PEN Afrikaans se jaarlikse lesing oor uitdrukkingsvryheid en die reg om die ongemaklike vraag te vra

  • 0

Lourensa Eckard, ’n joernalis, veldaanbieder vir Carte blanche en die aanbieder van die aktualiteitsprogram In gesprek met Lourensa Eckard op kykNET, het op 29 September 2026 PEN Afrikaans se jaarlikse lesing oor media- en uitdrukkingsvryheid in Suid-Afrika aangebied.

Eckard en PEN Afrikaans het ingestem om haar lesing deel te maak van LitNet se besinning oor die media tydens die LitNet Afrikaanse Skrywersberaad.

Die volledige teks verskyn hier onder.

Vryheid van spraak: die reg om die ongemaklike vraag te vra

Goeienaand dames en here, baie dankie aan PEN Afrikaans vir hierdie geleentheid – dit is ’n voorreg om vanjaar die lesing oor media- en uitdrukkingsvryheid te lewer. Die voordeel van ’n aanlyn lesing is dat ek dit op ’n koue en reënerige dag in my pantoffels kan doen!

My nieamptelike onderwerp vanaand is: Vryheid van spraak: die reg om die ongemaklike vraag te vra.

Wanneer mense ophou om die waarheid te bevraagteken

En ek wil vanaand begin met ’n eenvoudige vraag: Wat is die eerste ding wat gebeur wanneer mense ophou om aansprake op waarheid te bevraagteken? Nie wanneer hulle ophou om die waarheid te ken nie. Wanneer hulle ophou om vrae te vra. Wanneer mense begin aanvaar dat sekere vrae te gevaarlik is. Dat sekere mense te gevaarlik is om vrae te moet beantwoord. Dat sekere mense bo kritiek verhewe is. Dat sekere instellings nie bevraagteken mag word nie. Dat sekere idees nie uitgedaag mag word nie. En, miskien die gevaarlikste van alles: dat stilte veiliger is as waarheid.

Vir my as joernalis is dit nie ’n abstrakte vraag nie. Dit is die vraag waarmee ons elke dag werk.

Ek is nog betreklik jonk en onervare – ek het in 2014 my loopbaan as joernalis by Beeld in Johannesburg begin. Dit was in die tyd toe nuuskantore groot en stewig was; joernaliste kon hulle toespits op sogenaamde beats – ons het ’n misdaadspan gehad, ’n politieke span, ’n span wat net op vermaak kon fokus, en natuurlik sport. ’n Verskeidenheid van stemme in ’n nuuskantoor is noodsaaklik. Daar was daagliks robuuste gesprekke en debatte gewees oor die stories wat ons dek, hoe ons dit dek, met wie ons moet praat, met wie ons nie moet praat nie.

Sedertdien het nuuskantore kleiner en kleiner geword – Beeld as gedrukte koerant bestaan ook nie meer nie.

So wat het ek sedert my dae as jong verslaggewer by Beeld oor media- en uitdrukkingsvryheid geleer? 

Kompetisie

Eerstens, joernaliste en nuusplatforms kompeteer vandag met ’n magdom ander inhoudskeppers, smaakmakers, potgooie en YouTube-kanale. Ek is nie kwaad hieroor nie; trouens ek verwelkom dit. Almal kan vandag ’n joernalis wees, maar nie almal kan ’n goeie joernalis wees nie. Verby is die dae wanneer joernaliste gedink het hulle het die alleenreg op die skep van inhoud en dat net hulle ’n platform het.

Ek dink dit is goed dat ons in sommige gevalle gedwing is om ons ivoortorings te ontruim. Foute wat in die verlede deur die sogenaamde hoofstroommedia gemaak is, is baie keer juis uitgewys deur die sogenaamde alternatiewe media. Ek dink dit is baie gesond dat daar nou meer druk op joernaliste is om die waarheid na te streef – as ons weet dat daar nou meer op die spel is, gaan ons hopelik meer doen as wat in die verlede van ons verwag is.

Die gevare van hierdie nuwe medialandskap is dat silo’s ontstaan waar mense slegs na diegene luister wat hul wêreldbeskouing deel. Een voordeel van die ou manier van doen is dat jou keuses tot so ‘n mate beperk was dat jy amper gedwing was om na die ander kant te luister. Jy het die koerant opgetel en jy is blootgestel aan menings wat van joune verskil; jy het die TV aangeskakel en jy moes luister na iemand met wie jy verskil. Vandag kan jy kies om net te luister na die gladdebek potgooi-aanbieder wat jou vertel presies wat jy wil hoor.

Dit is ook ons demokratiese realiteit: Ons praat dikwels oor vryheid van spraak asof dit bloot die reg is om ’n mening te hê. Maar ’n demokrasie is meer as miljoene mense wat elkeen ’n mening het. ’n Demokrasie vereis dat mense daardie menings kan uitspreek, bevraagteken, verdedig, verander en verwerp. Ons in die media moet presies dit doen: Ons moet menings uitspreek, ons moet dit bevraagteken, dit verdedig, verander en verwerp wanneer nodig. Dan om nie eers te praat oor die magtige sosialemedia-algoritmes wat inhoud op so ‘n wyse opdis dat jy nie jouself weg van die skerm kan dwing nie. Maar dit help nie ons as joernaliste bekla dit nie. Ons moet dit bloot aanvaar en beter wees.

Gehoor

Dit bring my by die tweede les wat ek in my tyd as joernalis geleer het, en dit is dat media- en uitdrukkingsvryheid ’n wisselwerking is tussen die boodskap wat die joernalis uitstuur en die mense wat dit ontvang. Eenvoudiger gestel, media- en uitdrukkingsvryheid is niks sonder ’n gehoor nie.

Ons plaas dalk te veel die klem op die boodskap, op die platform, op die betrokke joernalis dat ons die leser, die luisteraar en die kyker uit die oog verloor. Destyds gedurende my dae by Beeld was dit altyd ’n hoogtepunt om die volgende dag die brieweblad te fynkam. Om te sien hoe ons lesers op ons inhoud reageer. Daar is soms ’n gevoel dat ’n leser, ’n luisteraar of kyker beskerm moet word teen sommige goed. Asof ’n aanvegbare en ’n omstrede argument wat uitgespreek word deur ’n aanvegbare en ’n omstrede persoon, op een of ander manier die publiek gaan besmet. Asof hierdie idees of mense geïgnoreer moet word, want hulle idees is aansteeklik.

Dit was nog altyd my uitgangspunt dat jy jou lesers, luisteraars en kykers moet vertrou om self te besluit, dat jy hulle nie as kinders moet hanteer wat van die “regte wêreld” beskerm moet word nie. ’n Gehoor sien deur ’n agenda en die meeste mense besef dadelik wanneer hulle neerhalend behandel word . Die realiteit is juis in hierdie nuwe medialandskap waarin ons beweeg, dat hierdie idees op een of ander platform in elk geval uitgedruk gaan word.

Aanvegbare en onsmaaklike idees moet met groot dringendheid uitgedaag word; dit moet geensins onderdruk word nie. Soveel as moontlik spreekwoordelike sonlig moet op die gevaarlike idees en die gevaarlike mense geplaas word.

’n Gevaarlike tendens het ook die afgelope tyd begin posvat, en dit is die idee dat indien daar aan iemand ’n platform gegee word, dit noodwendig beteken dat jy met die persoon saamstem. Die teendeel is eintlik baie keer waar, dat wanneer jy vir iemand ’n platform gee, jy dit doen om hulle uit te daag en om te kyk of hulle idees die toets van ’n kritiese ondersoek slaag. Om die publiek tot so mate te probeer beskerm, is soos om nie jou kind in te ent nie. Blootstelling aan ’n bietjie van die virus is al hoe jy uiteindelik behoorlik weerstand teen die virus opbou.

So media- en uitdrukkingsvryheid beteken ten einde dat jy die publiek moet vertrou en respekteer. Hulle gaan weet as jy dit nie doen nie. En ek dink dit is juis weens ons land se geskiedenis dat baie Suid-Afrikaners fyn ingestel is op hoe die media hulle hanteer.

Ons kom uit ’n geskiedenis waarin die staat nie bloot bepaal het wat mense mag doen nie; die staat het probeer bepaal wat mense mag sê. Wat hulle mag lees. Wat hulle mag skryf. Waaroor hulle mag berig. Watter idees aanvaarbaar was. Watter boeke beskikbaar was. Watter stories vertel kon word. En watter stories onderdruk moes word. Sensuur was nie ’n klein administratiewe instrument nie. Dit was deel van ’n groter stelsel van beheer.

Want mag verstaan iets wat alle magstrukture uiteindelik verstaan: Beheer die inligting, en jy beheer die gesprek. Daarom was die bevryding van Suid-Afrika nie net ’n politieke bevryding nie. Dit was ook ’n bevryding van die media. Van denke. Van debat. Van die reg om vrae te vra. Ons Grondwet plaas vryheid van uitdrukking sentraal in ons demokratiese orde. Maar ons moet onthou waarom. Nie omdat woorde altyd mooi is nie. Nie omdat alle menings korrek is nie. Nie omdat elke persoon altyd goeie bedoelings het nie. Maar omdat ’n vrye samelewing nie kan funksioneer as mense bang is om te praat nie.

Hardnekkigheid

Die derde les wat ek al in my tyd as joernalis geleer het, is dat media- en uitdrukkingsvryheid hardnekkigheid vereis. Ek word soms gevra waarom ondersoekende joernaliste so hardnekkig is. Waarom ons nie net ’n verklaring kan aanvaar nie. Waarom ons dieselfde vraag oor en oor vra. Waarom ons dokumente wil sien. Waarom ons mense bel wat ander mense verkies om nie te bel nie. En die antwoord is eenvoudig: Omdat mag selde vrywillig rekenskap gee.

Dit is nie noodwendig omdat almal wat mag het, korrup is nie. Dit is omdat mag per definisie die vermoë het om dinge te beïnvloed. En daarom moet mag bevraagteken word. ’n Minister moet bevraagteken word. ’n Groot sakeonderneming moet bevraagteken word. ’n Polisiehoof moet bevraagteken word. ’n Universiteitsbestuur moet bevraagteken word. ’n Politieke party moet bevraagteken word.

En, ja, selfs ons as ondersoekende joernaliste moet bevraagteken word. Want niemand is bo die wet verhewe nie. Dit is een van die belangrikste beginsels van ’n demokratiese samelewing: Geen mens behoort groter as die waarheid te wees nie.

Dit is ’n groot uitdaging deesdae om die magtiges te kry om in te stem tot ’n onderhoud. Ek beleef dit as aanbieder op In gesprek en ook by Carte blanche. “Geen kommentaar” is ’n standaard refrein, maar dit is nie goed genoeg nie. Dit is ’n skande dat ministers en ander regeringsamptenare nie meer gereeld die media te woord staan nie; dit is ’n skande dat ons president byna nooit aantree vir ’n indringende en konfronterende onderhoud nie.

In ons werk as aanbieders by Carte blanche kry oins ook gereeld te make met mense wat ons probeer intimideer of die hofproses misbruik om te keer dat ons sekere goed uitsaai.

Wat selfs nog erger is, is dat potensiële fluitjieblasers deesdae bloot te bang is om te praat, al waarborg ons volkome anonimiteit, al belowe ons dat ons hul identiteit sal verberg: Mense is te bang om te praat weens die feit dat daar al van so baie fluitjieblasers dodelike voorbeelde gemaak is. Vir baie mense is die prys van waarheid net te hoog, en ongelukkig betaal die res van Suid-Afrika die prys.

Mag

Ek dink ’n ongemaklike aspek van media- en uitdrukkingsvryheid is dat joernaliste ook mag het. Ons besluit met wie ons praat. Ons besluit watter vraag ons eerste vra. En daarom moet ’n joernalis nooit sê: “Ek het vryheid van spraak, daarom kan ek enigiets sê” nie. Nee. Met vryheid kom verantwoordelikheid.

Ons eerste verantwoordelikheid is teenoor die waarheid. Nie teenoor ’n politieke party nie. Nie teenoor ’n adverteerder nie. Nie teenoor ’n bron nie. Nie teenoor ons eie ego nie. Nie eens teenoor ons gehoor nie. Teenoor die waarheid.

Die waarheid is dat joernaliste ook net mense is; ons is óók bang wat ander van ons gaan dink, wat hulle van ons gaan sê. Wat gaan ons kollegas in die media van ons dink en sê? Dit is hartseer dat dit soms lei tot selfsensuur, want daar is ’n vrees dat ons “gekanselleer” gaan word. Om ’n konsensus uit te daag is moeilik, want deesdae word jou menswees aangeval, jou moraliteit word bevraagteken en joernaliste word reeds genoeg gedreig deur byvoorbeeld politici, dat ons nie mekaar moet begin dreig en intimideer nie.

Polarisasie

Ek het nou gepraat oor die lesse wat ek geleer het, maar ek wil tog ook iets sê oor die bedreigings vir media- en uitdrukkingsvryheid, en dit is na my mening hoofsaaklik polarisasie. Nie om met mekaar te verskil nie. Dis gesond. Polarisasie is anders. Polarisasie verander politieke opponente in vyande. Dit verander debat in ’n geveg. Dit verander kritiek in verraad. En uiteindelik verdraai dit vrae in ’n aanval. Jy vra ’n ongemaklike vraag oor iemand se politieke party. “Jy is teen ons.” Jy bevraagteken ’n beleid. “Jy haat ons mense.” Jy kritiseer ’n leier. “Jy probeer hom vernietig.” En skielik gaan die gesprek nie meer oor die vraag nie. Dit gaan oor die persoon wat die vraag gevra het.

Dit is ’n ou taktiek. Wanneer jy nie die argument kan wen nie, probeer jy die persoon diskrediteer.

Grense?

Maar ten einde bring dit ons by ’n moeilike vraag: Wat is die grense van media- en uitdrukkingsvryheid? Want daar ís grense. Ons Grondwet erken beperkings op onder meer haatspraak en aanhitsing tot geweld. En dit is belangrik.

Want media- en uitdrukkingsvryheid beteken nie: “Ek kan enigiets sê en niemand mag my aanspreeklik hou nie.” Woorde het gevolge. Woorde kan geweld aanhits. Woorde kan gemeenskappe teen mekaar draai. Maar hier is die probleem: Ons moet versigtig wees wanneer ons die woord “skadelik”  gebruik. Want in ’n demokratiese samelewing is nie alles wat ons aanstoot gee, onwettig nie. Nie alles wat ons kwaad maak, is haatspraak nie. Nie alle kritiek is ’n aanval nie. Nie elke moeilike vraag is ’n bedreiging nie. En nie elke ongewilde mening is gevaarlik nie. Ek dink ook dit is iets wat eiesoortig aan Suid-Afrikaners is – ons is baie veerkragtig. Ons kan die waarheid hanteer, want gegewe die magdom uitdagings waarmee elke gewone Suid-Afrikaner worstel, vind ons tog steeds oplossings.

Afrikaans

Wat beteken media- en uitdrukkingsvryheid in ’n Afrikaanse konteks vir my? Ek is uiters dankbaar dat ek as joernalis in Afrikaans kan werk. Om eerlik te wees het ek nie aanvanklik gedink ek gaan in Afrikaans werk nie; ek het maar aan die begin van my loopbaan sterre in my oë gehad en wou so gou as moontlik by groot Engelse koerante gaan werk. Ek is uiters dankbaar dat ek toe wel ’n geleentheid gekry het om my loopbaan in Afrikaans te kan begin, en ek kan my nie ’n toekoms indink waar ek nie in Afrikaans werk nie. Ek beskou dit as ’n voorreg, nie as ’n beperking nie. Ek dink baie keer word die Afrikaanse media as afsonderlik van die Engelse media beskou, en dit is miskien so, bloot as daar na taal gekyk word. Maar van ons land se voorste ondersoekende joernaliste is Afrikaans, en hoewel van hulle soms in Engels werk, is hul moedertaal steeds Afrikaans.

Maak dit saak in watter taal joernalistiek gepleeg word? In die Suid-Afrikaanse konteks is die antwoord ja.

Ons is ’n land met ’n wye verskeidenheid van tale en kulture. Joernalistiek is immers meer as die oordra van feite. Dit gaan ook oor betekenis. Dit gaan oor konteks. Dit gaan oor die vermoë om mense se stories, vrese, hoop, woede en vreugde so akkuraat as moontlik oor te dra. En taal is die instrument waarmee ons dit doen. Ons leef in ’n wêreld waarin Engels dikwels as die taal van mag, sake, akademie en internasionale kommunikasie beskou word. Dit is ’n werklikheid wat ons nie kan ignoreer nie. Maar dit beteken nie dat Afrikaans minderwaardig is nie. Inteendeel. Elke taal gee toegang tot ’n besondere wêreld van denke, ervaring en betekenis.

Vir my is Afrikaans daarvoor ’n ongelooflik kragtige instrument. Dit is ’n taal wat kan sny wanneer dit moet. Dit kan subtiel wees. Dit kan ironies wees. Dit kan hard wees. Dit kan sag wees. Dit kan ingewikkelde idees eenvoudig verduidelik, maar ook die ingewikkeldste emosies in ’n enkele sin vasvang. En miskien is dit juis waarom ek so dankbaar is om daarin te kan werk. Want taal is nooit neutraal in die sin dat dit bloot ’n stel woorde is nie. Taal dra herinneringe. Dit dra geskiedenis. Dit dra identiteit. Dit dra kultuur. Maar ons durf nie slegs praat met mense wat Afrikaans is nie. Inteendeel. Hoe meer tale, hoe meer stemme, hoe meer menings.

Hoe wonderlik dat ons in Suid-Afrika hoegenaamd nie ’n tekort aan stemme en menings het nie, want hoe meer mense hulself in hul moedertaal kan uitdruk, hoe ryker word die openbare gesprek. As ons Afrikaans wil behou as ’n lewende taal van joernalistiek, moet ons dit ernstig opneem. Ons moet dit gebruik om oor alles te praat – nie net oor taal en kultuur nie. Ons moet in Afrikaans praat oor politiek en ekonomie. Oor wetenskap en tegnologie. Oor misdaad en korrupsie. Oor klimaatsverandering. Oor kunsmatige intelligensie. Oor onderwys, gesondheid en die toekoms van ons land.

Dankbaar

Ek is dankbaar vir die mense wat my taalgebruik gevorm het.

Dankbaar vir die skrywers, joernaliste, onderwysers en sprekers wat gewys het hoeveel moontlikhede daar binne Afrikaans bestaan. Dankbaar vir elke persoon wat bereid is om in Afrikaans met my te praat, selfs wanneer die onderwerp moeilik, persoonlik of omstrede is. En veral dankbaar vir die lesers, kykers en luisteraars wat steeds kies om hul nuus en stories in Afrikaans te ontvang.

Optimisme

Ten slotte wil ek net sê dat hoewel daar bedreigings vir media- en uitdrukkingsvryheid in ons land is, is ek baie optimisties. Ek is optimisties want daar is nuwe en vindingryke maniere waarop joernaliste verantwoordelik gehou word; daar is nuwe en vindingryke maniere en platforms waarop joernaliste hul stories kan deel. Ons word tans amper gedwing om anders oor joernalistiek en media- en uitdrukkingsvryheid te dink. Ons het die geleentheid om dit te hervorm sodat dit geskik is vir die tye wat verander. Laat ons nooit die basiese beginsels uit die oog verloor nie, maar laat ons ook nie so verknog aan die verlede wees dat ons die toekoms in sluimer nie. Solank as wat ons net aanhou met mekaar praat, met mekaar verskil, met mekaar in lekker hewige debat tree, sal ek altyd hoopvol wees.

*

Die opname van die lesing is by hierdie skakel beskikbaar, of klik op video hieronder.

Lees ek kyk ook:

PEN Afrikaans en Herman Wasserman: Herman Wasserman en die infodemie: Disinformasie in die Globale Suide

Tim du Plessis: As dié artikel verlede jaar geskryf was

Julian Jansen: Wat staar ’n joernalis vandag in die gesig?

Lizette Rabe: Quo vadis, o quo vadis?

Marianne Thamm: Uitdrukkingsvryheid

Herman Wasserman: Meta’s moderation cop-out will fuel misinformation

Menán van Heerden, Izak de Vries en Herman Wasserman: Disinformation in the Global South: ’n onderhoud met Herman Wasserman

Herman Wasserman: ’n Gevaarlike tyd om ’n joernalis te wees

Lees die ander bydraes hier:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top