"Die maskers word afgehaal en kwesbaarheid word voor die gehoor neergelê"

  • 0

Stephren Saayman (Foto: verskaf)

Stephren Saayman is ’n jong opkomende akteur en teatermaker. Sy groot liefde lê by die skryf en maak van opregte en hartroerende teater. Twee van sy teaterproduksies, Dankie, maar nee dankie! en Ek Eva, is vanjaar by die KKNK, Suidoosterfees en Vrystaatkunstefees te sien. Hy gesels met Cliffordene Norton.

Stephren, baie geluk met jou twee teaterproduksies, Dankie, maar nee dankie! en Ek Eva, wat tydens die KKNK te sien is. Vertel asseblief meer oor elke stuk – waaroor gaan dit?

Dankie, maar nee dankie! handel oor drie bruin gesinne wat kop aan kop gaan om te kompeteer vir ’n advertensie wat hulle in die Son-koerant sien. Hierdie advertensie is op soek na die twee perfekte coloureds om die nuwe en beter Suid-Afrika te betreë. Die stuk lewer kommentaar oor bruinwees as die middelkind en hoe die stelsel net rondom ons as bruin mense werk. Hoe ons onsself altyd in die middel bevind. Dit maak ’n konneksie tussen familie as ’n tema en hoe ons van ons omstandighede wil wegbreek.

Ek, Eva handel oor drie vrouens wat baie verskillend is van mekaar, maar tog ’n konneksie het. Hulle almal word in ’n wrede tydperk op die proef gestel om te praat oor wat hulle vashou en terughou in hul lewens. Dit lewer kommentaar op die Vrug van die lewe wat geëet moet word om vry te kan wees om te kan onderskei tussen goed en sleg en die stigmas van andere oor vrouwees te verbreek. Al drie is verbind en het ’n konneksie met Eva wat deel vorm van hulle daaglikse bestaan. Die maskers word afgehaal en kwesbaarheid word voor die gehoor neergelê.

Meggan Johnston, Robyn September en Brutney Singrew in Ek, Eva (Foto: verskaf deur KKNK)

Wat was die inspirasie agter elke produksie?

Die inspirasie vir Dankie, maar nee dankie! het gekom vanuit ’n plek wat naby aan huis is en deel vorm van die bloed in my are – die mense naaste aan my. Die leë beloftes en die soeke na identiteit word hier gesien as ’n kans om polities te raak oor die siklus en stelsels.

Ek, Eva s’n het gekom toe ek die bestaan van vrouwees bevraagteken het en die belangrikheid daarvan verstaan het. Ons elkeen ken ’n moederfiguur of vroulike figuur wat iets beteken vir ons. Die seer en pyn wat hulle agter hul maskers wegsteek spreek boekdele. Die verskillende fasades vorm deel van hul daaglikse bestaan en die waarheid daarvan word weerspieël.

Stephren Saayman en Cantona James in Dankie, maar nee dankie! (Foto: verskaf deur KKNK)

Stigmas word gebreek in hierdie storielyn en dis die representasie daarvan wat ’n impak laat. Die magiese realisme as ’n styl word beklemtoon met die gebruik van fisiese teater om die boodskap oor te dra.

Neem ons deur die proses van ’n toneelstuk skryf. Watter uitdagings en hoogtepunte is daaraan verbonde?

Om te skryf, verskaf vermaak. Dit verskaf insig oor ’n spesifieke siening. Dit gaan seker baie ongewoon klink, maar ek sien eers die prentjies voor ek dit neerpen. Die grootste uitdaging is om van my “darlings” ontslae te raak. Om oor en oor neer te pen wat gesê moet word en hoe dit op die mees opregte manier gedoen kan word. Om te sien hoe dit eers by ’n visie begin en dan verder groei is altyd ’n pluspunt om deel te wees van die ontwikkelingsproses.

Jy is een van die akteurs in Dankie, maar nee dankie!. Hoe het dié dubbele rol (as skrywer en akteur) jou benadering tot die stuk as akteur beïnvloed?

Om eerlik te wees wou ek self eers die regie van Dankie, maar nee dankie! doen, maar later het ek besluit om eerder een van my fiksionele karakters uit te beeld. Ek het gesien dat dit vir my ’n groot uitdaging gaan wees om te sien hoe die storie in iemand anders se kop afspeel. Dit leer my baie om van my darlings ontslae te raak, want op so ’n manier sien ek hoe iemand anders die woorde op die bladsy na lewe kan bring. Dit maak eintlik dinge vir my om die karakter te verstaan ’n bietjie beter omdat ek basies ’n meer intieme konneksie met die denkwyse van die karakter het.

Ek, Eva is die Suidoosterfees 2019 DKES-wenstuk. Wat was jou reaksie toe jy uitgevind het?

Ek was totaal en al onkant gevang, want ons het dit regtig nie verwag nie. Ek het nog net so ’n paar minute voor ons optrede gesê dat ons speel vir daardie een persoon wat gekom het om te kom luister en dit nodig het. Dit het regtig vir ons as groep gewys dat die storie net vertel moet word. Al is dit net een persoon wie se ore dit moet hoor, speel jy net vir daardie persoon en outomaties gaan alles reg uitwerk, want die doel is bereik.

Ek, Eva (Foto: verskaf deur KKNK)

Beplan julle om die stuk na ander verhoë ook te neem en verder op te voer?

Wel, Ek, Eva is graag te sien by die KKNK, Suidoosterfees en Vrystaatkunstefees. Ons hou nog iets in die mou vir Vrouemaand wat in Augustus is, maar daar is definitief nog planne vir hierdie stuk. Kaartjies is beskikbaar by Computicket of op ons digitale blad @_ek_eva.

Dankie, maar nee dankie! is te sien by die KKNK en Vrystaatkunstefees. Daar is nog groot planne vir hierdie stuk om sy storie te gaan vertel op soveel platforms as moontlik.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top