Wupperthal in puin ná verwoestende brand

  • 3

Danie van Wyk is tuis nadat hy en twee mede-direkteure van die DAK Netwerk, Willem Fransman en Bertus Davids, besoek afgelê het aan Wupperthal. Hulle het namens DAK fondse geskenk, asook 'n paar sakke klere. Danie skryf hier sy indrukke van die ervaring en deel ook sy foto's.

Wat in Wupperthal gebeur het, is ’n ramp; nie slegs in terme van die brand wat ’n juweel van Suid-Afrikaanse erfenis in puin gelê het nie, maar ook ten opsigte van hoe mense se lewens oornag verwoes is. Hierdie klein Afrikaanse gemeenskappie is getraumatiseer oor die verlies van hul huise en karige besittings wat totaal in die brand vernietig is. Die brand het onverklaarbaar op Sondagmiddag 30 Desember 2018 ontstaan, en so vinnig versprei dat dit onmoontlik was om dit te blus; grootliks omdat die dorpie nie oor ’n brandweer beskik nie.

Simone Alexander en haar seun Crudon, voor die oorblyfsels van die gebou wat eens hulle huis was.

Wat ek onlangs op besoek daar gesien het, het my met afgryse en hartseer gevul. Hierdie historiese dorpie is verwoes en die reuk van die verwoestende brand het nog sterk in die lug gehang tydens my besoek daar ’n week gelede. ’n Stukkie geskiedenis is daarmee heen; Wupperthal sal nooit weer dieselfde wees nie.

Wupperthal is ’n sendingstasie van die Morawiese Sendingkerk van Suid-Afrika, met ’n ryke geskiedenis en tradisie wat uit die vroeë 1800’s dateer. Dit is geleë in ’n afgeleë vallei in die Sederberge, ongeveer 70 km noordoos van Clanwilliam. Die gehuggie kan slegs bereik word deur ’n pad wat ongeveer twee derdes grondpad is, en plek-plek in ’n swak toestand. Die sendingstasie is oorspronklik gestig deur die Rynse Sendinggenootskap, maar is later oorhandig aan die Morawiese Kerk weens hul werk onder die inheemse Khoi-bevolking en vryslawe.

Die Kerk het die sendingstasie verder ontwikkel, met ’n groot fokus op onderwys, vakmanskap en vaardigheid. Die leerlooiery en Wupperthal-skoene is vandag nog ewe beroemd, ’n vaardigheid wat van geslag tot geslag oorgedra is. Gelukkig is die skoenfabriek ongeskonde en sal steeds sy werk kan voortsit. Die res van die geboue, wat 53 huise, die pastorie van die kerk, die kerksaal, die skoolkoshuis wat 144 skoolkinders gehuisves het, ’n winkel, koffiehuis en bakkery ingesluit het, is onherstelbaar beskadig.

Die kerkowerhede het, in samewerking met plaaslike owerhede asook die Erfenisstigting, bevind dat die geboue nou onveilig is en ’n gevaar inhou vir inwoners. Die enigste oplossing is dus die sloping van die geboue; ’n stap wat onomkeerbaar is. Die voorstel is dat grond deur die kerk beskikbaar gestel sal word om behuising aan die geaffekteerde families te verskaf. Die dorpie sal herbeplan moet word en die eertydse karakter van Wupperthal gaan permanent verdwyn.

Dit het onwillekeurig die volgende vraag by my laat ontstaan: Het die brand meer strukturele skade aan die geboue veroorsaak as die aardbewing van 1969 in Ceres, Wolseley en Tulbagh, waar historiese geboue herstel is? Voorbeelde van die herstel van geboue uit die geskiedenis is byvoorbeeld die oorlogverwoesting van Duitse stede en die herbou daarvan na die Tweede Wêreldoorlog. Hoe is hulle herstel na daardie verwoesting, en kon ’n tweede opinie nie verkry word in hierdie geval van Wupperthal van ’n groep onafhanklike professionele struktuuringenieurs nie? Ek verstaan dat sommige van die strukture met rou bakstene en modder in plaas van sement gebou is, wat herstel bemoeilik. Seer sekerlik kon van daardie huise herstel word.

Die volgende kan voorgestel word uit die lesse wat ons hieruit kan leer:

  1. Maak die moontlike herstel van die geboue ’n nasionale projek en betrek die staat.
  2. Stig ’n restourasiekomitee met verteenwoordiging van professionele liggame en mense betrokke by restourasie om die herstelwerk aan die gang te kry, te beplan en te koördineer, en ’n restourasiefonds op dreef te kry, met ’n duidelike mikpunt nadat die restourasiekoste bekend is.
  3. Verkry professionele advies van struktuuringenieurs om ’n oordeel te vel of enige van die bestaande beskadigde geboue gered kan word sonder sloping. (’n Voorlopige evaluering het reeds bevind dat al die geaffekteerde geboue in Wupperthal gesloop moet word; ’n drastiese stap wat die uitleg van die dorpie in sy totaliteit gaan verander.)
  4. Alle nasionale liggame wat betrokke is by bewaring en ’n aantal kundiges en invloedryke mense moet dringend betrokke raak by so ’n projek, wat eintlik ’n heilige sending moes word.

“Herstel Wupperthal” is ’n nasionale saak en sal nie deur die Morawiese Sendingkerk alleen behartig en bekostig kan word nie. Die skade beloop miljoene rande en herstelwerk sal deur die publiek en verskeie organisasies help befonds moet word. Slegs so sal historiese strukture in die toekoms vir die nageslag bewaar kan word. Dit is verblydend om te sien hoe gewone Suid-Afrikaners hul harte en beursies geopen het vir die gemeenskap. Tydens my besoek was daar selfs ’n groep motorfietsryers wat hul bydraes kom aflewer het, en leerders van ’n bekende skool in die Paarl het ’n kombivrag niebederfbare produkte daar kom aflaai. Dít gee my hoop vir hoe ons in die tyd van nood mekaar ondersteun. Gift of the Givers het reeds vroeg hul ondersteuning gegee en sal vir ’n kort tydperk by die herstelprojek betrokke wees.

Dit bly my hoop dat die gemeenskap van Wupperthal gouer sal herstel as die geboue. Dat die basuinekore weer in die strate sal marsjeer, die lug gevul word met lofgesange en die beroemde Wupperthal-rieldansers stof sal opskop in die strate ter viering van die herstel van die dorp; al was dit nie tot sy vorige glorie nie. Wupperthal sál uit die as herrys na hierdie katastrofe. Wat ek gesien en gehoor het, sal my altyd bybly. Die gesig van Simoné Alexander voor haar uitgebrande huis en meubels het van moedeloosheid getuig. Dit is vir haar en ander mense van die gemeenskappie dat hulp dringend benodig word.

Skoenmaker Arnold. Gelukkig het die skoenfabriek nie in die slag gebly nie.

Die Morawiese Sendingkerk het verskeie verklarings tot op datum uitgereik om gemeenskappe en instansies te bedank vir hul bydraes tot hulp. Die Sendingstasie is nie meer bereikbaar nie, omdat herstelwerk aan infrastruktuur en die oprigting van tydelike strukture ’n aanvang geneem het.

Gina Redcliff, Danie van Wyk, Petro Zimri en Willem Fransman

André Boezak, predikant van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) in Oudtshoorn, som dit so op na aanleiding van ’n foto van ’n brandbeskadigde trompet en ’n musiekboek wat in een van die verbrande huise gevind was, in hierdie gedig getiteld:

Wupperthal

Dit wat eens Sy lof uitbasuin
Lê verskrompeld in puin
Jy wat eens in noot
Die storie kon vertel
Moes die knie buig voor die vlammehel.

  • 3

Kommentaar

  • Erfenis Wes-Kaap het gister bevestig dat daar geen sloping plaas sal vind nie, net restorasie aan die hand van gedetaileerde studies wat voorheen gedoen is.

  • Wilhelm Fourie

    Dankie vir hierdie artikel. Dit is ontsettend ontstellend. Die gedig som dit so goed op.

  • Wat 'n hartseer gebeurtenis. Ek hoop daar sal 'n positiewe nadraai wees. Sterkte vir al die mense daar.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top