Onderhoud met Wouter Gildenhuys oor Grondwoorde 2018

  • 1

Wouter Gildenhuys woon in KwaZulu-Natal en is die samesteller van 'n Afrikaanse digbundel Grondwoorde.  Die bundel bestaan uit gedigte deur hoërskoolleerders van verskillende skole. Dié tweede bundel wat uit die gelyknamige projek spruit, is in 2018 gepubliseer.

Grondwoorde-kompetisie 2018: wenners aangekondig!

Remona Voges en Naomi Meyer het verder met Wouter oor die bundel en projek gesels.

Hallo Wouter. Baie geluk met jou groot projek, Grondwoorde 2018. Dit is ’n lywige bundel. Hoeveel inskrywings het julle in totaal ontvang en hoeveel gedigte is daar uiteindelik gepubliseer?

Grondwoorde 2018  het 218 inskrywings ontvang. Elke leerling moes ten minste een gedig inhandig in elk van die 3 voorgeskrewe kategorieë om te kwalifiseer vir die kompetisie. Ons het altesaam 652 gedigte ontvang. Die een leerling het net een gedig ingehandig omdat haar Afrikaanse onderwyseres in die middel van die kompetisie verplaas is.

Alle gedigte wat ons ontvang, word elke jaar gepubliseer en elke leerling ontvang ook 'n bundel. Die publikasie van al die gedigte is deels om die leerlinge aan te moedig. Die feit dat die leerlinge 'n gedig geskryf het, is al op sigself 'n prys werd en daarom word alle gedigte gepubliseer.  

Ek wil ook net byvoeg dat die gedigte elke jaar deur 'n paneel van drie lede beoordeel word. Die paneel bestaan uit akademici en digters.

Het die manier hoe die kinders in Afrikaans skryf, jou opgeval? Byvoorbeeld met betrekking tot die temas waaroor hulle skryf of hulle poëtiese taalgebruik.

Die drie temas verlede jaar was (i) Pryslied: “Bayete”, (ii) Vier Landskapsverse en (iii) Afrikaans as taal van versoening.

Die volgende eienskappe val op in die taalgebruik en struktuur van hulle poësie:

  • Dit is opvallend hoe die leerlinge uit verskillende taalgroepe die verskillende temas verwoord;
  • Strukturele verskille in die gedigte van verskillende taalgroepe is ook ooglopend; en
  • Die kulturele en sosio-politieke herkoms wat deurskemer in die gedigte.

Die sêding lui dat as ’n mens wil skryf, moet jy ook lees. Het die kinders wie se werk in die versamelbundel gepubliseer is toegang tot ’n wye verskeidenheid leesmateriaal?

Ek kan nie op hierdie vraag kommentaar lewer nie, maar dis baie duidelik dat waar leerkragte wat die leerlinge aanspoor, betrokke is, is daar baie groter deelname. In sommige gevalle wil dit my voorkom dat die kompetisie nie eers in skole onder die aandag van die leerlinge gebring word nie. Dit is 'n groot jammerte omdat dit die leerlinge ontneem van die kreatiewe skryfproses, interaksie met bestaande teks/poësie en die verrykende wêreld van die digkuns.

'n Langlys van die beste inskrywings is saamgestel. Hier is die langlys, wat onlangs op LitNet verskyn het.

Agterste ry: Jaco Nel, graad 11 (Gelofteskool), Eugéne van der Linde, graad 9 (Suid-Natal), Kayla Vosloo graad 12 (Suid-Natal), Minette Janse van Rensburg, graad 10 (St Dominic’s, Newcastle), Stefan Friedrich, graad 11 (Eden Kollege), Zoë Meneses, graad 11 (Crawford Kollege), Marcé Strydom, graad 9 (Durban-Noord Kollege)

Middelste ry: Abigail van Staden, graad 10 (Greytown Hoër), Jayla Sayner, graad 11 (Kingsway), Jo-Anne van der Wath, graad 9 (Suid-Natal), Mignon Potgieter, graad 12 (Suid-Natal), Marlene Cloete, graad 10 (Suid-Natal), Tiana Hendrikse, graad 9 (DGHS), Roché Fourie, graad 11 (Durban-Noord Kollege), Chamoné Visagie, graad 11(Durban-Noord Kollege) 

Voorste ry: Caitlyn van Dyk, graad 9 (Suid-Natal), Nitasha Pillay, graad 9 (Arena Park Secondary), Nombuzo Vuna, graad 10 (Avoca Secondary), Kieasha Singh, graad 9 (Belverton Secondary), Nokukhanya Ntuli, graad 11 (New West Secondary), Fiona Mgenge, graad 10 (Avoca Secondary), Prashant Ramlall, grade 11 (New West Secondary)

As jy ’n paar moet kies – watter gedigte het vir jou uitgestaan? Kan jy asseblief vir ons aanhaal?

Daar is verskeie belowende gedigte maar ek haal graag die drie gedigte aan wat as die beste gedig in elke kategorie aangewys is:

Eerstepryswenner: Zoe Meneses Crawford Kollege          

Afdeling 1 – Zoe Menesis, Crawford-Kollege, Graad 11

Bayete

durban-strate durban-groete

die snoepiekindjie flits 'n haasbek-glimlag
na die geplooide gekrulde here wat om die tafeltjie sit
môre môre hoe gaan dit met u sê hy fluitstem
'n glans van wit loer deur die tarentaalbaard
en die bloue oë plooi om die hoeke

die poseidon vleesgeworde tiener
waai na die rooi-geklede roomysvrou met haar verweerde trolletjie
howzit groet hy, waar gaan jy vandag rasper hy
'n sterk jong hand klamp om die ou vermoeide een
en die plae van lugrotte koer net betyds

die oorpakkiemeisie skud haar kop grynsend
sy klim die ou gebou en hys haar kanonbotteltjies hoog om te rammel
bayete dumela lotjhani ndaa! sê sy sproeiend
hello! wees gegroet! staar trots uit die muur
en die sirenes lui in die verte

Bo: Amandisa Diko, Amelia Appelgryn, Bella Gosnell, Declan Ronan

Onder: Fiona Mgenge, Nitasha Pillay, Nokukhanya Ntuli, Prashant  Ramlall

Afdeling 2 – Declan Ronan, Graad 10, Ashton-Kollege

Winter Umfolozi

Dis droog, my kind

Dis droog langs die Umfolozi my kind
  dooie gras wat rol in die wind
   droë bome sonder blare
    staan wag soos houtpilare
     omring deur 'n mat van droë gras
      wat eens somergroen velde was

Dis Winter, my kind

Dís die winterdorsland van Kwazulu-Natal
  weg is die water onder die droë waterval
   die aarde bly nog dors en droog
    ons wag 'n tyd vir die reënboog
     vir reën wat vreugde sal bring
      vir voëltjies wat weer sal sing

Die hemel hou leë beloftes, my kind

Skielik grynslag die hemel donker-grou
  Maar op die oewers van droë riviere
   Staan en wag die arme diere
    Hoeveel meer kan God se diere nog hou
     Want die Umfolozi-vallei eggo plof, plof, plof
       Die klank van hoewe in die versmorende stof

Die wind bly huil, my kind

Die dae is kort, die nagte lank
  Jakkals se huil 'n aardige klank
    Dis grys en vaal in die plek van groen
      Daar is eintlik niks wat ‘n mens kan doen
        Hoe depressief, die huilende wind
           Dis droog langs die Umfolozi my kind

Bo: Ayanda Nxumalo, Shaleena Jayaram, Thabiso Ngcobo, Tiana Hendrikse

Onder: Zanukuhle Miller, Kevin Boodhram, Ronan Pienaar, Marcé Strydom

Afdeling 3 – Mignon Potgieter, Suid-Natal, Graad 12

Versoeningslied vir Suid-Afrika

O koud is die windjie en skraal,
en blink klink die woorde van 'n nuwe taal.
Uit die blou van onse hemel uit die diepte van ons see.
Daar oor die ewige gebergtes daar waar die kranse antwoord gee.

Uit duisende monde word haar lied gedra.
Dit word gesing deur almal oor die verlate vlaktes van Suid-Afrika.
Vêr langs braaivleisvuur en aan iemand wat aan koeksusters smul,
van oseaan tot oor die Klein Karoo-duine.
Roep sy jou, sy’s joune – ook myne.

Dis lip-lek lekker soos die geur van
haar woorde wat soep oor jou lippe.
Sy raak harte aan
trek nasies saam,
want sy baljaar op die tong van ons broers.
Die fluistering in jou oor
op 'n ruk en rol-ritme wat jou liggaam bekoor.

Van Totius tot Madiba saam staan ons vir jou
vir jou Afrikaans
en altyd sal ons onthou.

O koud was die windjie en skraal.
En blink is die woorde van 'n nuwe taal.

Uit die blou van onse hemel
en uit die diepte van ons see.
Daar oor die ewige gebergtes daar is versoening,
daar waar die kranse antwoord gee!

                           

Drie  naaswenners: Minette Janse van VuurenSt Dominics Skool, Stefan Friedrich - Eden Kollege, Mignon Potgieter Hoërskool Suid-Natal 

Party van die gedigte is baie goed vir ’n kind wie se eerste taal nie Afrikaans is nie. Hoe maak mens seker dat dit hul eie werk is?

Om julle vraag te beantwoord, wat word bedoel met “is dit hul eie werk?” Die belangrikste aspek van 'n gedig, vir my, bly die idee van die leerlinge wat dan verwerk moet word tot 'n gedig deur die samestelling/komposisie van verskillende woorde.

Grondwoorde is 'n projek vir hoërskoolleerlinge en ek glo en aanvaar dat leerlinge hulp kry van hul leerkragte, ouers, ens. Die skryf van die gedig, vir die leerlinge, is 'n kreatiewe leerproses en ek het geen twyfel dat leerlinge bystand ontvang nie. Die belangrikste element in die kreatiewe skryfproses bly die kern-idee wat aanleiding tot die gedig gegee het.

In die proses maak die leerlinge ook gebruik van moderne tegnologie soos “Google translate”, om hulle te help met spel- en vertaalprobleme.

Grondwoorde maak ook gebruik van 'n taalversorgers at al die gedigte nagaan en korreksies maak waar nodig.

Een van die oogmerke van Grondwoorde is om 'n liefde vir die Afrikaanse taal en die Afrikaanse digkuns aan te kweek, wat hopelik deur die proses aangemoedig word.  

Wat is die toekoms van Grondwoorde? Is dit ’n projek wat besig is om in ’n voltydse werk te verander?

Dit is 'n goeie vraag! Ek het nooit voorsien dat die projek soveel tyd in beslag sou neem nie en ek kan dit bloot doen omdat ek afgetree is en 'n pensioen het om van te lewe! Dit is meer as 'n voltydse werk. So, ja, dit het reeds in 'n voltydse werk verander.

Hoe het julle die projek bemark?

Aanvanklik het ek die skole persoonlik besoek om kontak te maak en in 2017 het ek 25 plattelandse dorpe besoek en +/- 4500 km afgelê.

Die informasie rakende die kompetisie word na die skole gepos. 10 000 vlugskrifte is verlede jaar aan +/- 280 skole gepos. 

 Weet jy of soortgelyke projekte ook onder ander Afrikatale bestaan?

 Sover my kennis strek is Grondwoorde die enigste kompetisie van sy soort en is daar geen ander soortgelyke projekte in ander Afrikatale nie.

Ek is al genader om 'n soortgelyke kompetisie, in KwaZulu-Natal,  vir  Zoeloe van stapel te stuur maar ongelukkig is my kennis van Zoeloe te gebrekkig, veral gesien in die lig daarvan dat poësie 'n goeie “oog” benodig ten opsigte van taalnuanse en struktuur.  

Grondwoorde-skryfkompetisie: langlys aangekondig

Grondwoorde: ’n digkompetisie vir hoërskoolleerlinge in KwaZulu-Natal

Grondwoorde groei uit KwaZulu-Natal: ’n onderhoud oor ’n Afrikaanse gedigkompetisie

 

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Philippus Janse van Rensburg.

    Vandag het ek met 'n jongman van Tswana afkoms gepraat en weer verstaan hoe anders jongmense ons wêreld sien.
    Wat u doen, is onvergelyklik!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top