
I
Hoe sien jy slim taalaktivisme? vra LitNet se redakteur. Sy versoek om hierdie bydrae te skryf, is na aanleiding van ’n toespraak van oudregter Edwin Cameron, die kanselier van die Universiteit Stellenbosch, gelewer tydens die eeufeesviering van die Departement Afrikaans en Nederlands op Donderdag 24 November 2022.
...
Die uitdaging, en uiteindelike doelwit, is om weg te beweeg van ’n etnosentriese perspektief na ’n breër Suid-Afrikaanse perspektief waar Afrikaans ’n simbool van gemeenskaplikheid eerder as uitgeslotenheid word.
...
Ter verdediging van aktivisme ten opsigte van Afrikaans as onderrigmedium het Cameron onder meer die volgende gesê:
Dit gaan om die noodsaaklikheid van aktivisme om die vertroeteling, die verering en die benutting van Afrikaans as onderrigmedium te verskans.
Daardie aktivisme sal vindingryk, strategies-gerig, slim en dapper moet wees. Suid-Afrika is in ’n uiters vloeibare oorgangstydperk. Daar is niks wat vindingryke, vasberade, kundige aktivisme nie kan bereik nie. Ook hier op Stellenbosch. Moet nie die stryd as ongewonne (sic), onoorwinbaar oorgee nie. Dit lê nog voor, maar die stryders moet oordeelkundig te werk gaan.
Hierdie reaksie gaan veralgemenend wees, omdat ek as buitestander nie in besonderhede op die taalstryd op Stellenbosch kan reageer nie. Met verloop van tyd is ondeurdringbare familiale slagordes opgestel, verstrengel in hardlywige burokratees, die slentertaal van teenstanders en broederlike binnegevegte. Daar is soveel institusionele voorveronderstellings, binnekennis, stapels dokumentasie en persoonlike antagonieë wat dit vir buitestanders moeilik maak om sinvol betrokke te raak en die kaf van die koring te skei.
Die gesprek oor Afrikaans is multidimensioneel. Neem die persepsie oor die etnosentrisme van die taal. Hoe die saak hanteer word, hang af van in watter verhouding jy tot die taal staan. Eerstetaal-Afrikaanssprekers se houding en reaksie sal hemelsbreed verskil van die houdings van nie-Afrikaanssprekers. Die debat oor Afrikaans in die breë Afrikaanssprekende gemeenskap sou byvoorbeeld fokus op aspekte soos die erkenning van en aandrang op die diversiteit van die oorspronge van die taal, taalvariasie of die uitbreiding van letterkundige en kulturele kanons. Vir nie-Afrikaanssprekende individue en gemeenskappe is Afrikaans onteenseglik “die taal van wit mense”, ’n regstreekse uitvloeisel van die vroeg-20ste-eeuse Afrikanernasionalisties-georiënteerde taalywer en geskiedskrywing. Dit is ’n mite wat aktief deur latere propaganda, kulturele en politieke handelinge gevestig is en teen die middel-1970’s feitlik onaanvegbaar geword het.
Wanneer regter Cameron uit ’n ope brief van die US se Departement Afrikaans en Nederlands aanhaal waar hulle konstateer: “Ons Departement bestaan nie uit taalaktiviste of taalstryders nie”, rig hy onvermydelik die debat op ’n stuk geskiedenis waar “taalaktivisme” en “taalstryd” nou verbind met Afrikanernasionalisme en die gang van Afrikanerhegemonie in die 20ste eeu. Hierdie taalaktivisme is later verbind met apartheid en die beskerming en verskansing van Afrikanerbevoordeling wat die meerderheid Suid-Afrikaners as uitsluitend ervaar het. Hierdie departement rig hulle per implikasie teen daardie vorm van taalnasionalisme en -aktivisme.
Aktivisme kom op ’n verskeidenheid maniere tot stand. Ons beleef ’n tyd waarin die aannames oor Afrikaans en Afrikaanse kulturele praktyke voortdurend onder die loep geneem word. Die gevolg is ’n interne debat tussen Afrikaanssprekendes wat die kenmerke van aktivisme dra en dus verandering teweeg wil bring. Ter oorweging noem ek lukraak ’n paar aktivistiese momente wat in die interne debat oor die aard, oorsprong en praktyk van Afrikaans tot stand gekom het. In die tweede beweging van hierdie essay kan ek hoogstens bespiegel oor die beginsels wat ’n insluitende perspektief vir Afrikaanse taalaktivisme inhou.
II
Die perspektief van die onderliggende etnosentrisme van Afrikaans het in die verlede deels veroorsaak dat denkende niewit Afrikaanssprekers toenemend die taal die rug toegekeer het. Die relatief lae status en gebrek aan ekonomiese toegang wat die taal gebied het, sou ander redes kon wees. Geleidelik, namate die rol van Afrikanernasionalistiese vormgewers buite verhouding beklemtoon is, is die plek en aandeel van nie-Afrikaners en niewit sprekers aan die taal stelselmatig uitgewan. Veral leidende middelklas niewit Afrikaanssprekers het hulle totaal vervreemd van hul taal gevoel. Hul afwysende taalhoudings het uitwaaierende gevolge gehad wat nageslag tot nageslag getref het, veral in stedelike ruimtes soos skole, gemeenskapsorganisasies en kerke, tempels en moskees.
Met verdrag van tyd is die oorheersende nasionalistiese impuls van Afrikaner- (en per implikasie Eurosentriese) geskiedskrywing en -propaganda geleidelik bevraagteken. In plaas van één storie is daar nou ’n bewustheid van die verskillende strominge van die opkoms, aard en ontwikkeling van Afrikaans. Hierdie insigte val nie uit die lug nie, want dit is enersyds die gevolg van konstante kritiese akademiese navorsing en andersyds die gevolg van aktiewe agitasie vir die insluiting van verstoke geskiedenisse. Dit sluit in ’n herwaardering van die bydrae van die inheemse bevolking en slawe tot die vorming van Afrikaans, die belang van die Arabies-Afrikaanse en Genadendalse skryftradisies of die hertaksering van die sogenaamde Oranjeriviertaal- en -spraakgewoontes van Bastaards, drosters en veeboere. Vir mense buite (en selfs binne) die Afrikaanse spraakgemeenskap is hierdie prosesse van herwaardering en selfs aktivisme nie altyd onmiddellik waarneembaar nie.
Net so word die standaardisering van Afrikaans wat wesenlik die sosiolekte van niewit Afrikaanssprekers gestigmatiseer het, toenemend aan kritiese ondersoek onderwerp. Weer eens: Dit is nie slegs die gevolg van akademiese nuuskierigheid nie, maar staan in wisselwerking met die aandrang van gewone sprekers. Die openbare aksies van Kaaps- of Afrikaapssprekers en -skrywers dwing byvoorbeeld Afrikaanse taal- en letterkundiges en uitgewers om die verskeidenheid van hierdie en ander soortgelyke taalvariasievorme in heroënskou te neem. Die oproepe tot herstandaardisering sou nie dringend geword het indien daar nie aktiewe prosesse van taalaktivisme was nie.
...
Die aktivistiese handelinge van byvoorbeeld die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en DAK Netwerk, of die verskuiwing in fokus van die Afrikaanse Taalmonument en -museum (ATM) en die ATKV sou aangeteken kon word.
....
Dieselfde aandrang op insluiting en die belang van buitekanonieke Afrikaanse kulturele praktyke is onderweg, byvoorbeeld die toenemende dokumentering van die swart Afrikaanse skryftradisie(s) of kulturele uitings, soos wat mondelinge vertellings of hip-hop getuig. Weer eens: Hierdie vorme van akademiese aktivisme is besig om beskouings oor die wesensaard van Afrikaanse letterkunde geleidelik te verander.
Ten opsigte van die interne prosesse in die Afrikaanse taalgemeenskap is daar dus ’n verskeidenheid vorme van aktivisme onderweg wat nie altyd as sodanig erken word nie. Hierdie insigte en optredes lei tot ’n aandrang op inklusiwiteit, die heraanpassing van die visiestellings van bestaande instansies en die skep van ’n bewustheid van die stemme wat afwesig is uit die hoofstroom. Die aktivistiese handelinge van byvoorbeeld die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en DAK Netwerk, of die verskuiwing in fokus van die Afrikaanse Taalmonument en -museum (ATM) en die ATKV sou aangeteken kon word. Eweneens sal die aktivistiese ontwikkeling van die Drietalige Woordeboek van Kaaps (DWK) die breë diversiteit van Afrikaans boekstaaf, wat implikasies gaan hê vir onder meer skrywers, uitgewers, voorskryfkomitees en onderriginstellings.
III
Uiteraard het individue buite die breë Afrikaanse spraakgemeenskap nie altyd ’n begrip vir die interne nuanses of dinamika waaroor in die vorige afdeling geskryf is nie. Afhangende van die geografiese oorsprong of posisie van die waarnemer is daar ’n duidelike begripsverskil oor die posisie van Afrikaans waarneembaar. In die sentrale, suidelike en suidwestelike streke van die land word Afrikaans tradisioneel oor alle geledinge van die bevolking gepraat – dit word gewoonlik nie uitsluitlik aan een etniese groepering gekoppel nie. In die noordelike en noordoostelike streke is dit anders gesteld. Hier word die taal hoofsaaklik met ’n bepaalde etniese groepering geïdentifiseer. Juis hierdie feit het nagevolge vir die wyse waarop aansprake oor Afrikaans beskou en hanteer word. Dit is dus geen verrassing dat Afrikaans in die noorde van die land sonder omhaal van woorde as “die taal van die verdrukker” gemerk is nie. In die suide word dieselfde slagspreuk dikwels met voorbehoude en uitsluitings (soos “die taal van die polisie”, “Standaardtaal”, “die taal van die hof”) aangewend.
Afrikaans as simbool van Afrikanernasionalisme en dan spesifiek rassisme, politieke verdrukking en sosiale uitsluiting dra vir nie-Afrikaanssprekers ’n byna onuitwisbare emotiewe lading wat van geslag tot geslag oorgedra word. Hierdie emotiewe lading word versterk en kom tot uiting wanneer nie-Afrikaanssprekers voorheen hoofsaaklik openbare Afrikaanse ruimtes soos skole en universiteite betree. Waar Afrikaans in ’n vorige geslag met daadkragtige politieke verdrukking geassosieer is, word dit nou beleef as ’n instrument van akademiese en maatskaplike uitsluiting.
Watter aktivistiese strategieë ook al, in regter Cameron se woorde, vir “die vertroeteling, die verering en die benutting van Afrikaans as onderrigmedium” bedink word, sal in gedagte gehou moet word dat die emotiewe assosiasie van Afrikaans met onderdrukking, rassisme en uitsluiting daadwerklik onder bespreking sal moet kom. Dit is die hardnekkigste assosiasie wat nie-Afrikaanssprekers met Afrikaans verbind het.
...
Dit beteken eerstens dat die omvattendheid van Afrikaans – sy diverse oorspronge, sy plaaslike geseteldheid, die infrastrukturele ontwikkelinge – wyer bekend gemaak moet word.
...
Die uitdaging, en uiteindelike doelwit, is om weg te beweeg van ’n etnosentriese perspektief na ’n breër Suid-Afrikaanse perspektief waar Afrikaans ’n simbool van gemeenskaplikheid eerder as uitgeslotenheid word. Hierdie is ’n langtermynvisie wat slegs met verdrag van tyd bereik kan word, maar dit beteken nie dat elke klein stappie nie gevier en gekoester moet word nie.
Dit beteken eerstens dat die omvattendheid van Afrikaans – sy diverse oorspronge, sy plaaslike geseteldheid, die infrastrukturele ontwikkelinge – wyer bekend gemaak moet word. Hier is dus ’n beklemtoning van die rede en logika, en nut van ondersteunende inligting. Debatte oor die diversiteit van Afrikaans vind dikwels slegs in Afrikaans plaas, wat dit vir nie-Afrikaanssprekers ontoeganklik maak. Nie-Afrikaanssprekende meningsvormers het dus nie geredelike toegang tot inligting of sienings wat tot potensiële houdingsverandering aanleiding kan gee nie.
Tweedens kan ’n perspektief van gemeenskaplikheid slegs in aktiewe samewerking met sprekers en instansies van ander Suid-Afrikaanse tale geskied. Dit is ’n doelwit wat handelend nagestreef moet word. Die regering met sy de facto-eentaalbeleid, ten spyte van die sprake van die bevordering van inheemse tale of ’n moedertaalbeleid, kortwiek hierdie strategie. Terselfdertyd blyk staatsinstellings soos Pansat (Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad) ondoeltreffend te wees. Alle Suid-Afrikaners het ’n belang daarby dat spesifiek hierdie instelling effektief funksioneer, sodat dit inspraak kan hê in die bevordering van al ons tale in al ons onderriginstellings en die staatsdiens in die breë.
...
Benewens die onderskrifte by sepies of nuusberigte behoort veel meer in hierdie verband gedoen te word, omdat dit ’n wyse is om verhoudings oor taalgrense heen te bou.
...
Van die skreiende nalatenskappe van apartheid is die mate waartoe ons tot bepaalde ruimtes – fisies, ontologies en ook metafories – beperk was, en grotendeels steeds is. Dit lyk of die idees wat tydens die oorgang na ‘n demokratiese Suid-Afrika in besondere omgang was, soos vertaling, die afgelope drie dekades onderbeklemtoon is. Benewens die onderskrifte by sepies of nuusberigte behoort veel meer in hierdie verband gedoen te word, omdat dit ’n wyse is om verhoudings oor taalgrense heen te bou.
Vierdens: ’n Vraag wat ons behoort te vra, is: Hoe word nie-Afrikaanssprekers en Afrikaanssprekers betrek by die vestiging van ’n omgewing van taalverdraagsaamheid? Dit behels sekerlik ’n basiese strategie van bemagtiging waar deelnemers as deelgenote betrek en die aard van interaksie onderhandel word. Hoe dikwels lees ons in koerantberigte en ander verslae dat jong nie-Afrikaanssprekende toetreders tot ’n leeromgewing uitgesluit voel omdat hul nie verstaan word nie, minderwaardig voel of die institusionele kultuur as antogonisties ervaar? Die vestiging van ’n institusionele kultuur van verdraagsaamheid is waarskynlik op die lange duur die sekerste waarborg vir die beskerming en uitbouing van ons tale.
IV
Afrikaans sal in die toekoms slegs in omstandighede waar die ou denkpatrone afgelê is, kan gedy, en dit is wat taalaktivisme in sy verskeie vorme moontlik kan maak. Hoewel taalaktivisme nou saamhang met beskouings oor kulturele assosiasie, die erkenning van waardigheid en maatskaplike insluiting, sal dit op die lange duur noodsaaklik wees dat ’n verdraagsame omgewing geskep word waar die tale van mense, insluitend Afrikaanssprekendes, ook hul ekonomiese belange verteenwoordig.
Lees ook:
Eeufeesviering van Departement Afrikaans en Nederlands, US: Kanselier Edwin Cameron se toespraak
Stellenbosch language debate: Speech by David Jantjies at the DAK meeting with the SAHRC
DAK Netwerk language submission: A petition to the Minister of Higher Education
BAQONDE, boosting the use of African language in education: an interview with Bassey Antia


Kommentaar
Baie interessante artikel. Ek is een van daardie 'volksverraaiers' wat van opinie is dat Afrikaans nie 'n buitengewone rooskleurige toekoms het nie. Vir my is dit 'n geval van, it is what it is. Wat is 'n goeie nasionalisme sonder 'n vyand, ja? In die Ou Testament was dit die Ammoniete, die Midianiete, die Ameliakiete en die Filistyne, onder meer. Vir die Nazi's was dit die Jodendom en die geldmag. Vir die Afrikaners was dit die Sataniste, die Marxiste, die anti-christe. En vandag staan Afrikaans in die ideologiese beskuldigingsbank - deesdae die taal wat in die weg staan van die regering se leë Suid-Afrikanisme. En Suid-Afrikanisme praat Engels en 'dekolonialiseer' die land uitsluitlik in Engels.
Om teen al hierdie realiteite te wil gaan staan en 'veg', voel vir my net so onnatuurlik soos om myself te wil verbeel dat ek 'n Engelsman is. Maar een mooi oggend gaan die jeug nie meer Afrikaans praat nie. Want Afrikaans is nie die taal waarin die besluite geneem word nie. Ons paartie en steek nog dop in Afrikaans, maar praat dit nie meer in die raadsaal nie. En besaaids, om te wil veg oor taal maak my dalk al weer 'n nasionalis, en nasionalisme is 'n gif wat ek nie wil drink nie.
Wat vertalings betref: Daar is nie geld vir vertalings nie. Die rekenmeester waak met valkoge oor die begroting. Hy dra dikwels two tone hemde en jag elke winter sy eie biltong. Sy akademiese grade hang geraam in sy kantoor teen sy muur en hy is nie 'n man met 'n hart vir taalsake nie. En hy is ook slegs beskikbaar per afspraak.
‘n Manifes vir Afrikaans - deur Johannes Comestor
Ons as Afrikaanssprekendes verklaar hiermee dat
ons trots is op wat in Afrikaans tot stand gebring is
ons groot waarde heg aan Afrikaans as ’n volwaardige taal
ons eis dat Afrikaans as amptelike taal tot sy reg kom
ons Afrikaans oral en altyd gebruik waar en wanneer dit enigsins sinvol is
ons bereid is om telkens vir Afrikaans in die bres te tree
ons daarop aandring dat skool- en naskoolse onderrig in Afrikaans beskikbaar moet wees
ons Afrikaans so suiwer moontlik hou en gebruik
ons veral teen die verengelsing van Afrikaans waak
ons Standaardafrikaans as rigsnoer koester
ons die Europees-vastelandse grondslae van Afrikaans aanvaar
ons Kaaps, in soverre dit Engels is, as ’n bedreiging vir Afrikaans beskou.
https://www.litnet.co.za/n-manifes-vir-afrikaans/