Waarheen, o waarheen, te midde van al hierdie tumult, plaaslik en globaal, wat rondom ons woed?
Hetsy Trump wat Afrikanerboere na Amerika nooi omdat hy meen dis hulle wat die swaarste kry in die geliefde land (vergeet van die lot van swart medeburgers wat in sistemiese armoede vasgevang is en die soveel meer geweld waaraan hulle blootgestel is); hetsy dit die nuwe wêreldorde is wat besig is om sigself te hervorm/omvorm/vervorm.
Terwyl tradisionele inligtingverskaffing, ook die joernalistiek genoem, toenemend onder druk is. Nie net tradisionele drukmedia nie, maar ook digitale nuuswebwerwe wat veg om oorlewing. Want “nuus is mos verniet”.
Professionele nuusmedia is gewoonlik agter ’n betaalmuur – want jy kan nie by ’n supermark instap en nie betaal vir jou mandjie kruideniersware, of jou dokter besoek sonder dat jy ’n rekening kry nie. So ook met ordentlike inligting. Ander “nuus” is gratis, maar dit voldoen nie noodwendig (gewoonlik nie) aan die professionele vereistes van die joernalistiek nie. Met ander woorde: geverifieer, onafhanklik, billik, met integriteit – professionele joernalistiek.
Die wêreldgeskiedenis is ’n slagveld, het die Duitse filosoof Hegel gesê. En ons beleef verwonderd (eintlik verslae) hoe geskiedenis, plus te veel slagvelde, op die oomblik 24/7 voor ons oë afspeel. Danksy ons altyd-aan digitale lewe, of jy jou laat bedien deur die nuusmedia se régte joernalistiek, in druk of digitaal, of sosiale media se strome snert, belééf ons geskiedenis. Én fisieke en psigiese slagvelde.
Geen wonder ons is almal so angstig nie.
Nee, erger. Ons ly aan Angst. As dinge so erg raak, gryp ons mos soms na vreemde woorde. Soos daardie “Angst”. Dis asof “Angst” meer uitdruk as ons gewone, alledaagse, garden variety Afrikaanse “angs”.
Daarom ook dat daar al so baie leenwoorde in soveel tale uit Duits is. Want: Angst is soveel erger as angs. Dis ANGS in hoofletters. En op Duits gespel is dit veel meer lewensbedreigend as gewone angs.
Ander leenwoorde wat nou gepas is: Zeitgeist – dit wat ’n tydperk definieer; Weltschmerz – ’n pyn wat jy voel oor die toestand van ons wêreld; Fernweh – ’n onverklaarbare melankolie vir ’n plek ver van hier, maar eintlik omdat jy wil ontsnap van hier en nou; Schadenfreude – om jou te verlekker in die skande en skade van ’n ander.
Sulke leenwoorde is al so aanvaarbaar dat die Duitse taalreël om selfstandige naamwoorde met ’n hoofletter te spel, in sommige tale sommer geïgnoreer word.
En te midde van suiwere, onverdunde Angst bevind ons ons nou in ’n Zeitenwende. ’n Keerpunt. ’n Kantelpunt. Ook genoem ’n Epochenbruch.
’n Breuk tussen twee tydperke. ’n Nuwe wêreldorde. Dis ’n regsomkeer (ja, lees dit as ’n omkeer na regs). ’n Breekspul wat die vorige orde uitmekaar laat dryf soos yslike tektoniese plate wat donderend van mekaar wegskuif, reg rondom ons planeet.
Melodramaties?
Nee. Ons beleef die morsige geboorte van ’n nuwe wêreldorde. Werklike, geverifieerde, onafhanklike nuusbronne kan nie voorbly met getoetste inligting nie, en sosiale-media-“nuus” word in strome uitgespoeg. En die moeë, angstige mens weet nie meer wat is regte nuus en wat is fopnuus nie.
Die ironie is dat mense voorheen alles wat sleg was, toegeskryf het aan “die media”, terwyl dit nie die media is wat dinge fabriseer nie – dit rapporteer bloot feite. Nou sluk mense fopnuus huidjie en muidjie en blameer nie die (sosiale) media vir waarmee hulle gevoer word nie.
Ons beleef ’n keerpunt in soveel opsigte. Geopolities, geostrategies, geotegnologies. Dit alles het ’n invloed op ons gewone mense se daaglikse dink en doen. Terwyl ons eintlik niks verstaan van wat agter die skerms aan die gang is nie: nie die politiek nie, plaaslik en globaal; nie die strategieë van al die toutjietrekkers daaragter nie; en nie die tegnologie nie.
En hier sit ons. Vasgevang in ’n Zeitenwende. ’n Keerpunt. ’n Nuwe tydvak.
Boonop in ’n “dubbelwêreld” waarin die moderne mens sig bevind. Ons daaglikse, driedimensionele bestaan, plus die nuwe wêreld, virtueel, van alles wat op ons slimfoon-, skootrekenaar- en TV-skerms gebeur.
Waar ons digitale voetspoor nie so vlietend is soos in ons dimensie nie. In die digitale dimensie is jou voetspoor onmiddellik. En permanent. En dit het gevolge. Die term is dophoukapitalisme – lees gerus hierdie artikel oor “surveillance capitalism”. Dit beskryf hoe maatskappye soos Google en Facebook ons supermaklik oorreed om al ons data net so aan hulle te gee, gratis en verniet. Waarmee hulle dan woeker. Hulle kan daarmee ons gedrag nie net voorspel nie, maar ook beïnvloed. Tech-ghoeroe Mark Zuckerberg sê sonder skroom: “Privaatheid is nie langer ’n sosiale norm nie.”
Daarom dat algoritmes ons so van alle kante voer met dít wat ons tegnologiese Big Brother dink óns dink. Waarmee jy alte maklik in jou eie eggokamer of “filterborrel” vasgevang kan word. Saam met mede-Twitterati wat soos jy dink. Wat jou dalk al hoe verder meevoer in ander haasgate in. Daarom kan ’n mens, voor jy dit besef, deel word van die nuutste samesweringsteorie wat so vinnig traksie kry. Wat ons boonop self verder vlerke gee deur dit te hertwiet na dese en gene. Wat dit weer verder twiet.
Dit alles vorm deel van die sogenaamde bevestigingsvooroordeel (“confirmation bias”) – kyk net, jou mening word dan bevestig deur al hierdie ander bronne! Met algoritmes voer dit jou net verder in daardie vooroordeel-haasgat af en raak jy al hoe meer oortuig daarvan dit moet die waarheid wees. Dis ’n bose kringloop: Hoe meer ek oortuig is van iets, hoe meer sorg algoritmes dat ek nog dieper oortuig word daarvan. Só, dat ons later in parallelle universums lewe.
Dis boonop so maklik om sosiale media as jou seepkis of megafoon te gebruik om jou populistiese oortuigings te versprei. Mense wil graag glo wat hulle glo. Dus glo hulle al hoe yweriger hoe meer hulle daardie boodskap hoor. En raak al hoe meer oortuig daarvan dat hul denkwyse die regte een is. Sosiale media bring eendersdenkendes bymekaar. (Maar eintlik, op sy heel onskuldigste, het sosiale media [ook] outydse skinder vervang.)
Waaroor gaan dit alles?
Hierdie Zeitenwende, of omwenteling, of sê maar sommer revolusie, beleef ons “mediaal”, oftewel deur die media.
En ons as gewone mense moenie dink dis iets daar ver wat ons nie aangaan nie. Al daardie mis- en disinformasie, propaganda op steroïede, fopnuus en diepvervalsings raak jou sonder dat jy dit eens weet. Om nie te praat van netwerke van skadelike inhoud op platforms wat werklike, ernstige risiko’s inhou vir liggaam en siel nie.
Misinformasie en disinformasie warrel ons koppe deurmekaar; niemand is immuun nie.
Maar wat is die verskil tussen die twee?
Misinformasie is inligting wat onakkuraat is – waarvan dit wat as feite voorgehou word, eenvoudig verkeerd is. Disinformasie wil jou doelbewus bedrieg. Daar is eintlik nog ’n kategorie: malinformasie (“malinformation”), wat eenvoudig kwaadaardig is.
Dan is daar die drie se familie: propaganda, wat jou wil indoktrineer, en fopnuus, wat jou eenvoudig mislei. Dit lýk dalk soos die ware jakob. Dis immers maklik genoeg om enigiets vandag aanlyn te skep. Maar dis presies wat dit is: Dit wil jou fop.
Voeg dan daarby diepvervalsings (“deepfakes”): video’s van byvoorbeeld wêreldleiers wat lyk of hulle sê wat hulle sê, maar dis ’n nagemaakte stem wat by hul pratende gesigte gevoeg is.
En dan is daar ook nog die skadelike inhoud op digitale platforms wat ernstige risiko’s inhou vir van ’n demokrasie tot kinderwelsyn, tot openbare gesondheid, en nog vele meer.
Wat die bedreiging vir demokrasie betref, is een maklike voorbeeld Truth Social, Donald Trump se persoonlike “nuusinstansie” waarop hy sy eie trompet blaas (daar’s natuurlik ook genoeg ander wat Trump se trompet vir hom blaas). Of Rusland se Wladimir Poetin, wat onder meer verkiesings manipuleer deur sosiale media, soos onlangs in die VSA en in Duitsland. Kinderwelsyn? Daar floreer daardie afskuwelike kinderpornografie, en dis nie ’n samesweringsteorie nie. Wat openbare gesondheid betref, is die voorbeeld die inenting van babas teen aansteeklike siektes wat skielik ’n sterk lobby daarteen ontwikkel. In veral konserwatief-regse omgewings kry dit al hoe meer steun.
En dan is daar die “donkerweb” (“dark web”). Net die woord alleen klink al soos ’n riller vir ons gewone mense – ons wat reeds angstig is dat ons per ongeluk die verkeerde knoppie op ons slimfone druk.
Die olifant in die vertrek? Dis Koning KI. En dis soos die kurator se eier: goed én sleg. Wat goed betref, is dit eenvoudig. Dit kan die mensdom met al ons groot uitdagings help. Maar aan die negatiewe sy kan dit afgryslike afmetings aanneem. Daar’s boonop ’n wedloop tussen die groot spelers. Van ChatGPT (die nuutste is ChatGPT-4o, vinniger as ChatGPT-4, tot Musk se Grok (daar’s ’n storie agter daai naam), en China se DeepSeek. Plus die ontploffing van vele meer. Dis soos die resies na die maan. En eintlik is deel van die jaagtog om te kyk hoe die mens gemanipuleer kan word vir eie gewin.
Ons lewe in ’n al hoe meer komplekse wêreld. Ons breine kan net sóveel hanteer. Daarom dat mense eenvoudig onttrek, of dinge oorvereenvoudig tot ’n basiese en soms naïewe uitgangspunt. In hierdie wêreld met sy oordaad van inligting moet ons onsself beskerm en besluit waaraan ons onsself wil blootstel – of nie. Ongelukkig kan dit gebeur dat jy dan ’n gevangene in jou geloofsgemeenskap word – en hiermee word (natuurlik) nie noodwendig godsdiens bedoel nie, maar dit wat jy glo. Of dit politiek is, ’n sosiale kwessie, of dalk wel ook godsdiens.
Hoe nou met ons arme hasies in die hoofligte van hierdie monster(Tesla)trok wat op ons afpyl?
Die nuusmedia – régte nuusmedia
En dis waar die nuusmedia inkom. Nie soos in sosiale media nie. Laasgenoemde is deel van die probleem. Dit hoort eintlik asosiale media genoem te word, want dit ontlok die mees asosiale gedrag – mense dink daar is geen brieke nie, jy kan kwytraak wat jy wil.
Jy kan nie, maar terug na die regte media: nuusmedia. Tradisionele media. Joernalistiek. Maak nie saak of jy nog jou koerant in nuuskolomme op papier lees as ’n sogenaamde erfenistitel (“legacy title”) nie, en of jy jou nuusblad soggens met jou eerste koffie aanlyn lees, hetsy op slimfoon of rekenaar.
Dit gaan oor joernalistiek. Die woord stam uit Latyn: diurnalis. Buiten “joernalis”, kan jy in daardie woord ook “joernaal” hoor. Overgesetsynde: die storie van die dag. Wat deur professionele nuuskantore se meule gemaal moet word om seker te maak dit voldoen aan die beginsels van die joernalistiek. Dat dit integriteit het. Deur nuusomgewings wat verbind is tot ’n professionele kode. In ons geval, Suid-Afrika se Perskode, plus ons Persraad en Persombud. Waar die publiek ’n klag kan lê as ’n nuusinstansie, in sy haas om eerste te wees met die nuus, verkeerd was. Of waar die audi alteram partem-reël – om betrokkenes (uiteraard) die reg op hul weergawe van gebeure te gee – nie nagekom is nie.
Individuele mediahuise het ook hul eie perskodes – dit is immers die interne professionele kode waaraan redaksies moet voldoen. Talle het ook hul eie onafhanklike ombud.
’n Nuwe ontwikkeling in die mis- en disinformasie-era is dat professionele nuusinstansies nou ook hul eie feite-nagaan-afdeling het: “fact-checkers”, of feitekontroleerders. Want ook diegene wat professionele joernaliste se bronne is, kan hulle met vals inligting voer. Daarom moet alles eers in ’n professionele nuuskantoor geverifieer word. Tradisioneel moes inligting deur minstens drie bronne geverifieer word. Maar in die resies na die doellyn van “eerste aanlyn” met die varsste nuus, glip daardie beginsel soms weg.
Dis ook hoekom ’n mens moeite moet doen om te onderskei tussen werklike nuus en skynnuus.
En onthou: Terwyl elke professionele joernalis ’n “influencer” kan wees, is nie elke beïnvloeder ’n joernalis nie. Beïnvloeders steur hulle dikwels nie aan ’n professionele kode nie.
Dis dieselfde beginsel as toe daar nog vir ’n vale geblog is: Elke joernalis kon ’n blogger wees, maar nie elke blogger was ’n joernalis nie. (En hoekom het blogs grootliks uitgesterf? Dis eenvoudig: Dit het net te veel tyd geneem om te skryf. Dis mos baie makliker om jou wyshede binne 280 karakters op X te tik, wat jy binne ’n sekere tyd met nog 280 kan opvolg, en so aan, as om ’n weldeurdagte blog te skryf.) Dis nóg makliker om ’n TikTok-video’tjie te skiet. Of jou “storie” op Instagram te post. Of ’n YouTube-video te maak. Jou eie podcast-reeks te begin.
Jy hoef nie eens reg te spel vir enige van hierdie media nie. En o ja, onthou om die uitroepteken te misbruik. Nog beter: Dis ’n voorvereiste om die uitroepteken te misbruik.
Hierdie is nie dinge wat daar ver gebeur nie. Dis hier reg langs jou, op jou selfoon. Buitendien, ons plaaslike propagandamasjiene is in elk geval net so ywerig soos al daardies uit alle windrigtings van die wêreld. Boonop in “jou” taal.
Nuus van toe tot nou
Vir die tradisionele Engelse pers was “Engelse liberalisme” hul goudstandaard. Wat eintlik tragiese dubbele standaarde was, maar hulle was deel van die Empire, en die Empire was altyd reg. En dit terwyl hul “liberale” mynsektor hier te lande swart werkers finansieel uitgebuit het, wat ’n hele sosiaal-kulturele struktuur laat ineenstort het met die trekarbeidstelsel. (Die huidige stand van die Engelse pers is dalk ’n storie vir ’n ander dag.)
Aan die Afrikaanse kant: Daar is ’n rede hoekom die ou Nasionale Pers en die Nasionale Party mekaar se skaduwees was. Eersgenoemde was immers die spreekbuis vir laasgenoemde. Vandag: suiwere propaganda en indoktrinasie.
Gelukkig vir hervormingsjoernaliste binne die maatskappy. Al in die 1950’s is gesê: “Die Afrikaner moenie aan ander doen wat aan hom gedoen is nie.” Dit was die legendariese joernalis Schalk Pienaar se woorde, verwysend na die Vryheidsoorloë en hoe Afrikaners daarna deur die Britte behandel is, wat direk gelei het tot ’n supernasionalisme.
Of, as ons dan nou wil kwaad raak oor die Onteieningswet: Kyk wat skryf nog ’n hervormingsjoernalis, Rykie van Reenen, in 1981 oor die letterlike en figuurlike “slopingsproses” tydens die hoogbloei van apartheid. Die hervestiging van swart mense onder die Groepsgebiedewet, skryf sy, “maak die rouste emosie los”.
Vir die “verskuifdes” was dit ’n “traumatiese ontworteling”. En, soos net ’n Van Reenen dit kon beskryf: “die verslaenheid van oues, siekes, vroue, kinders, afgelaai op ’n haaivlak ver weg van werkgeleentheid; die winterkoue en sniksomerhitte van die tente of rye sinkpondokkies wat dikwels die enigste huisvesting is wat op die verdwaasde verskuifdes” gewag het.
Dan skakel sy oor na ’n volgende rat en skryf dat die Stedelike Stigting destyds bereken het Suid-Afrika moes daagliks 1 500 poste skep om werkloosheid te bekamp en om die “tuisland-idee” te laat werk. Elke nuwe werkgeleentheid sou R21 000 kos om te skep. Ons praat van 1981 – toe was R21 000 baie geld. Dit het beteken, skryf Van Reenen, dat R11,68 miljard per jaar daarvoor gevind sou moes word. In 1981 was daardie miljarde, omgereken na vandag, miljarde se miljarde se miljarde. Van Reenen: “Hoe op aarde kan Suid-Afrika dit bybring? En as ons g’n hoop het om dit by te bring nie, hoe durf ons ons ’n ideaal veroorloof wat dit eis?”
Dis ware joernalistiek.
Plus: Ons durf nie aan kort geheues ly nie.
Nuwe nuusnarratiewe
Helaas, in die derde dekade van die 21ste eeu maak die altyd-aan daaglikse inligtingsmeul skynbaar mense se geheues nóg korter.
Geen wonder nie dat ons veral ly aan wat nuusvuisvoosheid genoem word. Kan net nie meer nie. Maar tog kliek jy op die opskietvenstertjie wat skielik op jou skerm verskyn. Buiten dat dit dalk fopnuus is.
En dan sorg die algoritmes vir die res. Só, dat jy later glo daardie gelade politieke term “plaasmoorde” is erger – en meer – as “gewone” moorde. Asof die soveel meer moord en doodslag in townships minder tel.
Feit is: Moord is moord. Geweld is geweld. En terwyl ons ubuntu predik, doen ons die teenoorgestelde in die praktyk. Niks kan moord of ander geweld regverdig nie, natuurlik.
Maar ons moenie gerieflikheidshalwe vergeet van die onregte van die verlede nie. Historiese geweld en historiese trauma van 300 jaar van kolonialisme en 50 jaar van apartheid kan nie in 30 jaar reggestel word nie.
Nou laat ons boonop toe dat die narratief van Afrikaners as slagoffers die Afrikaanse media oorheers. En vergeet van Afrikane wat vir 350 jaar slagoffers in hul land van geboorte was. Tweedeklasmense wat historiese trauma in hul DNS saamdra. Hoe so? Ly sekere mense aan sulke erge geheueverlies? Of dan, ’n selektiewe geheueverlies? Want die vryheidstryd van die Suid-Afrikaanse Oorloë word met passie onthou. Maar die vryheidstryd van geslag op geslag Afrikane word nie gerespekteer nie?
Ja, voeg daarby al die frustrasies van onbevoegdheid en onbekwaamheid op so te sê alle terreine in die openbare sfeer. Suid-Afrika se werklikhede van hier en nou voel soms oorweldigend.
Internasionaal? Wel, daardie Zeitenwende is seker die beste geïllustreer deur die gebeure in die Amerikaanse Withuis se Ovaalkantoor op daardie gedenkwaardige onlangse Vrydag. Kakistrokaat Trump wat Oekraïne se Wolodimir Zelenski in ’n lokval lei. En sy Mini-me, adjunkpresident JD Vance (na bewering) ge-make-up-lite met sy Khol-omlynde oge (hulle sê nie eyeliner nie; guyliner), wat saam met boerboel Trump soos ’n keffertjie sy happies moes inkry. Gelukkig was die kakistrokaat se hofnar, Elon Musk, nie ook by om die sports ’n kerf hoër te neem nie.
Direk daarop het ’n beduidende hoeveelheid fopnuus oor Zelenski die digitale ruimte getref. Binne een week het NewsGuard, een feite-nagaan-organisasie, 27 600 sosiale-media-plasings met Zelenski gekoppel aan “villa”, “jag”, “wynlandgoed” of “herehuis” geïdentifiseer. Dit was ’n styging van 2 524% teenoor die vorige week se 1 050 sulke plasings.
Die Maandag daarna, in Trump se eerste gesamentlike toespraak voor die Amerikaanse kongres, vertel hy die een leuen na die ander. (Dit was ook die langste toespraak deur ’n president in die geskiedenis van Amerika, ’n bevestiging van die arme man se grootheidswaan, maar ook minderwaardigheidskompleks). Soos die wonderlike nuus dat “miljoene” Amerikaners tussen 110 en 119 jaar oud welsyntoelaes kry. Ek en jy kan jou nie voorstel dat selfs in ’n land soos Amerika daar nie sommer miljoene tussen 110 en 119 jaar oud kan wees nie. Maar daarom dat alle professionele nuusomgewings nou feitetoets-afdelings moet hê.
Natuurlik is al die aksie op sosiale media tot die voordeel van die “leier van die Weste” se sikofantiese techbro’s, die tegnologie-oligarge wat in die voorste stoele was met Trump se inhuldiging. Dit was ook ’n eerste – sakelui was nog nooit daar nie. Duidelik: Ons praat mos hier van transaksies, man. Vir hulle gaan dit net daaroor om hul sakke (en Trump sʼn) nog dieper te maak deur sy agterent nog blinker te lek.
En wat doen hoofstroommedia?
Ons rapporteer histeries oor die gedoentes wat die imperialistiese outokraat, oftewel Trump-die-“deal machine”, veroorsaak.
Net wat hy wil hê. Om met die dinge wat hy kwytraak, te kan voortgaan. Immers, hoe meer ’n liegstorie herhaal word, hoe meer word dit ’n feit. Hoe meer Trump sy drome oor Groenland, Kanada, Panama en Gaza verbaliseer, hoe meer word hulle genormaliseer. (En vergelyk dié grondgrypdreigemente met Suid-Afrika se Onteieningswet.) Dit raak later ’n skouersoptrekreaksie van ons as die publiek. Maar stel jou voor ’n ander wêreldleier het sulke verregaande goed uitgespreek?
Buiten Trump se grondgrypdrome beskuldig hy en sy koterie ander van sensuur – soos visepresident Vance onlangs by die München-sekuriteitskonferensie. Terwyl hulle pas die globaal grootste nuusagentskap, Associated Press (AP), uit die Withuis se perskorps verban het. Hoekom? Omdat AP nie, à la die Trump-diktaat, na die Golf van Mexiko as die Golf van Amerika verwys nie.
Geen wonder nie dat die gesiene Columbia Journalism Review onlangs ’n artikel gehad het met die opskrif “Covering the ‘Mad King’”.
Daar is natuurlik ook ander in dié liga wat disinformasie hul troefkaarte maak, van Poetin tot Netanyahu tot Xi Jinping.
En dan praat ons nog van vryheid van uitdrukking?
In Suid-Afrika word dit verskans in ons Grondwet se artikel 16. Dit omskryf aan watter verantwoordelikhede dit onderhewig is, soos dat jou reg om te sê wat jy wil, nie mag insluit haatspraak of aanstigting tot geweld nie. Immers: Alle regte gaan gepaard met verantwoordelikhede.
Neem ons dit ernstig op?
Soos globaal, so ook plaaslik, leef ons in ’n gepolariseerde wêrelde waarvan die pole al hoe verder uitmekaar beweeg. Ons provokeer en antagoniseer gemoedere wat reeds op die hoogste toere van onverdraagsaamheid loop.
Met ons hoofstroommedia wat tog te lekker aan die speletjie deelneem. Hier te lande met rapportering oor diegene wat meen hulle kan namens “Afrikaners” vir ’n Boerestan gaan pleit in einste Washington. Regsradikale populiste in Europa en Amerika (en Suid-Afrika) sien Trump as die nuwe messias, terwyl ons gewone mense hier in die “sh*thole”-landjies moedig probeer om dinge te laat werk. Mét tonne welwillendheid tussen bevolkingsgroepe. Maar dis nie stof vir goeie hoofopskrifte nie. O ja, wat dit betref – al gehoor van Lesotho? Skynbaar nie Trump nie. Is mos ook een van die “sh*thole”-landjies. Wat nou ook hul deel van broodnodige hulp ontneem is.
Wat moet die media doen?
Wat van ’n konsep wat al hoe vreemder raak: deernis?
’n Etiek van omgee. Om onnodige skade te vermy. Ons Perskode gaan immers om “maksimum waarheid, minimum skade”.
Pleks van om die swart wolf te voer, wat van as ons as die media eerder die wit wolf voer?
Dit beteken nie sonskynjoernalistiek of kop-in-die-grond-joernalistiek nie.
Dit beteken ons probeer met woorde – wat tot dade moet lei – ’n verskil maak.
Ja, natuurlik, neem kennis van daardie swart wolf en alle moontlike kakistokratiese, outokratiese, megalomaniese, narsistiese (klem op nar) geklikhede, plaaslik en globaal. Skryf daaroor sodat ons gewone mense kan verstaan wat aangaan op hierdie planeet van ons wat by die dag meer uit sy baan spin.
Maar moenie histeries raak oor al die histeriese goed wat kwytgeraak word nie. Skryf (ook) oor die goed wat ons planeet ’n beter plek sal maak, vir almal.
En as jy wil, hê selfs deernis met die swart wolf, want dit help dalk tog.
Maar voed die wit wolf.
Vir sulke deernisjoernalistiek moet ’n mens dapper wees. Om soos ’n Van Reenen in die hoogbloei van Afrikanernasionalisme in sy gesig te sê: Die Groepsgebiede- en tuislandwette is mos pure waansin.
Met ’n etiek van omgee in ons professionele nuuskantore moet deernis met dapperheid gekombineer word om ten minste te probeer om ons planeet effens in balans te kry.
Maar terwyl daardie gevreesde afleggingsmonster met sy 189-briewe elke nou en dan sy kop uitsteek in ons hoofstroomnuusmedia – want selfs die mega-omgewings sukkel met hul betaalmodelle – is dit dalk maar makliker om saam met die stroom van “voer die volk wat hulle wil hê” te gaan. En só lekker te provokeer en te antagoniseer, want dit sorg vir onweerstaanbare klikaaskopie. Met die heengaan van Vrye Weekblad het ons tragieserwys mos gesien die volk wil nie betaal vir die beste joernalistiek suid van die Noordpool nie.
Tog, in hierdie dae van Quo vadis? en ’n Zeitenwende en ’n regsomkeer: Kom ons hoop die hoofstroommedia probeer tog om deernis met dapperheid te kombineer, soos ’n Van Reenen van destyds. Om die storie van die dag – diurnalis – te vertel. Om te rapporteer soos dit is. Om die waarheid te soek. Of, soos Ben Bradley, redakteur van die Washington Post – nog ’n eens dapper koerant wat skynbaar die knie moet buig voor sy techbro-baas Jeff Bezos – tydens die Watergate-skandaal in een van die vele hofsake teen sy koerant aan die regter gesê het: “Dis die naaste wat ons in hierdie stadium aan die waarheid kon kom, U Edele.”
Sela.
*
Ns: Vir pitkos oor die pas gestigte Centre for Information Integrity in Africa by die Departement Joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch, danksy die welwillendheid van mediaman Ton Vosloo, gaan na https://ciia.africa.
Lees ook:
Menán van Heerden en Izak de Vries: Disinformation in the Global South: ’n onderhoud met Herman Wasserman
Lizette Rabe: Voorlopervroue in die Afrikaanse joernalistiek: Een eeu, drie baanbrekers, drie generasies
Bettina Wyngaard: Wat sê Bettina? Ope brief aan Afrikaner-vlugtelinge op pad na Daddy Trump toe
Kommentaar
Een woord: skrikwekkend.
Lank om te lees, maar só die moeite werd! Dankie.
Bittere waarhede en perspektiewe wat meeste mense sal verbygaan. Dankie.
Baie goeie sistematiese ontleding van die huidige "werklikheid". Al is daar nie 'n antwoord nie.