Groen soos die hemel daarbo deur Eben Venter: ’n resensie

  • 0

Groen soos die hemel daarbo
Eben Venter
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624082613

’n Karakter moet iets wil hê, lui die Amerikaanse skrywer Kurt Vonnegut se raad aan fiksieskrywers. ’n Karakter moet iets wil hê – wat impliseer dat ’n ervaring hom na hierdie begeerte dryf, asook dat die begeerte nagestreef moet word. Vir Simon Avend is dit dan ook so en in sy geval lei só ’n ervaring na ’n obsessie om kennis en begrip te bekom.

Eben Venter se nuutste roman, Groen soos die hemel daarbo, bestaan uit tien hoofstukke, wat ook as kortverhale gelees kan word, elk opgedeel in twee gedeeltes. In wese kan die teks as beide ’n roman en, weens die samehangende struktuur daarvan, ’n kortverhaalsiklus beskou word: karakters, ruimte, tema en chronologie bind die verhale om ’n geheel te vorm. Hoewel Venter internasionaal bekend is as romanskrywer (Wolf Wolf; Horrelpoot; Ek stamel, ek sterwe; Foxtrot van die Vleiseters, om maar ’n paar titels te noem), is hy nie ’n nuweling ten opsigte van die kortverhaalvorm nie. Venter debuteer in 1986 met die kortverhaalbundel Witblits. Sy aanslag tot die kortverhaalvorm in Groen soos die hemel daarbo is indrukwekkend, so ook hoe dit as siklus saamsmelt. Elke hoofstuk lees kompleet soos ’n volledige kortverhaal: ’n begin, ’n middel, ’n einde. Anders gestel: bekendstelling en ontwikkeling, ’n verhaalklimaks en dan ook ’n afloop. Die verhale ontwikkel vinnig met ’n goeie balans van ruimtebeskrywing, vertelstem en dialoog, tog bied dit genoeg karakterontwikkeling vir die leser om Simon te leer ken en selfs met hom te identifiseer, terwyl hy sy begeerte kopaf – en tog met oop oë – najaag. Alle vet aan die verhale is weggesny, wat die leser ten volle in Simon se teenwoordigheid laat.

In die openingstoneel staan Simon, vir ’n paar oomblikke ’n seun, saam met sy pa op hul plaas in die Oos-Kaap en kyk hoe ’n bul ’n koei dek. “Daar’s verwildering in haar oë, gewoonlik sag en blink,” merk die jong Simon op. Simon se pa wys daarop dat dit “maar net dieselfde tussen ’n man en ’n vrou” is (5). Uit en gedaan. Sy pa bedoel seks en dít is dan wat Simon as volwasse man probeer begryp.

Simon woon in Australië, waar hy as skrywer en liefdadigheidswerker ’n bestaan maak. Hy is ook ’n wêreldreisiger wat sonder skroom sy weg in ander lande vind. Bali, Tokio, Wassenaar naby Den Haag, Istanbul, Melbourne, Kaapstad en Bulungula, onder andere, vorm die ruimtes waar hy op soek gaan na ’n antwoord vir wat seks nou werklik is. Hier is hy bereid om te eksperimenteer en om mee geëksperimenteer te word en dít doen hy ten volle. Hy betree hierdie vreemde ruimtes “(s)laggereed om alles in te gooi, kragte en swakhede” (143).

Venter, wat self in Australië woon, se oog vir besonderhede is sterk teenwoordig in hierdie gedeeltes. Ruimtes word noukeurig geskets en ingekleur ten einde vir ’n realisme te sorg, met Simon wat in hierdie ruimtes – sommige eksoties, ander nie – as fokalisator ingespan word om die leser as’t ware op reis te neem. As sulks kan die verhale ook as reisverhale beskryf word. In wese nuuskierig, verken Simon sy ruimtes ten volle – hy eet, hy drink, hy skryf en hy bevriend en slaap met mans om hom nader aan sy doel te bring. Hy wil verstaan. Nou en dan figureer sy ma, wat in ’n aftreeoord in Jeffreysbaai woon. Hy gaan kuier by haar (’n humoristiese braai by die aftreeoord as gevolg) en later kom kuier sy ook by hom in Australië. In albei gevalle is dit opmerklik hoe Simon afstand gedoen het van sy ouers se manier van dink en doen. Oor ideologiese en geografiese afstand bly hy tog getrou aan sy ma en soek net die beste vir haar, wat die ma-seun-verhouding verken. (Venter verken die pa-seun-verhouding in van sy vorige werke.)

Hoewel dit blyk dat Simon altyd ten volle teenwoordig is, lei sy seksuele ervarings na nadenke oor sy kinderjare in Suid-Afrika, op die plaas in die Oos-Kaap. Die verhouding met sy pa en ma, asook die diep band met die betrokke ruimte (“Jy moet onthou dat dit die heel mooiste plek op aarde vir my was. Gegriffel in my gees, op my liggaam, in alles wat ek is. Ek het die name van al die karoobossies leer ken. Die hemel. Die hemel was geweldig” (147)) word sodoende gejukstaponeer met die eksotiese (soms skyn-eksotiese) van die elders waar hy hom telkemale bevind. Die hier en nou word deurgaans met die daar en toe gekontrasteer en geïntegreer, wat vrae stel oor Simon se siening van homself, asook sy psigiese poging om afstand te probeer doen van ’n verlede wat gevlek is met onregte aan ander mense.

In die tweede gedeelte van elke verhaal besoek Simon vir dr Spiteri, sy sielkundige in Australië, waar hy vertel van sy reise, die mans wat hy ontmoet het en van sy seksuele ervarings. Simon se stories, sê dr Spiteri, het “sye en kante” (143) en dit “vermenigvuldig” – “(h)ulle broei uit in al daardie stede van hom, en volgroei hier in haar sitkamer” (144). In ’n poging om seks en in wese homself te begryp, verkeer Simon en dr Spiteri in ’n reeks gesprekke, wat Simon soms omgekrap laat en haastig die deur laat kies. Alle sake met betrekking tot seksualiteit, begeerte, beperkinge en bemeestering van die self, en uiteindelik ook manlikheid en ’n morele lewe, word hiertydens neergelê. Dít alles via die wyshede van die Grieke en veral dié van Michel Foucault. Simon, vertel dr Spiteri, moet hom volkome oorgee aan passie en bowenal hiertydens ten volle teenwoordig wees.

Hoewel dit kan lyk asof die roman primêr op die ontwikkeling van seksuele begeerte as onderwerp afstuur, is dit eerder Simon se begeerte om die mate waartoe die seksuele hom as mens vorm, te verstaan en hoe dit uiteindelik kommentaar lewer op wat manlikheid is (of veronderstel is om te wees) wat Venter se hantering van die onderwerp interessant maak. Simon is g’n cliché nie en Venter slaag daarin om ’n soms holruggeryde onderwerp van ’n ander hoek te beskou en terselfdertyd sy leser geboei te hou. Omdat dr Spiteri deurgaans vir Foucault nader sleep om antieke sieninge van begeerte en manlikheid onder die loep te neem, is dit die beproewing en voorstelling daarvan deur Simon – ’n moderne wêreldburger in murg en been – wat die roman ’n aangrypende teks maak.

In die tradisie van Robert Pirsig se Zen and the Art of Motorcycle Maintenance en sy verkenning van waardes wat in fiksie deurvleg is, bied Venter se Groen soos die hemel daarbo soortgelyk ’n bespreking van seksualiteit en begeerte, manlikheid en selfverkenning deur die fiksionele vlees en psige van Simon Avend. Die stories het sye en kante wat om en om gedraai moet word en van alle kante af bekyk moet word om Venter se fyn nuanses met taal (soms verruklik mooi!) en tema- en karakterontwikkeling te waardeer. Dan is daar ook die roman se titel ... Moet nie dat die skamele 212 bladsye jou flous nie; ’n tweede lees sal definitief in orde wees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top