Agter die brand

  • 12

Bedeesde dae langs die droë lope van die Doornrivier word met een WhatsApp ontspoor. Op 1 Januarie 2019 laat weet die Overstrand-munisipaliteit ’n beloning van R5 000 word aangebied vir inligting wat kan lei tot die arrestasie van ’n persoon of persone wat op Oujaarsaand ’n fakkel afgestuur het in die Kogelberg-biosfeerreservaat.

24 uur later is die gort gaar. Ons nag sein deur boodskappe, gestuur deur vriende uit Bettysbaai. By Craig Carruthers, buurman en agent van Sandcastle Eiendomme, hoor ons die brand voor die ry huise teen die Brody Link-reservaat het (genadiglik) begin bedaar. Eyes wide shut. Ons wil huis toe en die omliggende terrein gaan natspuit en waghou.

Aviwe Funda van Working on Fire

Deur die loop van Donderdag 3 Januarie ontvang ons foto’s van ’n helikopter, besig om die laaste vlamme in die veld voor ons huis te blus.

Voorstelle van wat met die beskuldigde fakkelman gedoen behoort te word, vlieg gevaarlik deur die lug.

Vrydag 4 Januarie verlaat ons die stille skoonheid van die Klein Karoo. Met sware gemoedere keer ons terug, nie seker wat op ons wag nie. Een ding weet ons egter: ’n geliefde reus, die Kogelberg  ̶  met sy pieke en ravyne, soos agtergelaat in middel-Desember 2018, is nie meer dieselfde nie.

Helikopters woer waterbomme; langs Clarence-rylaan staan die motors; Instagram raam die ramp. Ons is tuis.

“Dit was dan ’n suidooster; hoe het die brand dit reggekry om terug te beweeg?” Mens het lus vir niks. Ansel Adams se “grey scale” lyk anders in Afrika: steen en as. Jy onthou 2018 se leucadendrons (‘n plantgroep in die fynbos), die bottergeel kleure daarvan ’n spens vir insekte en voëls.

Bernardus Groenewald, David Morris en Malcolm Greeff van OWV en Paula Olivier

In ons tuin is meer beweging as tevore en ons maak seker al die waterbakke is vol. Teen skemer sit ons en wag vir die paddas se stemme. Hulle klink beskeie. ’n Woedende magteloosheid oorval my wanneer ’n eensame witkruisarend in treurroep oor die veld voor ons huis verbyvlieg. Hulle vlieg gewoonlik in pare, maar hierdie een vlieg alleen en hulle vlieg ook nooit sό laat nie.

Einde van die skof

Saterdag 5 Januarie ry ek tot by Anthony James se kleinhoewe waar ons altyd hout gekoop het. (Hy is in Oktober verlede jaar oorlede.) Sy karavaan het gesmelt en die laaste stapel hout is uitgebrand. Ek neem ’n foto waar ek hom ’n dekade gelede maak staan het vir die projek Parrot Jungle.

Langs die pad stap ek. Motors snel verby. Ek plaas ’n hand op die grond wat geskroei is. Dit is warm; miere loop oor my vingers. Daar is ’n gat wat deur ’n dier gegrawe is (om te probeer ontsnap?) en op my knieë fluister ek daarteen: “Wees maar nie kwaad vir die brandstigtende stommerik nie; die Engelse het ook al hierdie aarde afgebrand en hulle het hoë geletterdheid agter die blad.”

(Mens wil getroos wees, maar daar is nie sprake van so iets nie.)

In Pringlebaai sit ’n vrou buite die besigheidsentrum. Sy verkoop Persiese matte – veilingstyl, soortgelyk aan wat met kuns gedoen word. By Lemon&Lime, die enigste deli vir myle, vertel Bernard dat hy en Binky die brand by Glencraig gaan beveg het. En dat hy en Nicolette een van die dae sand gaan optel waarin skaars spesies nou versamel lê.    

Onwillekeurig dink ek aan die Universiteit van Nottingham se Frozen Ark.

Saterdagaand besweer ons die brand met wyn en al die musiek in ons huis. Die bure kan gaan slaap.

Crassula-saal

Sondagoggend 6 Januarie word ek wakker met die oorweldigende wete dat niks op hierdie aarde aan ons behoort nie. Die hoofpyn is wel myne.

Vir dié dag se yl veld sien ek nie kans nie; dan liewer na Crassula-saal om te kyk wat ’n gemeenskap doen met so ’n rampspoedigheid. Hoop vonk in die saal waar ons twee maal ’n week pilates doen; nou is dit ’n kantien vol genade. Van heinde en verre word skenkings aangery en hulp uitgedeel. Raakvatter-vrywilligers uit ons kontrei staan agter potjies, maak lysies, help hier, maak ’n plan daar. Penny en Rikki van die pilates-klas lyk totaal anders vandag; ek soek vergeefs na die helder balle. Di Pickard en Sharon Ball arriveer uit Pringlebaai met bredies vir die brandbestryders. Hein, ons plaaslike slagter, bring vleis. Raymond vertel hom van Barrydale se wors.

Die veld op dag 5

Die veld

Wat voor jou afspeel, kan jy skaars glo. ’n Versoek vir batterye en ’n Samaritaan daag op met ’n boks vol. Vra iemand water, beland daar ’n honderd kanne. ’n Boer het geelperskes kom aflaai: “Laat weet as julle nog soek.” Brian Huntley en sy vrou Merle bring waatlemoene en ander voorraad.

In ons nederige gemeenskapsaal is ’n fyn-georkestreerde netwerk van pioniers met gees aan die woeker. Ek besluit om hieraan vas te hou, vir nou.

Kaptein Harold Nqwenani

Harold Nqwenani, hoof van polisie in Kleinmond, stop vir middagete op pad na Kogelbaai. Hy is baie ontsteld oor die hoeveelheid geld wat een individu se avontuurtjie die gemeenskap en regering kos, en voel sterk daaroor dat vuurwerke verband moet word. “Oh God,” sug hy by herhaling. Wanneer hy opsukkel, sien ek die kierie, toe te skryf aan ’n onlangse motorongeluk. God, ja.

Pamela Olivier, veearts-tegnikus van die Pretoria-dieretuin, ry saam met ons na die Harold Porter Botaniese Tuin. Sy was op vakansie, maar is ingeroep en doen tans rampbestuur vir die Wes-Kaap: “Dit is hoog tyd dat ons begin om meer kennis by mense oor te dra. Op grondvlak moet kinders geleer word. Grootmense doen dit nie meer nie; hulle het te lui geraak en almal sit net heeldag binne, besig met tegnologie.”

Einde van die skof

En die diere dan? “Foto’s en statistieke sal bekendgemaak word sodra ons buite ‘code red’ is. Die aantal diere wat geïmpakteer is deur mense wat hulle voer, is onrusbarend. Ons het heelwat skilpaaie, bokkies en ystervarke kon red, maar wat ons vandag gaan kry weet ons nie.”

Blykbaar lê die pad Kogelbaai toe besaai met slange en sy vertrek soontoe die oomblik wat dinge hier bedaar.

“Ons het nie gedink hierdie ding kon so groot word nie.”

Einde van die skof

Working on Fire-span uit Kleinmond

Brandweervoertuie van Overberg Wildfire Volunteers en Overstrand-munisipaliteit wag buite die hekke van die Harold Porter. Alger en dese is moeg, dit is duidelik. In die helder lug bokant ’n rooi brandweertrok sjoer die Bell Huey. Die Bambi-watersak lyk sό klein.

’n Inwoner en sy twee honde stap af see toe. Met die terugkeer kom lê die een swart labrador langs my; die dier is gedaan gestap. Alles wat ek ervaar, het ’n ander sensasie, ’n weerloosheid daaraan. Wat is die naam van die hond?

Owen Stewart van die Overstrand

Terug na Crassula vir foto’s van die brandbestryders wat binnekort berg-af kom. Verskeie spanne arriveer en vertrek. Die De Hoop-manne, reeds 24 uur op hulle voete, kom haal hulle kospakkies; ’n verdere 94 kospakkies staan reg om deur vrywilligers uit die Helderberg na Kogelbaai vervoer te word.

Die aarde het sout.

Melvine Slingers, Zubenathi Khaziya, Jerome Dowrie, Llewellyn Hess en Ricardo Swanepoel van Cape Nature

Ingang oorkant Pringlebaai

Geel trokke van Working With Fire sluip verby en kom tot stilstand in die parkeergebied van die gemeenskapsaal. Vir ’n oomblik gebeur niks nie en dan kom die Verlore Ark se redders een vir een te voorskyn.

Hulle dag word afgesluit; eers met ’n lied, “Wayophula intliziyo”, gevolg deur ’n sirkel wat bid. Hierna beweeg hulle na binne om te gaan eet.

Mens ruik die afgebrande veld wat teen hul dapper, jong lywe lê.

Maar hiérdie een word nie geblus nie, hy het ’n lewe van sy eie, vreet die land hier en sluk hom weer daar. Shelton April, die beskuldigde, het Maandag in die hof verskyn.

  • 12

Kommentaar

  • Hoe vinnig kan 'n oomblik v onbesonne plesier, of ander tye opsetlike besluite God se Skepping vernietig.

  • Estelle Haasbroek

    Pragtig oorgedra Lien Botha, baie dankie, ons kan die sielskuddende gebeure meeleef.

  • Dankie liewe Lien. Jy vat alles so goed saam. Ons vrese, versugtinge, woedes en magteloosheid. Hier speel ek net Schubert se klaviertrios kliphard as die helikopters en spotter plane so oor ons sirkel om hierdie boosheid te besweer.

  • Ek lees julle wat in die direkte omgewing woon, se pyn duidelik, Lien. Hierdie is 'n tragedie. Mag Shelton besin. Vir nou en vir altyd.

  • Herman Lategan

    Hierdie is 'n essay oor weerloosheid. Pragtig. Ontstellend. Toe dit by die paddas kom het ek begin huil. Fok.

  • Oral brand dit - dit word gestig uit woede, protes of vir vermaak en uit verveling. Kan dink hoe dit moes voel met destydse verskroeide-aarde-beleid. Dis droog, dis verkiesing, dis Sweizer ... droewe land ...

  • Anne-Marie Breytenbach

    Ai Lien ... jy verwoord dit so goed. Die gemeenskap is verslae want wat kan mens sê. Dankie.

  • Jana Hitchcock

    Dankie Lien dat jy die mens se lief en leed so mooi verwoord. Dit gee ons as buitestaanders 'n kykie op die trauma wat hulle beleef het.

  • Renée Conradie

    Vir ons wat van ver af kyk, het jy dit werkliker en hartverskeurend oorgedra ... dankie, Lien Botha!

  • Ek voel die onderliggende hartseer in jou woorde. Wat gebeur het na hierdie skrywe, het waarskynlik jou hart finaal gebreek.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top