NATi Jong Sterre: Ek, Eva-produksie by Suidoosterfees 2020

  • 0

Ek, Eva is een van die NATi Jong Sterre-produksies, ondersteun deur die Jakes Gerwel Stigting en Kunstekaap. 

Opkomende kunstenaars word deur dié uitnemende ontwikkelingsprojek bygestaan om hul voete in die teaterbedryf te vind. Die bekwame mentors, Amy Jeptha en Rafiek Mammon, het die talentvolle jongelinge gehelp om hul tekste af te rond en vir die verhoog te verwerk. 

Ek, Eva

Met: Wahnice du Toit, Robyn September, Brutney Singrew en Meggan-Lee Johnstone
Regie: Stephren Saayman
Teks: Stephren Saayman en die geselskap
Choreograaf & verhoogbestuurder: Wyatt Afrika
Venue: kykNET Atlantic Studios
Datum en tyd: 22 November 12:00
Tydsduur: 60 min
Prys: R50

 

In 2019 se DKES dramafees-wenproduksie word fisieke teater met ’n lieflike poëtiese aanslag gekombineer. Wanneer Eva se oë oopgaan, is sy saam met drie ander vroue in ’n plek waar die slang hulle teister met leuens. Wie gaan voor die serpentyn swig? Soos wat die maskers sak, word die donker waarheid oor uitdagings wat vroue kwesbaar maak, in die oopte gebring.

Hierdie geleentheid vind 22 November om 12:00 plaas by die @kykNET Atlantic Studios by Montague Gardens.
 
Kaartjies kos R50 per persoon en kan deur Computicket gekoop word.
 

Ek, Eva (Foto: Suidoosterfees)

Waaroor handel die produksie?

Hierdie produksie handel oor vrouwees. Dit volg die storie van drie verskillende vroulike figure wat deur ’n sisteem onderdruk word. ’n Sisteem wat bestaan uit patriargie, armoede, verlies, seer, ongeluk en vrees. Dit lê klem op die verskillende klasse van die samelewing soos hoër klas, middelklas en laer klas. Dit wys hoe vroue eintlik nie so ver van mekaar geskei is nie, want wat die een raak, het ’n effek op die ander een, ens.

Stephren Saayman

Jy het self die teks geskryf – wat is die inspirasie agter die produksie?

Die idee is wat ek geplant het, maar die teks is eintlik ’n gesamentlike produk. My inspirasie het dus gekom vanaf dit wat rondom ons gebeur ‒ die onderdrukking van vroue, en alhoewel daar so baie bewegings is, is die stem nog baie onhoorbaar.

Verduidelik asseblief die betekenis van die naam van die produksie?

Ons is bekend met die storie van Eva en die slang in die tuin van Eden. Eva, wat verwys na “vrou”, is ’n duidelike aanduiding dat daar nog elke dag met slange geveg moet word. Die slang is die versoeking. ’n Tipe bron van kennis en die inlating vir euwel. Al drie hierdie vroulike figure in die produksie is ’n representasie van die verskillende tipes vroue, so wanneer na die produksie gekyk word, is daar een of ander persoonlike en reflektiewe verbintenis. Die naam suggereer dus dat die vrou met haar eie en eksterne faktore gekonfronteer word. Elke vrou is een in haar soort, maar die refleksie van Eva skyn deur en verbind vrouwees in totaliteit.

Met ’n titel soos Ek, Eva, en ’n geselskap wat net uit vroue bestaan, neem ek aan hierdie toneelstuk spreek sekere temas rakende vroue aan, spesifiek vroue van kleur?

Dis wat hierdie produksie so interessant en anders maak, omdat dit nie net tot vrouens van kleur spreek nie. Alhoewel daar van vroue van kleur gebruik gemaak word, spreek dit tot vroue in die algemeen. En dit is iets wat ons nie genoeg sien in Suid-Afrikaanse teater nie. Ek wil dit reeds so hê, want dié is ’n universele tema en as daar in kleur vasgekyk word tydens die produksie, is daar definitief belangrike vrae wat vir die self gevra moet word.

Jy en die geselskap het saam aan die teks gewerk. Was dit vir jou belangrik om hul insette te hoor aangesien die teks oor vroue handel? Hoe was die ervaring vir jou as man?

Dit was iets nuuts! Ek het so baie geleer. Dit het my oë oopgemaak vir soveel goed en ek verruil dit vir niks nie. Daar is oneindig baie onder en met mekaar gedeel en sade is beslis geplant, want ons geselskap is nog jonk en ons wil goed aanspreek. Ons wil verandering sien en dit moontlik maak sover as wat ons kan.

My verhoogbestuurder, koreograaf en assistentregisseur is ook manlik en dit is so wonderlik, want nou begin ons nie net te leer van mekaar nie, maar ons bou ’n gemeenskap. ’n Gemeenskap van samehorigheid, en waar daar samehorigheid teenwoordig is, is dit wonderlik!

Posted by Ek, Eva on Thursday, January 9, 2020

 

Wat is die boodskap wat julle wil oordra met hierdie produksie?

Elke vrou is uniek geskape. Sy het haar struikelblokke. Sy het haar sterk punte, haar swak punte, maar sy is nooit alleen nie. Sy het ’n ondersteuningsisteem en dit is wat sy moet weet. Dit maak groot aanspraak op kwessies wat deur generasies vloei. Waaroor daar vrylik gepraat moet word. Nie noodwendig met ander mense nie, maar met jouself en teenoor jouself. Gebruik jou stem om geraas te maak en spreek vry teenoor dit wat al vir generasies oor vroue heers.

  • Vir meer inligting oor die Suidoosterfees, besoek hul webtuiste.
Lees ook:

NATi Jong Sterre: Kaap-produksie by Suidoosterfees 2020

Persvrystelling: NATi Jong Sterre (Suidoosterfees-inryteater 2020)

"Die maskers word afgehaal en kwesbaarheid word voor die gehoor neergelê"

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top