Projek T en die verowering van die Noorde

  • 0

...
Vir eietydse senior kollegas was oudpolisieman Jan – of prins Jan, soos hy heel voorspelbaar genoem is – ’n enigma.
...

Iemand kan kwalik verskil dat die verowering van die Noorde die oorheersende droom van die ou Nasionale Pers in die tweede helfte van die vorige eeu was – ’n ideaal waarvan die omvang en betekenis met sy stigting en loodsing van die dagblad Die Burger in 1915 vergelyk kan word.

Uit die nuwe droom is twee koerantstigtings gebore. Die Sondagkoerant Die Beeld het in 1965 tot stand gekom en die dagblad Beeld (sonder die Die) 11 jaar later, in 1974 nadat eersgenoemde aan die vooraand van glorie onder geweldige politieke druk in 1970 in ’n geriefshuwelik met sy mededinger, Dagbreek en Landstem, gedwing is en in Rapport opgegaan het.

Vir die gedugte redakteur van Die Beeld, die “vegter-prins” Schalk Pienaar (sy tydgenoot Piet Cillié se treffende beskrywing), was die “samesmyting” (sy woorde) verpletterend. Hy het die Bybelse uitroep gebruik: “Dit voel of die vel van my lyf geskeur word.”

Sy argwaan oor die ongemaklike 50-50-huwelik was teenoor Lang David de Villiers, die nuwe besturende direkteur, en die Nasionale Pers (“die Pers”) se direksie. Sy diepe emosie en oortuigende betoë moes geen geringe rol gespeel het om by Lang David ’n vuurtjie vir herlewing van die groot ideaal aan te steek nie: ’n eie dagblad in die ekonomiese hartland.

Die vuurtjie het vinnig spoed opgetel. Kort voor lank was die Pers se kaptein vuur en vlam. Voordat hy sy direksie (almal Afrikaners) sou probeer oortuig, was egter ’n vertroueling nodig om die pad te verken. Die mantel het geval op die energieke oudpolisieman Jan Prins, later ’n vryskutkoerantman, wat hom kort tevore heeltyds by die Pers aangesluit het.

Projek T is gebore – ’n inisiatief so in geheim gehul dat geen lid van die direksie snuf in die neus had nie. Die T het gestaan vir Transvaal.

Vir eietydse senior kollegas was oudpolisieman Jan – of prins Jan, soos hy heel voorspelbaar genoem is – ’n enigma. Skielik was hy met sy oorwegend Landstem-agtergrond sommer net op die Nasionale Pers se groot verhoog. Die keuse dui egter op vasberadenheid en entoesiasme. Want waar aksie en opwinding was, sou jy Jan Prins altyd vind.

In sy jeug was hy ’n aktiewe sportman: verspringkampioen van die WP (Westelike Provinsie) en die Suid-Afrikaanse Polisie, asook senior rugbyvleuel. As vryskutsportskrywer was hy by Olimpiese Speles, Wimbledon en rugbytoetswedstryde in Brittanje en Frankryk. Met die stigting van Die Beeld in 1965 was hy die ideale kandidaat om die Kaapse sportdekking te organiseer. Weldra bevind hy hom egter in ’n nuwe baanbrekersrol: Hy word eerste redakteur van Ekstra, ’n spesiale bylaag vir bruin lesers.

Onder Prins word ’n beskeie bladjie uitgebou tot byna ’n volwaardige eie koerant met nuus, politiek, rubriek en sport. Ekstra het die publikasie met die meeste bruin lesers in die Kaap geword. Die welslae het Die Burger, en later ook Die Volksblad, aangesteek om hul eie Ekstras uit te gee.

“Prins Jan” het Projek T aan die hand van die sensussyfers van 1960 aangepak. Sy ontleding was dat 89,5% van Transvaal se 1,9 miljoen blankes minder as 160 km van Johannesburg af woon en 74% minder as 70 km. Heelwat meer as 50% was Afrikaans. Die Transvaler is deur net een uit elke 44 blankes en een uit elke 30 Afrikaanssprekendes in sy lesersgebied gekoop.

Teen Die Burger se penetrasie in die Kaap het die syfers sleg afgesteek. Dit is ’n “onding”, het Prins gemeen, dat ’n Afrikaanse dagblad met soveel potensiële lesers op sy voorstoep nie ’n sirkulasie van meer as 50 000 kan opbou nie. Vir ’n “werklik puik” oggendblad met die “lewendigheid wat die kenmerk van die Sondagblad Die Beeld was”, het hy ’n sirkulasie van tussen 95 000 en 100 000 as mikpunt gestel.

Voordat die ondersoek nog voltooi was, is ’n gebou in Millerstraat, Doornfontein, gekoop. In ’n taamlik oes omgewing, oorkant Ellispark se tennisbane, sou die droom van ’n noordelike dagblad in September 1974 gestalte kry. Die laaste hekkie was direksiegoedkeuring. Op 3 November 1972 is die eenparige ja-woord gekry. Die droom is vlerke gegee en die reusetaak kon begin om die infrastruktuur in orde te kry. ’n Menseverskuiwing soos nooit tevore by die Pers nie sou volg.

Die kernpersoneel is uit die bestaande spanne van Die Burger, Die Volksblad in Bloemfontein en in ’n mindere mate uit Rapport geput. Die hoofredakteur is met die hand uitgekies as Schalk Pienaar. Al was hy nie gesond nie, moes hy ook die tweede veldslag gaan lei en die finale verowering aanvoer. Die simboliese waarde van sy opofferende tweede trek noorde toe was geweldig.

Ook in ander gevalle het die ontworteling opoffering geverg. Ek moes byvoorbeeld dadelik ná my aanstelling as nuusredakteur ’n omvattende studietoer onderneem en my daarna maande lank in ’n private hotel in Johannesburg gaan vestig. My hoog swanger vrou moes tussen vriende swerf. Die laaste ruk voor die geboorte van ons tweede kind, ’n dogter, was sy en die oudste, ’n diabeet, saam met haar ma in ’n hotelkamer oorkant die Nasionale Hospitaal; sy moes net oor die straat stap! Nie almal het my gou hiervoor vergewe nie, maar die karavaan moes voort. Die droom was als.

In die hartjie van ’n yskoue winter van 1974 het die volgende fase van die avontuur aangebreek: die intrek in die onaantreklike, onvoltooide Beeld-gebou, ’n gebou met gapende gate waar nog vensters, deure en ’n hyser moes kom; ook met grou, ongeverfde mure, gereelde kragonderbrekings en ’n telefoondiens wat telkens uitsny. Kerse en gasverwarmers moes dringend bekom word om hitte en lig vir die eerste proeflopies van die nuwe koerant te verskaf. En toe die eerste lentereën in die vorm van ’n nagtelike Hoëveldse donderstorm losbars, het die dak soos ’n sif gelek.

Dat die moraal nie geknak is nie, is ’n wonder. Veral ook nog toe die baas uiteindelik uit die Kaap opdaag en dit gou duidelik word dat hy reeds weens kanker so uitgemergel was dat hy kwalik die uitdagende leiersrol sou kon vervul. Die arme man, boonop ’n lyer aan hoogtevrees, moes aanvanklik handeviervoet boontoe kruie om by sy kantoor te kom! Na net vier maande moes hy tou opgooi.

Hoe onrealisties optimisties die sirkulasieverwagting was, het gou pynlik duidelik geword. Transvaal se leeskultuur was eenvoudig anders as die Kaap s’n. Die poorte is boonop nie sommer vir die “indringer uit die Suide” oopgegooi nie. Wantroue moes oorwin word. En die weerstand van Die Transvaler met sy provinsialistiese naam was hardnekkig. (Ook hoogs onbehoorlik, met gedrukte koerante wat sito-sito in mynskagte gedompel is om verkoopsyfers te “kook”.)

Die gees onder Beeld-mense het egter merkwaardig kerngesond gebly. Oor terugslae en beproewings kon grappies gemaak word. Dan het hulle maar net weer die rug gebuig en nog harder en langer ure gewerk. ’n Terugkerende grappie was die vermoë van die nuwe Johannesburgers om selfs op pad kantoor toe te verdwaal. En oor daardie sopnat aand in ’n oorstroomde redaksiekantoor was Johan de Wet, toe sportredakteur, later redakteur, se lakonieke kommentaar: “Gelukkig was daar in daardie stadium baie onverkoopte koerante om op die vloer uit te pak ...”

...
’n Goue era vir koerante in die algemeen het trouens in die ’80’s aangebreek.
...

In 1980 het die T van Projek T ná vele Terugslae en Turbulensies op langelaas die smaak van Triomf gekry. Toe die sak patats oor sy syferknoeiery uitgeskud is, was Die Transvaler se dae getel. Hy moes stert tussen die bene uit die oggendmark padgee. In 1983 moes hy uitwyk na Pretoria om as middagblad ’n nuwe nis te probeer vind. By die Pers is gejubel.

Onder aanvoering van besielde redakteurs soos Ton Vosloo en Willem Wepener, gestut deur knap bestuurspanne, is Beeld van krag tot krag, later deur die 100 000-kerf. Hier was ’n sukseskoerant, skynbaar onstuitbaar boontoe.

’n Goue era vir koerante in die algemeen het trouens in die ’80’s aangebreek. Dit is in die ’90’s sterk voortgesit. Aan die begin van die ’90’s was die sektor se wins in die omgewing van R6 miljoen. Gou was dit R20 miljoen. Toe R40 miljoen. Daarna is dit in tien miljoene op tot oor die R70 miljoen.

Met genoegdoening is ervaar hoe lesers rondom koerante se onverbloemde Afrikaansheid konsolideer. “Ons is miljoenêrs!” kon ek die aand van 6 Oktober 1993 by ’n advertensie-onthaal van Sake-Beeld by Gold Reef City in Johannesburg “met vreugde” aankondig. Die verwysing was nie na geld nie; wel na die 1993-lesersopname deur die onafhanklike organisasie Amps. Daarvolgens het die drie dagblaaie van Naspers – Beeld, Die Burger en Die Volksblad – die eerste keer deur die miljoenkerf gebreek met ’n totale leserstal van 1 004 000.

“Vir die doemprofete sê ek vanaand: Trek uit u begrafnisklere, gooi weg u kransies, laat die vonkelwynproppe klap dat ons kan partytjie hou!” het ek uitgeroep. My “teksvers” was Mark Twain se beroemde kabel aan die Associated Press oor ’n premature doodsberig in 1897: “The report of my death was an exaggeration.”

In die advertensiewêreld was daar nie ’n tekort aan oorhaastige “teraardebestellers” nie. Die nuwe politieke bedeling sou die doodsklok vir Afrikaans lui, is voorspel.

Die DP de Villiers-trofee, gesogte prys vir die beste presteerder in die Pers, het in dié geil tyd in die koeranteafdeling se vertoonkas ’n feitlik permanente staanplek gevind. Óf die sektor, óf een van sy ankers, Beeld en Die Burger, sou elke jaar met die louere wegloop.

...
Daar is opgehou droom oor koerante se toekoms. Koerante is nie meer gesien as kosbare kultuurskatte uit eie reg en as kroonjuweelbates nie
...

Wat het dan gebeur dat ons 25 jaar later met koerante by die afgrond staan? Het sommige van ons (by wie ek myself insluit) dalk nie fyn genoeg geluister na die eerste waarskuwings oor die potensiaal van die nuwe, ongenaakbare wêreld van die inligtingstegnologie nie? Het ons nie betyds kreatief begin dink aan lewensvatbare ander modelle om relevant te bly nie? Of het die belofte van ’n pot goud aan die einde van die IT-reënboog sommige besluitnemers reeds so reddeloos verblind dat hulle te kortsigtig eendimensioneel begin dink het?

In albei die denkwyses steek waarskynlik ’n element van waarheid. Op die keper beskou, was daar egter iewers in die oorgang van die Nasionale Pers met sy koerante, tydskrifte en boeke na ’n Naspers met al hoe duiselingwekkender internasionale tentakels ’n kritieke oorgang in die hoogste bestuur se filosofie. Daar is opgehou droom oor koerante se toekoms. Koerante is nie meer gesien as kosbare kultuurskatte uit eie reg en as kroonjuweelbates nie, maar al hoe meer slegs as oorgangsmeganismes na nuwe horisonne in kommunikasie wat die internet en verwante ontwikkelinge in die visier gebring het.

Agteruitgang het noodwendig ingetree weens ingrypende besnoeiings van begrotings, afleggings van senior mense, afskaling van redakteurs se status in die maatskappy en toenemend minder hande om die veelvuldige pligte van doeltreffend koerant uitgee te verrig. Die wapens om veranderende verbruikerspatrone te bestry, is stomp gemaak. Al vinniger en vinniger is gevolglik gegly totdat (Die) Volksblad – die oudste Afrikaanse koerant – in 2020 die eerste koerant was wat op ’n syspoor gerangeer is.

Wel, hier is ons dan nou. As 83-jarige lid van die ou skool glo ek steeds dat geen ander medium (gedruk of digitaal, of verkieslik albei) ’n mens in ’n soms al verwarrender leefwêreld so volledig in staat stel om sinryk in sy gemeenskap te funksioneer as ’n goeie koerant nie. Daarom is die huidige verwikkelinge en die verarming wat dit meebring, so bitter swaar om te sluk.

Of Beeld eenvoudig gesluit gaan word vir die spinnerakke om oor te neem en of die sleutels in ander hande – die hande van die hoogste bieërs – gaan kom om hom op nuwe bane te stuur, bly die harde waarheid dat ’n samesnoerende droom waarin baie mense oor dekades baie liefde gestort het en die ou Nasionale Pers in idealisme ondenkbare miljoene belê het, onherstelbaar in skerwe spat.

“Projek T” kry ’n nuwe inhoud. Die T staan nou vir Tragedie.

Lees ook:

Wat gebeur met die taal as Afrikaanse koerante sluit?

Afrikaanse koerante het lank gelei en mislei, nou is dit tyd vir vorentoe kyk

Hoekom is daar nou goeie nuus in ons koerante?

Die ekonomie van koerantnuus

Waagmoedige antwoorde: ’n lesersindruk van Ter wille van oorlewing, ideologie en geld­ deur Johannes D Froneman

Perspoësie en joernalisgedigte

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top