Na 37 jaar in die joernalistiek het die veteraanjoernalis Foeta Krige onlangs afgetree as uitvoerende regisseur van RSG se nuusaktualiteitprogramme Monitor en Spektrum. In 2016 het hy en sewe ander SAUK-joernaliste internasionaal bekend geword as die SABC8 toe hulle in opstand gekom het teen die diktatoriale optrede van sekere SAUK-base onder leiding van Hlaudi Motsoeneng en ander skoothonde van die Zuma-regering.
Na ’n hewige stryd wen hulle die geveg, teen baie se verwagting in, en verhoed dat die openbare uitsaaier die Zuma-regering se hansie-my-kneg word. Kort ná sy aftrede in Mei vanjaar verskyn Krige se boek The SABC8 (Penguin Random House) oor die SAUK se binnegevegte wat soos ’n riller lees en jou hare laat rys.
Hy het sy joernalistieke loopbaan in 1981 by die destydse Transvaler as misdaadverslaggewer begin. In die daaropvolgende jare het hy by Die Suidwester in Windhoek gewerk, was hy parlementêre korrespondent vir Perskor in Kaapstad en nuusredakteur van die Vaderland. In 1990 sluit hy aan by die SAUK se verslagspan in Johannesburg en in 1995 word hy ’n senior regisseur by Monitor. In 2004 word hy aangestel as uitvoerende regisseur van Monitor en Spektrum.
In ’n onderhoud met Jean Oosthuizen gesels Foeta openhartig oor sy loopbaan in die joernalistiek wat op so ’n stormagtige noot afgesluit het.
Jy het onlangs afgetree as uitvoerende regisseur van Monitor en Spektrum by die SABC pas nadat jou boek The SABC8 verskyn het. Hoe voel dit om ’n “pensioenaris” te wees en hoe verwyl jy deesdae jou tyd?
Ek is einde Mei 2019 weg by die SAUK na ek die verpligte aftree-ouderdom bereik het. Die titel “pensionaris” het vir my ’n negatiewe konnotasie omdat dit jou reduseer tot iemand wat laat slaap, op die stoep sit en wonder waar jy vandag jou pensionarisafslag kan kry. Of saam met wie jy vandag ontbyt kan eet en stories vertel oor die goeie ou dae, terwyl jy kla oor jou verminderde inkomste en besin oor die regte tyd wat jy na ’n aftree-oord moet verhuis (verkieslik een met ’n spesialesorgeenheid).
Ek beskou die nuwe fase in my lewe as ’n bevryding, ’n tydvak waarin ek finansieel in staat is om besluite te neem op grond van wat ek graag wíl doen en nie op grond van wat ek móét doen nie. En om nuwe ervarings te beleef. Ek is wel besig om aan te pas by die realiteit van ’n verminderde inkomste, meer vrye tyd en verandering in sosiale omgewing. Ek was altyd van plan om vir ’n paar maande die pad te vat om in Afrika en Europa te reis, maar weens verpligtinge teenoor die boek en die uitgewer het ek die eerste maand van aftrede die meeste van my tyd aan bemarking en onderhoude spandeer. In Julie het ek in twee weke meer as 5 000 km saam met ’n vriend deur Botswana en Namibië getoer. Hy moes opleiding doen oor vergiftiging van wild en ek was ’n gewillige toeskouer en medepassasier. Bo in die Caprivi het hy ’n veearts van Windhoek touwys gemaak om aasvoëls te vang en met opsporingsenders toe te rus. Daar was vir my genoeg tyd om ure lank in Ethosha en die Caprivi wild te kyk en die natuur te bewonder. Hopelik is dit ’n aanduiding van die volgende fase van my lewe.
Ons weet almal joernalistiek is nie juis ’n betalende beroep nie. Daar is baie frustrasies en ander nadele. Sou jy weer joernalistiek as loopbaan gekies het as jy vandag terugskouend terugkyk op jou loopbaan en hoekom het jy in die eerste plek besluit om ’n joernalis te word?
Dis een van daardie futiele vrae wat mens vra as jy terugkyk na jou lewe. Joernalistiek was ’n groot deel van my lewe. Ek het my lewensmaat in die nuuskantoor ontmoet, ons het twee wonderlike dogters, saam gereis, verskil, baklei, gesamentlik en afsonderlik nuwe avonture beleef en saam ouer geword. Sou ek vandag hier gesit het as ek ’n mynwerker, poskantoorklerk of ’n staatsamptenaar was? Sou ek die reise aangepak het en die mense ontmoet het wat ek vandag ken? Die lewe wat jy leef en besluite wat jy neem is ’n pakket; jy kan nie net die lekker en die goed skei van die seer en die swaarkry nie.
Jou boek The SABC8 het verskyn min of meer in dieselfde tyd toe jy afgetree het. Was dit toevallig of het jy doelbewus gewag tot jou aftrede voordat jou boek die winkelrakke sou tref?
Die gebeure in die boek het afgespeel in die laaste drie jaar van my loopbaan by die SAUK. Ek het die boek begin skryf sowat tien maande voor my aftrede sonder om te weet hoe lank die skryf-, redigering- en drukproses sou duur. Die feit dat die publikasie en my aftrede saamgeval het, was toevallig en onbeplan.
Jy draai nie doekies om in jou boek nie. Groot dele daarvan lees soos ’n riller. Wat het jou laat besluit om dit te skryf en watter emosies het jy beleef met die skryf daarvan?
Die skrywery was eerstens ’n poging om sin te maak van die gebeure van 2016 en ‘17, maar was ook onbewustelik terapeuties. Sommige slim mense beweer elke herinnering wat jy in jou geheue stoor, word herinterpreteer as jy dit weer oproep en dan in ’n nuwe vorm gestoor. Met tyd word jou geheue van ervarings interpretasies van interpretasies. Toe ek die boek geskryf het, het ek teruggegaan na die oorspronklike dokumente, briewe, boodskappe , opnames en tydlyne om die aanvanklike emosies en ervarings so ver as moontlik vas te vang. Uit die aard van die saak is blootstelling aan aanvanklike emosies soms traumaties, maar meesal helend. Partymaal dink jy daar was meer wat jy kon gedoen het of daar was dinge wat jy dalk anders kon gedoen het; tye wat jy minder bang moes gewees het of gebeure ernstiger moes opgeneem het. Baie keer word jy verras deur die intensiteit van die emosies wat jy terugskouend ervaar ... hartseer, woede, trots, spyt en verwyt.
Dit is duidelik uit jou boek dat jy en die res van die SABC8 deur talle mense in die SABC in die steek gelaat is. Jy verwoord daardie woede onder andere in ’n brief wat jy ná Suna Venter se dood geskryf het. Hoe verwerk mens daardie “verraad” as ek dit kras kan stel, en kan mens ooit diegene vergewe wat verantwoordelik is daarvoor?
Die brief aan Suna wat in die Huffington Post gepubliseer is, is geskryf ’n paar dae na haar dood en weerspieël my subjektiewe gevoelens en emosies op ’n baie spesifieke oomblik tydens die hele sage. Dit was ’n skoot donshael afgevuur uit woede en frustrasie. Sommige mense het hulleself in my tirade herken en was kwaad; ander het besef dat dit nie op hulle gemik was nie. Ek moet dit baie duidelik stel dat almal in die nuuskantoor die gebeure op hulle eie manier hanteer het. Sommige het besluit om vanaf die binnekant te veg terwyl hulle programme op die lug hou. Ander het versigtig teruggesit en gewag om te sien hoe die situasie buite uitspeel voor hulle kant gekies het. Sommige het hulleself verontskuldig deur hulle ondervindings oor redaksionele inmenging te deel; die meeste was te bang om hulle hand op skrif te sit en onder eed te getuig. Baie mense het my met ope arms terugverwelkom, terwyl hulle Suna se aandeel in die stryd ooglopend geïgnoreer het. Dis nie my plig om iemand se siening of standpunt te regverdig of te verander nie. Elkeen glo aan dit wat vir hom of haar werk, en dit laat hulle elke aand gerus slaap of nie. Dis nie my werk om hulle te vergewe nie, dis hulle wat hulself moet vergewe. Dis nou te sê as dit hulle pla.
Baie van daardie mense wat julle in die steek gelaat het, is steeds by die SABC werksaam. Wat is jou boodskap aan die etiese joernaliste wat steeds onder daardie omstandighede by die SABC moet werk?
In ’n omgewing waar vrees en agterdog genormaliseer is, vervaag die grense van oordeel, etiek en integriteit. Selfbehoud en oorlewing in moeilike ekonomiese en bedryftoestande lei tot oorversigtigheid en oordeelsfoute. Vir baie mense binne die SAUK was die Hlaudi-era ’n eerste en die besluit om openlik weerstand te bied, ondenkbaar of moeilik. Ek dink die SABC8-saga en die ongekende ondersteuning van die plaaslike en internasionale media, die publiek, die opposisiepartye en die burgerlike samelewing asook die regslui het bewys dat daar niks is om voor bang te wees nie. Dit gekoppel met die feit dat die nuwe nuusbaas en uitvoerende beamptes nou duidelik mediavryheid ondersteun en beskerm, behoort dit makliker te maak vir enigeen om etiese joernalistiek te bedryf.
Aan die einde van jou boek gee jy toe dat die waarheid altyd subjektief is omdat daar verskeie invloede is wat ook op joernaliste inspeel. As ek jou reg verstaan, bestaan daar nie regtig iets soos objektiwiteit nie. Ons almal kyk vanuit ’n bepaalde hoek na ’n saak. Hoe moet joernaliste daardie dilemma hanteer?
Toe ons klein was, was daar ’n simpel raaisel: Hoeveel kante het ’n kerk? Die ooglopende antwoord was vier: ’n linker-, regter-, voor- en agterkant. Die antwoord was egter vyf. Linkerkant, regterkant, voorkant, agterkant en ’n predikant! Stupid, maar later jare het ek besef daar is ook ’n bokant, onderkant, binnekant en ’n buitekant. Joernaliste kyk na stories vanaf ’n baie bepaalde kant (hoek) en kyk meesal ’n paar van die ander kante mis. Die beste wat jy kan doen, is om jouself te kwalifiseer, jou so ver moontlik van jou vooropgestelde idees te distansieer en soveel moontlik kante raak te sien en te weerspieël. Selfs dan word objektiwiteit beïnvloed deur jou verwysingsraamwerk, dié van jou redakteur, jou publikasie, sosiale verwagtings en beskikbare tyd. Die enkelstorie of -narratief is die grootste vyand van die oningeligte; byvoeglike naamwoorde en interpretasie die grootste vyand van objektiwiteit. Wat vir een mens onaanvaarbaar is, is die ander se kultuur; wat vir een mens ongelooflik is, is vir ’n ander normaal of alledaags.
Dit bring my by sensuur. Daar is twee soorte sensuur: aan die een kant die sensuur wat van buite op mens afgedwing word en aan die ander kant selfsensuur. Kom ek begin by die eerste een. Wat staan ’n joernalis te doen as sy werkgewer wat sy salaris betaal besluit wat mag uitgesaai of geskryf word en wat nie? Wat is die “rule of thumb” in so ’n geval?
Dis soos ’n verhouding waar fisieke of psigiese mishandeling plaasvind. Elke mens het sy of haar eie motivering waarom hulle bly of loop. Party bly vir die geld of sekuriteit, ander vir status of gemak. Elkeen het ’n eie drempel waar die ongemak ondraagbaar word. As jy as joernalis jouself nie meer in die oë kan kyk nie, moet jy jou afvra of die verhouding vir jou werk. Jy het immers die keuse gemaak toe jy jou werkgewer gekies het. Dan is daar twee opsies: Óf jy veg teen die stelsel óf jy loop. Vandag is daar genoeg wetgewing, kodes en instansies wat joernaliste beskerm.
Dan is daar selfsensuur. Ek en jy het al voorheen daaroor gepraat en ek dink almal pas dit soms toe. Dit is op sigself ’n dilemma. Wanneer is selfsensuur geregverdig en wanneer nie? Hoe rym dit met die strewe om deursigtig en eerlik te skryf wat jy weet?
Die Grondwet bepaal dat almal daarop geregtig is om nie net inligting te versprei nie, maar ook om inligting te ontvang. As ’n joernalis inligting van openbare belang bekom, moet dit beskikbaar gestel word. Ek dink dit geld veral vir hoëprofiel mense soos politieke, geestelike en gemeenskapsleiers, sport- en filmsterre wie se aansien en inkomste afhang van hulle openbare aanhang.
As dit nie in openbare belang is nie, moet besluit word of die inligting belangrik en relevant is vir die storie en of die skade wat dit aan onskuldiges kan berokken, geregverdig is. Weer eens is die besluit subjektief. Ek self is gekant teen die publikasie van skinderstories wat inbreuk maak op mense se privaatlewe, maar ek neem aan daar is ’n groot gros mense daar buite wat hulle eiewaarde bepaal deur die mistastings van bekendes.
Tot watter mate het jy selfsensuur toegepas toe jy jou boek geskryf het?
Toe ek die boek begin skryf het, het ek besluit om streng te hou by beskikbare dokumente, klankopnames, skriftelike korrespondensie, koerantberigte en eie waarnemings. Die navorsing het ’n magdom feite en inligting ontbloot waarvan ek nie bewus was nie. Die inligting wat ek gebruik het, word gerugsteun deur die feite, maar uit die aard daarvan moes ek selektief te werk gaan om die manuskrip binne ’n bepaalde lengte te hou. Ek moes my gedurig afvra of die inligting relevant of oorbodig is en of dit waarde toevoeg tot die storie. Ek is seker iemand anders sou die storie op ’n ander manier vertel het, of met my keuse van feite en gebeure verskil, maar elkeen is welkom om sy eie boek te skryf en sy weergawe van die gebeure te vertel.
Ek moet toegee jy was baie eerlik in jou boek, ook ten opsigte van die spanning wat daar soms onderling in die SABC8 was en ook in jou eie Monitor-span op kantoor. Was daar insidente wat jy liewer verswyg het in jou boek? Het jy ook selfsensuur toegepas in jou boek en indien wel tot watter mate en waarom?
In sommige gevalle het ek name en voorvalle uitgelos omdat die bekendmaking daarvan gesien sou kon word as ’n persoonlike aanval op die integriteit van mense wat steeds in die openbare oog is. Ek dink egter nie dit doen afbreuk aan die storie wat ek wou vertel nie. Ek het korrespondensie tussen my en Suna, ’n brief asook drie hoofstukke wat sy geskryf het en aanvanklik deel was van die manuskrip, uitgehaal of geparafraseer omdat die kopiereg aan haar ouers behoort en ons nie kon ooreenkom oor die publikasie daarvan nie. Die res van die SABC8 het ek elkeen persoonlik gevra of hulle bereid is om hulle gesprekke op ons privaat WhatsApp-groep te deel. Almal se reaksie was dieselfde: Wat geskryf of gesê is, is deel van die waarheid van die oomblik.
Sommige mense het in daardie moeilike tyd by die SABC hulle goed gevat en geloop, maar jy het vasgebyt. Hoekom? Was dit net oor jou pensioen of was daar ander redes ook?
Ek het voorheen diens by die SAUK onderbreek en dit was uit die aard van die saak belangrik dat ek my laaste skof ter wille van ’n pensioenfonds voltooi. Toe die druk op my en ons programme egter toeneem, het ek dit met my gesin bespreek en ons het saamgestem dat ’n groter pensioen nie opweeg teenoor etiek en integriteit nie. Selfs toe het ek alle regsopsies oorweeg voor ek in die geveg betrokke geraak het. Dit was nie ’n geveg waarvoor ek gevra het nie, maar toe dit eers begin, was wegloop nie ’n opsie nie.
Die ander redes hoekom ek gebly het, is my span en die luisteraars. Ons was miskien ’n disfunksionele familie, maar familie was ons wel. Hulle was hardwerkend, toegewyd en geesdriftig en het programme onder uiters moeilike omstandighede uitgegee. Met meer as ’n halfmiljoen getroue luisteraars per dag ontwikkel daar ’n band en verhouding en ek dink ons was dit aan hulle verskuldig om die ware toedrag van sake weer te gee.
Kom ek vra jou reguit: Deel van die spanning in jou eie kantoor (en ook onderling in die SABC8) was oor Suna Venter met wie jy ’n baie nou verbintenis gehad het. Jy skryf daaroor in jou boek en die media het ook daaroor berig. Hoe hanteer mens daardie spanning en sou jy dit terugskouend anders hanteer het vandag?
My optrede en hantering van die situasie was gegrond op persoonlike en vertroulike inligting. Nie almal op kantoor was bewus van al die feite en nuanses van die situasie nie. Dis dus te verstane dat ander met my besluite en optrede sou verskil en dit sou bevraagteken. Ek glo ek het die situasie hanteer op die enigste manier wat ek kon, in ag genome die feite tot my beskikking.
Joernalistiek lyk vandag gans anders as in die dae toe jy ’n jong joernalis was. Die tegnologie, maar ook die politieke landskap, het ’n totale gedaanteverwisseling ondergaan. Hoe sou jy die grootste verskille en uitdagings tussen die ou en die nuwe era opsom en wat is jou boodskap aan vandag se geslag joernaliste? Wat is die goue reël?
Anders as in die verlede, word die stryd om erkenning op sosiale media gevoer en gerugsteun deur ’n netwerk van alliansies en ondersteuners. Jou waarde word bepaal deur die aantal twiets en hertwiets. Dit veroorsaak ’n borrel waarbinne joernaliste mekaar opvryf en ander wat met hulle verskil, verguis. Die joernaliste en hulle sienswyse word die middelpunt en nie die storie nie. Joernalistiek het vir baie ’n 8-tot-5-werk geword, knip-en-plak-joernalistiek waar meegeding word om eerste te wees met die storie sonder om die feite te verifieer. In die poging om sosiale-media-platforms te bou, het media-instansies ontslae geraak van baie kundige en ouer joernaliste, terwyl die nuuskantore gevul word met jonger, soms onervare, maar digitaal-behendige joernaliste. Dit lei tot ’n vervlakking van beriggewing.
Gelukkig is daar is natuurlik nog baie goeie en etiese joernaliste wat uitstekende werk doen, wat deeglik en ondersoekend te werk gaan, teruggaan na oorspronklike bronne.
Aan die einde van jou boek sê jy die SAUK skiet steeds te kort as openbare uitsaaier. Die magstryd duur voort en politici steek steeds hulle neus in redaksionele besluite. Sommige joernaliste verkies skynbaar om skoothonde pleks van waghonde te wees. Om van die finansiële verknorsing in die SAUK nie eers te praat nie. Dit klink byna soos ’n verlore stryd, en tog is daar diegene wat net hulle werk wil doen. Wat is jou raad aan daardie mense?
Die SAUK is ongelukkig soos ’n staatsdiensdepartement bedryf. Die afgelope tien jaar is dit vir werkskepping gebruik en is die werksmag hopeloos te groot, die base en die ondersteuningspersoneel te veel en die produk verwaarloos. As die SAUK wil oorleef, moet daar ontslae geraak word van oortollige en dooie hout. Die rol, funksie en noodsaak van ’n openbare uitsaaier moet herdefinieer word en daar moet grootskaalse herstrukturering plaasvind om by die nuwe media-omgewing aan te pas. Die mense wat daar werk, sal óf moet deel word van die proses en saam leer en verander, óf hulle sal saam ondergaan. Daar gaan nie plek wees vir passasiers nie.
Wat is jou opsomming van ’n goeie joernalis? Kan mens hulle vertrou en wat is hulle beste en swakste kenmerke?
’n Goeie joernalis is nuuskierig, maar eties, welbelese en ingelig, in voeling met die samelewing maar met ’n gesonde en natuurlike agterdog (George Claassen noem dit ’n “bullshit detector”). ’n Goeie joernalis het ’n gesonde sin vir sosiale geregtigheid, hanteer politici en gesagsfigure met omsigtigheid, en gewone mense met deernis en ontsag. ’n Joernalis se enigste agenda behoort die soeke na waarheid en feite te wees en moet nie gekontamineer word deur eiebelang of ander mense se agendas nie. As jou joernalistiek nie mense se lewens ten goede verander nie, moet jy jou afvra of jy jou werk doen.
Swakste eienskappe? Soms dink ek dis hulle weerloosheid, maar dalk is dit net omdat hulle soveel meer blootgestel is as ander beroepe. Of hulle valse bravade, opgeblaas en aangevuur deur gedurig in die openbare oog te beweeg. Ek het eens tong-in-die-kies aan ’n kollega gesê joernaliste is net ’n spul storievertellers, skinderbekke en “name-droppers”, maar terugskouend het ek besef dis dalk ook waar van die meeste ander mense.
Ten slotte: Ek weet jy het gesê jy is klaar met joernalistiek na jou aftrede. Maar daar is nog baie ink in jou are. Het jy enige projekte in gedagte vir die toekoms behalwe om te reis? Want jy is nog baie ver van die ouetehuis se stoep af.
Daar is stories wat oor ’n glas wyn of om die kampvuur vertel word en daar is stories wat geskryf moet word. Die een is vir nostalgie of vermaak, die een ander een is noodsaaklik. As ek agterkom dat ek stories van drie of vier jaar gelede tot vervelens toe herhaal, maak dit my benoud. Vir my is dit ’n aanduiding dat niks nuuts of van belang in my lewe gebeur nie en dat dit tyd is vir nuwe avonture, ervarings en stories. Die SABC8 se storie was noodsaaklik om vertel te word; die res van my stories bêre ek vir die wyn en die vuur. As ek in die toekoms oor ’n noodsaaklike storie struikel, sal ek dit miskien oorweeg om weer te skryf.
Kommentaar
Dankie. Die SABC8 is 'n boek wat ek beslis gaan lees.
Uitstekende onderhoud.