Wupperthal, Gansbaai, Kaapstadstasie, Karatara, Khayelitsha, Pringlebaai, George, Bettysbaai, Knysna, Danabaai se toegangsroete, Vlaeberg, Houtbaai: die Wes-Kaap is straks Suid-Afrika se brand-“hoofstad”. Hoe verder ons in die 21ste eeu vorder, hoe erger word dit oënskynlik.
’n Brand kan een van twee oorsake hê: Eerstens kan dit “natuurlik” ontstaan, byvoorbeeld deur weerlig (gedenk die Knysna-katastrofe van 2017) of as gevolg van ’n aardbewing soos wat destyds in die berge by Tulbagh en Ceres die geval was. Selfs iets so onskuldig soos ’n komposhoop kan vernietigende gevolge hê, soos wat onlangs die ervaring van ’n vriend was wat vertel het van sy buurman se komposhoop wat tydens ’n sterk, droë wind in ligte laaie gestaan het. Oor die “natuurlike” ontstaan van ’n brand kan ons omtrent niks doen nie, behalwe om ons kennis daaroor uit te brei en daarvoor voor te berei, soos wat trouens deur wetgewing vereis word.
Tweedens kan brande weens menslike opset of nalatigheid ontstaan. Daaroor kán ons groter beheer uitoefen, maar daarvoor moet die strafregstelsel hervorm word.
Die gemeenregtelike misdryf brandstigting word tans omskryf as die wederregtelike, opsetlike aan die brand steek van die onroerende eiendom van ’n ander, gepleeg met die oogmerk om die eienaar skade te berokken. Dit spruit uit die hoë premie wat ons Romeins-Hollandse voorouers op menslike woonplekke geplaas het. Ek skat roerende bates – ’n ossewa, dalk ’n perdekar of ’n koets – was indertyd nie naastenby so waardevol soos ’n gebou nie.
’n Interessante anomalie is dat die aan die brand steek van die veld en die opbrengs van die landboukundige bewerking daarvan deur plant en saai tans waarskynlik nie aan die omskrywing van “brandstigting” sal voldoen nie, bloot omdat die meeste plante, gesaaides en plantasies nie bedoel is om permanent aan die bodem vasgeheg te word nie. Dit is dus nie “onroerende” bates nie.
Wanneer roerende eiendom – soos motorvoertuie en treine – aan die brand gesteek word, is dit gemeenregtelik dus nie “brandstigting” nie, maar opsetlike saakbeskadiging, al word dit dikwels in die media verkeerdelik as “brandstigting” beskryf. Ek het ’n spesmaas mense dink dat opsetlike saakbeskadiging ’n minder ernstige misdryf as brandstigting is. Dit is nié, maar mense meen oënskynlik hul mag maar lustig vuurhoutjies trek om roerende bates aan die brand te steek. Dit gebeur immers bitter selde dat sulke boosdoeners vasgetrek en vervolg word.
As mense ongelukkig is oor gebrekkige dienslewering, onbekostigbare tersiêre onderrig, die afbakening van munisipaliteite, treine wat nie betyds arriveer nie, ens, het hulle die volste reg om daaroor protes aan te teken. Maar om geboue, treine, polisietoerusting, voertuie, paaie, skole, biblioteke, verkeersligte – die lys het g’n einde nie – in brande te verwoes, gaan my verstand te bowe.
Die gemeenregtelike omskrywing van brandstigting (wat, soos reeds genoem, tans beperk word tot onroerende eiendom) behoort uitgebrei te word om ook die vernietiging van roerende eiendom (soos voertuie en treine) in te sluit. As etlike treinwaens in een voorval aan die brand gesteek word – soos al op die Kaapstadse stasie gebeur het – is die gepaardgaande skade en ontwrigting vir seker baie groter as wanneer byvoorbeeld ’n kleinerige gebou aan die brand gesteek word. Ek skat dieselfde is van toepassing op die vernietiging van ’n 26-wiel-vragmotor. Sonder sy vrag kos so ’n voertuig maklik meer as twee miljoen rand.
Om brandstigting tot onroerende eiendom te beperk is klaarblyklik ontoereikend vir die onstuimige tye waarin ons leef. Ek het dit al voorheen bepleit en herhaal dit nou: Die gemeenregtelike omskrywing van brandstigting behoort deur wetgewing gewysig te word sodat enige vorm van die maak van vure met die oogmerk om iemand daardeur skade te berokken of mense te verontrief, brandstigting sal wees. Dit sluit die alewige erg ontwrigtende brand van motorbande op paaie as ’n vorm van proteslewering in. Daar behoort ook ’n minimumvonnis vir brandstigting voorgeskryf te word – en dit moet séérmaak, sodat mense ’n heilige respek vir vuur kan begin ontwikkel.
Ek wil verder gaan: As iemand ’n vernietigende brand op ’n nalatige wyse veroorsaak – ’n seinfakkel word byvoorbeeld op Oujaarsaand afgevuur en dit veroorsaak ’n veldbrand, soos wat na bewering met die 2018/2019-jaarwisseling die geval by Bettysbaai was – behoort ook dit kragtens die uitgebreide omskrywing van brandstigting strafbaar te wees. Tans is daar van brandstigting en opsetlike saakbeskadiging sprake slegs as dit aan die skuldvereiste opset, in sy verskillende verskyningsvorme, voldoen. Dis nie meer goed genoeg nie: as jy op ’n nalatige wyse ’n brand veroorsaak, behoort jy ook daarvoor strafregtelik vervolg te kan word.
Waarom meen ek dat ’n uitgebreide misdaadomskrywing van brandstigting tot ’n afname in vernietigende brande behoort te lei?
’n Voorbeeld uit die vroeë 1970’s sal dalk help. Die wetgewer het in 1972 die Wet op Misdrywe teen Burgerlike Lugvaart (’n meer uitgebreide wet is tans van krag) op die wetboek geplaas in ’n tyd toe terroriste wêreldwyd begin het om vliegtuie en hul passasiers te teiken. Artikel 2 van die wet het ’n reeks misdrywe – wat baie swaar gestraf kon word – omskryf. Iemand wat byvoorbeeld ’n bemanningslid van ’n vliegtuig in die uitvoering van sy of haar pligte opsetlik belemmer het of wat die veiligheid van ’n vliegtuig in gevaar sou stel, kon by skuldigbevinding ’n tydperk van minstens vyf jaar – en tot soveel as 30 jaar! – agter tralies deurbring. Die wet het dit ook ’n misdryf gemaak as iemand inligting sou oordra wetende dat dit vals is en op dié manier die bedryf van ’n lugdiens of van ’n lughawe kon belemmer. So ’n oortreding was strafbaar met tot 15 jaar gevangenisstraf, sonder die keuse van ’n boete.
Nadat die wet in werking getree het, is ’n handjievol stommerike – mense wat grappenderwys sou sê dat daar ’n bom in iemand se bagasie is of wat, in een geval, grappenderwys vertel het dat hy ’n vliegtuig “skaak” – vervolg en betreklik swaar gestraf. Danksy die goeie publisiteit wat daardie vervolgings geniet het, was daar spoedig ’n einde aan daardie soort nonsens – dit gebeur eenvoudig nie meer nie. Verskerpte wetgewing oor die veroorsaking van brande – én die doeltreffende toepassing daarvan – behoort dieselfde uitwerking te hê.
Die tyd het gekom dat alle Suid-Afrikaners wat die land eerder wil bou as afbreek, effektief wal moet gooi teen alle primitiewe vorme van protesaantekening – veral waar dit met die stig van brande gepaard gaan. Dit mág nie meer gelate aanvaar word nie. Ons skuld drasties-verskerpte optrede teen die menslike veroorsaking van brande aan die duisende heldhaftige brandbestryders wat dikwels hul lewens of gesondheid moet opoffer om ander se misdadige handelinge te probeer stuit.
Wat nodig is, is die politieke wil om die grondliggende redes vir geregverdigde protes uit die weg te ruim, maar ook om die epidemie van brandstigting in ons land permanent die nek in te slaan. My oproep is: Verskerp die toepaslike wetgewing, brei die gemeenregtelike posisie uit, vervolg oortreders meedoënloos en straf hulle swáár. Dis al manier waarop ons die menslike element by die veroorsaking van brande hok sal slaan.
Die politieke party wat hiermee die voortou neem, kan vanjaar by die stembus op my ondersteuning reken. Dit kan begin by ’n eenvoudige parlementêre vraag aan die President: “Beskou u die ontwrigtende en potensieel gevaarlike aan die brand steek van motorbande op openbare paaie as ’n legitieme vorm van protes? Indien nie, wat beoog u om daaraan te doen?”
- Gustaf Pienaar is ’n niepraktiserende advokaat van Vleesbaai. Hy is die skrywer van die boek Regsalmanak: 100 stories uit ons regserfenis.
Lees ook:
Regsalmanak: 100 stories uit ons regserfenis deur Gustaf Pienaar: ’n onderhoud
Kommentaar
Ek wonder gereeld waarom sulke boosdoeners - soos die lot wat treine of elektriese voorsieningsapparaat - aan die brand steek nie van sabotasie aangekla word nie. En dieselfde met die lot wat chaos saai wanneer hulle hele dorpe en industrieë lamlê deur die koperkabels te steel.
Opset by moontlikheidsbewussyn, oftewel dolus eventualis. Nou waar het daardie term ons nasie se bewustheid binnegedring? Mmm.