dosent aan Kovsies. Dis natuurlik nie so nie; as sentrale lid van die Georganiseerde Afrikanerdom was hy al ’n ou fluisterventer.

Net soos in sy vorige boek, is daar feitlik geen verwysing na die volgende stap in die meeste Ruiterwaglede se loopbane nie: lidmaatskap van die Broederbond. Dit laat ’n mens wonder: Was deel van daardie 40 ton verbrande geskiedenis dokumente oor die NID, Staatsveiligheidsraad en ander fascistiese instansies se bande met die Broeders? Daar is ’n lesing van die geskiedenis van die 1980’s dat die Staatsveiligheidsraad en PW Botha ’n soort stille staatsgreep uitgevoer het, maar ons weet ook dat Broederbondlede in die raad gesit het. Maar was die verhouding eintlik andersom: Het die Bond, met sy formidabele netwerk op voetsoolvlak, die sweep geklap tydens die noodtoestand van die 1980s? Natuurlik sal ons niks hieroor van Barnard hoor nie – en indien hy wel iets sê: HTHCWBY?

Nogtans is hierdie boek glad nie te versmaai nie. Miskien is dit omdat ek ’n politieke dier is, maar ek kon dit nie neersit nie. ’n Ware “page-turner”. Miskien moes Barnard dit eerder vir die Groot Afrikaanse Romanwedstryd ingeskryf het, want dan kan ’n mens maar die HTHCWBY?-koor afskakel. Goeie rillers en speurromans werk omdat die prosedurele aspekte die leser boei, al word die identiteit van die booswig onthul, en omdat die hoofkarakter so dikwels sukkel met die reëls en taboes van die speurdiens, want hy is maar ’n flentergat en almal is teen hom. Barnard word dan ’n heel menslike ek-verteller, een wat nie al sy foute en flaters kan wegsteek nie, en met sy maniërismes en ietwat lompe taalgebruik selfs lesers kan wen.

En wat ’n riller was dit nie. In TV-land kry die helde 24 uur, in Barnard se weergawe darem 1 000 dae. Maar hy dra goed oor hoe min tyd dit eintlik was vir ’n muishondregering en ’n bevrydingsbeweging wat skielik moes begin werk aan saam regeer. Politici aan albei kante vryf mekaar gou verkeerd op. As direkteur-generaal van staatkundige ontwikkeling en hoof van ad hoc-strukture soos die AK11- (koor: hoe ironies) komitee van top-amptenare is Barnard se vernaamste wapen om kwessies te takel ... wel, die komitee.

Daar was die terugkerende bannelinge, die hostelgeweld, die tuislande, die wit opposisie, Inkatha, 80 regse organisasies … Duik ’n probleem op, en daar was ’n magdom, dan gooi Barnard-hulle dit toe met ’n komitee. Dit was buig of bars – as die kwessie belangrik is, en die komitee vindingryk genoeg, dan oorleef hy, so nie sterf hy ’n stille dood met net per diems wat hom nog laat spook. Geld skyn nie die kwessie te gewees het nie, soos blyk uit Barnard en sy span se viering van ’n spioentriomf in Switserland met ’n bottel Chivas Regal 25 jaar oud – dis nou lank voor enige ANC exiles die land binnegebring is. (Alles reg, Niël, geen koor dié keer nie, ek stel net voor jy probeer dit met gefermenteerde gemmer: onverbeterlik.)

Of Barnard se weergawe met ’n sakkie sout geneem word of nie, een belangrike aspek van die revolusie word wel genoegsaam gedemonstreer: die rol van die amptenary. ’n Mens kry die indruk dat daar ’n stewige fondament van staatsarbeiders was wat stilweg hul Damaskusverskuiwings gemaak het en alles in die stryd gewerp het om die oorgang te laat slaag. As daar iets is wat drasties skeefgeloop het, was dit die “sunset clause”, wat die ANC en Thabo Mbeki se rassisme toegelaat het om na ’n skrale vyf jaar verwoesting in die burokrasie te begin saai. Vandag sit ons met die gebakte pere wat stadig maar seker besig is om te verander in die verskroeide stronke van net nog ’n hiperkorrupte Afrikaregering.

Barnard blameer die politici aan beide kante. Daar is eers in 1993 werklik begin om oor die staatsdiens te onderhandel, en die skrywer sonder Trevor Manuel se nugtere argument uit dat “die politieke veranderinge in die land as ’n normale ontwikkeling gesien moet word en nie as ’n ontwrigtende ingryping op die amptenare moet inwerk nie”. Manuel het skynbaar al die regering se standpunte oor kontinuïteit aanvaar (koor, gaap: HTHCWBY?).

Die hubris aan die kant van die ANC blyk uit Mac Marahaj se poging tot understatement: “The ANC was aware of a reservoir of capable people who could serve as capable future public servants.” Kaderontplooiing is geen nuwe ding wat deur Zuma en Kie bedink is nie; dit was die plan van die begin af. Hierdie fase van onderhandelinge eindig met tipies komplekse planne om top-amptenare die kans te gee om aan te bly as die nuwe regering oorneem, om mentor te speel. “Daar het egter weinig van gekom. Na die verkiesing is talle departementshoofde onseremonieel vervang en ander soos vloerlappe behandel. Dit het die grondslag gelê vir die terugkeer van apartheid in die vorm van regstellende aksie.”

Die revolusie was natuurlik nie vreedsaam nie. Barnard beweer dat 14 000 mense (HTHCWBY?) gesterf het in die chaos wat veroorsaak is deur die swart op swart geweld wat aangehits is deur wat in die volksmond bekend was as die “derde mag”. Hierna is daar net enkele lukrake verwysings in die boek, moontlik omdat Barnard homself nie wou kompromitteer nie? Maar die meeste bloed wat gevloei het, was metafories, dié op die vloere van staatsdepartemente in Pretoria, en die gevolg was ’n “White Purge” en ’n Wit Eksodus die land uit. Volgens sommige berekeninge het die land se bevolkingstal binne ’n paar jaar met bykans ’n miljoen mense gedaal.

Sekerlik was die motivering dikwels rassisties, maar veel meer mense het vertrek omdat hulle nie meer ’n toekoms in hul eie land gesien het nie, terwyl die wye wêreld, van Beijing tot Zürich, gewink het: hiernatoe, hiernatoe. Sekerlik is hierdie rassistiese rangeringsoperasie een van die redes vir die moeilike, dalk selfs katastrofale tye wat Suid-Afrika nou in die gesig staar.

Daar is nog veel meer waaroor ’n mens kan skryf. Volgens ’n insiggewende stukkie oor taal glo Barnard dat dit ’n fout was aan regeringskant om aan te dring op die behoud van net Afrikaans en Engels as amptelike tale. Tereg merk hy op: “Hoe kon ons hoop om vrede te bewerkstellig met dié voortsetting van ‘kolonialistiese taalimperialisme’? Die ANC was nog meer kolonialisties dienstig.” Op die ou end is ’n 11+0-formule natuurlik gevolg, met alle tale in naam gelyk. Tydens oorweging van wysigings aan die Grondwet drie jaar later, skryf Barnard, het die ANC egter geweier om ’n klousule by te voeg dat Afrikaans of Engels nie afgeskaal mag word nie – wat ek, soos baie ander kritici, glo ’n oortreding van die internasionale reg is.

Hoe dit ook al sy, ’n mens moet saamstem met Hermann Giliomee: “[G]een wetenskaplike kan weer oor die oorgang in Suid-Afrika skryf sonder om hierdie boek te raadpleeg nie.” (Koor, op die verkeerde voet betrap en ongelyk: Hoor, hoor.)

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Hans Pienaar openbaar meer oor sy benadering tot die boek as wat hy oor die inhoud van die boek skryf. Leon Lemmer se boekbespreking, "Die geskiedenis van ons ondergang" (Praag, Rubrieke, 8 Julie), bied groter duidelikheid oor wat in die boek staan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top