Waagmoedige antwoorde: ’n lesersindruk van Ter wille van oorlewing, ideologie en geld­ deur Johannes D Froneman

  • 2

Verkry van Mediamense.com

 ...
Trouens, elkeen wat oor Afrikaanse media ingelig wil saamgesels, jonk en oud, behoort ’n kopie te besit,
...

Ter wille van oorlewing, ideologie en geld – perspektiewe op die geskiedenis van die Afrikaanse media
Johannes D Froneman

Akademia Uitgewery
2023

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Wie is by wyse van spreke die “Klaas Waarzeggers” van die Afrikaanse joernalistiek en wie is dit nie? Vir die formulering van die vraag leen ek die skuilnaam van Louis Henri Meurant wat weens sy geskrifte in De Zuid-Afrikaan en ander publikasies van sowat twee eeue gelede as een van die eerste Afrikaanse joernaliste beskou word.

Vir waagmoedige antwoorde kan die leser verwys word na joernalis-akademikus Johannes D Froneman se swaargewigboek, Ter wille van oorlewing, ideologie en geld – perspektiewe op die geskiedenis van die Afrikaanse media, wat pas by Akademia Uitgewery verskyn het. In sy breë en deurvorsende kyk na die verlede, hede en toekoms laat hy onder meer in ’n prikkelende hoofstuk die lig val op koerante se politieke rol en huiwer hy nie om personae van die pers by name as “Waarzeggers” te identifiseer of betekenisvol te ignoreer nie.

Terwyl hy besig was om aan die manuskrip te werk, het hy die hele tyd van “my boekie” gepraat, vertel hy. Maar toe hy die boek in sy hande hou, het hy besef dat dit ’n “boek” in die ware sin van die woord is. As rondgekyk word vir ’n sekondant vir die taksering, steek hierdie waarderende koeranteveteraan* vrymoediglik die hand op. Froneman se boek is ’n boek in fisieke en inhoudelike sin.

Eers tref die formidabele formaat: ’n Volkleur-hardebandboek van 338 groot bladsye propvol feite en kykgenot weens die ruim gebruik van treffende foto’s van onder meer seldsame voorblaaie van koerante en tydskrifte. Die deeglike eindnotas is omtrent so lank soos ’n nuwe rol koerantpapier. Die bibliografie steek nie af nie. Froneman se nette is wyd uitgegooi.

Die intrinsieke waarde sink geleideliker in: Dat die gewigtige bydrae van Afrikaanse media en joernaliste, wit en toenemend ook bruin, tot ’n beter leefwêreld vir almal uit ’n gesaghebbende oord hier verdiende erkenning kry. Afrikaanse media – koerante van allerlei aard, tydskrifte, internet, radio en televisie, of dan fasette daarvan – is waarlik ook nog nooit tevore so omvattend in een boek aangeroer, onder die loep geneem en in diepte ontleed nie. Of jy saamstem met elke bevinding of nie; so wyd en diep is voorwaar nog nie deur een skrywer op een slag gegrawe nie.

Die kwalifikasie “of fasette daarvan” is relevant. Ons het hier nie te make met ’n tradisionele geskiedenishandboek wat die hele terrein chronologies en met feite, feite, feite vers en kapittel probeer dek nie. Inteendeel. Die klem val op willekeurige perspektiewe of temas wat intensief nagevors en aangebied word. Die doel is om ’n samehangende prentjie te vorm en insig te help bevorder – nie net oor wat was nie, maar ook hoe (soms swaar) verworwe kennis ingespan kan word om veral Afrikaanse joernalistiek te dien.

Dit kom neer op ’n ietwat onortodokse benadering wat vir sommige bevredigender sal wees as vir ander, maar die boek beslis tot ’n wyer gehoor as net studente en akademici sal laat spreek. Trouens, elkeen wat oor Afrikaanse media ingelig wil saamgesels, jonk en oud, behoort ’n kopie te besit, al is dit R700 plus se boek.

Die titel lyk aanvanklik ongewoon, selfs vreemd. Oorlewing, ideologie en geld is egter drie kritieke elemente van die Afrikaanse mediawêreld wat los van mekaar of behendig ineengesnoer telkens na vore kom.

Ideologiese vraagstukke waaroor debatte veral op sosiale media van tyd tot tyd opvlam, lê aan die hart van die boek: Die soeke na vrede deur geregtigheid en die rol wat redakteurs en joernaliste tydens politieke woelinge in die vorige eeu, veral in die jare negentigs voor en tydens die 1994-verkiesing, gespeel het; die ingewikkelde verhouding tussen politieke partye en die media, asook die vraag of redakteurs maar altyd so min of meer na die pype van die politici gedans of ook die status quo wesenlik uitgedaag het?

Hul denke was soms “ingebed in die dwaaldenke van die tyd, maar die bestes het juis geskop teen verstarde denke en na ’n ruimer lewensvisie gestreef,” bevind Froneman. “Hulle was idealiste.” Dis raak gestel, meen ek. Dankie, mediavriend.

Die temas van kerk en geloof is reeds dekades lank ’n belangrike tema in Afrikaanse dagblaaie. ’n Hele hoofstuk word gewy aan hoe die media ’n venster op kerk en geloof bied. Tot die slotsom word gekom dat veranderende politieke, kulturele, geestelike en mediakontekste die dekking van hierdie temas nie onaangeraak gelaat het nie. Getuienis daarvan sien ons amper elke dag.

Waarom het koerante die afgelope dekades so ingrypend agteruit geboer? In ’n pynlike hoofstuk vir ’n nog papierverknogte joernalis word uitvoerig stilgestaan by die rol van die digitale revolusie en radikale aanpassings in die praktyk wat soms bra hardhandig afgedwing is. Oor die opdrag dat papierkoerante hul scoops op ’n skinkbord vir ’n digitale inkommer oorhandig, is ongetwyfeld baie tande gekners.

Dat een pionier by Netwerk24 so ver gegaan het om fisieke koerante in sy nuuskantoor te verbied om die verslaggewers te kry om “digitaal te dink”, is ’n brokkie wat aan my onbekend was en selfs nou nog die nekhare wil laat rys.

Tereg word uiteindelik die vraag geopper hoe die geloofwaardigheid van digitale stemme getoets kan word deur gebruikers “wat [...] nie noodwendig bedag is op die slaggate van ongereguleerde stemme nie”. Volgens Froneman sal dit in die toekoms ’n selfs groter kwessie as die oorlewing van papierkoerante word.

Lekkerleeshoofstukke handel oor Huisgenoot, die radio en televisie. Huisgenoot kry die kompliment dat dit die enigste titel is waaraan ’n eksklusiewe hoofstuk – boonop ’n lange van 40 bladsye – gewy word. Volgens Froneman verdien Huisgenoot dit as tydskrif wat al so baie gedaantes verwissel het. Die foto’s uit die argief maak die 40 bladsye boonop ’n visuele plesier.

Skones soos prinses Diana en Anneline Kriel maak daar hul buiging weens hul vername bydraes (saam met ander sogenaamde glanspersone of celebrities) om die ewige “verkleurmannetjie” by die veranderende omgewing te laat aanpas. Niemand anders was soveel keer op die voorblad soos die prinses van Wallis nie en niemand anders het soveel vir Huisgenoot se sirkulasie beteken nie, word ons herinner.

In die hoofstukke oor die radio en televisie wemel dit van kamees van geliefde uitsaaiers en immergroen programme wat luisteraars en kykers in vervoering gehad het. ’n Koerantman is skoon jaloers dat kleurryke koerantaspekte soos die sportblaaie en rubrieke en beroemde name in daardie verband nie dieselfde weldadige blootstelling kry nie.

Enkele biografiese besonderhede oor die skrywer verdien vermelding. Hy stel al van kindsbeen af in koerante belang. Hy was self in die praktyk en het ook ’n honneursgraad in filosofie. Sy loopbaan in die twee velde strek oor meer as 40 jaar. Hy spesialiseer in mediahistoriese navorsing en bedryf op die oomblik die digitale mediamuseum Mediamense.com uit Kleinmond. Sy waardevolle boek is dus die produk van die denke en ervaring van iemand wat in die bedryf, sowel as in die akademie gestaan het.

(Ek sê dit met ’n knipoog, maar iets wat my nogal laat glimlag het, is dat die noukeurige Johannes Froneman, soos sovele voor hom, ook oor die komplekse senioriteit van Die Burger en Volksblad onderskeidelik gestruikel het. Die Burger is inderdaad die oudste Afrikaanse dagblad, hoewel Volksblad die oudste Afrikaanse koerant is. Hoe dan? Laasgenoemde het eers ná Die Burger se verskyning in 1915 ook elke dag begin verskyn.)

 

 * Hennie van Deventer het op vyf by sy oupa se knie begin koerant lees en doen dit vandag op 82 steeds elke dag. In ’n koeranteloopbaan van 36 jaar was hy assistent-redakteur van Beeld, redakteur van (Die) Volksblad en uitvoerende hoof: koerante van die Nasionale Pers.

Lees ook:

  • 2

Kommentaar

  • Uitstekend, Hennie! Ek het die boek kon deurblaai, en selfs ek as leek in die joernalistiek, kon sien dat dit 'n indrukwekkende werk is. Dis 'n lieflike volkleurboek op glanspapier, wat 'n plek verdien op baie koffietafels.

    Jy vra tereg: "Waarom het koerante die afgelope dekades so ingrypend agteruit geboer?" Ek sal jou sê hoekom. Die boekdiewe deel elke dag die pdf's van elke koerant op WhatsApp groepe met baie lede deel. En as die Huisgenoot nie vinnig genoeg geplaas word nie, vra hulle.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top