
Die skets van Wilma Stockenström, afgedruk in Die Burger, is deur Henk Serfontein.
Henk Serfontein skryf op Facebook:
Ek het vanoggend 5 uur opgestaan, ’n Red Bull gedrink en vroeg deurgery Napier toe. Daar was ’n wonderlike fees, die Napier-Ekspedisie, aangebied in die skrywer Wilma Stockenström se geboortedorp, ter viering van haar 90ste verjaarsdag eerskomende Maandag (7 Augustus 2023).
Op pad, in die mis, het ek ’n noue ontkoming met ’n tarentaal of twee gehad, maar ’n literêre fees wat met skons en room en ’n trekkeroptog begin, verdien my aandag. Kleindorpse hartlikheid in oorvloed. Daar was ook ’n brass band met ’n Laurika Rauch-repertoire.
Swaargewigte, soos Ronel Foster, se insiggewende praatjie oor Die kremetartekspedisie en Skoenlapperheuwel, Skoenlappervrou en uittreksels uit Katinka Heyns se Die storie van Klara Viljee is aangebied.
Wilma Stockenströmstraat is onthul deur die burgemeester, ’n gawe kalant met ’n talent vir ’n lang speech en ’n gebed, goue ketting om die nek.
Ek kon nie help om effens te glimlag oor die ligging van die straat nie. Wilma se straat skei die NG Kerk van die drankwinkel op die dorp. Lekker naby vir sjerrie tydens nagmaal.
Daar was ’n pragtige voorlesing deur die dramadepartement van Stellenbosch Universiteit van Wilma se gedigte wat met die mooi versreël uit haar gedig “Tuiner” afgesluit is: “en sy wandel in ’n woud van lig”.
Daar was ’n hoendervleiskooruitvoering van ’n toonsetting van Boerneef se Voshaarnooi. Marius Swart het onderhoudend gesels met PP Fourie oor sy boek Ons Skulde.
Laatmiddag het ek my met my bottels ingelegde koejawels en beskuit huis toe gery. Dit was ’n liggeel dag.
- Foto’s: Henk Serfontein