Die goeie dae toe dagblaaie nog joernaliste in die buiteveld gehad het

  • 2

Susan Cilliers (Foto: verskaf)

Die landskap van die joernalistiek het wêreldwyd drasties verander, ook die manier waarop joernaliste moet werk. ’n Artikel  oor die rol en gehalte van die beriggewing deur buitekantoorjoernaliste is deur Susan Cilliers en Thalyta Swanepoel in LitNet Akademies gepubliseer. Elsabé Brits het vir Susan Cilliers, die hoofnavorser, wat ook ’n senior joernalis by Netwerk24 en die Afrikaanse dagblad Beeld is, vrae gevra.

 

Met die koms van die onafwendbare publikasie van digitale nuus word gehalte in die meeste gevalle nou beoordeel aan die aantal klieks wat ’n rubriek, artikel of berig kry. Wat is jou mening hieroor?

Dit is inderdaad die geval dat ons daagliks dophou watter stories goed vaar op die webwerf, met ander woorde hoeveel klieks dit kry. In ’n mate word prestasie dus wel daaraan gemeet, iets wat vir veral ervare joernaliste ’n groot frustrasie is omdat dit geensins noodwendig ’n weerspieëling van die gehalte van kopie is nie.

’n Mediaverklaring oor ’n tragedie wat 10 minute neem om te verwerk vaar dikwels baie beter in terme van klieks as ’n goednagevorste berig oor byvoorbeeld munisipale probleme wat gewoonlik baie tyd en oproepe neem om behoorlik te doen. Dit gesê, is ons amptelike beleid egter ook dat dit nie al is waaraan ons gehalte meet nie.

Ons is deeglik bewus van die feit dat daar sekere stories is wat ons wel moet dek ter wille daarvan om mense op te voed of in te lig, al kry dit nie noodwendig baie klieks nie. ’n Berig wat byvoorbeeld nie baie klieks op die web kry nie, word dikwels baie prominent in die koerant gebruik. In ’n neutedop: Ja, dis soms frustrerend dat iets oppervlakkig soos ’n storie oor bekendes dikwels baie beter as ’n diepteberig op die web vaar (in terme van klieks).

In die koerant geld die beproefde beginsel egter steeds dat daar ’n goeie mengsel van vermaak, ligter en ernstiger stories moet wees. Dit bekommer my wel hoe nuus in die toekoms gaan lyk indien koerante sou verdwyn. Ek vrees die hele beheptheid met klieks kan beslis tot ’n verswakking in gehalte en tot oppervlakkigheid lei, indien klieks die deurslaggewende maatstaf gaan word.

Dis ongelukkig in ’n mate onvermydelik, om kommersiële redes. Ek weet ook nie juis wat die volmaakte oplossing hiervoor is nie. Tyd sal hopelik leer!

Om professionele joernalistiek te beoefen is byna soos Springbokrugby: Álmal weet altyd beter en is kenners, maar hulle het nog nooit in ’n skrum gesak nie; hulle het trouens nog nie eens die sweet van een geruik nie. Wat maak joernalistiek vandag nóg moeiliker as 15 jaar gelede?

Beslis die tegnologie wat dit moontlik maak om elke sekonde van elke dag nuus op alle platforms te kry – van betroubare nuuswebwerwe tot Twitter, Instagram en Facebook. Die beproefde beginsel van gehalte, naamlik om seker te maak nuus is akkuraat en ewewigtig, geld steeds.

Ek dink trouens dis juis belangriker as ooit, omdat die hedendaagse joernalis uit al hierdie platforms nuuswaardighede moet identifiseer en dit moet verifieer. Dit moet dikwels in ’n rekordtyd gebeur weens die druk om eerste die nuus te breek, ook op digitale platforms.

Ek dink dus wat joernalistiek deesdae moeiliker maak, is om eerstens nuuswaardighede te identifiseer uit al die inligting wat op verskillende platforms instroom, en dit ook nog te moet verifieer.

Die derde uitdaging is om dit vinnig te kan doen om jou mededingers een voor te wees. Dit alles natuurlik om die leser te dien en hom te help sin maak uit wat nuuswaardig is, en ook perspektief te kan gee oor watter brokkies van die dag fopnuus is en watter betekenisvol is.

Jare gelede het die Afrikaanse dagblaaie vele buitekantore met joernaliste gehad – dink maar aan die Paarl, Stellenbosch (wat sy eie spanhoof, fotograaf en tot drie joernaliste gehad het), Nelspruit, Durban, asook Washington, Nairobi en Londen – almal nou gesluit. Het dit ’n invloed op die Afrikaanse dagblaaie gehad? En hoe lyk die Engelse landskap?

Ek dink die invloed op Afrikaanse dagblaaie is dat die gehalte en omvang van stories uit daardie provinsies nie meer dieselfde is nie; dis meestal swakker. Omdat daar nie meer ’n joernalis is wat oor ’n tydperk van jare kontakte opbou en op daardie provinsie fokus nie, kan groot gebeure daar nie so volledig opgevolg word nie.

Sogenaamde sagter stories gebeur dikwels nooit nie, omdat daardie soort stories gewoonlik van kontakte in die omgewing kom. In my eie provinsie (Noordwes) kom ek die verskil agter wanneer ek af of met verlof is: Wanneer ’n groot storie hier breek, word dit meestal nie so volledig gedoen nie, of glad nie.

Ek help dikwels met kontakte uit waar ek kan, maar die kontakte het ook nie dieselfde mate van vertroue in ’n vreemde joernalis as in hul “gewone” joernalis nie. Dit neem gewoonlik ook langer om ’n storie uit Johannesburg in byvoorbeeld Noordwes te doen, omdat geskarrel word vir kontakte.

’n Joernalis in ’n buitekantoor (en ek praat hier uit ervaring) kan dikwels binne ’n kwessie van minute ’n goeie kontak opspoor wanneer daar byvoorbeeld ’n plaasmoord was. Nuus word dus baie meer skraps, minder volledig en stadiger gedek as wanneer die koerant wel ’n verteenwoordiger in ’n provinsie het.

Ek kan nie regtig oor Engelse dagblaaie praat nie, maar ek dink oor die algemeen sal dieselfde tendens geld: Indien daar nie ’n toegewysde joernalis in ’n streek is nie, het dit ’n groot invloed op die gehalte en omvang van berigte daar.

Hoe en tot watter mate is buitekantore nog belangrik vir dagblaaie in Suid-Afrika en hoe sien jy hulle rol in die toekoms?

Die belangrikheid daarvan is presies die redes wat ek genoem het. Ek dink hul rol in die toekoms sal ook juis wees om danksy goeie kontakte in hul streke nuus sinvol te kan beoordeel en verifieer.

Joernaliste is juis al hoe meer in streke nodig omdat mense (in daardie streke ook) dikwels self nuus versprei op allerlei platforms. Die streekjoernalis is dan in ’n uitstekende posisie om die rol te vervul. Hoe minder kennis ’n joernalis van ’n streek en sy mense het, hoe moeiliker gaan dit wees om nuus daar te identifiseer, te beoordeel en te verifieer.

Hoe het en moes die vaardighede van joernaliste die afgelope 10 jaar aanpas en verander?

Sekere vaardighede bly dieselfde: die vermoë om nuus te soek en te identifiseer, dit in te samel, te belig met visuele elemente soos foto’s en dit sinvol en verstaanbaar te kan weergee – akkuraat en ewewigtig.

Wat wel verander het, is die spoed waarteen alles moet gebeur, die verskillende platforms te moet dophou en die fopnuus wat op allerlei platforms invloei, te identifiseer. Daar was nog altyd fopnuus, maar weens die tegnologie is dit nou baie meer en dus geweldig tydrowend om al die koring van die kaf te skei.

Joernaliste moet ook dikwels video’s maak en leer hoe om tegnologie te gebruik om kopie, video en foto’s so vinnig moontlik na die hoofkantoor te stuur. Aanpassings is dus meestal op tegnologiese vlak, asook die hoeveelheid nuus (en fopnuus) wat nou beoordeel moet word.

Nog ’n groot aanpassing is om al hoe vinniger te kan produseer (vir digitale platforms) sonder om gehalte in te boet. ’n Voorbeeld sou wees om ’n kort berig vir die web te stuur met die basiese (geverifieerde) feite, en dit later op te volg met ’n meer volledige berig met meer besonderhede, kommentaar en interpretasie.

Die joernalis van vroeër hoef gewoonlik net een berig met al hierdie elemente te geskryf het. Nou moet joernaliste kan onderskei tussen daardie eerste “brekende” nuusstorie en die latere opvolg. Die hedendaagse joernalis moet ook op die hoogte bly van die veranderende tegnologie en nuwe platforms en maniere van nuusverspreiding om op die hoogte te bly van die nuus van die dag.

 

Lees Susan Cilliers en Thalyta Swanepoel se artikel in LitNet Akademies hier:

Gehalteberiggewing in die buitekantoor van ’n Suid-Afrikaanse dagblad

  • 2

Kommentaar

  • Interessant vir my as oud-joernalis is die talle verwysings na veral Facebook en Twitter in vandag se koerante. (Ek spot bietjie daarmee in my nuutste romanse “Verkeerdeveer Liefde”.)

  • Avatar
    hennie van deventer

    Ons ou garde kan net in onbegrip ons gryse koppe skud. “Die Volksblad” ( later sonder die “Die”) het in sy goue jare in die dekades 70, 80 en 90, toe sy sirkulasie stewig oor 30 000 was, wel nie gelyktydig nie, maar so te sê gelyktydig, buitekantore gehad in Welkom, Kimberley, Klerksdorp, Kroonstad, Bethlehem en Upington. D
    ie Goudveldse kantoor (Welkom) was ’n soliede span, altyd onder ’n sterk leier. ’n Netwerk korrespondente oor die hele lesersgebied het daagliks beriggies ingestuur. Soms scoops. Soms goetertjies waaroor ons op kantoor lekker kon lag soos hierdie samegestelde “persoonlike berig”: Mnr. X van die plaas Y en mev. A van die plaas B is al geruime tyd in die bed. Hul toestand is nie na wense nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top