As dié artikel verlede jaar geskryf was

  • 1

...
Afrikaanse joernalistiek se beste kans op langtermynoorlewing is bes moontlik in die hande van ’n nuwe generasie joernaliste wat die DNS van die digitale wêreld beter bemeester as hul voorgangers én wat nuwe oplossings en toepassings kan bedink.
...

As dié artikel verlede jaar geskryf was, sou dit dieselfde artikel gewees het as die een waarop u so pas geklik het?

Dié vraag het ek my afgevra gedurende die voorbereiding vir en die skryf hiervan. In die herfs van 2024 het Rapport en Beeld nog in gedrukte en digitale formaat verskyn en Volksblad in PDF-formaat. Vanjaar leef al drie die titels met ledemate wat afgesit is. Nóg papierkoerant nóg PDF.

Ja, almal het geweet ’n dag sal aanbreek waarop die rolperse finaal ophou draai. Die redaksies en die lesers van koerante besef lankal die gedrukte weergawes is op geleende tyd.

Dalende verkope – nie net omdat veral jonger lesers digitaal verkies nie, maar ook omdat drukoplae verklein is en verkooppunte vanweë stygende kostes verminder is – het ’n lang skaduwee oor die toekoms van gedrukte koerante gegooi.

Verlede jaar in Junie het Moneyweb, ’n mededingertitel, geskryf dat BeeldVolksblad en Die Burger-Oos-Kaap einde September 2024 in enige formaat sou ophou bestaan. Die gedrukte Rapport word ook gestaak, maar ’n digitale weergawe mag voortleef as ’n onderafdeling van Netwerk24. Media24 se base het die Monyeweb-berig veroordeel as kwaadwillig, maar het later skoorvoetend die egtheid daarvan bevestig.

In die Afrikaanse redaksies was dit Hirosjima. Ná dae van koes en platval deur die topbestuur het Nagasaki gevolg toe dit blyk dat redaksionele hulpbronne (lees joernalisposte) drasties gesny word – by sommige titels met to 60%. Boekeblaaie, dieptenuus (weekliks), leefstylbylaes en begrotings vir vryskutte, noodsaaklik vir ’n koerant soos Rapport, word weggeneem.

Ná die aanvanklike skok en depressie het ’n terugstootproses aan ’n wye front op dreef gekom.  Dit het die impak van die drakoniese planne versag. Onder meer is die versekering gegee dat daar geen gedwonge aflegging van joernaliste sal wees nie. ’n Flukse aantal het nietemin self besluit om te loop.

In die Media24-omgewing bestaan Afrikaanse nuusjoernalistiek vandag uit Netwerk24, wat met sy eie span joernaliste inhoud genereer wat ook nuus vir Die Burger (gedruk en digitaal) verskaf. Dit is wesenlik dieselfde inhoud waaruit die gedrukte Burger saamgestel word, asook die webweergawes van Beeld en Volksblad.

Dié twee eens vurige Afrikaanse koerante leef vandag as vlaggies op Netwerk24 waarop lesers kan klik vir geen-handelsmerk-inhoud wat nie genoegsaam teikengehoorspesifiek is nie.

Rapport is al titel met sy eie redaksie. Dit stel hom in staat om Sondae ’n pakket aan te bied met eiesoortige, vir-die-titel-gekeurde inhoud. Die (nuwe) digitale Rapport, wat sedert middel-Januarie vanjaar op die web verskyn, is die naaste wat Media24 daaraan gekom het om die oorgang van gedruk na digitaal met die behoud van die titel se gevoel en aanslag te bewerkstellig.

Belangeverklaring: Ek deel ’n lewe en ’n huis met die redakteur van Rapport, Inge Kühne. Sy sê vir haar persoonlik is die grootste teleurstelling nie dat die gedrukte koerant toegemaak het nie, maar dat die koerant toegemaak het voordat die tegnologie gereed was om dit as effektiewe medium vir die oordrag van komplekse en genuanseerde nuus te vervang. Dit geld nie net in Media24 nie, maar oral in die bedryf.

“Ons het redaksielede nodig wat in die eerste plek joernaliste is, maar ook vaardig in die tegnologie van die digitale era. Nié mense uit die tegnologie-omgewing wat ’n bietjie touwys gemaak is in joernalistiek nie.”

’n Lang storie om te sê die gebeure wat hier bo beskryf is, skep ’n hardnekkige gewaarwording dat die aanbod van Afrikaanse joernalistiek, bepaald by Media24, vandag skraler is as ’n jaar gelede. En, soms, bra bloedarmoedig.

Dalk is dit die skimpyn van ’n geamputeerde ledemaat. Ek, en ek vermoed heelwat lesers, mis die vurigheid van ’n gedrukte koerant met ’n eie persoonlikheid wat ’n amalgaam is van die redakteur se koers, die karakters in die redaksie, die interaksie met die teikenmark en die heersende polities-maatskaplike tydsgewrig.

Die sluiting van Vrye Weekblad einde Maart vanjaar om finansiële redes behels ’n verdere verskraling. Parmantige en skerp uitdagende joernalistiek is nodig vir enige  taal- en kultuurgemeenskap wat die risiko van eenselwige groepdenke wil vermy. Veral as dit kom van ’n publikasie soos Vrye Weekblad met sy unieke stamboom.

Die sluiting van Vrye Weekblad het andermaal gewys filantropie se vermoë vir volhoubare finansiering is beperk. In Afrikaans is dit omtrent net Maroela Media wat daarin slaag.

Aan die tydskriffront gaan dit effens beter. Volgens die sirkulasie-ouditburo se syfers vir die laaste kwartaal van 2024 is sewe uit die tien topverkopers onder tydskrifte Afrikaanse titels of titels met Engelse halfsusters. Huisgenoot is die topverkoper, gevolg deur Tuis/Home, terwyl Sarie op nommer drie lê en Rooi Rose op tien.

Michelle van Breda, wat al 24 jaar redakteur van Sarie is, sê in hul intensiewe interaksie met lesers by funksies en projekte bemerk hulle ’n groot passie vir Afrikaans, veral by jonger mense. Hulle werk in Engels, maar in hul binnewêreld is hulle hartstogtelik Afrikaans. Die uitdaging is om daardie taalpassie te kanaliseer na steun vir Afrikaanse media, aldus Michelle.

Bun Booyens, stigterredakteur van die reistydskrif Weg, asook oudredakteur van Die Burger, sê tradisioneel is tydskrifte vir hul getroue lesers ’n lafenis in ’n hartelose wêreld, ’n afspraak met ’n geliefde gespreksgenoot waarna uitgesien word. Die bedreiging vir tydskrifte is dat digitale platforms soos aanlyn gespreksgroepe, podsendings, blogs en YouTube-kanale daardie funksie van tydskrifte toenemend oorneem.

Booyens het ernstige kommer oor Afrikaanse dorp- en streekkoerante. Baie van dié koerante is dekades gelede deur sakekamers en ander plaaslike belanghebbers gestig om die betrokke gemeenskappe te dien. Die afgelope twee, drie dekades is dié koerante die een na die ander ingelyf by groter mediagroepe. Dié was meer geïnteresseerd in die winslyn as in die plaaslike gemeenskappe. Talle dorpskoerante het tweetalig geword, met voorspelbare gevolge: Die ruimte vir Afrikaanse gemeenskapsjoernalistiek het kleiner geword.

In die uitsaaimedia is die maermaakproses in Afrikaanse nuus al geruime tyd aan die gang. Drie jaar gelede het die SABC Afrikaanse uitsaaijoernalistiek met ’n lae hou getref toe die puik vroegoggendnuusprogram Monitor gesny is tot net een uur: soggens tussen 06:00 en 07:00. Monitor is vervang deur ’n geselsprogram, Op en wakker. Vier aanbieders wat in ’n ateljee sit en klets en vir mekaar se flou grappies lag. Met musiek tussen die laggery deur.

Ná siedende protes vanuit die breë Afrikaanse gemeenskap is Op en wakker se aanbod aangepas en met stewige insetsels oor nuusgebeure en aktuele kwessies geanker.

Aan die TV-front gaan dit beroerd. kykNET se aandnuusbulletin word per kontrak tussen Multichoice en e.tv se nuusafdeling saamgestel en aangebied. Soos die titel aandui, is dit eNuus, nie kykNet Nuus nie. Die redaksielede was werknemers van e.tv. Dié bedeling geld reeds anderhalf dekade.

Aanvanklik was daar vier Afrikaanse nuusspanne oor die land heen versprei, gelei deur knap Afrikaanssprekende nuusbestuurders wat die gehoor deeglik geken het. Die 7-uur-nuus was vir lank die mees gekykte program op kykNET.

In die afgelope tien jaar het e.tv die SABC begin na-aap en drastiese snitte by eNuus aangebring. Die Afrikaanse redaksie is by die Engelssprekende nuusredaksie ingelyf. Die vier nuusspanne is verklein tot een Afrikaanssprekende verslaggewer vandag.

Ondanks die beste pogings van die Afrikaanssprekende inhoudsbestuurders by eNuus is dié bulletin vandag ’n skaduwee van wat dit eens was. Om ’n bulletin van 30 minute te vul, is hulle aangewese op vertaalde buitelandse nuus en die inhoud wat die geïntegreerde nuuskantoor vir ander gehore lewer.

Johan Pretorius, die veteraan-TV-joernalis en -nuusbestuurder by die ou SAUK, spoel gereeld op Facebook sy mond uit oor die gehalte van die eNuus-bulletin saans op kykNET.

In ’n onlangse plasing skryf hy:

[O]esmislukkings in Viëtnam? Bedreigde voëlspesies in Indië? Hoe op aarde kan ’n teikengehoor behoorlik ingelig word, in Suid-Afrika met al ons probleme? Destyds, voor 1994, het ons gesukkel om dit binne 30 minute te vermag. Waarvan sewe minute advertensies was. Maar ons het ons g*tte afgewerk om dit te probeer doen. Wat kykNET nou aanbied, is nie ’n nuusbulletin nie! Dis ’n aborsie! Trust my. Ek weet. Ek was daar.

By die SABC is Afrikaanse TV-nuus in die waaksaal.  Daar doen hulle al jare lank wat e.tv nou met Afrikaanse nuus doen: Skeep af en kort in om te bespaar. Tydgleuwe vir bulletins word lukraak verander en heen en weer geskuif tussen SABC2 en SABC3.

Onlangs was dit weer so toe die Afrikaanse TV-nuusbulletin, wat saans uitgaan, sonder verduideliking op ’n Saterdag nie uitgesaai is nie. Ná heelwat openbare protes het die SABC aangevoer dit was ’n “skeduleringsfout” wat nie herhaal sal word nie.

Maar onder die opskrif “Afrikans bloot verdra by SABC” skryf Hein Willemse, gewese hoogleraar in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria, onlangs op Netwerk24:

Die weglating van die Afrikaanse TV-nuusbulletins oor die naweek was nie ’n foutjie of nalatigheid nie, maar ’n doelbewuste bestuursbesluit as deel van die algehele programaanpassing aan die begin van die nuwe boekjaar.

Dis bemoedigend dat die breë Afrikaanse gemeenskap steeds waarde heg aan nuusinhoud in hul moedertaal. Telkens as ’n nuwe poging tot inkrimping aan die lig kom, is daar luidrugtige protes vanuit die gemeenskap.

Dis asof die gemeenskap instinktief  en kollektief aanvoel ’n taalgroep is aan’t kwyn as die taal nóg profiel nóg waarde in die media het.

En dit is bemoedigend, tot by die punt van ontroering, om te sien hoeveel Afrikaanse joernaliste en inhoudbestuurders daar nog is wat passievol oor en toegewyd aan hul roeping is.

In vele opsigte is ons terug by die pioniersdae van Ons Kleintji, Di Patriot en die stigting van Die Burger 110 jaar gelede. Toe Afrikaanse joernalistiek eerder ’n roeping as ’n nering was.

Dis nie die skuld van die redaksies dat media-eienaars se verbintenis tot die verhewe ideaal van nuus in die openbare belang verflou het nie. Ook nie dat die opkoms van die internet wêreldwyd die hele ekosisteem van inligtingverspreiding op sy kop gekeer het nie.

Afrikaanse joernalistiek se beste kans op langtermynoorlewing is bes moontlik in die hande van ’n nuwe generasie joernaliste wat die DNS van die digitale wêreld beter bemeester as hul voorgangers én wat nuwe oplossings en toepassings kan bedink.

Die gevierde skrywer Jan Rabie het gesê: “Sonder Afrikaans is ek niks.” Om by Jan se metafoor te leen: Sonder ’n lewenskragtige Afrikaanse media is ons taal se toekoms onseker.

Lees ook:

Lizette Rabe: Die oorsprong van die (Hollands-)Afrikaanse joernalistiek, die tydsgewrig, en Abraham Faure as pionier

Lizette Rabe: “Rubriekmaak” à la ryk, ryker, Rykie – Rykie van Reenen en enkele merkers vir hedendaagse blog-rubriekskrywers

Julian Jansen: Wat staar ’n joernalis vandag in die gesig?

Max du Preez en PEN Afrikaans: Max du Preez oor vrye spraak en geloofwaardige joernalistiek

Lizette Rabe: Voorlopervroue in die Afrikaanse joernalistiek: Een eeu, drie baanbrekers, drie generasies

Menán van Heerden en Izak de Vries: Disinformation in the Global South: ’n onderhoud met Herman Wasserman

Johannes Froneman: Joernalistieke pogings tot vrede deur geregtigheid

Lizette Rabe: Quo vadis, o quo vadis?

Hugo Theron en Naomi Meyer: Sosialemedia-gebruik en kinders: the good, the bad and the ugly

Willie Burger: Twintig jaar na demokrasie: Realiteitshonger, die populêre wending en transnasionalisme

EDM Sibiya: Ukukhala akusizi; zama okuningi: ukuthuthukiswa kwemibhalo ezilimini zaboMdabu kuleli

Alfred Schaffer: Een lied van schijn en wezen

Lees die ander bydraes hier:

Die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top