Vrye Weekblad verskyn weer vir die eerste keer in jare – nou slegs aanlyn. Frans Rautenbach, wat Vrye Weekblad in 1990 in die hof verteenwoordig het, praat met Max du Preez, een van die redakteurs van die “ou” sowel as die nuwe Vrye Weekblad, oor die verlede en die toekoms.
As ek aan die geboorte van die destydse Vrye Weekblad in November 1988 dink, speel ek onwillekeurig met die gedagte van die regte ding op die regte tyd. In 1988 verpersoonlik Suid-Afrika die idee dat die nag net voor dagbreek op sy donkerste is. Was dit so? En is ons dalk weer daar?
As ek nou terugkyk, dink ek dis jammer Vrye Weekblad het nie vroeër begin nie. Laat 1985 of vroeg-1986 dalk, in die post-Rubicon klimaat. Die jare tussen 1985 en 1990 was rof, en baie skade is aangerig. Maar in 1988 was daar steeds baie werk vir ons om te doen. Ons moes help om oë oop te maak, om gesnoerde monde gehoor te laat word, om die son in die donker hoeke te laat skyn, om die waansin van ’n geveg tot die bitter einde met ’n pragmatisme van ’n onderhandelde skikking te help vervang. Oor jou metafoor van die donker van die nag: wel, dis redelik donker daar buite in April 2019 (en ek verwys nie net na beurtkrag nie). Die trajek loop al lank afwaarts, selfs ten spyte van agbare Cyril. Die skade en wonde van die Zuma-jare was baie erger en meer diepgaande as wat die meeste Suid-Afrikaners besef. Die ANC is aan die opvrot, maar die kadawer gaan ons vir nog minstens vyf jaar regeer. Die EFF is die enigste party wat groei. Goedkoop populisme en rasmobilisering is aan die orde van die dag. Die mense se verwagting van ’n beter lewe het nie opgehou groei nie, maar die ekonomie en regeerkunde het wel. Dit is tyd vir koel koppe, vir meer begrip, vir sterker en meer effektiewe burgerlike weerstand teen populisme, vrot regering en korrupsie.
Dit was ’n konstante stryd om elke week te verskyn, en om die kantoor oop te hou. Wat beskou jy as ’n laagtepunt in daardie stryd?
’n Paar laagtepunte. Sakelui wat vir my en Van Zyl Slabbert (voorsitter van ons direksie) gesê het hulle steun ons inisiatief, maar is te bang vir PW om die tjekboek uit te haal en advertensies te koop. Die mees negatiewe aspek van die ses jaar van Vrye Weekblad was om maandeliks die drukkers en die personeel se salarisse te betaal – en dit het redelik dikwels nié gebeur nie. Maar ’n ander beduidende laagtepunt was hoe kollegas van ander Afrikaanse koerante aktief aan die staat se demonisering en ondermyning van Vrye Weekblad deelgeneem het. Hulle het gewéét ons lieg nie, ons is nié roekelose kommunistiese wildewragtigs nie, maar die meeste van hulle het hulle verlekker in die staat se veldtog teen ons en het aktief propaganda gepleeg om ons belangrikste stories verdag te maak. Van dié ouens paradeer deesdae as progressiewes wat dapper vir ’n demokratiese bestel gestry het.
Maar daar was hoogtepunte en opwinding ook. Een Vrydagaand kuier Koos Prinsloo, joernalis by Vrye Weekblad en pryswenner-skrywer, by ons huis in Parkview. Koos sê hy hoor genl Lothar Neethling gaan vir Vrye Weekblad dagvaar vir ’n miljoen rand oor Dirk Coetzee se lasterlike bewering dat hy gif verskaf het om ANC-operateurs van die gras te maak. Ek sê: “Dis my saak daai ...” So ’n maand later bel prokureur David Hoffe my op kantoor. Sou ek dalk belangstel om saam met Bobby Levin SC vir Vrye Weekblad te verskyn? Vertel bietjie van die hoogtepunte en opwinding.
Ja, genoeg van die bitterbekkigheid. Vrye Weekblad was elke joernalis se droom. Geen verstokte Broeder-omies met grys skoene in die bestuur nie, geen politieke party, eienaar of ideologie om te dien nie. ’n Nuuskantoor vol jong, kreatiewe, energieke mense (sommiges met ’n effe van ’n anargistiese streek) wat lisensie het om joernalistiek in Afrikaans te pleeg soos dit nooit tevore gedoen is nie. Ek was amptelik die redakteur, maar dit het nie beteken ek is met veel respek behandel nie – eintlik was ek maar net die ou wat as Beskuldigde Nommer Een vir ons sondes in die hof moes gaan pa staan. (Terloops, ons was na 1994 so gebelgd dat die regering die vervolgingsgesag vir politieke doeleindes misbruik, maar niks kom nog by die manier waarop die PW-regering en hul amptenaartjies ’n vendetta teen Vrye Weekblad in die howe gevoer het nie. Dit was suiwer intimidasie en ’n poging om ons geldelik te knak.) Ek en Jacques en ander kollegas het oor die jare sedertdien gereeld oor ’n glasie of wat nostalgiesessies gehou oor al ons dramas en wegkruiperspeletjies met die polisie en die ver-regses. Dit was soms gevaarlik (’n bomaanslag op die kantoor, ’n paar sluipmoordpogings, ’n wegkruip in die kluis terwyl die regses probeer om die deur af te breek), maar dit was een groot avontuur vir ’n warmbloedige joernalis. Dit was ’n voorreg vir ons almal om deel te wees van een van die mees opwindende hoofstukke in die joernalistiek. Ek is bankrot anderkant uit, maar dit was elke sekonde werd.
Schalk Pienaar het gepraat van ’n koerant as “getuie van groot tye”. Het julle besef hoe groot?
Ons het besef dit was ’n kritieke tyd in ons land se geskiedenis, maar die volle besef van wat in die klompie jare van ons bestaan gebeur het, het maar gekom soos dit ontvou het. Ons was onder soveel geldelike en politieke druk dat ons nie aldag kon stilstaan en dink oor wat alles om ons beteken nie. Maar dink só daaraan: Wat kon geword het as die skikkingproses nie in 1990 begin het nie, maar eers jare later? Ek en jy sou dalk nie nou so rustig kon sit en gesels nie.
Ek onthou hoe ons almal Londen is toe om Dirk Coetzee se getuienis voor ’n kommissie af te neem – jy, die regspan met Bobby Levin en my as advokate, prokureurs. Die vliegtuig het pas opgestyg van die toentertydse Jan Smuts-lughawe toe Mark Rosin, kandidaatprokureur, sy kop oor die sitplek voor my steek en met jeugdige opgewondenheid uitbars: “The croissants are fresh!” Onthou jy hoe dit was?
Ons moes die hele ondersoek na Vlakplaas geheim hou, maande lank. Ons het eers die Donderdagmiddag voor publikasiedag Jacques se berigte vir ons prokureurs gewys. Julle oortree verskeie wette, was hulle raad, maar julle is mal genoeg om dit te publiseer – solank julle net Lothar Neethling se naam uithaal. Vertel die stories van die gifkelkies, maar as julle sy naam publiseer, gaan hy met die mag van die staat op julle neerdaal. Ek het ’n muntstuk uit my sak gehaal, dit in die lug gegooi en gesê: “Kop is die naam in, stert is die naam uit.” Ek het nie eens gekyk wat dit was nie, net gesê: “Kop, dis in.” Die prokureurs het my met ongeloof aangestaar en uit die kantoor gestorm. Die waarheid was dat ons vooraf besluit het om Neethling se naam te gebruik, al het ons geweet hy gaan dagvaar. Ons het gewéét die berigte was waar, 100 persent waar, en dit was sekerlik in die openbare belang, soos regter Johann Kriegler toe ook bevind het. Boonop was dit ’n te belangrike aanklag om teen die staat te maak – dat hulle die polisie se laboratorium gebruik om gifstowwe te ontwikkel om aktiviste te vermoor – om nie die skuldige by name te identifiseer nie. Dit moes nie net nog ’n skinderstorie wees nie. En so het ’n hofsaak begin wat eers vier jaar later tot ’n einde sou kom met die oubasies van die destydse Appèlhof wat nie met die waarheid kon cope nie en besluit het hulle kan nie besluit wie van Neethling of Dirk Coetzee lieg nie. En skielik is Vrye Weekblad amptelik bankrot, want ons moes Neethling en die staat se regskoste betaal. Toe maak ons in Februarie 1994 ons deure toe. Na die ondersoeke deur die WVK en die getuienis voor hulle, en ander navorsing en boeke oor die onderwerp, weet almal vandag Neethling het deur sy tande vir die hof gelieg. Maar die koeël was deur die kerk.
Is dit hoekom Vrye Weekblad nou weer opsaal en ry?
Dis 25 jaar later. In 1994 was die internet nog net ’n gerug en selfone het eers later daardie jaar in Suid-Afrika aangekom. Ons is ’n oop demokrasie en ons is op die punt om ons sesde algemene verkiesing te hou. Ons het ’n grondwet wat vrye spraak waarborg. Die stryd is nie meer om ’n legitieme staat en vir stemreg nie, dit is vir ’n effektiewe, skoon regering; vir verdraagsaamheid en vreedsame naasbestaan; vir ekonomiese groei en ’n vermindering van armoede en ongelykheid. Die media se belangrikste bydrae is om die publiek behoorlik oor die hele spektrum van kwessies in te lig sodat burgers sinryke keuses kan maak – ons moet harder werk om mense beter te laat verstaan hoe die land en sy mense werk. Magsmisbruik, korrupsie en vrot administrasie moet deurentyd en meedoënloos oopgevlek word. Lede van verskillende gemeenskappe moet oor mekaar ingelig word. Rassisme van alle kante moet teengestaan word. Ons dink nie die media, ook die Afrikaanse media, is baie effektief in die uitvoer van dié take nie. Ons dink ons kan help. Ons wil ook help om die gevoel van marginalisering onder Afrikaanssprekendes te besweer.
Sou jy saamstem dat jy ’n reputasie het dat jy as politieke kommentator dikwels baie mense kwaad maak, beide aan die linker- en aan die regterkant? Beskou jy dit as ’n sterk punt of ’n hindernis? Hoe sien jy jou rol vandag?
Al waaroor ek my as politieke ontleder moet bekommer, is of ek as geloofwaardig, goed ingelig en gesaghebbend geag word, ook deur my vyande. Ek is nie ’n deelnemer aan ’n gewildheidskompetisie nie. Konsekwentheid is my grootste bate. En ’n baie dik vel.
Gaan Vrye Weekblad homself nog steeds – of selfs meer – op ondersoekende joernalistiek toespits? Is dit ’n tydskrif of ’n koerant?
Ondersoekende joernalistiek is ons lewensbloed. Maar dan praat ek nie net van onthullings van korrupsie en skandale nie – daarvan gaan ons ook heelwat hê – Jacques sal daarvoor sorg. Ons gaan nie harde nuus dek nie. Ons gaan dieper grawe; ons gaan probeer verduidelik; ons gaan konteks gee; ons gaan vrae vra en dit probeer beantwoord. Ons sien dit as ons hooftaak om mense te help om hul wêreld beter te verstaan. Ons gaan ons sin vir humor behou en ons gaan lekker oor kos, reis, boeke en lewenstyl ook skryf.
Lank voor ons vir Zuma gehad het, selfs in die dae van Mandela, was daar groeiende armoede en werkloosheid. In Mandela se tyd was werkloosheid byvoorbeeld gemiddeld 21%, in Mbeki se tyd 25%, en dit is dieselfde as onder Zuma, wat ook 25% was. Sou jy saamstem dat benewens die bedreiging van vryheid wat saamkom met korrupsie en staatskaping, daar dalk enigsins meer subtiele bedreigings is? Anders gestel: Grootskaalse diefstal op staatsvlak is verreweg nie die einde van ons probleme nie?
Ons grootste bedreiging is die mislukking om Suid-Afrika ’n meer gelyke en meer menswaardige samelewing oor die laaste 25 jaar te maak. Dit is hoekom populiste soos Julius Malema daarmee wegkom om wit mense (en Indiër-Suid-Afrikaners) in die openbaar te beledig en te dreig – die Wit Gevaar te skep. Pleks van reguit vrae te vra oor hoekom die opeenvolgende ANC-regerings nie ’n duik aan ongelykheid en armoede en werkloosheid gemaak het nie en eerder ons hulpbronne gesteel en misbruik het, word die wit minderheid al die skuld gegee. Malema en Zuma het daarvoor gesorg dat ons politieke kultuur nou met goedkoop populisme en rasnasionalisme besmet is, ook binne die regerende party. En natuurlik help dit nie dat daar nog soveel wit rassisme bestaan nie.
Hoe gaan dit met mediavryheid in Suid-Afrika?
Wat die wetboeke en die Grondwet betref, is die media min of meer so vry as kan kom. Toegang tot inligting is soms ’n probleem, maar nie die grootste bedreiging nie. Die vyandiggesindheid van die EFF en BLF, en soms selfs elemente uit die ANC, jeens die media is rede tot groot kommer. Dit gaan erger word as die EFF se steun sterk groei op 8 Mei. Maar ’n ewe groot bedreiging kom uit eie geledere. Daar is eerstens die neiging van skelm sakemense wat mediahuise begin om hul eie kommersiële belange te dien en dan propagandamondstukke word – die Guptas en Iqbal Survé is voorbeelde. Onetiese joernaliste wat marionette van gevestigde belange word, of wat deur swak en oppervlakkige beriggewing die media se geloofwaardigheid ondermyn, of wat polities korrek probeer wees, is ook negatiewe.
Op dieselfde tema, wat van vryheid van spraak? Ek dink hier veral aan oop gesprek tydens politieke en ander debatte, wat byvoorbeeld alte maklik op ons kampusse deur akademici en studente gesmoor word.
Ja, dié siekte het ook die laaste klompie jaar by ons kop uitgesteek. Die #Fallists op kampusse was veral skuldig hieraan, maar hul invloed het gelukkig effe getaan. Dit is sleg vir die openbare diskoers en moet met oortuiging teengestaan word. Ons grootste bate is dat ons ’n oop gemeenskap geword het. Ons moet dit ten alle koste verdedig. Die markplein van idees moet lewendig en onbegrens gehou word.
Ek loop vir regter Kriegler raak op die onlangse US Woordfees op Stellenbosch, waar hy Adriaan Basson en Rafael Marques uitvra oor ondersoekende joernalistiek teen staatskorrupsie. Ek herinner hom aan die Appèlhof se onvermoë destyds in die Neethling-saak om te glo dat die bewering dat ’n generaal in die polisie hom skuldig sou maak aan iets so gruwelik as om gif te verskaf om politieke opponente van die staat dood te maak. Só lees hy die Hof se reaksie: “Mens dúrf dit nie glo nie. Jy dúrf dit nie glo nie ...!” Is dit vandag nog ’n probleem? Of wat dink jy is die institusionele hindernisse wat julle dié slag gaan teëkom?
Die regter se reaksie is absoluut in die kol – dit is presies wat ek ook van die Appèlhof se uitspraak gedink het. Dit was ’n groot onreg. Ek dink die onafhanklikheid van ons huidige regters en veral van die Konstitusionele Hof is een van die belangrikste redes waarom die burgerlike samelewing se terugveg teen Zuma so suksesvol was en waarom praatjies van ’n mislukkende staat pure hiperbool is. Ons sal almal moet wakker slaap dat dit so bly, en ons moet begin om te stry dat die oppergesag van die reg en politieke verantwoordbaarheid nou herstel word.
Is jy geskok deur die mate waarin die demokratiese/konstitusionele projek skeefgeloop het?
In sommige aspekte was ek aangenaam verras met die verkose regerings sedert 1994 se houding en gedrag, soos die beleid van ’n gemengde ekonomie en respek vir die markte. Ek was skerp krities teenoor my ou vriend Thabo Mbeki, maar ek dink tog die grafiek van positiwiteit het selfs onder hom aangehou opwaarts wys. Wat die laaste paar jaar onder Zuma gebeur het, was vir my ’n skok. Die blatante stelery, die wanbestuur, die weggee van soewereiniteit aan ’n paar skelms uit Indië, die terugkeer van stamverbondenheid, die verwerping van die beginsel van nierassigheid. Waar Mandela die beste uit die ANC na vore gebring het, het Zuma die slegste na vore gebring. Ek dink ek het ’n tyd lank vergeet van dié deel van die ANC in ballingskap wat al baie dekades so was. Mandela was van Robbeneiland, Mbeki was die superdiplomaat, en Zuma het uit Umkhonto we Sizwe en die Sowjet-dampkring gekom. Daarom het ons soveel hoop vir Cyril, amper hoop teen die getuienis in, want hy is ons eerste president wat uit die binnelandse weerstand, uit die UDF, kom. Eendag wil ek nog ’n boek skryf van hoe ’n gatslag dit was dat die UDF so maklik boedel aan die ANC oorgegee het en hoe die ANC die UDF se kultuur van nierassigheid en deelnemende demokrasie uitgespoeg het.
Dinge het baie verander sedert Vrye Weekblad se begindae. Dink jy nie die omgewing van die tagtigs was ’n bietjie soos ’n outydse Western-fliek nie, waar die goeie ouens wit hoede gedra het en die slegte ouens swart hoede?
Net so. Dit was redelik eenvoudig om kant te kies. Sake is nou heelwat meer deurmekaar. Natuurlik wil sommige populiste hê ons moet wéér so binêr dink, veral op rasgronde. Maar al wil die ouens met die barette dit so hê, glo ek die meeste Suid-Afrikaners koop dit nie heeltemal nie. Ons moenie glo wit en swart haat mekaar en kom nie oor die weg nie, al vloek en skel dit ook al hoe op sosiale media. Op die grond, op die fabrieksvloer, in die kantore en winkels en by die sportvelde gaan dit beter as ooit tevore tussen wit en swart en bruin.
Ons het altyd vir my pa in die eerste paar minute in die fliek gevra: “Pa, aan wie se kant is ons?” Aan wie se kant is ons, Max?
Ons is aan die kant van die Grondwet, Frans, aan die kant van die konstitusionaliste. Ons is aan die kant van die bouers, die vredemakers, die dialoogmakers, aan die kant van mense wat ons samelewing oop wil hou en ons vryhede wil beskerm. Ons is ook aan die kant van diegene wat wil sê die tyd om effe meer onverdraagsaam teenoor die onverdraagsames te word, het aangebreek.
Kommentaar
As student slaafs die gratis uitgawe in die bib gaan lees by die ou UPE 89 tot so 92. Jammer dat ek julle nie help geld maak het nie. Bly julle is terug.
Dit sal 'n baie interessante publikasie wees as dit geloofwaardig en objektief is. Dit moet asb die hele spektrum dek vanaf AfriForum tot Malema. Ek sien uit na reaksie op die Zondo-kommissie ens.
Mooiloop
Goeie artikel. My grootste vrees is dat EFF se populariteit baie groter is as wat ons besef en dat rasse-polarisering en populisme politiek net gaan erger word. Kanse ook goed dat ANC en EFF koalisieregering gaan vorm, dan is ons gedoem. Die feit dat die DA nie groei nie, is nog ’n bewys dat meeste stemmers van alle rasse nie belangstel in samewerking nie, veral onder die jeug.
Baie dankie aan Max en Jaques vir die jare en jare wat hulle my ingelig het veral in die jare waar soveel gehiem was ...
I'm very much afraid that Trumpism (Malema-ism?) is on the increase. In a way the left brought this upon ourselves by being scornful instead of engaging with far-right points of view. And, people who believe what these two say are more like disciples than voters. Also, making people apologise for maverick points of view is absurd. Stephen Fry having to apologise was just too ridiculous for words.
Hoop VW sal nie kritiek as 'ver regs' afmaak en dit sensor nie.
Welkom terug Vrye Weekblad! Ek het nie meer as so twee uitgawes gekoop voordat VW gesluit is nie. Die nuwe Vrye Weekblad sal opgeslurp word!
Dankbaar dat Vrye Weekblad weer herrys. Voorspoed aan julle almal se toewyding om oopkop nuus te verskaf. I salute you!
Sien baie uit na objektiewe en korrekte beriggewing soos net Vrye Weekblad dit kan doen!
Die DA se afname in populariteit is hulle eie skuld. So onverantwoordelik omgegaan met die behoeftes van die agtergeblewenes in hulle kiesafdelings. So baie geskep uit die rykdom tot hulle beskikking. So lelik Met Patricia omgegaan al het sy vir amper al hulle bruin kiesers gesorg.
Die tyd vir kleiner partye met nie-rassige integriteit het aangebreek. Ons sal die UDF van voor af moet bou.
Ek het nog altyd gesê, die pen is magtiger as die swaard.
Max en die skrywers van Vrye Weekblad het oor baie dinge geskryf wat te groot was vir ons "gekrimpte" koppe. Ek is verheug oor die manne en vroue wat bereid is om weer hul penne te gebruik om die waarheid bekend te maak.
Hazel, volgens die hoofstroommedia is alles wat nie links is nie, ver regs.
Hoewel 'n mens graag die gryser en hopelik wyser joernaliste sterkte toewens met die moontlike suksesvoller elektroniese hergeboorte van die blad, is daar reeds vrae wat gevra moet word. Joernaliste is oor die algemeen bekend as nogal intelligent, ondernemend en met 'n bepaalde visie. Sonder om nou die holruggeryde frase van dekades gelede toe almal [moontlik op aandrang van omies met grys skoene] gespog het met 'n visie en 'n missie, sou 'n mens tog graag verneem wat die oopnek-en-sandaal ouens, met of sonder boepies, in gedagte het.
Met die eina oor die bankrotspul nog duidelik in die kop en selfs donkerder situasies om ons, is dit noodsaaklik om te vra: waarheen wil julle met die land, die nasie en die verskillende volke wat deur globale finansiële belang saamgebondel is. Hopelik sal enkele riglyne in die ware gees van ubuntu, spoedig duidelik word. Sterkte.
Hier gaan ons alweer. Het ons nog vry denkende/ondersoekende "harde" joernaliste in die land oor. Ek hoop die ooms maak hond haaraf met die herbore Vrye Weekblad. Ek voorsien dat dit met die eerste uitgawe as regs/konserwatief/old school/wit rassiste/stratcom operasie gebrandmerk word. A luta continua comrade Max en Jankoos.
Ou nuus met 'n spin? REGTIG...
Welcome back , Loved your article . Max & Jacques we appreciate hearing THE TRUTH form you —under peril of inflaming the ire & wrath of the precious government, throughout the difficult yrs ... U guys are truly heroes !! Great to see U back
So wonderlik en nostalgies om Koos se naam te hoor so met die vroeë asemteuge van die hergebore VW. Doe zo voort, VW, moerse om julle terug te sien.
Mnr du Preez, terug in riddermondering geklee, welkom dan, maar sê my, nou dat jy uit die staanspoor sommer roer optel, aanlê, op party onverdraagsames korrel en vinger aan die sneller sit, wat is jou definisie van "rassisme", of is 'n visierkyker te veel gevra?
Max, jy moet sê as jy sukkel om te sien wat aangaan in die land. Cyril Ramaphosa en sy kabinet is nie so vlekkeloos as wat jy dalk dink nie. Jy gaan seker met mag en mening hulle teiken soos jy teen PW en kie geveg het. Kom ons watch maar hierdie space.
Ek is n sg chickenrunner en ek is so dankbaar dat ek die dinge nie hoef te beleef nie.