Max du Preez oor vrye spraak en geloofwaardige joernalistiek

  • 4

PEN Afrikaans is deel van PEN International. Regoor die wêreld steun PEN-sentra vryheid van spraak, maar ook die integriteit van inligting wat met die publiek gedeel word. PEN Afrikaans gaan, in samewerking met LitNet, ’n aantal gesprekke voer rondom disinformasie, persvryheid en die soeke na akkurate beriggewing.

Max du Preez is ’n veteraanjoernalis. In die apartheidjare het hy die Nasionale Party die josie in gehad weens sy onwrikbare opposisie teen apartheid. Vrye Weekblad was waarskynlik sy bekendste antiapartheidplatform. Vandag grom die ANC vir hom oor hy steeds sy vinger op die samelewing se seerplekke druk.

Max, kom ons begin voor. Hoe het ’n goeie Afrikaanse seun wat op Kroonstad gebore is en in 1973 op Stellenbosch afgestudeer het, links van die regering beland?

Hy het ’n joernalis geword wat die werklikhede van ons samelewing in die 1970’s en 1980’s eerstehands kon ervaar: Soweto 1976, die UDF, die noodtoestande, die destabilisering van buurlande, aanhouding sonder verhoor, marteling en moord, en die valsheid van roekelose, magsugtige en immorele politici wat in die naam van Christelikheid en die Westerse beskawing gelieg en bedrieg het. En hy was naïef genoeg om nie ooreenkomste met die duiwel aan te gaan om sy loopbaan en bankrekening te bevorder nie, maar by die waarheid te probeer hou.

Jy het politieke wetenskap gestudeer. Wou jy altyd ’n joernalis wees?

Ek het van kleins af ’n baie romantiese beeld van koerantman-wees gehad. My Afrikaans-onderwyser in standerd 5 het vir my gesê ek kan goed skryf. Gooi my natuurlike nuuskierigheid by, en daar was nooit ’n ander keuse nie.

Toe het jy jou loopbaan by Beeld begin, is dit reg?

Ek het in 1974 by Die Burger begin werk. Daar is ek die basiese dinge van styl geleer en het ek in die howe en die algemene nuuskantoor gewerk. Later daardie jaar is ek as lid van Beeld se beginspan na Johannesburg verplaas.

Kom ons vergeet vir ’n oomblik van die politiek – het jy iets geleer by die ou manne daar in die nuuskantoor?

Van taalgebruik, ja, en seker van spertye. Dit was meer die sosiale kontak met medeverslaggewers wat waardevol was, die broeder- en susterskap. Maar daar was nie regtig opleiding nie. Die teorie van billikheid, audi alteram partem en minstens twee bronne vir ’n bewering is ook nooit eintlik streng by destyds se Afrikaanse koerante toegepas nie.

Uiteindelik het jy die Afrikaanse pers die rug gekeer. Jy het vir die Financial Times en die Sunday Times gewerk. Ook hier het jy egter maar geskille gehad met die redaksie, nie waar nie?

Ek is in 1983 by Nasionale Pers (nou Media24) weg omdat ek my nie langer met die groep se ondersteuning van die Nasionale Party, die regering en die oorloë in die buurstate kon vereenselwig nie. Ek was in daardie stadium die groep se korrespondent in Namibië (die VN se oorsig oor die onafhanklikheidsproses het in 1978 begin) en die koerante vir wie ek gewerk het, het gevoel my kopie is te krities oor die Suid-Afrikaanse regering se agendas. By die Financial Mail en later die Sunday Times het ek effe meer vryheid gehad, maar albei publikasies het eintlik ook maar (op ‘n meer polite manier) groot apartheid gesteun. Ek is by die FM weg omdat ek geweier het om ’n opdrag te gehoorsaam dat ek nie meer oor Anglo American se vergrype in die diamantbedryf mag skryf nie. My redakteur by die Sunday Times, Tertius Myburgh, was polities baie konserwatief, om dit sagkens te stel.

In 1986 het Business Day jou gefire oor jy met die ANC gaan praat het in Dakar. Maar daardie byeenkoms was ook ’n keerpunt in jou lewe. Is ek reg dat gesprekke met Breyten Breytenbach, Beyers Naudé, Van Zyl Slabbert en talle ander moontlik die saadjie geplant het vir die ontstaan van Vrye Weekblad?

Na die Dakar-beraad het ’n groep van ons vir pres Thomas Sankara van Burkina Faso gaan ontmoet. Ek en oom Bey, Van Zyl en Breyten het langs die swembad van ons hotel in Ouagadougou gesit toe iemand vir ons die eerste fakse (ja, fakse – dit was 1986) van berigte in die Suid-Afrikaanse media gee. Ek was verstom. Ek het pas deur ’n paar merkwaardige, historiese dae van gesprekke tussen landgenote gesit, en hier kom my kollegas en praat van useful idiots van die kommuniste, van ons naïwiteit en ons versterking van die saak van die “terroriste”. Oom Bey het my uitgedaag: As jy dan so ontgogeld is met wat in veral die Afrikaanse koerante aangaan, is dit nie tyd vir ’n blad wat vreesloos die waarheid oor apartheid, die veiligheidsmagte en die politieke diskoerse in swart geledere sou publiseer nie? Van Zyl het hom gesteun: Hou op moan, man, doen iets daaraan. Dis waar die idee van Vrye Weekblad vandaan gekom het – die naam is deur Braam Viljoen aan ons voorgestel.

In daardie jare moes alle koerante geregistreer wees. Selfs die kinderblad Bollie was in die jare sewentig geregistreer as ’n koerant. Maar toe jy Vrye Weekblad wou registreer, was daar klaarblyklik struikelblokke. Wil jy vertel van Kobie Coetsee se streke om julle van die strate af te hou?

Ja, koerante moes by die poskantoor registreer – ’n formaliteit sodat hulle die uitgewers se adres, ens op rekord kon hê. Dit het R10 gekos. Ons het vroegtydig aansoek gedoen, maar niks van die owerhede gehoor nie. Ons begin toe maar, en kort daarna laat weet Kobie Coetsee, die minister van justisie, dat hy gaan weier om ons te registreer omdat sy “voorlopige oordeel” daarop dui dat Vrye Weekblad gebruik sou word om die sienswyses van “onwettige organisasies” uit te druk. Ek het hom op kantoor gaan sien, maar hy het my net so gekyk en min gesê. ’n Dag later laat weet hy hy sal ons laat registreer, maar dit sal ons R30 000 pleks van R10 kos – Kobie het goed geweet ons het niks geld gehad nie. Toe vra ons ons lesers om die registrasiegeld te betaal, en binne ‘n paar dae het ons R65 000 gehad, wat toe sommer die volgende maand se salarisse kon dek. Dit was die begin van ses jaar van misbruik van die reg en die howe deur die regering om ons lewe hel te maak.

In die jare tagtig was die NP die meesters op die gebied van “alternatiewe waarhede”. Jonger lesers weet nie noodwendig van Stratcom se bedrywighede nie. Dit saam met enorme sensuur onder die noodtoestand het vreemde goed gedoen aan hoe Suid-Afrikaners hulle inligting verkry het. Wil jy dalk daarop uitbrei?

Die doktrine van die Totale Aanslag het bepaal dat die normale reëls nie geld nie. Die veiligheidsmagte mag buite die wet optree en die “vyand” moet met disinformasie en propaganda ontwrig word. Streng veiligheidswetgewing en opeenvolgende noodtoestande het die vrye vloei van inligting en menings ernstig belemmer. Dit was ons oortreding van dié wetgewing en noodregulasies wat my die lang kriminele rekord besorg het waarmee ek vandag nog sit. Baie wit Suid-Afrikaners het na 1994, en veral na die Waarheidskommissie (WVK), verklaar dat hulle nooit geweet het wat aangaan nie. Dis deels waar, maar ek sou wou redeneer dat baie nie wóú weet nie, soos Leon Wessels inderdaad aan die WVK gesê het. Die koerante van daardie jare het nie hulle werk gedoen nie, dalk met die uitsondering van die Rand Daily Mail. Maar daar was “alternatiewe koerante” soos Vrye Weekblad, Weekly Mail en New Nation wat tog die ware feite gerapporteer het. Vir my was dit skokkend hoe veral Afrikaanse koerante uit hulle pad gegaan het om Vrye Weekblad en sy alternatiewe susters te diskrediteer.

Jy het by geleentheid aan die New York Times vertel dat Afrikaans jou joernaliste toegang gegee het tot die AWB, al was julle links. Dit was ook Afrikaans wat gemaak het dat Dirk Coetzee aan jou deur kom klop het – wat gelei het tot die oopvlek van die moordbendes in die polisie, nie waar nie?

Dit was deel van die hele gedagte agter Vrye Weekblad: Afrikaners glo ongemaklike goed makliker as dit in Afrikaans meegedeel word. (En Afrikaans as taal het beter as net nasionalistiese propaganda verdien.) Afrikaanse polisiemanne en soldate het veel gemakliker met ons as met Engelse of swart joernaliste gevoel, want ons het mekaar se etniese kodes verstaan. Ek het dit tydens die WVK-proses gesien: Soveel polisiemanne wat vir nare goed om amnestie aansoek gedoen het, lyk soos ek en het ’n agtergrond nes myne. Ons het mekaar dalk gehaat, maar ons het mekaar verstaan.

Daar was minstens twee pogings om jou te vermoor. Wil jy daarop uitbrei?

Die weermag se Burgerlike Samewerkingsburo (wat ’n lekker naam vir ’n moordbende) het ons kantoor opgeblaas, maar dit was na middernag, so ek het aanvaar dit was intimidasie eerder as ’n poging tot moord. Eers na 1994 het ’n kolonel my vir ete genooi en vertel hoe hy my op die stukkie grond wat ek destyds buite Rosendal besit het, moes gaan doodskiet. Hy het twee keer misluk. Die oudminister van polisie, Adriaan Vlok, het voorverlede jaar my voete kom was en my gevra om hom te vergewe omdat hy my lewe “hel gemaak” het, maar ek kon nog nie by hom uitvind presies wat alles gedoen is nie.

Hoe het al hierdie goed jou gesin beïnvloed?

Sleg. My seun is in die Hoërskool Linden geteiken omdat sy pa kwansuis ’n terroris en kommunis was. Maar meestal sou ek sê dit het my vermoë om ’n rustige, liefdevolle pa vir my kinders te wees, ondermyn. (My kinders se ma was in daardie tyd ’n lid van die VN se vredesmag in Sarajevo.)

Die staat het alles gedoen om julle toe te maak. Selfs PW het julle gedagvaar. Later was dit die hofstryd met Lothar Neethling wat gemaak het dat Vrye Weekblad bankrotskap moes verklaar. Vertel ons meer?

Die regering kon nog vir Zwelakhe Sisulu (redakteur van New Nation) in die tronk stop, maar dit was nie so maklik om dit met ’n redakteur van ‘n Afrikaanse koerant te doen nie. Die verkose strategie was toe om ons lewens moeilik te maak, om ons alewig lastig te val en die howe te gebruik om om ons te intimideer en ons beperkte geldelike hulpbronne in te sluk. Die President, drie generaals en die prokureur-generaal het ons vir laster gedagvaar. Tussen 1988 en 1992 was ek meer in die hof as in die nuuskantoor en het ons (met ’n bietjie hulp van die Duitsers, Kanadese en Swede) meer aan regskoste as aan drukkoste betaal. My kriminele rekord lyk woes.

Die nuwe Suid-Afrika het baie goeie veranderinge gebring en met Special Assignment was jy ’n tyd lank deel van die amptelike uitsaaier. Was dit ’n goeie plek om te wees, meer beskut?

Ek sou nie die woord “beskut” gebruik nie. Zwelakhe was die hoof van die nuwe SAUK en my uitdaging was om te help bou aan ’n ware openbare uitsaaier, eerder as ’n staatsuitsaaier, wat die nuwe demokrasie sou dien. Dit was ’n opwindende tyd, vir my en vir die SAUK, ’n goue era. Dit was veral vir my ’n voorreg om tussen 1996 en 1999 die span te lei wat die Special Report on the TRC gemaak het, ’n uur lange dokumentêr wat Sondagaande oor die week se verrigtinge verslag gedoen en konteks verleen het. Dit was as’t ware die openbare gesig van die WVK. Anneliese Burgess was deel van my span.

En tog is jy uiteindelik ook by Special Assignment die trekpas gegee. Vertel?

Na die WVK verby is, het ek, Anneliese en Jacques Pauw Special Assignment as ’n weeklikse halfuur van dokumentêre en ondersoekende joernalistiek begin. Dit was uiters suksesvol. Maar Zwelakhe is in dié tyd weg by die SAUK en die politieke kommissars het begin oorneem – mense soos Snuki Zikalala. Dit het die hele idee van ’n openbare uitsaaier verraai en wou die ANC gedienstig wees. Ek het dit teengestaan en is summier ontslaan. Die rede wat hulle aangegee het: Ek het nie langer die leierskap van die SABC gerespekteer nie. Ek kon dit nie ontken nie.

Uiteindelik het jy en Karima Brown ook vasgesit en jy is ook weg by Independent Media. Kan jy ons inlig wat daartoe aanleiding gegee het?

Ek het in 2000 rubrieke vir die Independent-groep begin skryf. Hulle het my gelos om te skryf net wat ek wou. Maar toe begin Jacob Zuma opgang maak en Karima Brown, toe redaksionele hoof van die groep, het haar openlik by hom geskaar en selfs met ANC-kleure by die Mangaung-konferensie geparadeer. Toe ek Zuma ’n “one-man wrecking ball” noem en sê hy is by Schabir Shaik se korrupsie betrek, toe reik sy eensydig ’n verklaring uit waarin sy vir Zuma om verskoning vra vir my uitlatings. Toe stuur ek haar en haar groep in hulle moer.

’n Mens wil tong-in-die-kies sê jy is al soveel keer in die pad gesteek, jou CV moet maar moeilik wees om op te stel. Ten spyte daarvan is jy al verskeie kere in Suid-Afrika en internasionaal vereer. In 1990 het die Universiteit Kaapstad ’n eremeestergraad aan jou toegeken. In 1991 is die Louis M Lyons-toekenning deur Harvard Universiteit aan jou gemaak vir die feit dat jy joernalistiek met ’n gewete en integriteit bedryf. In 1996 gee die vereniging vir buitelandse korrespondente in Suidelike Afrika vir jou ’n toekenning vir uitnemendheid. In 2006 verklaar The Yale Globalist jou tot internasionale joernalis van die jaar. In 2008 gee die Suid-Afrikaanse redakteursforum (SANEF) jou die Nat Nakasa-toekenning vir vreeslose verslaggewing. Eredoktorsgrade volg: Universiteit van die Vrystaat (2016) en Stellenbosch (2018). Is daar meer? En wat gaan deur jou gedagtes as jy sulke erkenning kry?

Ha! En daar is nog die South Africa Union of Journalists se Pringle-toekenning (1989) en die Ahmed Kathrada Excellence in Leadership Award (2019) ook. Die toekennings help darem seker dat ek nie bitter voel oor al die politieke hoere wat my joernalistieke pad besaai het nie, maar ek vat dit darem ook nie te ernstig op nie. Eredoktorsgrade is soos ’n goue horlosie vir lang, lojale diens.

Die nuusmedia het totaal verander sedert die beginjare van Vrye Weekblad. Radio Suid-Afrika en die SAUK se TV-kanale was saam met die groot Afrikaanse koerante die enigste toegang wat Afrikaanse mense tot die nuus gehad het. In Engels was dit effens beter, maar eintlik was daar maar min onafhanklike koerante, selfs in Engels. Daar was die Weekly Mail, New Nation en South. Vandag het elke ou wat ’n selfoon kan vashou ’n YouTube-kanaal en letterlik almal met toegang tot die internet kan iets plaas op ’n blog, Instagram, Facebook ... Maak dié totale demokratisering van die media ons jongmense slimmer?

Beslis nie. Dit stel meer inligting tot hulle beskikking, maar die werklikheid leer ons, hier en elders in die wêreld, dat sosiale media verwoestend eerder as verrykend vir die rasionele diskoers inwerk. Die hoofstroommedia het dié aanslag dusver swak gehanteer. Die feit bly staan dat beroepsjoernaliste ’n etiese kode volg en aanspreeklik gehou kan word, wat nie waar van die sogenaamde citizen journalists is nie. Sosiale media het boonop die finansiële lewensvatbaarheid van hoofstroommedia ondermyn, en die gevolg daarvan was dat eienaars minder hulpbronne aan opleiding, spesialisjoernaliste en ondersoekende joernaliste bestee. Bose kringloop.

Ons het netnou oor Stratcom gepraat. Vandag is daar QAnon wat die regse vure aanblaas. Toe was daar Trump, naas Hitler dalk die grootste poster boy nog vir fascisme. En hy was ook die koning van blatante leuens en alternatiewe waarhede. Hoe kan gewone mense seker maak hulle kry goeie feite?

Kyk die kat uit die boom uit. Ondersoek watter joernaliste en mediahuise geloofwaardig, billik en deeglik is en laat dit swaarder by jou weeg. Weerstaan ten alle koste die versoeking om jou mening oor jou milieu en die politiek deur ongetoetste twakstories op YouTube, Facebook, Twitter en Instagram te laat bepaal. Lees en luister wyd. Wees skepties (nie sinies nie).

Saam met die regse fundamentalisme kom soveel ander “alternatiewe waarhede”. Ons land sukkel om mense te laat registreer vir inentings, want Mogoeng Mogoeng en die regse eggokamers versprei allerlei vrese wat op totale leuens gebaseer is. Hoe kan vandag se media help om dié snert omver te werp?

Luister na die mense, verstaan wat die publiek se vrese, vrae en belangstellings is en spreek dit op ’n geloofwaardige, toeganklike manier aan. Geloofwaardigheid is alles. Scoops en sensasie is só 1980’s.

In hierdie vreemde wêreld van die internet het jy en Anneliese Burgess ’n nuwe Vrye Weekblad begin. Hoe verskil hierdie ervaring van daardie eerste een in die jare tagtig?

Dis rustiger dié keer. Ons veg nie meer so erg teen windmeulens nie en ons is nie bang vir die staat se dirty tricks nie. En ek dra nie dié keer die hele geldelike las nie – die titel en webwerf behoort aan my, maar Arena Holdings dra die finansiële koste en skep die infrastruktuur. Die .com-weergawe is nie gatskopjoernalistiek soos die oorspronklike nie. Die tyd is reg vir intelligente, indringende joernalistiek, menings en ontledings in Afrikaans en ons lojale, groeiende leserstal bevestig dit.

Jare en jare terug het jy aan die New York Times die volgende oor Vrye Weekblad gesê:We're not a liberal paper, though we espouse liberal values. We're nationalist. We want to be part of the nation. We have the same right to this country and its soil as the black man.” Vandag se woke-generasie is dikwels ewe intolerant as die regses. Sal jy steeds dieselfde boodskap wil oordra as jy vandag gevra sou word?

Dit was darem 31 jaar gelede, en die stryd was toe ’n fundamenteel ander soort een. Maar ja, ons sien onsself nie as liberals (à la Helen Zille) nie, hoewel ons die meeste basiese liberale waardes onderskryf. En ja, ons sien onsself steeds as deel van een gemeenskaplike nasie eerder as ’n etniese of taalgroepering. Maar die nuwe Vrye Weekblad is eintlik meer ’n markplein vir idees en menings, so ons dra stemme waarmee ons as redaksie dalk glad nie saamstem nie.

PEN Afrikaans is deel van PEN International wat vryheid van spraak en die integriteit van inligting voorstaan. Wat kan gewone mense doen om hierdie waardes te laat voortleef?

Wees ingelig en maak jou stem dik as jy sensuur of propaganda sien. Klim van jou rusbank af, sit die remote control neer en word ’n aktivis. Sonder vrye spraak is geen demokrasie of oop samelewing moontlik nie.

*

PEN Afrikaans is deur sy lidmaatskap van PEN International die verteenwoordiger van sy lede en die Afrikaanse skrywersgemeenskap in internasionale verband. Lees hier meer oor PEN se handves, ook beskikbaar in Afrikaans. As jy ’n skrywer of joernalis is en jou met hierdie ideale vereenselwig, oorweeg dit om by PEN Afrikaans aan te sluit.

Die vrae in hierdie artikel is opgestel deur die bestuur van PEN Afrikaans, by name Marga Stoffer, Danie Marais, Naomi Bruwer, Bernard Odendaal, Carolyn Meads, Charl-Pierre Naudé, Fiona van Kerwel, Izak de Vries en Jolyn Phillips. Die PEN Afrikaans-bestuurder, Catrina Wessels, het meegedoen.

Max du Preez is ’n lid van PEN Afrikaans.

Fotografie: Izak de Vries

Lees ook:

Herman Wasserman en die infodemie: Disinformasie in die Globale Suide

Die goeie dae toe dagblaaie nog joernaliste in die buiteveld gehad het

Kroniek van ’n mondigwording? ’n Mediageskiedkundige herevaluering van die WVK, Naspers en Afrikaanse joernalistiek

Foeta Krige, die joernalis wat geweier het om ’n skoothond te word: ’n onderhoud

Die nuwe Vrye Weekblad: ’n onderhoud met Max du Preez

Max du Preez se woord van die jaar 2015

  • 4

Kommentaar

  • Max, jy het meer guts as ek. En jy het meer oorleef as ek. Maar sterkte. As jy die wêreld wil verander kan jy nie saam met die stroom gaan nie.

  • Nogal jammer al die geleerdes van PEN het nie vir Max gevra wat is sy mening oor die dienslewering van die party en bestel die afgelope 27 jaar wat hy aan bewind help bring het nie. Sou graag sy mening wou hoor, want Breyten is maar stil daar in Frankryk.

  • “Ja, veertig dae agtereen
    en veertig nagte lank gereën!
    Dis 'n rekord tot op hede.”
    “Meneer, mag ek iets vra?”
    “Maar alte seker, Japie, ja?”
    “Was die boere toe tevrede?” AG Visser
    En wil ek vra: Na 9903 dae sedert 29 April 1994 tot hede - is die liberales nou tevrede?

  • Interessant dat die gesprek van die begin af al na die regterkant van die politieke spektrum dwing, veral die fundamentalisties-regse kant, terwyl kontemporêre propaganda en sensuur per se die eintlike besprekingspunt is. Die niksvermoedende leser word ondubbelsinnig met die persepsie gelaat dat die grootste bedreiging vir ons spraakvryheid ‘n allesoorheersende regse komplot is wat ‘n internasionale sensuur- en propagandadwingelandy wil vestig.
    Pleks daarvan om self Max se raad aan die einde van die gesprek te volg, d.w.s. om ingelig te wees en jou stem dik te maak “as jy sensuur of propaganda sien”, want “sonder vrye spraak is geen demokrasie of oop samelewing moontlik nie”, lyk dit asof die onderhoud se twee invloedryke meningsvormers en Afrikaanstalige influencers (en periodieke citizen journalists van formaat?) die vrye vloei van inligting oor dié uiters aktuele kwessie uit die narratief wil blokkeer.
    Dis sekerlik spraakvryheid om in private gesprekke óór spraakvryheid en propaganda te beweer dat die grootste bedreiging vir spraakvryheid regs- en nie links-fascisties van oorsprong is nie, en boonop niks oor die huidige voltrekking van die sosialisme se boosaardigste sosiale opdrag – ooit - te rep nie. Daarenteen kom dit op disinformasie, sensuur en propaganda neer om dieselfde in ‘n openbare onderhoud oor vrye spraak en geloofwaardige joernalistiek te doen, veral op ‘n platform van wêreldwye aansien soos LitNet.
    “Regse fundamentalisme” (leftie-doublespeak vir “fascisme”) en “regse eggokamers” loop dan ook deeglik onder die voorgeskrewe, politiek-korrekte teerkwas deur. Is vandag se eggokamers dan nie ‘n kwintessensieel linkse verskynsel nie?
    In dié opsig trakteer die gespreksleier ons op ‘n vertoon wat onrusbarend baie na ‘n simptoom van TDS lyk, die berugte Trump Derangement Syndrome (die horries en gekners van tande wat klokslag by die blote gedagte aan Trump onder linkses uitbars): Trump is “naas Hitler dalk die grootste poster boy nog vir fascisme”, ”die koning van blatante leuens en alternatiewe waarhede”. Hmm, yeah, right, die niksvermoedende leser is stoepid genoeg om dit te glo, Herman.
    Gelukkig vir die niksvermoedende leser, merk Max vroeër in die gesprek – korrek - op dat die apartheidsdoktrine van ‘n Totale Aanslag bepaal het dat, danksy die destydse noodtoestand, normale reëls nie gegeld het nie en dat die veiligheidsmagte dus buite die wet kon optree. Want dit herinner sterk aan wat Joe Slovo vroeg in die 1990’s in een van sy skryfsels , ‘Has socialism failed?’, oor die vooruitsigte van “righting the wrongs of the South African past” te sê gehad het. (Joe was toe die ANC-elite en hul struggle-bondgenote se go-to-guy en poster boy insake ideologiese kwessies).
    Eerstens het die gewilde ideoloog hom op Lenin se dekreet beroep dat “the transition to the dictatorship of the proletariat would necessitate a degree of repression as an interim measure”, en dat, post-revolusie en “in broad socialism’s cause”, “the limited retention of repressive apparatus is justified by the exigencies of the earlier phases”.
    Later gee hy wel toe dat Lenin se voorspellings oor die “interim measure” “wrong” was, maar paradoksaal misken hy steeds Rosa Luxemburg se vermaning dat “freedom for the ruling elite isn’t freedom at all”.
    In vandag se heersende sosialisties-Globalistiese konteks sing sensuur en propaganda natuurlik voor in die koor van daardie selfde “repressive apparatus”. Een van vele voorbeelde: nes Lenin en Slovo is Jack Dorsey, Twitter se superwoke Überbaas, ‘n prominente segsman vir Big Tech (‘n sensuur-en propagandahegemonie magtiger as dié van alle Westerse regerings saam) en dus ‘n kenner op die gebied van “repression as an interim measure”. Sy toewyding daaraan straal uit sy stellings oor die permanente ban wat die sosiale mediareus oor Trump uitgespreek het: dit “sets a dangerous precedent” maar was “necessary” en wat verder beoog word "...is going to be much bigger than just one account, and it’s going to go on for much longer than just this day”.
    Dit verklaar seker ook Twitter se liefdesdriehoek met Islamitiese fundamentalisme en Rooi China, wat hul gif steeds ongehinderd via dié platform saai.
    En, not to put too fine a point on it, dit maak hierdie onderhoud nog “interessanter”, in die ironiese Chinese sin, want die twee gespreksgenote koester duidelik ‘n yslike blindekol vir die magsdronk, rewolusionistiese gorilla-in-die-hoek wat ‘n wêreldwye propaganda-en-sensuurregime tans geheel en al oordonder. Die “fine point”: oor alle Westerse private en openbare instellings heen, let wel, wat nogal ‘n mondvol is.
    Aldus skram sowel Max as Herman heeltyd daarvan weg om die kollektivistiese dierasie, wat homself This-time-will-be-different noem, in meer diepte te bespreek. Dis ‘n soort sensuur-per-versuim, ‘n “perambulation on the outskirts of political censorship”.
    Hoe lyk dit met skeptisisme as ‘n medisyne wat “gewone mense” kan gebruik teen die verswyging van “goeie feite”, Herman? Soos, bv., dat die omvang en impak van This-time-will-be-different se onverdraagsaamheid dié van “die regses” tot ‘n statistiese onbenulligheid verdwerg? Tot dusver is This time se gevaarlike aapstreke mos nie so different as sy streke die afgelope eeu nie?
    Herman maak dus wel, ofskoon terloops, melding van die “woke generasie” wat net so onverdraagsaam as “die regses” is. Max verwys op sy beurt na sy konfrontasie met die ANC/SABC se “politieke kommissars” en die verwoestende impak van vandag se sosiale media op die rasionele diskoers. In ‘n klaarblyklike verwysing na regse fundamentalisme, skryf hy skeptisisme as ‘n panasee voor vir “ongetoetste twakstories op YouTube, Facebook, Twitter en Instagram”.
    Dit spreek nogtans boekdele dat nie hy of sy onderhoudvoerder die katastrofiese en permanente impak van dié Big Tech-Mogols, privaat-instellings almal, se politieke sensuur en sosialistiese propagandastreke op die hoofstroom rasionele diskoers terselfdertyd verdoem nie. Nêrens in die onderhoud word selfs net gesuggereer dat This-time-will-be-different se propagandamasjien, met die Big Tech-Hoofstroommedia-konglomerasie aan die voorpunt - wasgoed, nuusagentskappe, brekfis en parkering ingesluit - die septer oor die oorgrote meerderheid openbare en private instellings swaai nie.
    Inderdaad is “freedom for the ruling elite” dan nie “freedom at all” nie, want nog minder blyk hulle daarvan bewus te wees dat dieselfde radikaal-linkse klub juis daarom wêreldwyd die hoofarbiters van spraak op die markplein van idees is - waar hulle hul universele sensuur- en propagandabestel hartstogtelik vertroetel - en dat ons regering hul hoofkantoor op die Afrika-vasteland is.
    Of, dat openbare onderwysinrigtings/instellings (en bowenal hul tersiêre besture en fakulteite) deur radikale lefties, d.i. fundamentalistiese linkses, oftewel sosialiste of linkse fasciste, gerysmier is wat op grond van hul Kritiekteorie spraakvryheid en geloofwaardigheid as wit privilegie en haatspraak verafsku en hul kampusse in This-time-will-be-different eggokamers omskep.
    En dat hulle op grond van hul Kritiese Rasteorie ‘n verterende haat teen Westerse oop gemeenskappe en rasverdeling verkondig wat die Ku Klux Klan se monde van afguns moet laat water. Gramsci/Rooi Rudi/Marcuse se Long March Through The Institutions is inderdaad voltrek.
    Max en Herman se lesers sal hulself dus ‘n guns bewys deur eg. se skeptisisme-voorskrif op hierdie onderhoud van toepassing te maak. Die vrek-lelike This-time-will-be-different se herverdeling van rykdom met behulp van agitprop en sensuur is nou eenmaal nie dik pêlle met joernalistiese geloofwaardigheid en spraakvryheid nie.
    Want This-time-will-be-different se doopnaam is mos eintlik “totalitarisme”, tensy ek my misgis (q.v. Hannah Arendt: “The Origins of Totalitarianism”, 1948, en Daniel Bell: “The End of Ideology”, 1960). Dis nou ongeag of lefties hul bloedbesmeerde ideologie se globale en uiters suksesvolle propaganda/sensuur-magsgreep probeer soft-pedal en herdefinieer as “this-time-it-will-be-different”-sosialisme.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top