Jou dorp is my dorp, jou seun is my seun

  • 6

Vandag is ek trots mens.

Wat verg dit om ’n hele gemeenskap saam te snoer? Om mense van alle kleure, geslagte, ouderdomme, gelowe, priesters en pagans bymekaar te kry en hulle te kry om saam te trek as ’n span?

Gee hulle ’n krisis. ’n Ramp. Dan vra niemand waaraan jy glo / nie glo nie, vir watter party jy stem of by watter krip jy water drink nie.

Gisteraand het ek in ’n emosionele oomblik ’n klompie gedagtes neergeskryf wat my getref het tydens een van die moeilikste paar dae sedert ons in 2002 in die pragtige kusdorp Kleinmond ingetrek het. Ons omgewing het sedert Oujaarsaand deurgeloop onder ’n bergbrand wat ontstaan het as gevolg van die afvuur van ’n onwettige fakkel. Die brand het versprei; dit is vir 12 dae beheer, maar stormwinde het op dag 12, skaars ’n uur nadat aangekondig is die brand is 100% geblus, op plekke opgevlam wat binne ’n baie kort rukkie groot dele van Bettysbaai verwoes het.

Die mense is uiters getraumatiseerd wat moes ontruim sonder om te weet of hulle huise veilig sou wees of nie. Daar was geen tyd om die nodigste te pak nie; mense het net hulle troeteldiere gegryp en onder die vlamme uitgery. Party huise is veilig, ander nie, maar almal is vuil en vol rook. 31 huise en twee kerke het volledig en 28 ander gedeeltelik afgebrand. Baie huise het strukturele skade wat nie getel is nie; tuine is verwoes.

Die mense moet gehelp word. Die brandwerkers moet gevoed word; hulle moet fisiek versorg word (seer spiere, geswikte enkels, blase, ens). Hulle moet slaap. As hulle ’n skof in gietende reën gewerk het, moet hulle droë klere kry. Waar kry jy 50 paar droë sokkies nege-uur in die aand in gietende reën? In Kleinmond. By mense. Jy vra net.

Minute nadat ek op ons dorpsgroepe vra vir iets, hetsy ’n selfoon om een wat in die vuur beland het te vervang, verbande, energiedrankies, roomysbakke, oogdruppels, seep, sokkies en enige diverse ding, dan daag dit by die stadsaal op wat as tydelike rampbestuursentrum ingerig is, van waar alles beheer en bestuur word. Daar is jong en ou hande, hande in alle skakering van wit en bruin – mense klim eenvoudig in en help. Hulle kook, hulle pak, hulle sorteer, maak lyste; hulle dra rond, hulle versorg. Hulle maak hulle hande vuil en hulle voel wonderlik daaroor.

So leer ek my dorp se mense ken, hulle diepste menswees. Tydens so ’n ramp leer ek baie van mense. Ek leer hoe wonderlik is Facebook en WhatsApp, hoe vinnig word hulp gevra en gekry. Hoe mense saamwerk, sonder vrae. Ek leer ook:

  • Mense is inherent goed. Hulle gee graag.
  • Mense is gewillig; almal kan nie leiding neem nie, maar is te dankbaar om van hulp te wees en voer enige opdrag uit.
  • Elkeen doen wat hy kan. Party reël, ander gee/vra/help/bring/sorg/ry aan/kook/samel in.
  • Besighede gee elk sy kundigheid of sy produk, sonder om te huiwer. Supermarkte, bakkery, hardeware, apteke – jy noem dit, hulle gee.
  • Daar is nie die geringste sprake van ons/hulle nie – op geen gebied nie. Jou dorp is my dorp, jou seun is my seun.
  • Die plein nuuskieriges en beterweteriges kry jy oral. (Almal van “buite”.)
  • Die mense wat die meeste “like” en vertel hoe wonderlik is almal en hoe trots hulle is en hoe hulle sal bid, lig nooit self ’n vinger nie.
  • Met adrenalien wat loop, loop mens ver.
  • Bokkies en skilpaaie en klein diertjies word met net soveel liefde versorg en hervestig. Ons babagrysbokkie met brandwonde is per ambulans na die naaste dierehospitaal geneem.
  • Daardie pragtige professionele jong vroue wat met perfekte grimering jou voorskrif uitdeel by ons twee apteke, huiwer nie een om hulle hare in ’n ponytail te bind en op die vloer te gaan sit om ’n seer voet te versorg nie, tot laataand. Die raadslid werk die hardste van almal, kry die minste slaap.
  • Vreemdelinge gee geld, meestal anoniem.
  • Jong kinders, tieners, jongmense, oumense, almal help.
  • Die minister (Ivan Meyer) kom en bou ’n bruggie, vorm ’n simboliese sirkel, skep eenheid.
  • Facebook en WhatsApp is fantasties.
  • ’n Krisis ken geen kleur nie.

Maar die grootste enkele ding is dat mens besef hoe nietig en nutteloos allerhande klein kwessies is wat in die nuus is; die belaglikheid van enige ons/hulle; die absurdheid van allerhande klein geveggies op Facebook; die getoutrekkery en kantkiesery en opswepery oor goed wat jou nie regtig raak nie. As ons minder tyd spandeer om te kyf en te lees en skakels te deel oor wie waar sit in Schweizer-Reneke, het ’n onderwyseres nie nou haar pos verloor nie en was daar nie nou wit en swart kindertjies getraumatiseer nie. Hulle trane is ewe helder.

Wanneer jy gekonfronteer word met die mens in sy naakte menswees, as jy sien hoe mense ’n hele lewe eensklaps verloor, sien jy dinge in perspektief. Die essensie van die lewe het niks te doen met dit waarmee ons onsself groot dele van die dag besig hou nie.

Daardie ou speletjie waar mense vra wat sal jy gryp as jou huis brand ...? Dis geen speletjie nie. Dis ’n diep emosionele traumatiese gebeurtenis waar elke mens instinktief optree, waar oorlewing al is wat saak maak.

Mens lees gedurig dat mense sê hoe naar die mensdom is, dat die mens wreed is, dat hulle menswees wil bedank. Maar hoor my lied: ek is trots mens vandag. Mense is inherent goed, hulle gee om, hulle deel hulle tyd, hulle goed en hulle geld. En ek is bitter, bitter dankbaar vir sosiale media.

 

“Life is beautiful. Suffering is due to unconscious following.” 
– Amit Ray, Beautify your breath, beautify your life

  • 6

Kommentaar

  • Anna-Marie Theron

    Hoe traumaties moet dit nie vir daardie kindertjies, swart en wit, wees om toe te kyk hoe ouers met mekaar baklei nie. In plaas dat die regerende politici as bemiddelaar optree, lyk dit eerder asof hulle net meer onmin saai.

  • Mooi gestel maar ek wil graag balans bring met die sewende7 de punt. Is ook een van dié wat gelike en gebid het, het gereeld benodigdhede soos versoek by Crassula saal gaan afgee, en elke keer ons hande ook aangebied maar daar was elke keer genoeg vrywilligers. Trisa, veroorloof my om nog 'n punt by te dra wat so nodig is vir ons toekoms: Sommer in Ingels" Be good, be kind, be gentle, and above all, be FAIR. Sover moontlik te alle tye. Groete en mooi wense vir 2019

  • Sjoe ons taal sing onder jou pen. Baie dankie vir die helder vlam wat jy aangesteek het in ons harte. Ek gaan dit elke dag lees ipv die algemene nuus. Judy

  • Rhea, ek sou graag perspektief wou gee op daardie puntjie. Alle goeie intensies en gebede is soos goeie dade self, waarvan joune definitief deel is. Daar is egter mense wat "ek sal bid", "dankbaar" en "sterkte" rondgooi soos confetti, totdat jy hulle vra vir 'n klein praktiese guns, wat broodnodig was. Dan verdwyn hulle vinnig.

    Die meeste mense is wonderlik, die meeste mense is goed, die meeste mense is opreg, maar daar is ook dié wat gekant is teen die pogings by Crassula en Kleinmond Stadsaal, en die versorging en voer van die WoF mense.

  • JACOMI HANEKOM

    Wil net sê, moenie dáárdies wat "meeste like" en bid (van buite) misken nie ... dis dalk húlle wat die anonieme finansiële skenkings gee.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top