Blou is nie ’n kleur nie deur Carin Krahtz: ’n resensie

  • 4

Foto van Carin Krahtz: Naomi Bruwer

Blou is nie ’n kleur nie
Carin Krahtz
ISBN: 9780624081937
Tafelberg, 2017

Soos wat ’n mens van ’n gouepryswenner in die Sanlam-kompetisie kan verwag, is hierdie boek ’n waardige ontvanger. Maar dit is terselfdertyd sóveel meer. Blou is nie ’n kleur nie slaan jou asem weg. Dit pluk aan jou binnegoed. Dit betrap jou onverhoeds in ’n leeservaring wat jou soms duiselig sal laat. Moenie dat die onskuldige voorblad jou flous nie. Hierdie is geen rit om sonder ’n stewige sitplekgordel aan te durf nie.

Vicky Vorster is 16 jaar oud. Haar gesinslewe is bykans ondraaglik na “die ongeluk” van drie jaar gelede. Paternoster (Onse Vader), soos wat sy na haar pa verwys, drink te veel en hy en haar ma, MD (Managing Director), baklei voortdurend. (Hierdie benoeming van haar pa blyk later, wanneer ’n diep geheim aan die lig kom, ironies en veelseggend te wees. Paternoster kan ook spottenderwyse verwys na iemand wat hoogheilig en uitermate vroom is.) MD is ’n uitstekende prokureur en “’n bulldog in pastelkleurige werkspakkies”, maar haar oplossing vir die krisis tuis is om haar “kop skoon te kry” en uit te trek. Ouma Nan, “bitterder as augmentin” en ’n oud-Rhodesiër, bly agter en vererger net sake met dié dat sy nie ’n goeie woord oor Paternoster te sê het nie. Nan is immers die “driekampkampioen in mor, moan en mislik wees”.

Voorts besluit Paternoster om weer as Hoof van sy Eie Huis (sy eie heiligdom) die beheer oor te neem.

Vicky se ouer suster, Rina (“die queen”), is bitsig en snedig teenoor haar. Tog skuil daar agter hierdie bravade ’n diep seer, wat daartoe lei dat dié agtienjarige matriekmeisie haar bed snags natmaak en akademies swak vaar.

Die pa se besluit om na Nieu-Seeland te emigreer word nooit volvoer nie, maar word eerder ’n innerlike reis van soeke na oplossings vir die verswelgende angs en die uitdagings wat ’n verbrokkelende gesinslewe aan elk van die karakters stel.

In hierdie jeugboek kulmineer vrese oor die toekoms, disfunksionaliteit en ander bagasie van gesinslede in een meesleurende, ontstigtende verhaal. Die temas is ernstig en ontstellend, maar dit is geen wroegroman nie. Hier en daar help ligte humor en spitsvondige taalgebruik die leser met die verteringsproses, maar oor die algemeen “lag almal se nar-bekke in blou, nie meer in sirkusrooi nie”, want hierdie is nie ’n “ha-ha-sirkus” nie. Dis ’n werklikelewedrama van ’n gesin wat verbrokkel onder die aanslag van angs, van alkoholmisbruik, van intense verlies en van die realiteit van oorleef in ’n land waar witwees nie meer oplossings bied nie. Dis ’n tragiese verhaal van skuldgevoelens en van die versmorende druk van die logge “Olifant in die Vertrek” – die dood van ’n jonger kind en boetie.

Carin Krahtz is die skrywer van die uiters gewilde Elton April-reeks (2015 en 2017), wat lesers met humor en gevatte kwinkslae vermaak. Met Blou is nie ’n kleur nie maak sy ’n radikale ommeswaai en die eindproduk is allesbehalwe lekker. Hierdie boek (die skrywer se derde jeugroman dus) is nie ’n lekkerlees-ervaring nie, maar dit is beslis ’n móét-lees-een. Die gestroopte, eerlike aanbieding sorg vir ’n briljante en hartverskeurende verhaal. Voorwaar ’n wenner wat waarskynlik ’n gewilde voorgeskrewe werk gaan word.

Blou is nie ’n kleur nie bied geen kitsoplossings nie. Dit laat eerder die leser met meer vrae as antwoorde. Antwoorde wat die leser sélf moet soek. Dit is ’n aangrypende verhaal gemik op ouer tieners en jong volwassenes, waarin relevante temas met groot sukses aangespreek word.

  • 4

Kommentaar

  • Derick van der Walt

    Seersekerlik een van die beste Afrikaanse jeugboeke ooit (indien nie die beste nie) en moenie jou neus optrek en jou oë rol omdat jy dink dis'n kinderboek nie. Dis glad nie. Ek verskil effens van die resensent: Dis 'n boek, myns insiens, juis ook vir volwassene lesers. Jy weet nie wat jy gaan mis as jy dié een oorslaan nie. Een van die hoogtepunte van 2017 se Afrikaanse boek-oes, alle genres ingesluit.

  • Net nog ñ ouers

    Kan iemand my asb verduidelik hoekom hierdie boek as jeuglektuur geklassifiseer word? Ek as ouer het dit gelees; in vandag se lewe is daar nét te veel bronne wat jong tieners se onskuld steel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top