Napraat, systap of emuleer? Boeiende hulde aan Wilma Stockenström: ’n resensie van Nogmaals vir die bysiende leser

  • 0

Nogmaals vir die bysiende leser
Joan Hambidge en Marlies Taljard (redakteurs)

Gedigte ter ere van Wilma Stockenström
Gansbaai: Naledi
ISBN 9781067234904

Daar is nie ’n beter manier om ’n mededigter en voorganger te vereer as om met haar in gesprek te tree nie. Dit is wat hierdie bundel wil doen. Dit speel direk in op Wilma Stockenström se eerste bundel, maar uiteraard ook op al haar werk. ’n Gesprek met ’n formidabele digter soos sy, stel ook ’n belangrike vraag: Tree die digters hier net in gesprek met Stockenström, of is hulle ook, sy dit dalk onbewus, besig om op subtiele maniere plek te maak vir hulle eie stem?  

Die bundel was Johann de Lange se idee, en hy het digters uitgenooi om by te dra. Na sy dood het Joan Hambidge en Marlies Taljard die projek afgehandel. Dit het uiteindelik ’n baie mooi boek geword, vanaf die treffende ontwerp van Christiaan Diederichs (sy laaste ontwerp) op die voorblad tot by die slotgedig deur Ilse van Staden en die teks op die agterblad. Diederichs se ontwerp stel voëls, vlieg, kommunikasie, gekunsteldheid en pyn voorop, blink in reliëf gedruk teen ’n blou agtergrond. Die titel en die redakteurs se name is ook in reliëf gedruk.

Daarna word 25 prominente digters in Afrikaans aan die woord gestel, vanaf Eunice Basson en Fourie Botha tot by Marlene van Niekerk en Ilse van Staden. Dit is amper ’n bestekopname van belangrike digterstemme in Afrikaans, sistematies in alfabetiese volgorde gerangskik. Hulle tree op uiteenlopende maniere in gesprek met Stockenström, en dít maak die bundel besonder boeiend.

Direkte aansluiting

Sommige digters sluit direk by Stockenström aan, gebruik haar woorde of dig in haar trant verder. So gebruik Ronel de Goede ’n gedeelte uit Die heengaanrefrein as ’n wegspringplek of ’n profesie vir haar gedig oor die rokende lappemark van Kantamonto in Ghana. Stockenström het die ramp reeds voorsien, suggereer sy. Nes Stockenström wend sy haar ook beslis tot Afrika.

Ander digters haak aan by Stockenström se woorde en borduur daarop voort. Veral die idees van wantroue in woorde en vergetelheid en glans is belangrike aanknopingspunte; water en lig, heengaan en vertrek, herinnering en die natuur in die algemeen ook.

HJ Botha, Louis Esterhuizen en Gilbert Gibson brei die motief van water verder uit. Dit hang saam met spieël en droom, en meestal ook met vergetelheid en glans. By Esterhuizen “beduie” die wiggel “deur die vergetelheid na ’n glansende waterkuil”. Gibson roep die veelgeroemde gedig “Kniel in jou omhelsing” uit Monsterverse op, maar verplaas dit na die diepsee, onder water. In Ilse van Staden se “waterklip” kom water, spieël en wantroue in woorde saam in ’n treffende beeld van “woorde wat/uit die klip/ontsnap/gekorrel soos sand/soos brood”. Alwyn Roux herdig Stockenström se “veldverhaal” om tot “Voorstedelike verhaal” deur die volgorde in die gedig om te keer en teenbeelde vir Stockenström s’n te vind. Dit is een van die talle gedigte in die bundel wat herinnering sentraal plaas. “Die verlede word tot verhaal” betoog Jerzy Koch in sy ekfrastiese gedig “Portrait d’une femme”. Sy gedig eggo Salomo se Hooglied en Die kremetartekspedisie en daag vooropgesette idees oor swart vroue uit.

Emulasie

Sommige digters boots nie net vir Stockenström na nie, maar probeer haar oortref (emuleer). Teenoor Stockenström se betowerende gedig oor die verhouding tussen die hand wat maak, die rotskunswerk en die werklike eland, haal Johan Lodewyk Marais die beskrywing van ’n eland aan uit die “glansbrosjure” van ’n wildveiling. Die dier word beskryf met syfers – “L 28 en R 28”, “G 681”, “Lot 35” – met ander woorde, berekenbaar gemaak en gereduseer tot kommoditeit. Aan die einde word wel iets van die eland as enigma gesuggereer, maar dan omdat ’n veldwagter sy “geroggel” namaak.

In “ek sit in napier en kyk na ’n mossie” gebruik Tom Dreyer van Stockenström se woorde soos “vergetelheid”, “glansverskuiwing” en “einddeurlewing”, maar hy betrag die mossie net so noukeurig soos Stockenström die glansspreeu bekyk het en plaas sy gedig direk in kompetisie met hare. ’n Waardige mededinger is dit gewis, en juis op Stockenström se terrein: die gewone voëltjie, die ekologie, Afrika.

In haar twee gedigte reageer Joan Hambidge direk op Stockenström as mens en minder op haar werk. Fanie Olivier spreek die digter ook direk aan, haal haar woorde ruimskoots aan en skryf ’n soort liefdesgedig vir haar as “meisietjie van napier” (haar geboortedorp). Hy plaas haar op ’n bed van woorde, gooi ’n ligte deken van pryse en so aan oor haar en laat sy “die landskap se uitgespreide kwilt, die lug” oor haar trek, as ’n soort doodskleed. Dit is ’n ironiese soort liefdesgedig, huldegedig, wiegeliedjie, maar tog reken hy in ’n sin met haar af, onder meer deur ’n bietjie af te praat na haar; haar betuttelend as “meisietjie” aan te spreek.

Afwysende reaksie

Daar is taamlik min gedigte in die bundel wat Stockenström se werk afwys of kritiseer. Fourie Botha en Loftus Marais se gedigte kan as krities op haar werk gelees word, juis omdat hulle gedigte oënskynlik niks met haar werk te make het nie. Fourie Botha se nonnetjiesuile kan egter gelees word as ’n beeld van die natuur wat enigmatiese boodskappe stuur. Loftus Marais se gedig lyk ook of dit Stockenström se werk doelbewus ignoreer; Antjie Krog s’n dalk ook. Aan die ander kant is Jo Prins se “vrye vers” ’n “asprisgedig” waarin hy die poësie, die vrye vers, gelykstel aan ’n Bostonterriër en so die erns van poësie en poësieskryf (en die hele bundel dus) ironies-satiries debunk. Nogtans raak hy die belangrike tema van doodgaan aan.

By Stockenström verbypraat

Heelparty digters plaas hulle gedigte eenvoudig langs Stockenström se werk, om as’t ware te suggereer: Ek hoef nie haar woorde in my mond te neem of met haar te kompeteer nie; ek het my eie stem. Dit geld byvoorbeeld vir Henning Pieterse se “Nagboodskap” wat ’n nadigting is van “Snake” van DH Lawrence maar wat ook die mot noukeurig beskou en haar boodskap van Persefone probeer ontsyfer. Die gedagte van ’n “Anderland” kom ook in heelwat gedigte voor.

Ook ’n waardige teenhanger is Johan Myburgh se gedig ‘’n Glans van menslikheid”. Hy bekyk die temas van glans en vergetelheid met ’n aweregse blik wat klem lê op die materialiteit van die liggaam. Dit is maar “’n sak met oerstof” en die glans en water daarvan word uiteindelik deel van die natuur. “Humaan” word “heerlik humus”. Albei woorde kan immers teruggevoer word na homo, “mens”. So bied Myburgh ’n enigsins troostende blik op die dood.

Ander hoogtepunte is Marlene van Niekerk se “Ten minste” en “Nagkat”. Die lang stromende sin waarin Van Niekerk “’n moment van uiterste onsegbaarheid langs ’n rivier” probeer vasvang, het skynbaar niks direks met Stockenström se werk uit te waai nie, maar eggo tog die idee dat die natuur nie maklik iets prysgee nie; enigmaties bly. Dit geld ook vir die portret van die nagkat. Selfs al beskou jy jou as mededier, bly die afstand tussen mens en dier absoluut, ten spyte van die suggestie van “’n verband tussen ’n geliefde/se woord, ’n windstoot, ’n wolk ’n samehang/ wat jy in die oomblik gemis het”. Die kat bly “onstreelbare gas”, enigmaties en apart.

In hierdie mooi boek ontwikkel die digters nie net Wilma Stockenström se temas van vergetelheid, glans, die afsydigheid van die bewonderde natuur, hortend en hinkepink leef (in plaas van volmaak maar kunsmatig), bewus wees van sterflikheid, wantroue hê in woorde verder nie. Dit is veral die ryk geskakeerde maniere waarop hulle met Stockenström in gesprek tree (of die gesprek weier) wat hierdie boek besonder boeiend maak. As bysiende leser kan jy jou eie reaksie op Stockenström en haar werk gaan meet aan wat die digters hier doen. Later kan jy gaan probeer bepaal watter van Harold Bloom se systap- of uitswaaiverhoudings telkens ter sake is. Is dit doodpraat, iets anders? Of doen jy jou skelm-skelm voor as kleiner as wat jy is?

Lees ook:

Wilma Stockenström (1933–)

Pasverskyn: Wilma Stockenström: Met my wysvingertop deur Ronel Foster

Wilma Stockenström: portrette deur Henk Serfontein

Elders gesien: Die Napier-Ekspedisie, aangebied in die skrywer Wilma Stockenström se geboortedorp

''Ek maak maar ’n gedig wat drup-/ drup van bewondering, ses keer'': Joan Hambidge lees Wilma Stockenström se Die stomme aarde: ’n Keur

Wilma Stockenström: ’n Poëtiese lewe

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top