Persvrystelling: Media24 Boeke-pryse vir 2018 bekend

  • 1

Die veelbekroonde skrywers Eben Venter en Marlene van Niekerk en die ondersoekende joernalis Jacques Pauw is onder die wenners van die 2018 Media24 Boeke-pryse wat op Donderdag 14 Junie in Kaapstad bekend gemaak is.

Dié pryse word jaarliks toegeken vir boeke wat die voorafgaande jaar deur die Media24 Boeke-afdeling en Jonathan Ball Publishers, ook deel van Media24, uitgegee is. Vanjaar is pryse met ’n gesamentlike waarde van meer as R200 000 toegeken in ses kategorieë.

WA Hofmeyr-prys vir Afrikaanse fiksie

Eben Venter wen die WA Hofmeyr-prys vir Afrikaanse fiksie vir die vyfde keer met Groen soos die hemel daarbo, ’n roman wat by Tafelberg verskyn het en waarin die skrywer moderne seksualiteit, intimiteit en identiteit verken. In hul kommentaar verwys die keurders na die aard van Venter se prosa: “... altyd sowel trefseker as soekend; sy sinne immer smagtend, byna nerveus tastend. Wat die leser ten slotte bybly, is nie soseer die voltrekking van die hoofkarakter se soeke na seksuele identiteit nie, maar wat die prosa vermag.” Venter is voorheen met die WA Hofmeyr-prys bekroon vir Foxtrot van die vleiseters (1994), Ek stamel ek sterwe (1997), Begeerte (2004) en Santa Gamka (2010).

Die ander boeke op die kortlys vir hierdie prys was Die wêreld van Charlie Oeng deur Etienne van Heerden en As in die mond deur Nicole Jaekel Strauss.

Lees ook:

Groen soos die hemel daarbo deur Eben Venter: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

Groen soos die hemel daarbo deur Eben Venter: ’n resensie

Video: Groen soos die hemel daarbo deur Eben Venter word bekendgestel


Elisabeth Eybers-prys vir Afrikaanse en Engelse digbundels

Marlene van Niekerk is vir die tweede keer bekroon met die Elisabeth Eybers-prys vir Afrikaanse en Engelse digbundels, dié keer vir In die stille agterkamer: Gedigte by die skilderye van Jan Mankes 1889–1920, wat deur Human & Rousseau uitgegee is. Sy het die prys ook in 2014 vir Kaar ontvang. In die stille agterkamer is deur die keurders as “’n boeiende dog meditatiewe leeservaring” beskryf. “Die visualiteit van hierdie bundel verskaf ’n nuwe toegangspunt tot Van Niekerk se werk vir ’n veranderende leespubliek, waar lesers dikwels in die eerste instansie kykers is. Van Niekerk omarm dié visualiteit sonder om die helderheid, krag, erns en diepgang van haar literêre visie prys te gee.”

Danksy die buitengewone sterk veld digbundels wat vir die Elisabeth Eybers-prys ingeskryf is, was daar vanjaar vier bundels op die kortlys. Die ander was Nou, hier deur Corné Coetzee, Radbraak deur Jolyn Phillips en Alles het niet kom wôd deur Nathan Trantraal.

Lees ook:

Video: Bekendstelling van Marlene van Niekerk se beeldgedigte


Recht Malan-prys vir niefiksie

Jacques Pauw wen die Recht Malan-prys vir niefiksie met The President’s Keepers, uitgegee deur Tafelberg. Volgens die keurders sal Pauw se boek saam met #GuptaLeaks onthou word vir die verandering wat dit in die Suid-Afrikaanse samelewing en die ANC meegebring het. Die keurders sê dat die krag van The President’s Keepers deels lê in die plofbare onthullings wat dit maak, maar veral in die feit dat die private en openbare belange wat Jacob Zuma staande gehou het, vir die eerste keer in ’n breedgebaseerde narratief met mekaar in verband gebring is. “Suid-Afrikaners woon vandag in ’n beter land as slegs agt maande gelede, deels danksy Pauw.”

Ook op die niefiksie-kortlys was How to Steal a City deur Crispian Olver en Khwezi: The Story of Fezekile Kuzwayo deur Redi Tlhabi.

Lees ook:

Press release: Impact of The President’s Keepers continues to spread

The President’s keepers: Kaapstad-bekendstelling

Sekurokratisering en Suid-Afrika: ’n onderhoud met André Duvenhage


Herman Charles Bosman-prys vir Engelse fiksie

Die Herman Charles Bosman-prys vir Engelse fiksie is vanjaar toegeken aan Ken Barris vir sy kortverhaalbundel The Life of Worm and Other Misconceptions wat deur Kwela uitgegee is. Die keurders sê dat Barris die alledaagse met die surreële kombineer op maniere wat verhelder maar dikwels onthuts. “Dit is ’n uitsonderlike versameling stories wat die leser deurgaans boei, amuseer, met weersin vervul en akuut bewus hou van Suid-Afrikaanse werklikhede.”

Die ander titels op die kortlys vir hierdie prys was I am Pandarus deur Michiel Heyns en Being Kari deur Qarnita Loxton (Kwela).

Lees ook:

The Life of Worm & Other Misconceptions: a review


MER-prys vir jeugromans in Afrikaans en Engels

Die wenner van die MER-prys vir jeugromans in Afrikaans en Engels is Carin Krahtz met Blou is nie ’n kleur nie (Tafelberg), wat verlede jaar ook bekroon is met die Sanlamprys vir jeuglektuur (goud). Dit is die tweede keer dat Krahtz die MER-prys vir jeugromans ontvang – in 2016 is dit aan haar toegeken vir Elton amper famous en juffrou Brom. Die ander titels op die kortlys was Hap deur Lesley Beake en Soen deur Jan Vermeulen.

Lees ook:

Blou is nie ’n kleur nie deur Carin Krahtz: ’n resensie


MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke

Die MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke is toegeken vir The All Africa Wildlife Express, geskryf deur Rosamund Haden en geïllustreer deur Tony Pinchuck. Dié boek het meegeding met Karel Kraai se kitaar deur Louise Smit met Luan Serfontein as illustreerder, en Liewe Heksie en die sterretjieskombuis – gebaseer op die oorspronklike verhaal van Verna Vels en geïllustreer deur Vian Oelofsen.


 

Die keurders was: Vir die WA Hofmeyr-prys: Francois Smith, Sonja Loots, Kerneels Breytenbach; vir die Recht Malan-prys: Jean Meiring, Elsa van Huyssteen en Pauli van Wyk; vir die Herman Charles Bosman-prys: Johan Jacobs, Molly Brown en Ann Donald; vir die Elisabeth Eybers-prys: Henning Pieterse, Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé; vir die MER-prys vir jeugromans: Nanette van Rooyen, Henriëtte Linde-Loubser en Betsie van der Westhuizen; en vir die MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke: Piet Grobler, Marjorie van Heerden en Magdel Vorster.

  • 1

Kommentaar

  • Sandra Pretorius

    Ek het Etienne van Heerden en Eben Venter se boeke albei gelees. Van Heerden s'n is myle beter as Venter s'n.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top