Wupperthal ween

  • 3

…………………………………………………………………

Die berggans het ’n veer laat val
van die hoogste krans by Woeperdal
my hart staan tuit al meer en meer
ek stuur vir jou die berggansveer
mits dese wil ek vir jou sê
hoe diep my liefde vir jou lê

Boerneef
…………………………………………………………………

My blitssoektog na die geskiedenis van Wupperthal het met ’n tikkie hartseer gepaardgegaan.

Ek het vir ’n erfenis-instansie gebel en daar aangeklop om te gaan kyk watter inligting oor die geskiedenis van Wupperthal se afgebrande erfenis beskikbaar is. (Instansies, boeke en – meestal ontoeganklike – akademiese artikels bied in die meeste gevalle meer breedvoerige en unieke inligting as internetartikels en Wikipedia.)

Heel bo in ’n klein, stowwerige kamertjie (met die lig wat tydens die feesgety nie afgeskakel is nie) is daar ongeveer tien pragtige houtpanele met kort geskiedenisse en foto’s van die bekende sendingstasies in Suid-Afrika, met ’n kaart ingesluit van hul ligging regoor Suid-Afrika: Wupperthal, Goedverwacht, Wittewater, Pniël, Genadendal, Elim, Mamre, Zoar, Amalienstein, Saron ...

Alles in bubble wrap.

Ek moet noem dat daar ’n groot lêer vir die publiek beskikbaar is met inligting oor die sendingstasies, maar ’n lêer vertoon nie naastenby dieselfde as “ouskool”-panele nie (met foto’s wat heel moontlik in die ’90’s geneem is, of selfs vroeër – wilde raaiskoot!).

Ek het toestemming gekry om die inligting op die panele te gebruik, maar ek is verbied om die bron van hierdie inligting (maw die betrokke instansie) te noem.

Ek is ook verbied om foto’s van die panele te neem.

Ek mog foto’s van die foto’s op die panele geneem het, maar is baie fyn dopgehou ingeval ek ander inligting op die panele in my selfoonfotoraam insluit.

Na ’n rukkie, en na baie hulpvaardige rondskuif van die panele om by Wupperthal s’n uit te kom, vra ek waarom die panele hier, in ’n stowwerige hoek, opsy geskuif is. “Om plek te maak vir ander uitstallings.”

Vir iemand wat lief is vir erfenis, Afrikaans en geskiedenis, is dit moeilik om te verstaan,  maar tóg te verstane in die hedendaagse ideologiese klimaat.

Ek besef dat daar inligting beskikbaar is oor sendingstasies in boeke en skripsies, maar hierdie opsyskuif van erfenis het my opgeval. En dit pla my nog steeds.

Tipies wou ek die bestuurder kontak. Net om toestemming te vra of ek in my artikel die instansie as bron kan erken en of ek hul e-pos-adres kan kry.

Die kern van die reaksie op my versoek: Die “manager” is nie beskikbaar vir so ’n e-pos nie. (Dus eintlik: “They would not care to answer.”)

Oukei, lost cause.

Let wel, ek is uitgenooi om weer te kom besoek aflê. Niemand was onbeleefd met my nie, net versigtig.

Maar hóékom?

Sou iemand anders dalk die verbod op foto’s geïgnoreer het en die foto’s en inligting oor al die sendingstasies sonder erkenning geplaas het, of te sterk daarop aangedring het om in kontak met die bestuurder te kom?

Neem ek hierdie saak te ernstig op, veral omdat ek nie in die gemeenskap grootgeword het nie, en ek nog nooit eers hierdie sendingstasie besoek het nie? Ek wou al vir jare, maar dit is ver weg! 

Jy kies maar jou gevegte.

Ek wandel so gou ek kan na ’n ander instansie op soek na boekinligting. Ek is baie opgewonde toe ek ’n pragtige boek in die hande kry, maar boeke mag nie hier uitgeneem word nie.

Ook mag net ses bladsye gekopieer word.

Selfoonfoto’s van die boeke is verbied (te verstane). Die veiligheidswag het my daaroor kom inlig, aangesien ek uit dringendheid (min tyd) foto’s begin neem het van die boek.

Uit beleefdheid (en eintlik om te voel ek het iets verrig) maak ek toe ses kopieë van historiese foto’s van Wupperthal uit die 1930’s, 1950’s en 1960’s, al weet ek dit kan nie geplaas word nie, om standaard kopieregredes. Die boek is dekades gelede, in 1980, gepubliseer en die drukkery het ’n paar jaar gelede sy deure gesluit. Die foto’s uit hierdie boek is nou (volgens my) ekstra-waardevolle optekening van erfenis.

Ek wou net 500 woorde skryf oor die ontstaan van Wupperthal, om ietsie te skryf oor wat verlore is. 

Ek het op ’n latere stadium al die pad terug wynlande toe gery, waar ek dieselfde boek binne vyf minute by ’n ander instansie kon leen. Eers moes daar ’n aantekening gemaak word dat die buiteblad reeds los was toe ek dit uitgeneem het.

Amalienstein en Zoar

Genadendal

Goedverwacht (Mill Museum)

Pniël

Met die boek uiteindelik langs my kan ons nou kortliks teruggaan in die tyd.

Karl Schiefer het Wupperthal in 1980 in Wupperthal: 150 jaar (1830–1980) beskryf:

… die pragtige toneel van ’n sonsondergang, die veelkleurige rotse van die berge van die omgewing … die intog van die groot trop kleinvee … grootmense langs die muur [wat] met mekaar … gesels en kinders [wat] vrolik en ongestoord op straat … speel … iets van ’n ander wêreld … ’n wêreld van eenvoud en beskeidenheid waarin dikwels onbekende waardes versteek lê wat elders verlore gegaan het …

Hier ken die mense mekaar nog, gee hulle nog om vir mekaar en het hulle nog tyd om ná ’n dag of ’n week se harde werk met mekaar te gesels.

… Wupperthal: ’n egte gemeenskappie wat op natuurlike wyse in ’n skoon, mooi dorpie gegroei en oor so ’n lang tyd sy karakter ongeskonde behou het, omring deur die pragtige natuurskoon van die Sederberge. Geen wonder dat jy hier mense ontmoet wat trots op hulle tuiste is en wat gretig is om hul dorpie in stand te hou en selfs verder op te bou nie!

Opgetekende erfenis: Wupperthal: 150 jaar (1830–1980)

Wupperthal is die eerste Rynse sendingstasie in Suid-Afrika (sedert 1965 ’n Morawiese sendingstasie).

Johann Gottlieb Leipoldt, die oupa van die bekende skrywer C Louis Leipoldt en ’n Rynse sendeling, was die stigter en eerste leraar van Wupperthal.

Leipoldt het die vallei/dal vernoem “na die Wuppervallei in Duitsland met sy skilderagtige heuwellandskap en kronkelende rivier”. Wupperthal was aanvanklik Rietmond, ’n plaas van sewe bewoners (eienaar Schalk Lubbe van Biedouw). In 1830 is Wupperthal aan die sendelinge oorgedra:

Vanaf die eerste dag is die Blye Boodskap in die Tratra-vallei verkondig. Nuwe intrekkers uit die omgewing het spoedig op die stasie aangekom, en die sendelinge het met ywer begin werk. ’n Begin is gemaak met skoolonderrig, die grond is bewerk en die nuwe intrekkers is in verskillende ambagte opgelei.

Die kerk is op 4 Mei 1835 ingewy en die skool in 1936. Elfie Strassberger beskryf die kerk en omringende geboue in Wupperthal: 150 jaar (1830–1980):

Skilderagtig in ’n ongekunstelde skoonheid waak die strooidakkerk met sy sierlike Kaaps-Hollandse gewel op ’n hoogtetjie in die weste oor die vallei. Die skool, fabrieke, pastorie en ’n paar ander woonhuise … staan almal naby die kerk, terwyl drie rye wit gekalkte strooidakhuise teen die hang van ’n Karookop die ongeveer honderd gesinne van die dorp huisves.

Die vroeë toename van die bevolking het met die afskaffing van slawerny in 1838 gepaardgegaan. Baie vrygestelde slawe van omliggende plase het hulle in Wupperthal gevestig.

Opgeleide, Duitse skoenmakers het in 1836 vir Leipoldt, ’n gewese skoenmaker, gehelp om ’n skoenmakery te begin. Buiten die skoenmakery en die looiery – “bedrywe waarop die Wupperthalse gemeenskap kon staat maak” – het die aanplant van rooibostee asook ander bedrywe ’n rol in die onderhoud van Wupperthal gespeel.

Wupperthal se skoenmakers in die vroeë dertigerjare (Bron: Wupperthal: 150 jaar (1830–1980))

Ter afsluiting: Breyten Breytenbach beskryf Wupperthal in ’n Seisoen in die paradys (1976) so:

Water, my mense, water loop ’n blink streep langs die dorp verby. En klein, byna skuwe monumentjies van die mens se aanwesigheid in hierdie groot oneinde: huisies, ’n kerk, lappies bewerkte grond.

Wupperthal, voor die brand (Bron: Wupperthal: 150 jaar (1830–1980))

  • Foto's: Menán van Heerden

Bronne

  • Bernhard Krüger. The pear tree blossoms: the history of the Moravian Church in South Africa (1737–1869) (1966, Genadendal: The Moravian Book Depot).
  • Bernhard Krüger en PW Schaberg. The pear tree bears fruit: the history of the Moravian Church in South Africa, Western Cape Province (1869–1980) (1984, Genadendal: The Moravian Book Depot).
  • Hernice Heyns (samesteller). Wupperthal: 150 jaar (1830–1980) (1980, Evangeliese Broederkerk in Suid-Afrika feesalbum). Wupperthal: Die Kerkraad, Evangeliese Broederkerk.
  • Renate Cochrane. 4 Januarie 2019. History of the destroyed jewel of SA’s heritage, Wupperthal. Cape Argus (aanlyn).

Lees ook

Genadendal: ’n erfenisjuweel

Die vrystelling van slawe: Pniël-gemeenskapsmuseum – "Ons storie"

  • 3

Kommentaar

  • Margaret Cordier Db

    My hart was met eens vol heimwee vervul, die oomblik toe ek op LitNet se blad gelees het van die brand by Wuppertal.
    Ek het daar my kommentaar gelewer en weer dankie gesê, toe in die media genoem is dat ’n welgestelde weldoener gaan help om die dorpie weer aan te trek.
    Die Berggans poot se brief, waarin geskryf staan van Liefde en Genade groot; sal dan hopelik in vervulling gaan aan Wuppertal en sy mense.

  • Jeannie du Plessis

    Lekker gelees hieraan Menan, dankie vir inligting, pragtige aanhalings dit het elkeen van ons geraak. Was nog nie daar maar van die begin van tragedie het mens saam gehuil. Goed as dit goed herstel en herbou word, dankie aan die persoon wat help.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top